Die skaalmodel. Anneli Groenewald
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die skaalmodel - Anneli Groenewald страница 8
“Daar was – ek lees vir u voor:
“1. ’n Skooltjie met ’n sinkdak
“2. ’n Kerkie met ’n rietdak
“3. Buitetoilette met sinkdakke
“4. Ou rietdakhuisies
“5. Nuwer huise met asbesdakke
“6. Rondawels
“Toe tik ek by:
“7. Woonwaens
“Dit was immers ’n vakansiedorp. So, daar moet tog ook mense gewees het wat met hulle woonwaens daar was, het ek gedink. En:
“8. Tente
“Toe sit my verbeelding op loop, Meneer die Voorsitter. Ek is terug na my oorspronklike lysie.
“Motors, het ek hier getik. Donkiekarre. Perde. Honde.
“Soos wat ek die een ding neergeskryf het, het dit my aan ’n volgende ding laat dink. Soos domino’s het hulle begin val, Meneer die Voorsitter. Die woonwaens het my laat dink aan die motors waarmee die mense gery het. Die motors het my laat dink aan die donkiekarretjies. Toe onthou ek van al die ander diere! Perde en honde. Katte miskien. En toe dink ek aan die soogdiere, wat my weer van die voëls laat onthou het.
“Seemeeue, het ek hier getik. En Tobies.
“Toe ek begin, kon ek net dink aan die sand en die fynbos wat ek sou nodig hê, en hier het ek nou hierdie allemintige lys gehad! Uiteraard, Meneer die Voorsitter, sou die skaalmodel veel groter word as wat ek my dit daardie dag voorgestel het. So gaan dit mos maar. As ’n mens eers met ’n ding begin het, kom jy gou agter jy kort nog dit of dat.
“Telefoondrade. Padtekens. ’n Petrolpomp.
“Ek het Google op my rekenaar oopgemaak, Meneer die Voorsitter. En hier moet ek nou vir u sê: Die Bredasdorpers weet nie wat hulle al die jare aan my gehad het nie. Hier het ek gesit, dagin en daguit, en – verskoon tog dat ek dit sê – niemand het omgegee waarmee ek my besig hou nie. Maar hier was ek, en ek het inisiatief geneem. Ek het ’n plán gemaak. Ek het kreatiewe oplossings gesoek. En ek wéét van Google. Ek gebruik immers al jare die soekenjin. Hoeveel ander museumkurators op die platteland kan dít sê? Al waarmee hulle hulle besighou is boeke en stof. Daaraan heg ek natuurlik ook waarde. Aan boeke. Soos aan die Bybel. Maar nie aan stof nie. Ewenwel, Meneer die Voorsitter, ek wat Juffrou Visagie is, het ook met die tyd tred gehou. En met tegnologie.
“Building scale models of towns, het ek in die soekraampie getik.
“Visse, en bote, en hengelaars op die kaai, het ek gedink terwyl ek vir die rekenaar gewag het. Klein roeibootjies. Roeispane. Veiligheidsboeie. Ek moes tog onthou om dit ook by my lysie te voeg, het ek gedink. Lampe.
“Ek het op een van die skakels geklik. En daar, voor my op die skerm, het ’n reeks foto’s verskyn van dorpe en stede wat op klein skaal gebou is. New York, Chicago, Londen. Tot in die fynste besonderhede, met straatlampe, teerpaaie, stopstrate, dubbelverdiepinghuise. Selfs die Empire State Building! Ek het my verkyk. ’n Man met ’n aktetas, gevries by ’n ingang. Sy hand reeds teen die deur. Die venstertjies. Piepklein baksteentjies. Stegies. Big Ben. My gunsteling was die webblad van ’n man wat ’n skaalmodel van sy tuisdorp gebou het. Dit is nie ’n identiese replika nie, skryf hy op sy blad, maar dit vang sy herinneringe vas.
“Dit was veral die notas onderaan waarin ek belanggestel het.
“Die eerste stap is om op die skaal te besluit, het daar gestaan. Alles moet dan in verhouding tot die skaal gebou word.
“‘Dit is die stappe wat belangrik is,’ het ek vir myself gesê. ‘Beplanning. Dit is noodsaaklik. Ek moet beplán.’
