Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 16

Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux

Скачать книгу

eers kwaad. Soort van. Ontsteld, in elk geval, en toe slaan hy net so om en wens my geluk, maar ek kon sien hy is dik van die lag.”

      “Lag?”

      “Ja. Asof hy weet ek speel net ’n speletjie en dis in orde, hy sal saamspeel.”

      Philip sit net na haar en kyk. Hy draai sy wynglas stadig in die rondte tussen sy vingers en sy sien vir die eerste keer dat hy baie mooi hande het. Skraal vingers. Hy sug effens voor hy weer praat. “Hy het wel vir my gevra of ek beswaar het as jy oor drie weke vir die naweek saam met hom en ’n groep vriende weggaan. Hy sê dis lankal gereël.”

      “Hy jok,” sê sy kortaf. “Dis waar hy die afgelope naweek was en volgens hom was dit groot pret. Middernagfeeste op die strand en die meisies wat die mans in die nag met water gooi.”

      “Hoekom wil hy hê jy moet saamgaan?”

      “Hy dink ek sal dit geniet.”

      “En sal jy?”

      “Natuurlik nie.” Sy raak ingedagte en sit haar slaai afgetrokke en eet. “Tensy hy iets wil bewys.”

      “Hy het geklink asof hy iets in die mou voer,” sê Philip. “Dis miskien te sterk gestel. Hy het my baie mooi gevra. Belowe hy sal jou goed oppas, my verseker dis alles baie ordentlik, die meisies slaap in die een chalet en die mans in die ander.”

      Sy kyk op. “En wat het jy gesê?”

      “Dat dit vir jou is om te besluit. Ek is nie ’n tronkbewaarder nie.”

      Sy leun terug in haar stoel. “Ek wonder … Hy weet ek hou nie van sulke wilde, deurmekaar naweke nie. Dink jy hy gaan probeer om … om alles beter te organiseer sodat hy my kan wys sulke uitstappies kan tog vir my lekker wees? Dink jy dis dalk sy eerste poging om my terug te wen?”

      “Ek weet regtig nie.”

      “Miskien moet ek gaan,” sê sy. “Kyk of dit so is. Hom ’n kans gee om te bewys dat hy iets kan organiseer wat ander mense se welsyn ook in ag neem.”

      “Doen hy dit nie normaalweg nie?”

      Sy skud haar kop en lag. “Sy matelose entoesiasme sleep gewoonlik die wa deur die drif, maar nee, prakties is Jack nie.

      Hy sal nie een onderdeel van sy duiktoerusting vergeet nie, maar hy sal nie daaraan dink dat mens ook moet eet of drink of slaap nie.”

      “Wel,” sê Philip in ’n neutrale stem. “Dis vir jou om te besluit. Soos ek gesê het, ek is nie jou oppasser nie.”

      Sy knik. “Ek sal sien hoe ek voel. En ek sal in my eie motor gaan sodat ek kan ry as ek wil.”

      “Dis altyd ’n goeie riglyn.” Hy skink haar glas weer vol en stel voor hulle drink koffie op die terras aangesien die wind nie waai nie.

      Dit is tog koeler as wat sy voorsien het en toe hy vra of sy nie liewer binne wil sit nie, skud sy haar kop. “Nee, dis so lieflik hier met die hele stad aan ons voete.”

      Hy verdwyn in die huis in en kom terug met ’n dik oopknooptrui wat hy oor haar skouers hang. “’n Goeie tante van my het die trui vir my gebrei en ek het dit nog nooit gedra nie.”

      “Dankie,” sê sy en glip haar arms in die moue. Die dun bloes wat sy aanhet, is heeltemal ontoereikend. Sy moet die moue ’n hele paar keer oprol voor haar hande weer uitsteek en soos sy al heeldag elke vyf minute doen, kyk sy eers weer na die mooi ring. “Dis regtig die mooiste ring,” sê sy. “Ek sal dit soos goud oppas.”

