Amraal. Marinda van Zyl

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Amraal - Marinda van Zyl страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Amraal - Marinda van Zyl

Скачать книгу

word in die begraafplaas begrawe en daardie een toegerol in ’n beesvel in die veld.

      4

      Die brand het ’n einde aan Lammert en Aalwyn se kindwees gemaak. Met net Ben om al die manswerk te doen, moes hulle hul plek op die plaas vol staan. Sonder Voorslag sou hulle nie die wa oor die Olifantsrivierberg kry om koring of meel by die boere in die Swartland te gaan koop nie. “Ons moet nou self saai om vir ons mae te sorg,” het Elsie besluit. Lammert en Aalwyn het sonder teëstribbeling aan die werk gespring om ’n stuk heiveld oorkant die rivier vir ’n koringland skoon te maak.

      Hulle werk meestal in stilte. Lammert se trane lê nog te vlak om praatjies te maak. Ook saans om die vuur is dit stil. Sy ma en Ouma se stories is saam met sy pa begrawe. Dit het nie gehelp dat die vrouens die matjieshuise nader na die rivier geskuif het nie, want die stilte uit die swartgebrande kloof het hulle daarheen agtervolg.

      Lammert weet ook nou dat krom staan van sonop tot saans nie gedagtes hokslaan nie. Die reuk van kina-, harpuis- en tolletjiesbos wat voor sy graaf en pik swig, verdring nie die verstikkende reuk van onsigbare rook nie, en taai melkbossap voel soos bloed wat aan sy hande bly klou.

      Lammert kyk op toe Aalwyn praat.

      “Nou wat de joos?” Aalwyn beduie suidwaarts waar ’n man die rivier oorsteek deur van een klip na die ander te spring en dan agter ’n bos gaan skuil om die plaasopstal te bespied. “Kom,” sê hy en gryp die byl. “Die vroumense is alleen op die werf. Oompie Ben is mos by die skaap.”

      Lammert draf pik in die hand agterna. “Miskien moet ons net skree sodat nôi Elsie kan hoor daar’s fout en die geweer kry.”

      Die man hoor hulle en kom glimlaggend nader. “Ik ben Meester Goedemoed en jij bent zeker de jongeheer die een leermeester benodigd,” sê hy vir Aalwyn.

      “Gits, Oom, ek verstaan nie so mooi nie. My ma sal seker weet.” Dan beveel hy oor sy skouer: “Lammert, gaan jy solank aan met die werk.”

      Lammert vat die byl by Aalwyn, maar volg hulle. Aalwyn moenie maak asof hy skielik baas is nie. Hy vertrou die vreemde man glad nie. Hy is vuil en sy skoene flenters, met niks anders by hom as die bondeltjie wat hy aan ’n stok oor sy skouer dra nie. So ’n armoedige Duusman het hy nog nie gesien nie.

      Toe Aalwyn na sy ma roep, kom sy geweer in die hand met Aletta op haar hakke uit die boord. Sy hou die geweer op die vreemdeling se bors gerig.

      Meester Goedemoed verduidelik in sy vreemde Hollands dat hy ’n reisende onderwyser is wat graag die jongeheer en die juffrou wil onderrig. Nôi Elsie maak hom stil: “Wat ek nodig het, is ’n mansmens wat kan plaaswerk doen, nie nog ’n mond …”

      “Maar hier staan hy voor juffrou! Hierdie twee hande ken werk. Bedags kneg, sawens meester. Al wat ek vra, is ’n bord kos en ’n slaapplek,” kan die man skielik verstaanbare Hollands praat.

      “Dan’s jy mos ’n droster,” beskuldig nôi Elsie sonder om die geweer te laat sak.

      “Asseblief tog, Mamma. Laat hy die werk doen. Kyk hoe lyk my hande al,” soebat Aletta.

      “Goed, jy kan bly vir ’n maand. As ek daarna sê jy loop, dan loop jy, of ek skiet jou agterstewe vol lood. Verstaan ons mekaar?”

      As meester Goedemoed ’n maand later wou loop, sou nôi Elsie hom seker op haar knieë gesoebat het om te bly, want oor een ding het hy nie gelieg nie: sy hande staan vir niks verkeerd nie. Voor hanekraai soggens weergalm dit al oor die werf: “Aalwyn! Lambert! Roer julle litte!”

      Dit is vir Lammert lekker om saam met Meester te werk. Nooit ’n geskellery of ’n geslaan nie, al luister hy soms nie oor Meester sy naam so verkeerd sê. “Maar Lambert is hoe jou naam in die boek geskryf is,” stry Meester. “Dis jou ma en juffrou Elsie wat dit verkeerd uitspreek.”

