Amraal. Marinda van Zyl

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Amraal - Marinda van Zyl страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Amraal - Marinda van Zyl

Скачать книгу

“Jy kan hom leer om Khoi-Khoi te wees, daaroor sal ek nie met jou stry nie, maar kaal loop ’n kind van my nie.”

      Rut se seun, Lammert, word vroeg in Januarie 1774 gebore en drie weke later Elsie se Aalwyn, vernoem na Hans se pa.

      “Waar kom jy aan die snaakse naam?” wil Elsie by Rut weet.

      “Lammert is jou ma en pa se name saamgegooi.”

      “Moet dit dan nie Lambert wees nie?”

      “Nee, sy naam is Lammert. Voorslag sê sy haartjies voel soos die lammertjies se wol, maar in my hart het ek sy ouma en oupa vernoem.”

      Elsie se oë blink. “Dan is jy nie meer kwaad vir ons nie.”

      “Kwaad was ek nooit, net seer, vreeslik seer. Mens gee nie vir ’n kind ’n suikerklontjie en vat dit af nes hy lekker daaraan suig nie.”

      Elke oggend dra Rut vir Lammert in ’n karos op haar rug as sy en Trui-hulle kliphuis toe loop. Sy sukkel nog om vir Trui ma te noem, want nes sy die woord hardop sê, wil die trane loop oor ma Lammie. Trui maak dit ook nie vir haar makliker nie, want sy mor gedurig oor Lammert wat kliphuis toe gevat word. “Dina pas almal se kinders op. Jy wil van my kleinkind ook ’n kamma-Duusman maak en Voorslag is te saf om jou vas te vat.”

      “Elsie wil hê ek moet hom bring.”

      “Kleinnôi Elsie. Jy’s gans te eie met haar.”

      Rut antwoord nie. Dit sal net vet op die vuur wees as sy vir Voorslag se ma sê sy en Elsie is soos susters vir mekaar. Sy moet onthou om nôi te sê as sy en Elsie nie alleen in die kombuis is nie.

      Die kombuis het Rut en Elsie se toevlug geword. Hier bak, kook en doen hulle naaldwerk. Toe Elsie haar vertel het dat Hans nie omgee as sy in die kombuis kom werk nie, het sy haar eers opgeruk. “Moet ek nou jou klimmeid wees?”

      “Nee, ons gaan saam wees soos in Tierfontein se kombuis,” het Elsie gesoebat. “Moenie my dwing om tussen julle te kies nie. Ek is ewe lief vir julle, maar hy is my man.”

      In die kombuis lê Rut vir Lammert by Aalwyn in die wiegie neer. Sy kyk ’n rukkie na die slapende babas, streel oor Lammert se wollerige hare en laat gly haar vinger oor sy plat neusie. Sy bolwange laat sy bruin oë wat van die kielie op skrefies trek, nog kleiner lyk. Aalwyn is van geboorte af al langer as Lammert, sy lyf en gesig skraal. Sy streel ook oor sý koppie oortrek met fyn rooi hare.

      “Lammert trek op jou, maar Aalwyn lyk nes sy pa,” praat Elsie agter haar.

      “Hulle lyk so gelukkig en tevrede,” sê Rut, maar Trui se opmerking knaag aan haar. Wat as Lammert groot is en verwerp word soos sy?

      Toe die wiegie te klein word vir twee babas, gooi Elsie ’n lappieskombers op die vloer. Lammert kreukel sy plat neusie en gaan aan die skree toe hy alleen op die kombers neergesit word, maar hou op toe Aalwyn langs hom neergelê word. Hy roei met sy fris armpies tot hy Aalwyn se hand beetkry, maak sy oë toe en slaap. Aalwyn kraai asof hy lag.

      “Hulle is klaar onskeibaar,” sê Elsie met blink oë, “nes ons twee.”

      Rut is bly toe Elsie sê hulle gaan Tierfontein om Kaap toe om vir Aalwyn te laat doop sodat ma Lammie haar kleinkind kan sien.

      “En ek kan Lammert vir hulle gaan wys,” gesels Rut opgewonde saam.

      Elsie hou haar gesig weggedraai. “Dit kan nie. Ons kom deur die Piekenierskloof terug. Hoe kom jy weer by die huis?”

      Toe Elsie uit die kombuis is, glip Rut by die spens in, gooi ’n hand vol suikerklontjies in haar oorrok se sak en breek ’n stuk roltwak af. Die aand gee sy dit vir Voorslag. “Dis vir die pad Tierfontein en Kaap toe.”

