Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 20

Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux

Скачать книгу

help nie, sy druk haar vuis teen haar mond en huil. Hy sê niks nie, stap net verby haar na die badkamer en draai die badkrane oop.

      “Eerstens ’n warm bad, “ sê hy en trek haar baadjie uit. “Jy is nat tot op jou vel.”

      “Ek weet,” huil sy. “En ons het ontbyt laas geëet en ek het gisternag amper niks geslaap nie en my kop is seer en ek gaan nooit in my lewe weer droog en warm wees nie.”

      “Nee, jy sal,” sê hy en maak haar tas oop. “Kry jou slaapklere.”

      Sy haal dit uit met bewende hande en loop na die badkamer. Selfs toe sy onder die warm water ingly, is haar kop nog te verward om te weet wat aangaan. Miskien is dit alles ’n hallusinasie, niks anders as wensdenkery nie. Sy gaan haar oë oopmaak en terug wees onder die lekkende afdak, tussen lawaaierige mense wat nie wil eet nie. Die hitte van die water laat haar byna aan die slaap raak, maar sy bad, was haar hare en trek haar nagklere en kamerjas aan.

      “Waar is jou pantoffels?” vra hy toe sy later terugkom in die woonkamer.

      “Ek het hulle nie gebring nie.”

      Hy loop weg, kom terug met ’n paar van sy droë sokkies en hurk voor haar om dit aan haar voete te trek. Sy kyk af op sy hare wat begin droog word en is meer oortuig as vantevore dat alles net ’n droom is. Hy het die verwarmer in die kombuiskas gekry en hulle nat skoene en reënbaadjies hang oor die eetkamerstoele om droog te word.

      “Ons eet sommer dadelik,” sê hy. “Jy wil seker nie meer drink nie.”

      “Ek het nie baie gedrink nie,” sê sy gekrenk.

      Hy glimlag effens. “Dit was nie ’n beskuldiging nie.”

      Hy loop na die kombuis en kom terug met ’n skinkbord waarop ’n bord, mes en vurk is. Al hoe meer voel sy dat alles onwerklik is. Waar kom hierdie geurige, warm bredie vandaan? Watse goeie feë duik uit die donkerte en die reën op haar af en sit haar in ’n warm bad en bring vir haar warm kos? Sy sal later daaroor dink, neem sy haar voor, nou moet sy eet.

      “Beter?” vra hy toe hy die skinkbord wegvat ná sy klaar geëet het. “Wil jy nog hê?”

      Sy skud haar kop. “Dit was wonderlik. Die lekkerste kos wat ek nog ooit geëet het.” Haar oë voel swaar. Die kamer word warm, sý is warm en droog en versadig en dis met moeite dat sy haar oë op Philip fokus. “Waar?” vra sy. “Waar kom jy vandaan? Hoe …?”

      “Ek het vanoggend vroeg wakker geword en gesien hoe dit reën,” sê hy kalm. “Toe bel ek my vriend by die weerkantoor en hoor dat nog swaarder reën en stormsterk wind verwag word. Toe bel ek hierdie plek, hoor dat daar heelwat kansellasies was as gevolg van die slegte weer, bespreek ’n chalet en kom. Baie eenvoudig.”

      Sy veg teen die vaak. “Ja, maar hoe het jy geweet ek …?”

      “O, ek het julle daar onder gesien toe ek so teen middagete gekom het, maar ek wou nie inmeng nie. Ek het net gedink ek sal hier wees ingeval jy my … e … nodig het. Toe dit begin donker word, het ek afgestap. Julle het my nie gesien nie, maar ek kon sien jy lyk nie baie gelukkig nie.”

      “Jy moes my toe al kom kry het.”

      Hy gee ’n hoesie. “Ek wou nie die partytjie ontwrig nie, maar toe ek nou-nou sien julle is nog daar het ek begin dink jy moet nou al baie koud en nat wees, ek beter jou maar gaan haal.”

      “Ja,” sê sy. “O ja, Philip. Ek is so bly jy het.”

      Sy glimlag is vol deernis. “Jy lyk of jy kan omval. Sal ek vir ons koffie maak?”