      So tussen die werkery deur word Aalwyn in die kategese onderrig. Hy moet die Bybel van voor tot agter ken om in die gemeenskap van die Heiliges verwelkom te word, sê Meester. “Wat is dit?” wil Aalwyn agterdogtig weet.

      “Moenie vir jou dom hou nie,” raas Meester. “Jy weet goed om as lidmaat van die Kerk aangeneem te word, moet jy katkiseer. Eers dan mag jy trou en jou kinders laat doop.”

      Aalwyn se gesig lyk of sy ma hom pas ’n skeut bitterals ingejaag het. “Vrou vat! Ga sies, dit gaan ek tog nie doen nie!” Lammert beaam dit met woeste kopknikke.

      “En wat weet julle twee nogal van vroumense?”

      “Aletta,” antwoord Lammert en Aalwyn gelyktydig.

      “Ons praat weer,” knipoog Meester, “oor so vier, vyf jaar wanneer julle lywe begin roer. Dan sal julle net by die juffrouens wil lê en daarvan kom babas.” Toe Aalwyn nog wil teëpraat, raas hy: “Basta nou, Aalwyn! Jou moeder se woord is wet en sy het gesê jy sál elke vraag uit die Bybel reg antwoord as jy die dag in die Kaap gekatkiseer word. En jy sál die Bybel vlot kan lees én jou naam kan skryf.”

      So maak Lammert kennis met die Bybel. Hy wonder of al die stories wat Meester vertel rêrig uit die Bybel kom, maar sê liewer niks en hou hom in as Meester vrae vra, al ken hy die antwoorde. Dalk vervies Meester hom as hy antwoord, of sy twyfel uitspreek, en jaag hom eenkant toe waar hy nie kan hoor nie. Hy byt veral swaar aan die storie van Adam se vrou wat uit sy ribbebeen gemaak is.

      So ook Aalwyn. “Dit moet verduiwels seer gewees het. Dan bly ek sonder vrou,” val hy vir Meester in die rede.

      “Wag maar, Aalwyn, die dag as die regte vrou jou pad kruis, sal jy net aan jou hartklop weet dat jou ribbebeen vlees en bloed geword het. En as sy weg is, sit daar vir ewig ’n yslike gat.”

      “’n Slang wat praat?” tart Aalwyn toe Meester verder gaan met die storie. “Nooit gesien nie. Pofadder lê doodstil op ’n klip vir jou en wag en dan’s dit net ‘whoep’ soos hy pik. En die koperkapel staan bakkop …”

      “Ja, ja, ek ken regte slange. Hierdie was die duiwel in die gedaante van ’n slang,” laat Meester hom nie deur Aalwyn van stryk bring nie.

      Met die aanplant van nuwe lemoen- en nartjieboorde nader aan die rivier leer hulle die Tien Gebooie en snags skree Lammert homself wakker wanneer hy droom hy is in die hellevuur gegooi oor al die sondes op sy kerfstok. “Kan ’n donderbui die hellevuur blus?” waag hy dit eendag om vir Meester te vra.

      Meester kyk lank na hom voor hy antwoord: “Dis nie ’n vuur soos ’n veldbrand nie. Dis ’n vuur wat in jou binneste brand. Nie eens trane kan dit blus nie.”

      Met die bou van leivore van die rivier na die nuwe boorde leer hulle tel. Hulle dra spoelklippe aan en moet vir Meester sê die hoeveelste klip dit is voor hulle dit op die hoop mag sit. Toe hulle by die bouwerk kom, luister Lammert nie meer na Meester en Aalwyn se pratery nie. Dis asof elke klip vir hom sê waar hy tussen die ander wil lê.

      By lees en skryf kom Lammert nooit uit nie, want dit word saans in die kliphuis gedoen. Hy vra sy ma om by nôi Elsie te hoor of hy nie saans saam met Aalwyn kan gaan leer nie, maar sy jak hom af: “Wat wil jy met woorde op papier maak? Dit bring net hartseer.”

      Meester prys Lammert se bouwerk toe daar later ’n skuur met ’n solder bo-op gebou moet word sodat hy ’n behoorlike blyplek kan hê. Daarna kom ’n watermeul langs die rivier, waar nie net hulle eie koring gemaal word nie, maar ook die ander boere in die vallei s’n. Nôi Elsie verruil Holkrans se oorskietmeel vir kruit en lood

Скачать книгу