      “Dankie, dis ’n lang pad,” sê hy “en gevaarlik, want ons kom oor Olifantsrivierberg terug. Maar Ben en my twee oompies is ou hande. Hulle is al ’n paar keer daai berg oor saam met my pa.”

      Rut frons. “Nôi Elsie sê dan iets van ’n piekenier.”

      “Dit is so, ja. Eers oor die berg, dan deur die kloof.”

      Met Hans weg, kom Jandisselsvlei se mense elke naweek Holkrans toe. Dan word vleis op die kole gegooi en askoek geslaan. Tot laataand lê en luister Rut na die ramkies, ghoera, gestamp van voete en vrolike gelag. Een aand kom daar ’n ouerige man met ’n viool ook saam. Die klank van die viool hou haar by die vuur, laat haar met die voet die maat van die ramkies en ghoera hou en hande klap vir die vernuftige voetwerk van die dansers. Ma Trui en die kleingoed dans ook saam.

      Ouma kom sit langs Rut. “Glad nie so sleg om Khoi-Khoi te wees nie, nè?”

      Rut neem die ou vrou se knobbelrige hand in hare. “Lammert se ouma Trui sal hom moet leer askoek slaan.”

      “Mooi so, ek het vir Voorslag gesê jou hart is reg. Jy sal Lammert los om Khoi-Khoi te wees sodra hy van die pram af is.”

      Dina nooi vir Rut saam veld toe om rooibos te gaan pluk. “Vir Ouma. Ek maak ’n treksel vir haar krom hande wat in die winter pyn.” Dit neem die hele oggend, want by elke plant word stilgestaan. Voor Dina nog kan vra, antwoord die kinders al of dit eetbaar is, en vir watter skeet dit gebruik kan word. “Dis hoekom jy vir Lammert by my moet los. Dan sal hy alles leer wat ’n Khoi-Khoi moet weet.”

      “Eers as hy kan loop. Ek het vir Voorslag so belowe.”

      Rut hou nie haar belofte nie. Lammert en Aalwyn is al amper drie jaar oud toe hulle uit hulle eie wegloop na Voorslag toe, en hy kans kry om hulle te leer spoorsny en met osse werk. Maar meestal ontglip hulle hom ook om op hulle eie te speel.

      Rut laat hulle begaan, want die aanhoudende gehuil van Elsie se pasgebore dogtertjie raak ook vir haar te veel. Aletta is net stil wanneer sy in Elsie se arms of op Rut se rug gesus word. Waag hulle om haar neer te lê, is haar gesiggie gou-gou rooier as haar bos hare van die geskree. Sy is verlig toe Hans instem dat Elsie na haar ma toe kan gaan tot dit tyd is vir Aletta se doop. Net Voorslag en Ben gaan saam om hulle te neem.

      Nuus dat die baas van Holkrans nie tuis is nie, versprei gou deur die vallei. Ook van ander plase as Jandisselsvlei is daar Saterdagaand en Sondag ’n toeloop. Daar word vrygewig geslag om die honger mae vol te kry. Trui lag breëmond toe sy weer die man met die viool sien; sy het juis ’n paar kalbasse heuningbier gemaak om sy dors te les.

      Rut deel nie in die feesvieringe nie, want saans is sy te moeg agter Lammert aangehardloop. As sy haar kom kry, het hy weggeloop op soek na Aalwyn.

      Rut en Trui pluk vye in die boord om konfyt te kook toe die wa die Maandagmiddag teen die heuwel anderkant die rivier gewaar word. Trui se seun, wat die oorryp vye op die grond vir die varke optel, laat val sy emmer en hardloop skreeuend matjieshuise toe. In ’n ommesientjie lewe die werf van mense wat by hulle dagtake moet uitkom.

      “Het ’n perdeby hom gesteek?” vra Rut.

      Trui skud haar kop. “Die skaapvelle is nog nie begrawe nie. Baas Hans gaan skape tel as hy die velle sien.”

      “Hy’s klaar hier,” sê Rut, want Hans kom op ’n stywe galop aan.

      “O gonnatjie, dan moet ek gaan praatjies maak voor hy te veel rondkyk.” Hans is nog op sy perd, toe wil Trui al weet. “Hoe gaan dit nou met kleinnôi Elsie en die babatjie?

Скачать книгу