Amraal. Marinda van Zyl

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Amraal - Marinda van Zyl страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Amraal - Marinda van Zyl

Скачать книгу

se benoude kreet laat Lammert opkyk. Die jakkalsvoël probeer vir Aalwyn met vlerkgeklap van die nes verdryf. Hy skuif op sy boude tussen die takke van ’n kaiingbos in en die voël vlieg weg.

      Die aand kry Rut vir Lammert aan die oor beet. “Is dit hoe jy skaap oppas? Môre help jy vir Ouma met die kleintjies. Onder die boom, waar ek jou kan sien.”

      “Bennie lieg,” probeer Lammert hom lospraat.

      “Aalwyn se stukkende broek was die klikbek,” sê sy ma en gee sy oor nog ’n draai.

      “Ek sal sy gal vir hom werk,” sê sy pa en knipoog vir hom. “Hy moet toulei, want ons gaan hout haal op die berg.”

      Die sederbome in die vallei is almal uitgekap, daarom moet hulle al hoër teen die berg op. Hulle vorder ’n ent met die wa, waarna die boomstamme wat hoër op gekap word, met osse tot by die wa gesleep word. Lammert spits sy ore om te leer hoe mens ’n wa bergop kry as daar nie ou spore is nie. Eendag wil hy net so ’n goeie wadrywer soos sy pa wees.

      Dis winter voor Lammert en Aalwyn weer kans kry om kloof toe te gaan. Dis ’n droë winter en die spruit loop skaars. By die ingang van die kloof spring ’n kolhaas uit. Aalwyn laat woer ’n klip uit sy slingervel en die haas slaan bollemakiesie. Hy pluk sy mes uit en sny hom keelaf. Toe Aalwyn die haas op ’n klip neersit om die bloed van sy hande en mes af te was, kom ’n gedaante agter ’n bos uit en gryp die haas.

      Lammert skree en Aalwyn laat val sy mes.

      “Verdomp, hoekom …?” Hy skrik hom stil toe hy die swart man sien.

      “Ai, my basie, groot samblief my basie, gee die hasie vir my. Ek’s baie honger.” Die man het net ’n kuitbroek aan. Op sy voorkop is ’n rooierige letsel en sy ore is stompies teen sy kop.

      “Wie’s jy?” Aan Aalwyn se stem kan Lammert hoor hy het net so groot geskrik, maar hy hou hom grootman. “Wat soek jy op ons plaas?”

      “Masbieker is my naam. Ekke soek my baas se wegloop–” Sy oë rek toe hy die geblaf van honde hoor. Hy gooi die haas neer en hardloop spruitlangs die kloof in. Oor sy rug lê letsels kruis en dwars.

      Lammert skree agter hom aan: “Daar’s ’n grot by die doodloop, agter die kaiingbos!”

      Minute later is die veldwagmeester en twee pandoere by hulle. “Ons soek ’n wegloopslaaf, boet. Het jy iets gewaar?” praat die veldwagmeester met Aalwyn. “Die honde neuk al hier na die vlei toe.”

      Voor Aalwyn kan antwoord, bestorm die honde die dooie haas en skeur dit uitmekaar.

      Aalwyn se lip bewe toe hy na die plek wys waar net klossies hare van die haas oor is. “Die honde het seker maar die haas geruik. Oom moet by my pa gaan hoor of hulle iets gesien het.”

      Lammert kan die swart slaaf nie uit sy kop kry nie. “Oompie Ben, het swart slawe dan nie ore nie?” vra hy toe hy hom eendag alleen kry.

      “Waar kom jy aan sulke stories?” Oompie Ben klink kwaad. “Uit daarmee, mannetjie, of ek vertel jou ma jy loop al weer weg by die skaap.”

      “Hy was nou die dag in die kloof.”

      “Dan’s dit ’n man wat nog nie sy les geleer het dat wegloop nie help nie. Eerste keer neuk die base hom halfdood. Tweede keer brand die fiskaal se mense hom met ’n yster op die voorkop sodat almal kan sien hy’s ’n wegloopslaaf. Derde keer sny hulle sy ore af oor hy nie wil luister nie.”

      “Hou op,” hyg Lammert toe sy maag begin ruk. Die aand bring hy weer sy kos op.

