Verlorenkop. Celesté Fritze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Verlorenkop - Celesté Fritze страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Verlorenkop - Celesté Fritze

Скачать книгу

navorsing gedoen.

      Vir eers sê sy niks van die perde nie. Met die perde van Colchester sal sy wag. Behalwe vir die adres van die perdeplaas wat sy deur stiefoupa Stanley Moffett kon naspeur, moet sy nog uitwerk presies waar sy al die inligting vandaan gaan haal. As sy iets van haar perde kan saamvat, sal sy tevrede wees.

      Kerneels is gewillig om te gaan, maar hy hou by sy wens om in Suid-Afrika begrawe te word. “Lara kan die toebroodjies bedien,” is al wat hy verder oor die onderwerp van sy gebeente te sê het.

      “Ek is mal oor jou,” fluister sy.

      “Trou dan met my, terwyl jy so mal is. Maar jy sal moet wag, dis nog lank voor ek klaar geswot het. Magnus Malan soek sy pond vleis. Vir die minister van verdediging sê jy nie nee nie.”

      Kerneels Pieterse maak onversteurd gereed vir Grensdiens. Niemand kan hom vir ’n dienspligontduiker uitmaak nie.

      Die ongeduld met sy studie, die weermagkampe, die navorsing, die aanhoudende gewag, beklem Jo. Die pratery oor alzheimer. Die vrees en onrus in haar. Dit hou aan broei en stoom in haar kop. Sy grappies sink skaars in.

      “Knock, knock.”

      “Who’s there?”

      “Alzheimer.”

      “Alzheimer who?”

      “Knock, knock.”

      Kerneels se ouer broer Dewald stem in dat hulle op die Pieterses se familieplaas naby Skurweberg begrawe kan word. Dit klink nie na soetkoek om in Dewald Pieterse se geselskap op die hiernamaals te lê en wag nie, maar die sterre vergoed vir als, sê Kerneels. Jo stem in, om vredeswil.

      10

      Die Pieterse-familieplaas, Karoo, Desember 1978

      Dewald Pieterse is op proef. Met die voorstelslag het Kerneels beduie sy broer staan in diens van barmhartigheid. Dewald moet vandag sy voordiakenlike plig uitvoer en tydens die heilige nagmaal saam met die gemeente brood breek. Sy oë rus priemend op die sinkplaatpad. Die vaal hare is kort geskeer om die ore. Bo is die hare langer, met ’n kantpaadjie wat die stringe met die uiterste presisie eweredig na links en regs verdeel. Die kam het vore gelaat in die platgekamde hare wat vir Jo soos toutjies seegras lyk. Die sweet gly teen sy slape af.

      As teken van sy waardigheid is sy pak stemmig swart en sy das witter as sneeu. Dewald spreek net uit een mond: die Nederduits Hervormde Moedergemeente Voortrekkersrus. Hy is nóg ’n wynvlieg, nóg ’n vuilgewinsoeker, ’n ware Godsman volgens Timótheüs. Sy verloofde is ewe nugter. Om Dewald nie op die weg van versoeking te plaas nie, woon Marinda tot die huweliksnag in ’n losieshuis op die dorp. Die losieshuis het ’n blink reputasie.

      “Gaan loop jy bietjie rond, Jo. Kerneels moet my kom help met die brood en die wyn,” ontvang Jo haar opdrag toe hulle in ’n kleinerige stofwolk voor die kerk stilhou.

      ’n Vlaag kleinrooivalke skrik op uit die naaldbome langs die kerkgebou.

      “En gaan Pappie vanmiddag vir ons die vleisies sny?” hoon Jo agter Dewald aan. Hy ignoreer haar.

      Sy loop skoorvoet in die stofstraat af, in ’n soort traagheidsmoment wat deur die hitte aangebring word. Vir wat laat sy haar pla deur die Sovereign Prince Rose Croix of Heredom? Een wat geblinddoek loop na sy verligting, wat geen gesprek kan voer sonder geïmpliseerde vergelding of straf nie.

