Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux страница 25

Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux

Скачать книгу

soen!” sê sy verontwaardig. “Ek het nog nooit so ’n soenerige meisie gesien nie. Ek sou my skaam. Vra nie eers toestemming nie, soen net.”

      Hy kom regop, spoel die modderige spons onder die kraan uit. “Wie se toestemming moes sy gevra het?”

      “Myne. Ek is jou verloofde. Mens doen dit nie as die man se verloofde reg langs hom sit nie. Dis gewoon swak maniere.”

      “Ek het vergeet,” sê hy. “Jy’t mos vroeër gesê jy laat nie toe dat enigeen jou soen nie.”

      “Ek sou so dink!”

      “Ek is jammer,” sê hy. “Ek het nie besef jy het die aand so onplesierig gevind nie.”

      Dit bring haar tot haar sinne. Sy kyk af na haar hande wat rooierig geskraap is, maar nie stukkend nie omdat die modder te glad was. “Nee, dis ek wat om verskoning moet vra. Jy het die volste reg om ’n aand te geniet saam met ou vriende. Veral na alles wat jy die naweek moes deurgaan. Vergeet wat ek gesê het. Jy kan maar môre saam met haar gaan stap. Ek sal net nie saamkom nie. Dit sit my van my kos af as ek sien hoe sy aan jou klou.”

      Hy draai sy kop skeef sodat die lig op sy brillense sy oë verskans. “Hoekom?” vra hy.

      “Hoekom wat?”

      “Hoekom hinder dit jou so?”

      “Sommer,” sê sy nukkerig. “Dis slegte maniere.”

      “Het Jack jou nie die naweek gesoen nie?”

      Sy ruk haar kop regop. “Nee!” Sy kyk af na haar besmeerde klere en sug. “Nou het ek regtig niks meer om te dra nie. Dit was my laaste droë trui.”

      “Ek sal vir jou een van myne leen,” troos hy. “Nou moet jy in die bad klim, dink ek.”

      Haar gedagtes is baie deurmekaar toe sy badkamer toe loop. Dit moet die taai vleis wees. Sy hou nie daarvan om laat in die aand vleis te eet nie. Dit laat haar ongemaklik voel. En die rou aartappels. Geen wonder sy voel so ongedurig nie.

      Hoofstuk 10

      Dinsdagoggend sit Nicolette skaars in haar kantoor toe ’n bode klop en ingesteier kom met die grootste bos rooi rose wat sy nog gesien het. Dis eintlik ’n goeie ding dat Herman nog in ’n vergadering is, want die rose staan die hele kamer vol. Sy haal die kaartjie uit.

      “Kan jy my ooit vergeef, liefste pop?” staan daar. “Ek het jou afgeskeep; ek het jou laat swaarkry. Vergewe my. Liefde, Jack.”

      Sy lees dit ’n hele paar keer oor voor sy die kaartjie in haar laai gooi en begin plek maak vir die blomme. Eintlik is sy lus om dit vir die ontvangsdame te gaan gee, dit sal fraai lyk by die ingang. Maar Jack sal dit daar sien en kan afgehaal voel. Sy het die rangskikking ook net in ’n hoek voor die venster ingewig toe Herman inkom.

      “Wel, wel, wel,” sê hy. “So ’n verloofde moet ’n meisie hou.”

      “Dis van Jack,” sê sy.

      Hy snuif aan die rose wat na niks ruik nie. “Is daar ’n tweespalt in ons emosies of wat?”

      “Ag, hou op,” sê sy. “Jy weet Jack stuur altyd blomme.”

      “Maar nie, sover ek weet, aan verloofde meisies nie.”

      Sy haal net haar skouers op. Die vorige aand toe sy haar wedervaringe van die naweek vir Elizma vertel het, is sy daar ook met skeptisisme begroet.

      “Ek het jou gesê jou plan gaan lol,” was Elizma se uitspraak. “Onder Jack se vleuel is jy miserabel en onder Philip s’n verloop alles glad en geniet jy die naweek. Wat gaan nou vir wat?”

      “Dit was net ’n slegte sameloop van omstandighede,” het sy verdedig. “Die weer en alles.”

      “Jy sê dan jy was nog nooit so bly om Philip te sien nie? Hy was soos ’n engel uit die hemel, was jou presiese woorde.”

      “Natuurlik was hy. Jy weet mos watse soort mens hy is. Bedagsaam en ingestel op ander mense se gerief. Dit beteken nie ek het Jack afgeskryf nie.”

      “As Heinz my deur soveel ellende gesit het, het ek dit ernstig oorweeg om hom af te skryf. Nie dat hy dit natuurlik sal doen nie. Jack is nie bekend vir sy onselfsugtigheid nie. Jammer om hom te moet kritiseer, maar dis waar.”

      Nicolette het liewer begin uitvra na Elizma se naweek. Sy het ook nie vir haar vriendin vertel van Louisa nie, hoofsaaklik omdat sy self nie verstaan waarom sy so gereageer het nie. Philip het dit ook nie verstaan nie.

      “Sê my net een ding,” het hy die vorige aand gevra toe hulle terugry stad toe. “Jy het jou bereid verklaar om my met Amelia te help, maar jy was baie boos toe Louisa e … vatterig raak.”

      “Amelia is ’n ander saak.”

      “In watter opsig?”

      “Sy is … jy is lief vir haar en wil haar hart wen.”

      “En Louisa?”

      Sy het hom agterdogtig aangegluur. “Is jy lief vir haar?”

      “Nee, sy is net ’n ou vriendin.”

      “Nouja, dis die verskil.” ’n Onlogiese argument, maar al waaraan sy kon dink. En hy het ook nie verder uitgevra nie.

      Sy word deur nog ’n ondervraging gesit toe haar ma net voor middagete by haar kantoor inloer. “Hallo, skattebol,” sê sy. “Ek neem my dogter uit vir middagete. Is al heeloggend by die winkels. Jy het nie ander planne nie, het jy?”

      Sy skud haar kop. Sy het gehoop Jack wil haar uitneem sodat hulle dinge kan uitpraat, maar sy het nog geen teken van hom gewaar nie. Sy laat dus toe dat Herman eers op sy gewone manier met haar ma flankeer, kry haar handsak en stap uit. Philip het nie iets gesê van saameet nie, en dit verbaas haar glad nie. Ná die naweek is hy seker ’n bietjie moeg vir haar en haar dramas. Oorblootstelling is nooit ’n goeie ding nie.

      Toe hulle in die restaurant sit, val haar ma weg. “Wie is Philip?” vra sy.

      “Ma het hom dan ontmoet!”

      “Dit beteken niks nie. Hy kom my voor as ’n baie gawe man, aantreklik en …”

      “Dink Ma hy’s aantreklik?” vra Nicolette verbaas.

      “Natuurlik is hy. ’n Baie mooi man, sou ek sê. Jy moet hom net nie langs Jack sit nie. Dis soos ’n tarentaal langs ’n pou met gespreide stertvere. As jy die tarentaal op sy eie sien, is dit ’n pragtige voël, vol besondere en unieke eienskappe; langs die pou lyk hy vaal en oninteressant.”

      Nicolette vind dit nogal ’n goeie vergelyking, maar sy sê dit nie. “Hy is my baie goeie vriend.”

      “Mens raak nie verloof aan goeie vriende nie, veral nie as jy twee jaar lank smoorverlief is op iemand anders nie. Ek ruik ’n komplot.”

      Nicolette breek ’n broodrolletjie en begin botter smeer. Sy ken haar ma en sy weet sy staan nie ’n kans nie, haar ma gaan grawe tot sy by die waarheid

Скачать книгу