      “Hy’t vroegdag al so gekots,” sê oompie Ben, “seker maar gifgoed in die veld geëet. Skaap oppas is mos ’n vervelige werk wat kattekwaad aanstook.”

      Lammert sluk gedienstig die bitter mengsel wat sy ma hom ingee, al weet hy dit sal nooit die oorsaak van die naarheid uit sy kop kry nie.

      Die prys vir Lammert en Aalwyn se saamspeel word al hoër, want Bennie is nie meer tevrede met net een koesister of twee soetkoekies nie. Hy maak goed gebruik van Rut se dreigement dat Lammert kinderoppasser gaan word. Vandat Sussie nie meer aan die bors is nie, pas Ouma die kinders by die matjieshuise op. Voorslag sal nie weer vir Lammert intree om hom van Hans se werf weg te hou nie.

      Lammert voel sommer weer naar toe sy ma hom een aand in Desember beveel om die volgende dag vir Ouma met die kleintjies te help, want die ou mens se kop is nou al te deurmekaar om alleen reg te kom. “Môre moet ek en tannie Dina voordag al in die kombuis wees, want die handtertjies vir Kersfees moet voor sonop in die bakoond wees, anders skilfer die deeg nie goed nie. Ben, jy moet maar self Bennie se kos veld toe vat.”

      Daardie nag blaf die brandwagbobbejaan kort-kort in die kloof.

      “Wat gaan aan met die bobbejane, Pa?” wil Lammert die oggend weet terwyl hy die vuur aan die gang kry vir koffiewater.

      “Miskien ’n tier wat bergaf gekom het. Of boetie-goed wat wil kom kuier en laaglê tot dit veilig op die werf is.”

      “Kan ek gaan kyk?” Lammert soek al heeloggend ’n verskoning om Aalwyn te gaan waarsku. As Aalwyn hom in oompie Ben vasloop, raas hy weer.

      “Nee, ek het jou by die kraal nodig. Ons leer vandag osse. Ouma moet maar sien kom klaar.”

      Lammert gee ’n paar bokspringe en roep soos sy pa: “Hoi daar!” en dan weer in ’n singstem: “Hoi-hoi, hoi-hoi.” So leer hy die osse met sy stem wanneer om te stop en wanneer om nader te kom om ingespan te word.

      “Ek gaan keer solank die osse aan,” sê sy pa. “Gee vir Adam en Sussie kos en kom kraal toe.”

      Net voor die son sy kop agter die kranse uitsteek, nael Lammert eers kliphuis toe om Aalwyn te waarsku. Hy steek vas toe hy baas Hans op die stoep sien sit met ’n beker koffie in die hand. O gonna, vandag is hy in die moeilikheid.

      Skielik skree iemand asof hy vermoor word in die veld agter die kliphuis. Baas Hans spring met sy beker koffie van die stoep af en gooi dit so in die hardloop weg. Lammert haal uit om by te hou.

      Dis oompie Ben. Die bondeltjie kosgoed wat hy vir Bennie moes neem, vasgeklem in sy hand. “Jirretjie, my baas, ag Jirretjie tog, hulle’t my kind doodgemaak.” Hy sak op sy knieë neer en sy lyf ruk.

      “Wat? Verdomp, Ben, praat dat ek hoor.”

      “Die Bossiesmans. Gifpyl in die rug.”

      “Vervloekte moordenaars. Ek dog ons het hulle vergete al uitgeroei.” Baas Hans steek sy hand uit om oompie Ben op te help. “Vandag skiet ek die laaste ene vrek.”

      “Nee! Sny keelaf soos die skaap wat hulle opgevreet het,” roep oompie Ben om wraak.

      “Hoeveel skaap is weg?”

      “Wolle en die bloed wys net een.”

      “Waar draai Voorslag? Lammert, loop roep jou pa! Ons moet die spoor vat.”

      Lammert ken die stemtoon en lê rieme neer kraal toe. “Pa! Pa, moet kom! Baas wil loop Bossiesmans jag. Hulle’t vir Bennie gepyl.” Eers toe dring die besef tot hom deur: Bennie is dood. Sy bene begin bewe soos die riete by die swemgat as die wind waai.

Скачать книгу