      Hy glimlag net vir haar. “Het jy nog iets op die hart gehad?” vra hy na hy hulle koffie geskink het. “Jy het vanoggend so ongelukkig gelyk.”

      “Nee,” sê sy verleë. “Behalwe miskien dat hy … Wel, toe hy gisteraand so geamuseerd lyk toe ek hom vertel, het ek kwaad geword en gedink ons sal hom … jy weet?”

      “Nee, ek weet nie. Wat moet ons doen?”

      Sy trek die dik trui stywer om haar bors. “Saam gesien word of so iets. Hy moenie dink dis net ’n grap nie.”

      “Ons kan dit doen, ja. Het jy iets in gedagte?”

      Sy voel baie ongemaklik. “Nee, ek weet nie. Uitgaan of so.”

      “Ons kan saamry werk toe,” stel hy voor. “Sal dit nie help as ek jou in die middae by die kantoor kom haal nie?”

      “Ja, dit sal seker, maar ek wil jou ook nie verontrief nie. As jy dalk iets anders wil doen of ná werk êrens heen moet gaan …”

      “Dan spreek ons so af. Daar is seker dae dat jy ook ná werk ander draaie wil ry, maar as dit nie die geval is nie, ry ons saam. En ek kan jou kom haal vir middagete.”

      “Ag, ek eet sommer ’n broodjie.”

      “Ek ook. Ons kan dit saam doen.”

      “Dankie,” sê sy en kyk hom streng aan. “Maar die laaste ding wat ek wil doen, is om jou geld te kos. Ons betaal elkeen vir sy of haar eie kos.”

      “As dit jou gelukkig sal maak.”

      “Ja,” sê sy ferm. “Ek het hierdie ding aan jou opgedring. Dit mag nie vir jou onkoste meebring nie.”

      Hy haal net sy skouers op en vir die res van die aand praat hulle nie weer daaroor nie. Hy wys vir haar sy CD-versameling en sy vind dit wonderlik. Toe dit te koud word buite, sit sy op die mat in die woonkamer en hy speel vir haar snitte wat sy wil hoor. Toe hy haar later by die hysbak groet, dink sy daaraan dat sy jare laas so ’n vreedsame, gesellige aand deurgebring het.

      Elizma is nog wakker toe sy instap. Sy staan haar tande en borsel toe Nicolette inkom en kyk vraend om. “Lekker aand gehad?”

      “Verbasend lekker.” Sy beskryf eers die dakwoonstel, die kos en toe die musiek. “Ek het nie geweet ons gebou het sulke woonstelle nie,” sê sy en sit op die rand van die bad om haar grimering te begin afhaal.

      “Ek het nogal gewonder wat daar aangaan,” sê Elizma. “Mens kan die bome van die straat af sien.”

      “Ek het dit nog nooit opgelet nie.”

      Elizma droog haar gesig af en bekyk haar vriendin. Nicolette dra nog die dik trui en lyk soos ’n dogtertjie wat in ’n kombers toegerol is. Sy skud haar kop effens. “Jy was nog nooit baie oplettend nie, Nico,” sê sy.

      “Ek is!”

      “Nee, jy is nie. Jy sien net wat jy wil raaksien. Vir die mees ooglopende goed het jy ’n blinde kol.”

      Hoofstuk 7

      In die volgende paar weke tree hulle op soos hulle afgespreek het. Philip kom haal Nicolette smiddae by haar kantoor as nie een van hulle laat werk nie en dit gebeur nogal dikwels dat hulle dan vir Jack raakloop. Hy is altyd die vriendelikheid self. Groet hulle, bly altyd ’n ruk staan om eers te gesels en waai hulle agterna asof hulle doen en late nie die minste uitwerking op hom het nie. As hulle middagete eet by die plekkie net om die hoek van hulle gebou, is Jack ook gereeld daar. Dis nie ongewoon nie, hy

Скачать книгу