“Dit was min of meer tóé dat ek besluit het: Ek sou ’n skaalmodel bou wat blywend sou wees. Ja, eers het ek daaraan gedink om die duine met bloemiste-oase te vorm, van verskillende fynbosplante fyn takkies te pluk en hulle in die oase in te druk. Maar toe besef ek die takkies sou mettertyd doodgaan. En hulle sou boonop nie op skaal gewees het nie. Nadat ek gesien het hoe so ’n skaalmodel kán lyk . . . Ek sou my sokkies moes optrek. Wat ek oorspronklik in gedagte gehad het, sou na niks meer as ’n ambisieuse skooltaak gelyk het nie. Nee. Ek sou ’n ander plan moes bedink. Die skaalmodel wat ek hier by die museum wou bou, het ek op daardie oomblik geweet, moet kan voortbestaan, selfs lank nadat ek nie meer hier is nie – soos wat moontlik nou kan gebeur, weliswaar veel gouer as wat ek my dit destyds sou kon indink.
“Miskien wás daar ’n tikkie ydelheid by, Meneer die Voorsitter. Maar ek het skielik die behoefte gehad om vir iets onthou te word. Ek is, wás, immers sonder kind of kraai. Wanneer mense soos ek sterf, sonder kind of kraai soos wat ek toe nog was, dan is ons storie fluit-fluit uit. Dan is daar niemand meer wat ons onthou of ons verhaal oorvertel nie. Niemand wat ’n graf gaan opsoek nie. Jou naam word niksseggend. Sonder inhoud of betekenis. Ek wou ook vir iets onthou word, Meneer die Voorsitter. Deur iemand.”
“Ek het u belowe dat daar ’n wending in my vertelling sal kom, Meneer die Voorsitter. Die skets van die agtergrond, die aanbied van notules – dit sterk my saak. Maar dit is nie waarom ons vandag hier is nie. U soek die storie agter die skinder. Ek dink ons is nou daar. By die klagte van wanbesteding van fondse. En die een van ‘volgehoue assosiasie met bedenklike karakters,’ soos die klaer dit stel. Wat is daardie ander sinnetjie nou weer? Hier in die brief? O ja. ’n Geheul met die gepeupel en verhoudings wat bevraagteken moet word. En ook hier, in die klaagliedere: Dit was vir almal op die dorp uit die staanspoor duidelik dat dié verhoudings op ’n ramp sou uitloop – soos dit toe inderdaad gebeur het!
“Ai, Meneer die Voorsitter. Ja, dit hét ’n ramp afgegee. ’n Tragedie. Ek sou wat wou gee om die wysers te kon terugdraai om dit te vermy. Maar ek kón dit nie vermy het nie. En met ‘bedenklike karakters’ het dit niks te make gehad nie. Dit was nie aan my optrede of aan my besluite te wyte dat dinge geëindig het soos wat hulle het nie. Sofia het ’n wil van haar eie gehad. Niks wat ek sou kon gesê of gedoen het, sou haar van haar plan laat afsien het nie. Ja, dit wás dalk my skuld dat dit hiér geëindig het. Hier in die museum. Ek verstaan uit die brief daar is mense wat dit onaanvaarbaar vind. Dat hulle kwaad is. Ontsteld. Ek het begrip vir hierdie emosies. Ek sou moontlik dieselfde gevoel het. As ek op ’n afstand gestaan het.
“Maar kom ons praat eers oor die ‘volgehoue assosiasie’ met die ‘bedenklike karakters’. Ek moet erken, ek was aanvanklik werklik in die war oor wie dan nou só bedenklik kon gewees het. Erwin van die ysterwarewinkel? Meneer die Voorsitter, Erwin is ’n gawe, liéwe seun! Hy was wel medepligtig aan die omdolwe van die tuin, maar hy het ’n punt beetgehad, het ek gedink. Ek kom nou-nou daarby.
“Bedenklik? Die besemsmous dalk? My verskaffer van die kooigoed waarmee ek die reuksintuie wou prikkel. Hy dalk, ja. Op die oog af. Ek moet erken, ek het hom ’n ruk lank self gewantrou. En hy was tog so lief daarvoor om by my Uno’tjie rond te hang, laatmiddae, wanneer dit toesluittyd was. Wanneer die museum se veiligheidshek agter my toeklik, dan het hy maar altoos daar gestaan met sy arm vol rietbesems. Maar voordat hy iets kon uitkry, het ek hom keer op keer in sy spore gestop.
“‘Ek soek nie besems nie, Jan. Ek het jou dit al gesê.’ Ek het hom dit duidelik laat verstaan, hom dit dalk selfs toegesnou. As ek eerlik moet wees, noudat ons al die kaarte hier op die tafel pak. Elke middag het ek die smous afgejak terwyl ek my handsak stywer onder my elmboog vasknyp. Hoekom ek dit gedoen het, weet ek nie. As ek nou daaraan terugdink . . . Ja, ek kry skaam, Meneer die Voorsitter.