      Die dorp is stil. ’n Trop honde kom in die hoofstraat af gedraf, snuffelend van polgras tot polgras. Jo vou haar kerkrok onder haar boude in en gaan op die sementrandsteen sit, steek ’n sigaret aan. Nou soek sy weer kak. Kerneels hou nie van die rokery nie.

      “Ek soek ’n stukkie brood,” onderbreek ’n stem.

      ’n Bruin dogtertjie betrag haar pleitend. ’n Snotelf druppend onder die neus.

      “Ek is honger, Juffrou,” bedelhandjie uitgesteek.

      Jo kyk om haar rond. ’n Ent verder staan nog ’n groepie kinders. “Is hulle ook honger?”

      “Ja, Juffrou.”

      “Waar is julle ma’s?”

      “Nei, hulle slaap, Juffrou.”

      “En julle pa’s?”

      “Nei, hulle slaap ook, Juffrou.”

      “Wat is jou naam?”

      “Priscilla.”

      Jo wonder wat sy moet doen. “Priscilla, ek het nie brood nie, net een rand, maar dis vir kollekte. Wil julle die een rand hê?”

      Sy haal die groot eenrandstuk uit haar handsak en hou dit in die lug op. Die oggendson reflekteer op Soli Deo Gloria 1978. Sy druk dit in die handjie, vou haar hand om die vuis. “Gaan koop vir julle sweets, Priscilla. ’n Mens kan nie van brood alleen leef nie.”

      “Dankie, Juffrou,” met blink oë. “Ma-goed is gesyp, ons kry nie kos nie.”

      Jo se oë dwaal na die groepie wat in die bakkende son staan. Almal is een vaal kleur van die stof. ’n Paar brommers hang om stukkende knieë, om die bloed aan die een se bobeen. Vader, sy moet liewer nie kyk nie. Die dronk piele.

      Toe sy uit die hitsige vroegmôre binnetoe loop, is die klipkerk koel en versadig aan die geur van nagmaalwyn.

      Dewald kyk op toe sy by die konsistorie inkom. “Vroumense mag nie hier wees nie, Jo.”

      “Fok jou, Dewald, jy gee my ’n gatkramp.”

      “Mens vloek nie in Gods huis nie, Jo. Kerneels, praat met jou verloofde.”

      “Jislaaik, broer, hier staan ek gewone mens en help met die wynskinkery. Wil jy hê ons moet help, of kan ons gaan naai?” vra Kerneels geïrriteerd.

      Dewald bekyk Kerneels fronsend. “Nee, help, man. Asseblief. Dominee en die ouderlinge is netnoumaar hier. Laat Jo buite gaan sit. Vroumense hoort nie hier binne nie. Ons moet nog die brood breek.”

      Sy raak nog meer bebliksem. “Fok tog, van waar is jy? Gaan kyk daar buite in die stofstraat as jy wil sien waar mans hoort.”

      Kerneels draf agterna toe sy by die konsistorie uitstorm. “Jo, dis nagmaal. Ons moet die vrede bewaar.”

      “Kan julle nie sien die kinders het honger nie? Kan jy nie sien hulle is verniel nie? Gaan haal vir hulle die nagmaalbrode.”

      Kerneels gaan op die kerktrappies sit en laat sy kop in sy hande sak.

      “Wat? Gaan ons almal ons bekke hou? Iemand het baba Jesus ’n oneer aangedoen,” hou Jo aan.

      “Here, Jo. Wat makeer jou?”

      “Gaan kyk. Daar is nog een verkrag laas nag, van julle Krismiskonsert, van die soetwyn. Die bloed is nog aan haar.”

      “Asseblief, Jo. Dis nie nou die tyd nie.”

      “Vir wat? Wat weet julle mans? Waar was jy? Jy wat wil hê ek moet net reg lê. Wat van die kinders?”

      “Asseblief,

Скачать книгу