      Sy trek haar regop, want sy het begin skuins kantel op die bank. “Ek sal … die skottelgoed was as jy die … die koffie maak.”

      “Jy sal net daar bly,” gebied hy toe hy opstaan. “Ek sal die koffie bring.”

      Maar toe hy terugkom, lê sy plat op die bank, een been half op die mat en haar oë toe. Hy sit die koffie saggies neer, gaan haal ’n kombers uit die slaapkamer en kom gooi haar toe. Sy slaap so vas dat sy nie ’n geluid maak toe hy haar been versigtig op die bank skuif en ’n kussing onder haar kop instoot nie. Toe gaan sit hy oorkant haar, tel sy koffie op en gooi suiker by. Hy drink dit stadig, sy oë op haar gesig. Haar wange het nou weer kleur van die hitte in die vertrek, haar hare word droog en val oor die een helfte van haar gesig, en een hand het onder die kombers uitgekruip en lê ontspanne langs haar, die palm na bo gedraai, die vingers effens gebuig.

      Maar op sy gesig is geen uitdrukking nie. Later staan hy op en gaan haal sy boek, van tyd tot tyd kyk hy op en rus sy oë lank op die slapende Nicolette voor hy weer sy aandag terugdwing na die bladsye voor hom.

      Nicolette, wat weggesink het in ’n slaap so diep, voel asof sy van ’n ver, ver plek teruggesleep word toe daar skielik ’n harde klop aan die deur is en direk daarna ’n vlaag koue, nat lug oor haar gesig. Sy maak haar oë verward oop en kyk op. Philip het opgestaan, sy hoor hom praat. “Kan ek help, Jack?” vra hy sag.

      “Waar is Nicky?” hoor sy Jack se harde stem. “Moenie dink ek is dom nie. Ek het gesien jy ry nie weg nie, ek het gesien jou motor staan hier buite.”

      “Sjj,” sê Philip waarskuwend. “Nicolette slaap.”

      Sy maak dadelik weer haar oë toe en hou hulle so.

      “Waar kom jy daaraan om Nicky net op te raap en weg te ry?” vra Jack. Sy kan aan sy stem hoor hy het te veel gedrink en is nou aggressief. “Sy is hier saam met my. Sy is mý verantwoordelikheid.”

      Nicolette haal baie saggies asem sodat sy alles kan hoor.

      “Jy het dit mis,” sê Philip bedaard. “In die groter opset is sy my verloofde en dus my verantwoordelikheid.”

      “Nie hierdie naweek nie! Sy het saam met my gekom!”

      “Dan het jy nie baie verantwoordelik opgetree nie,” sê Philip in sy onverstoorde stem. “Sy was baie nat en miserabel.”

      “Dis nie vir jou om te oordeel nie. As ek gedink het sy is ongelukkig, het ek haar huis toe gevat!”

      “Dis nie die indruk wat ek gekry het nie. Na my raming het sy omtrent agt uur lank, indien nie langer nie, daar in die reën en wind gesit. Sonder kos.”

      “Daar was baie kos.”

      Philip ignoreer die nukkerige stemtoon. “Moenie so hard praat nie,” versoek hy beleef. “Sy slaap. As sy môre wakker word en sy wil verder saam met julle partytjie hou, is dit natuurlik haar keuse. Ek sal haar nie verhinder nie. Nou is sy egter baie moeg en sy slaap.”

      “Ek wed sy slaap,” sê Jack ru. “Seker lekker in jou bed.”

      Nicolette suig haar asem vinnig in. Sy kan sien dis die beste om te maak asof sy slaap en die heel laaste ding wat sy wil doen, is om die situasie te vererger, maar as Jack weer so iets sê, gaan sy opspring en hom deur sy aantreklike gesig klap.

      “Ek dink jy is ook moeg, Jack,” sê Philip. “Sal ons nie môre verder gesels nie?”

      “Ek wil haar sien!” dring Jack aan.

      Sy kan hoor hoe Philip sug. “Sy lê hier op die bank.”

      Voetstappe

Скачать книгу