Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste страница 19
“Dis net vier kilometer, ek kan binne tien minute daar wees.”
“Sou dit nie beter gewees het om op die dorp tuis te gaan nie?”
“Nee.” Clio verskaf nie redes nie en neem ’n groot hap kaaskoek. Dit sit in haar keel vas en proe soos saagsels.
“Ek het vergeet … Wat is jou naam nou weer? Leo of wat?” betaal Lizaan haar in gelyke munt terug.
“Clio.”
“Ekskuus? Ek kan nie hoor as jy met koek in jou mond praat nie.”
“Clio,” val Jurg in. “Afgelei van Cleopatra.”
Hý moenie nou ook nog begin nie. Sy het net sóveel geduld … “My naam is Clio. Dis hoe ek gedoop is, en dis hoe ek verkies om genoem te word. Ek hou nie van byname nie.”
“Clío?” Lizaan rol die naam op haar tong en trek ’n gesig. “Dit klink soos die naam van ’n kar. ’n Renault Clio.”
Lizaan is baie beter met hierdie soort kattegeveg as sy, besef Clio.
“So, jy en Arnold het planne?” sê-vra Lizaan.
Clio hou haar dom. “Planne? Hoe bedoel jy?”
Lizaan skud haar lang swart hare oor haar skouer. “Trouplanne,” herhaal sy ongeduldig.
Clio merk dat Jurg haar dophou. Hoekom wil Lizaan weet? wonder sy. Omdat sy Jurg wil inpalm en haar as kompetisie beskou? Sy wens sy het nie so halsoorkop geëet nie, of dat sy nog ’n sluk espresso oorgehad het.
“Dis seker vir Arnold om te besluit,” skerm sy.
“Jy het tog seker nie al die pad na Suid-Afrika gekom vir ’n blote kuier nie? Jy en Arnold wil seker julle toekomsplanne bespreek?”
“Ek dink Arnold moet eers behoorlik bykom. En ek dink nie trou gaan die eerste ding wees waaraan hy dink wanneer hy sy oë oopmaak nie.”
Clio kyk pertinent na Jurg. Sy hét probeer om beleefd te gesels en haar beskaaf te gedra. Hul koppies is al koud genoeg. Kan hulle nie nou maar huis toe gaan nie?
Jurg snap die skimp. Hy kry die rekening en stoot sy stoel agteruit. “Dankie vir julle geselskap, dames. Dit was aangenaam.”
Vir die eerste keer in hul lewe stem die twee dames saam: Aangenaam? Beslis nie.
Clio is stil op pad plaas toe, besig met haar eie gedagtes wat deur Lizaan se lang rooi naels oopgekrap is.
Maar toe hulle by die huis instap, vaar sy uit: “As jy weer so iets doen, Jurg van Deventer, keer ek die melkbeker op jou kop om. ‘Aangename geselskap’, het jy dit genoem? Jy kort ’n gehoorapparaat, swaer!”
Sy pluk ’n kasdeur oop en haal ’n beker uit om die irisse in water te sit. “Ek het nie met ’n mond vol koek gepraat nie, ek het beter tafelmaniere as dit.”
Sy kan dit nie glo toe Jurg sy kop agteroorgooi en lag nie.
“Het jy gedink dis snaaks? Is dit hoekom jy haar ook genooi het – om vir ons te lag as ons soos twee viswywe tekere gaan? Jy het altyd ’n simpel sin vir humor gehad, en dit word al erger.”
“Ek het Lizaan nie genooi nie. Sy het toevallig by Dino’s ingestap.”
Hy lig die deksels op van Betta se kastrolle wat op die stoof staan en snuif waarderend. Terwyl hy borde uithaal, kyk hy nuuskierig om na Clio. “Het jy Lizaan regtig nie herken nie, of was dit deel van die speletjie?”
Clio begin slaai maak. “Sy het haar hare gekleur. Dit was altyd bruin, nooit so nagswart soos nou nie.”
Jurg grinnik breed, maar sy kop is weggedraai sodat sy nie sien nie. “Hoekom hou jy nie van haar nie?” vra hy en probeer klink of hy nie omgee wat sy antwoord nie.
“Dis nie net ek nie. Niemand het van haar gehou nie. Sy het altyd gedink sy is watwonders, net omdat sy ’n kursus in modelwerk gedoen het.”
Jurg sou ’n ander antwoord wou hê, maar hy wil nie sy geluk beproef nie. Betta het blomkool en ertjies by die hoenderpastei gemaak en albei is honger toe hulle by die tafel aansit.
Hulle eet klaar en hy dra die skottelgoed na die opwasbak toe. Dan sê hy asof terloops: “Talien bly nog tot die naweek op die dorp. Moet ek hoor of tannie Ria vir jou ook plek het in die huis?”
“Nee, toemaar.”
Hy wil toekomstige misverstande vermy. “Is jy seker? Sien jy kans om by my op Vuurfontein te slaap?”
Hy laat dit erger klink as wat dit is, maar sy weier om te bloos. Sy ken die wêreld, sy is nie meer die naïewe plaasmeisietjie van destyds nie.
“Of is jy bang?” terg hy.
Die Kanadese mans is nou wel nie veel werd op ’n rugbyveld nie, maar dit beteken nie hulle is net so onhandig as dit kom by meisies nie. Party van hulle sal die selfversekerde Jurg van Deventer ’n ding of twee kan leer.
Haar ken lig parmantig. “Hoekom sal ek bang wees?”
“Jy het gisteraand so ’n bohaai opgeskop.”
“Ek was bang mense skinder as dit lyk of ek by jou ingetrek het. Plattelandse mense is konserwatief.”
Sy een wenkbrou lig. “Van wanneer af gee jy om wat die mense sê?”
“Ek dink nie aan myself nie, maar aan jou. Jou goeie naam. Die Van Deventers is gesiene mense en steunpilare in die gemeenskap. Ek wil verhoed dat hulle agter jou rug praat.”
Die grootste klomp strooi wat hy in ’n lang tyd gehoor het. Jurg is nuuskierig om te weet waarop sy afstuur. “Wie is die ‘hulle’ na wie jy verwys?”
Hy maak dit nie vir haar makliker nie … Clio trap klei, maar sy het die ding begin en druk vasberade deur. “Jy het altyd stringe nooiens gehad. Ek het maar net gewonder of almal van hulle geneë sal wees met my hier, alleen saam met jou … Party meisies raak maklik besitlik.” Sy probeer lyk of dit nie baie saak maak nie, of sy dit sommerso in die algemeen bedoel.
Sy oë vonkel van die pret. “Oe, die bloed gaan vloei! Hulle gaan jou keel met ’n stomp mes afsny en jou in stukkies opkerf. Ons moet solank die koerante laat weet om die agterblad oop te hou vir al die sensasie.”
“Ek is ernstig,” sê sy gesteurd.
“Ek ook. My goeie naam gaan deur die modder gesleep word, die kerk gaan my onder sensuur plaas, en ek sal nooit burgemeester word nie!”
“Jy spot altyd met als.”
Clio druk die prop in die opwasbak en draai die krane oop. Wat sy wou uitvind, is of hy ’n vaste nooi het wat sal omgee as hy snags alleen op die plaas is saam met ’n ander meisie. Eintlik vasstel of daardie nooi Lizaan Visser is en of hulle ’n verhouding het. Maar hy is óf onskuldig óf baie slim.
Sy weet net: as Jurg háár kêrel was, sou sy dit nie toegelaat het nie.