Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 24

Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux

Скачать книгу

dun pols. Die lang wit hare is uitgeborsel en kabbel oor haar rug.

      “Welkom, welkom!” jubel sy en gooi haar weer teen Philip se bors, so hard dat hy laggend protesteer dat sy moet oppas of hy laat die bottel wyn val.

      “Hier is die vleis,” sê Nicolette suur.

      “Kom deur,” nooi Louisa en haak besitlik by Philip in. “Onthou jy nog waar die braaiplek is?” Sy stoot hulle voor haar uit na ’n soort binnehof, beskerm teen moontlike wind en baie goed beplan. Langs die vuurmaakplek met sy hoë skoorsteen is ’n ingeboude blad waar borde en bakke rondstaan.

      Die ander lede van die groep sit daar rond, behalwe Louisa se broer, Stefaan, wat besig is met die vuur. Almal kry wyn en Nicolette gaan sit langs een van die meisies en knoop ’n gesprek aan. Louisa bly by Philip; selfs toe hy gaan sit, trek sy haar stoel tot teen syne en hang omtrent in sy skoot terwyl sy praat en ou herinneringe oprakel.

      “Onthou jy die aand,” proes sy en waai haar hand in die ander se rigting sodat hulle moet saamluister. “Dit was net die snaaksste ding! Ek en Philip sou na ’n sokkie in die gemeenskapsaal gegaan het en dit was net ná die huis gebou is en daar was nog baie probleme met die water sodat net die buitenste stort gewerk het. Julle ken hom, die een daar by die agterdeur, eintlik net bedoel om ons af te spoel as ons van die see af kom. Wel, nood leer bid, sê ek altyd, en ek wou stort. My ma-hulle was uit, dit was net ek in die huis, wie is daar om my te sien?” Sy lag en gooi haar kop agteroor. “Die enigste probleem is dat ek onderstebo na my horlosie gekyk en my misgis het met die tyd, en hier kom Philip aan en hy kan my nêrens kry nie en hy stap om die huis en daar staan ek, poedelnakend!”

      Nicolette vou haar arms om haar bors en druk haar lippe styf op mekaar.

      “O, ons het ons doodgelag!” skater Louisa. “Ek lag nóú nog as ek daaraan dink.”

      Die meisie langs Nicolette staan op. “Ek moet nog die slaai maak.”

      “Ek sal kom help,” sê Nicolette en spring ook op. “Ek hou nie van stilsit nie.”

      Sy sny die tamaties en komkommers dat die sop spat en die hele tyd hoor sy Louisa se laggende stem deur die oop venster. Toe die mengelslaai klaar is, help sy met die afronding van die ander slaaie en dra dit na buite. Sy is bly om te sien Louisa staan nou by die vuur, maar dit kan net wees omdat Philip daar gaan staan het om met Stefaan te praat. En sy is bly toe die vleis gaar is en almal opstaan en rondbeweeg om in te skep. Sy gaan sit ook doelgerig langs Philip, maar dit keer Louisa nie; sy gaan sit aan sy ander kant.

      “Is julle al die hele naweek hier?” vra Louisa. “Hoe is dit dat ek jou nou eers sien?”

      “Ons het vanoggend eers gekom. Nicolette was saam met ander vriende weg. Ek het haar gisteraand gaan haal.”

      Louisa kyk vir die eerste keer direk na Nicolette. “O, dis lekker. En wanneer ry julle?”Sy wag nie vir ’n antwoord nie, kyk net weer na Philip. “Jy moenie weer so verdwyn nie. Ons moet mekaar regtig sien as ons terug is in die stad.”

      Nicolette eet haar kos wat na niks smaak nie. Die tjops is taai en die aartappels het nie lank genoeg gekook nie. Stefaan hou almal se glase vol en Louisa oorheers die geselskap.

      “Ek het nie poeding gemaak nie,” sê sy toe almal klaar geëet het.

      Netsowel, dink Nicolette, dit sou oneetbaar gewees het.

      “Is julle ou vriende?” vra Louisa vir Nicolette toe hulle koffie drink.

      “Ons is verloof,” sê sy. “Het jy nie geweet nie?”

