Verlorenkop. Celesté Fritze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Verlorenkop - Celesté Fritze страница 10

Автор:
Серия:
Издательство:
Verlorenkop - Celesté Fritze

Скачать книгу

stroboskopiese blou lig hulle van die pad af.

      “En waarheen is julle so skelm op pad?” wil die middeljarige verkeerskonstabel weet wat stywerig van die motorfiets afklim, sy valhelm verwyder en met sy boeteboekie onder die arm aangestryk kom.

      Lara klim wetsgehoorsaam af. Sy hou haar romp hoog teen haar bobene opgetrek. Bok vir sonde.

      Die konstabel skryf die oortreding puntenerig neer. Van uiterste konsentrasie op die opgelegde taak verskyn daar ’n spoegdruppel in die een mondhoek. Sy tong vee daaroor. Jo deins terug van ’n sweetwalm.

      “Moet jy so kwaai wees?” flankeer Lara.

      “Jy weet jy mag nie lift sonder ’n helmet nie, Juffrou,” sê die konstabel. Sy oë is bedrywig oor Lara se bene. “En jou bande is glad. Jy beter reguit koshuis toe ry, of ek rapporteer julle,” vir Jo.

      Hy oorhandig die boetekaartjie: Pasasier dra nie ’n hell mit nie. R10.

      “Ek gaan hom iets gee om oor te kwyl,” mompel Lara met die opklimslag. Sy gryp die kaartjie by Jo, druk dit by haar bra in en trek haar romp verder teen haar dye op.

      “Jy gaan help betaal!” skree Jo met die wegtrek.

      Die blou lig volg hulle tot voor die koshuis.

      “Met polisiebegeleiding. How fitting,” sê Lara.

      Sy kan nie dink met Lara om haar nie. Wil op haar eie gaan tjank.

      “Fokken klim net af, dankie.”

      “Jy moenie jou ma laat worry nie,” maan Lettie met teetyd die volgende oggend. Die koshuis se hoofskoonmaakster gaan op die flower power-matjie voor die bed sit. Sukkel die slangvelstewels met die hoë platformhakke aan, rits dit toe, staan wankelrig op. “Jy moet skryf jy het my die boots gegee. Hulle sal dink ek het dit gesteel,” kweel die swart watervoël wat op uitheemse stelte die gang af hinkepink.

      Jo klem die voedoe-pop met die dikgestopte voëlsaadlyf wat sy vir twee rand by Lettie gekoop het in haar hand vas. Sy stap kas toe, haal ’n speld uit die naaldwerkmandjie wat haar ma vir haar ingepak het. Kobus de Lange se voedoe-pop kry ’n steek in die skrotum.

      “Sterk wees, girl,” sê Kerneels Pieterse wat nog pille aandra, meer kom oë wys, wat Kamermaat afsê en Jo een aand ná klas kom vra om met hom uit te gaan. Sy bly hom ’n antwoord skuldig.

      “Ek sal wag dat jy tot jou sinne kom,” sê hy.

      Snags droom Jo sy ry op ’n uitgekerfde houtperd in ’n vinnig tollende mallemeule. Sy klem ’n baba in haar arms vas. Die baba wat soos ’n voedoe-poppie lyk, het ’n skelrooi mond. Antoine staan langs die ronde platform, sy arms na die kind toe uitgestrek.

      Jo dink nie aan ’n ander moontlikheid nie. Skutter Kobus de Lange se voëlsaadpop kry nog ’n speld in die lewer. Wanneer sy aan die verkragter dink, is sy bly sy is ontslae van die kind.

      Daar is ’n soort behoudende krag in haar onderwysstudie.

      Anna is verheug om die baas van ’n nuwe linnekas te word. Sy help troureëlings tref en gordyne hang, plan maak.

      In ’n brief wat Jo van Allemansfontein af kry, skryf haar ma: Ai, dié Hendrik het darem sulke goeie smaak. Hy het vir Bokkie die mooiste oranje sitkamerstel gekoop. Hy kla net sy voer hom vet. Ek hekel en maak trousseau bymekaar. Jy weet mos ta’ Riana is hopeloos met naaiwerk. Arme Bokkie. Ons sien verskriklik uit na die baba se koms. Ma hoop jy leer hard, my kind.