      Vir die eerste keer lyk die blonde meisie van stryk af. Sy kyk Nicolette ongelowig aan en wend haar tot Philip asof sy verwag hy moet sê dis nie so nie. Maar Philip sê niks nie.

      “Nou toe nou,” sê Louisa. “Slaan my dood. Ek dink altyd aan Philip as die ewige oujongkêrel.” Sy sit haar hand op sy arm en hou dit daar. “Wil jy vir my sê die mure van Jerigo het eindelik geval?”

      “Ja,” sê Nicolette en hou haar linkerhand uit. “Is dit nie ’n besondere ring nie? Ek kan nie help om dit vir almal te wys nie, dis vir my so mooi.”

      Al die meisies kyk na die ring en maak bewonderende geluide. “Stille waters, diepe grond,” sê Louisa en bekyk Nicolette vir die eerste keer ordentlik. Haar oë gly stadig oor Nicolette se uitrusting, haar kort, ongeverfde naels, die dik hare wat oor haar voorkop val. “Baie geluk, julle twee.”

      As Nicolette gedink het dit gaan Louisa haar hande van Philip laat afhou, het sy dit mis. Met ’n verskonende “Wel, jy weet ek en Phil is ou vriende,” gaan sy voort om aan hom te hang. Nicolette sê vir haarself Louisa is net een van daardie soort mense wat hou van fisieke kontak as sy met iemand praat, maar Louisa doen dit nie met die ander nie. As sy met groot intensiteit met Philip gesels, hou sy sy hand vas, speel met sy vingers, vat selfs een keer aan sy wang waar ’n stukkie as vasgewaai het.

      “Sien ons julle môre weer?” vra sy toe Philip eindelik opstaan en aanstaltes maak om te groet. “Ek gaan stap altyd vroeg in die oggend. Wel, vroeg,” giggel sy. “So teen tienuur as ek wakker is. Julle gaan tog seker nie vroeg ry nie?”

      “Ons planne is onseker,” sê Nicolette. “Dit sal alles afhang van die weer.”

      Louisa stap ingehaak by Philip tot hulle in die pad kom wat na die rondawels lei. “Dit was wonderlik om jou weer te sien, Phil,” sê sy en soen hom op die mond. “En dit was baie lekker om jou te ontmoet, Nicoline.”

      “Nicolette,” sê sy deur stywe lippe.

      Sy wag nie vir hom nie, sy klou die leë skotteltjie in haar hand vas en stap so vinnig as wat die klipperige pad dit toelaat. Hy versnel sy pas tot hy langs haar is, maar sy loop net vinniger, haar kop hoog en haar oë glad nie op die ongelyk pad nie.

      “Oppas, Nicolette,” sê Philip en steek sy hand uit na haar. “Daar is dongas gespoel en dis donker. Jy gaan …”

      Dis te laat, haar voet trap skeef in ’n gat en sy val lankuit, die bakkie aan skerwe.

      “Ai, Nicolette,” sê Philip en help haar op. “Het jy seergekry?”

      “Nee.” Sy vee oor haar knieë om die modder af te kry. “Maar die bakkie is stukkend.”

      Hy vat haar baie beslis aan die elmboog vas en so kom hulle terug by die rondawel. Hy sit die skerwe op die toonbank neer en bekyk haar.

      “Jou mooi rok is vol modder,” sê hy. “En kyk hoe lyk jou hande. Kom, was dit sommer hier by die wasbak.”

      Sy is kwaad en haar knieë brand. “Los my uit, Phil.” Sy rol haar oë. “Phil!”

      “Ek kla nie omdat mense jou Nico of Nicky noem nie,” sê hy op sy stil manier. “Of pop.”

      Sy kyk vinnig na hom, vee oor haar oë, wat haar gesig vol modder smeer, en begin haar hande was. Hy staan by haar, maak die spons nat en hurk om haar knieë skoon te kry.

      “Jy moet die rok en trui maar uittrek,” sê hy. “Dis alles vol modder.” Hy klik sy tong. “En dit is so ’n mooi trui.”

      “Wat my darem bedek,” sê sy bitsig. “Ek dra nie klere wat oopgesny is tot by my naeltjie nie, ek dra truie om my warm te hou. Daardie swart

Скачать книгу