      Jo besluit om nie haar kortstondige tienerswangerskap te boekstaaf nie. Dit is nie leesstof vir ’n dagboek nie. Sonja Kamermaat is die hel in oor haar kêrel groener weivelde opsoek. Sy is nuuskierig en agterdogtig. Krap maklik in ’n ander se goed.

      Sal die Franse myningenieur haar onthou wanneer hy weer eendag in Suid-Afrika is? Sy dink al hoe minder aan hom en aan Nicolas. Van dink aan die kind kan daar net trane kom, en sy moet leer.

      Haar onderwysbeurs betaal uit. Sy koop nuwe motorfietsbande en die digteres Jeanne Goosen se digbundel Orrelpunte.

      Muriel Weber is uit die koshuis geskors omdat sy iets met ’n kommunistiese kunstenaar aangevang het, hoor Jo in die koshuisgange.

      Dit word ’n roetine. Ná haar laaste klas op ’n Woensdagmiddag kry sy koers na die kunstenaar se huis. Sy wil ry, sy wil bly. Duisternis, bron van onheil en kwaad, prewel sy in die koelte van die valsdoring naby die loervenster, soos dit in die katkisasieklas by haar ingeprent is.

      Wanneer dit skemer raak en daar beweging in die ateljee kom, vlug sy.

      8

      Laeveld, 1977

      Geld is skaars. In die neerdrukkende lang Desembervakansie van haar eerste jaar gaan Jo by die Laeveld-motel se ontvangstoonbank werk.

      “Soos jy kan sien, is daar ’n standaardvorm om in te vul, in triplikaat. Die oorspronklike, boonste vorm gee jy vir die kliënt. Die tweede afskrif sit jy vir die rekenmeester in die rooi lêer, en die ander een bly hier in die boek,” verduidelik die hoogswanger ontvangsdame wat vir Jo soos ’n oorgroot stokkielekker in haar helderkleurige tentrok lyk. Jo knik om te wys sy verstaan die stomvervelende taak, terwyl haar linkeroog, die een wat gewoond is om sy eie kykpad te volg, na die blou lug uitreik.

      Kerneels is vir die vakansie na sy ouers se plaas in die Roggeveld. Die dramakundestudente sê volgens die vroueprofessor met die driftige stem kan ’n mens die “blom-groot” sterre daar uit die hemel pluk. Jo dink die sterre op Allemansfontein is ewe helder, maar niemand maak so ’n ophef daarvan nie.

      Dit is bedompig in die ontvangsarea. Die lugversorger dreun net op die laagste stelling. Sy moet die fout in die klagteboek aanteken sodat die faktotum die “apparaat” kan kom regmaak. Die telefoon se gelui onderbreek die sleur.

      “Goeiemiddag, Lowveld Motel, hoe kan ons u van diens wees?” Jo weet nie waarom die Laeveld-motel se naam op Engels uitgespreek moet word nie. Niemand hierlangs kan die taal ordentlik praat nie. Die swanger een wat oor die ontvangstoonbank waak, verdwyn met ’n kopknik op ete.

      “Hoe gaan dit?” vra Kerneels.

      Jo val hom in die rede. “Ek moet hier wegkom.”

      “Wegkom van waar?”

      “Van Suid-Afrika, van die manier hoe die mense dink. My ma-hulle se manier van dink. Die selftevredenheid van die hele matriargale linie. Die hele spul opgefokte nasate van die Retiefs. Die gesanik oor Hendrik en Bokkie se koliekbaba, die swartes wat skelmer en luier word, die reën wat wegbly. Die onheil van die skynheiligheid, dit maak my siek. Hoor jy my?”

      Ná ’n kort stilte, waarin sy kon sweer sy hoor die ratjies in Kerneels se kop oorskakel: “Ja, dalk moet ons plan maak,” sê hy. “Gaan sien jy eers die dokter, Jo. Jy hou aan uitstel. Hy mag niks vir jou ma-hulle sê nie.”

      Sy vererg haar. Wat sal hy weet van die het-jy-gehoor-hulle-sê-kultuur van haar snikhete dorpie?

      “Los dit nou, ek het mos gesê ek sal ginekoloog toe gaan in die stad. Hulle kuier bloedskandelik naby op hierdie dorp. Dit gaan by my ma uitkom. Ek sluk die bleddie pille.”

      “Goed, maar jy bel my dadelik. Ek moet waai, my pa soek hulp by die voerkraal.

Скачать книгу