Koors. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Koors - Deon Meyer страница 13
“Tweemiljoen oor. Dit klink na baie mense, maar as jy dit deel deur die grootte van die land, is dit minder as een-en-’n-half per vierkante kilometer.”
“Okay,” sê Hennie Flaai.
“Kom ek probeer dit vir jou in perspektief stel,” sê Pa. “Suid-Afrika is een punt twee miljoen vierkante kilometer groot. Voor Die Koors was die bevolkingsdigtheid vyf-en-veertig mense per vierkante kilometer. Dis nie vreeslik erg nie. Monaco het byvoorbeeld destyds vyftienduisend mense per vierkante kilometer gehad. Bangladesj meer as ’n duisend, en Duitsland tweehonderd-twee-en-dertig.”
17
Hennie Flaai
Soos opgeteken deur Willem Storm. Amanzi-geskiedenisprojek.
My naam is Hennie Laas. Almal noem my Hennie Flaai.
Ja, kyk, toe Die Koors kom, was ek ’n plaasbestuurder by die Nel-boerdery anderkant Heidelberg.
Ek was geskei, my eksvrou is toe weer getroud met ’n Badenhorst van Centurion. Ons het twee kinders gehad, twee meisiekinders, hulle het by haar en dié Badenhorst gebly. Hulle is almal dood in Die Koors. Ek het gaan kyk, ek is na die huis toe in Centurion. Daar was niemand nie. Ek meen, waar gaan soek ’n mens, as hulle nie by die huis is nie? Jy weet hoe dit was, daardie tyd … Ek loop nou dinge vooruit, seker?
Nietemin, ek kom maar van Heidelberg af, ek is daar gebore. My pa het uit armoede gekom, maar hy het homself ryk gewerk. Hy het daardie jare aan die goudmyne voorsien, hy het sy geld gemaak uit stutte wat hulle ondergronds gebruik het. Bloekomstutte. Hy’t altyd Jaguars gery, hy was baie lief vir Jaguar-karre. Ek dink, as jou pa ryk is, dan is jy maar ’n slapgat, want jy dink alles gaan joune word. So ek is universiteit toe vir BCom, maar dit het nie gehou nie. Ek het te veel gekuier. Toe skop ek op voor die eerste jaar verby is, en ek smeek by my pa om my te laat vlieg, ek het gevrek oor vlieg. Toe kry ek my vlieglisensie, en ek gaan werk vir Lowveld Air, hulle het so mense aangevlieg Wildtuin toe, ek was ’n co-pilot in die Beechcraft King Airs, hel, dit was genuine koninklike vliegtuie daai. En ek dra ’n pilot-uniform en die girls like dit, en ek gee toe vir myself die bynaam “Hennie Flaai”, ek sê vir almal nee, mense noem my maar só. Gelieg. Groot kop gehad, al het die kaptein my nie aan ’n stuurstok laat vat nie. Toe ontmoet ek vir Doreen, en sy raak swanger met die derde date, en ons trou. Maar toe speel Lowveld Air bankrot. Toe kry ek nie werk nie, en my pa sê ek moet maar by hom kom werk. Toe fire hy my na ’n jaar. Slapgat. Te veel gekuier. Toe gaan werk ek vir Justin’s Cars, tweedehandse karre, en ek gaan werk vir KFC as ’n apprentice manager, en my vlieglisensie verval, en ons tweede meisiekind kom, en ek drink te veel en ek kom nie huis toe saans nie, en Doreen los vir my. Eers net tafel en bed, en sy sê, kom reg of ek loop. Toe loop sy. Ek blameer haar nie, ek was sleg, daai tyd. Toe werk ek hier en ek werk daar.
Dit het my tien jaar gevat om reg te kom, om my nonsens te los. Om groot te word, seker. Elke jaar ’n ander jop gehad, ek was so vir agttien maande in Durban ook, ek het probeer rep vir Castrol. Dit wou ook nie vat nie. Jannie Nel was een van die groot boere in Heidelberg. Hy’t vir baie mense ’n tweede kans gegee. Toe gaan vra ek vir hom vir ’n werkie. Drie jaar voor Die Koors. Toe ry ek skaaplorrie vir hom slagpale toe. En toe sien hy ek het my nonsens gelos, toe maak hy my assistent-voorman, en toe voorman op een van die hoenderplase, hulle het dit “plaasbestuurder” genoem.
Toe begin ek my dinge met my kinders regmaak. Een keer ’n maand, dan ry ek Pretoria toe, dan vat ek hulle Spur toe. Dit was die begin, ek het geweet ek het ’n lang pad voor met hulle. Toe het ek weer begin vlieg ook, ek het probeer om genoeg ure te kry sodat ek weer my lisensie kan kry.
Toe kom Die Koors. Hoe vertel ’n mens van Die Koors? Jy kan dit nie beskryf nie.
Dit was seker maar soos met almal. Jy kyk die nuus op TV en jy hoor op die radio, en jy dink, nee, hulle sal dié ding keer voor dit hier kom, maar jy wonder, en jy is so ’n bietjie bang. Net soos met Ebola, so ’n jaar of twee voor Die Koors. Maar jy weet, ons leef in die tyd van die wetenskap, hulle sal iets doen, jy worry nie so vreeslik baie nie. Tot Engeland en Amerika en almal begin vlugte kanselleer en noodtoestande instel. Dan worry jy, want dit was nog nooit so erg nie. En dan is die virus hier, en jy dink, nou beter hulle vinnig iets doen, en jy’s vir die eerste keer regtig bang. En dan gaan die krag af, en niemand kom meer werk toe nie, en ek bel en ek bel my kinders, maar hulle antwoord nie hulle selfone nie. En dan gaan die selfoon-netwerke af. Ek het weggekruip op daardie hoenderplaas, ek sal nie vir jou lieg nie. Ek het gedink ek leef nog omdat ek daar gebly het, daar geslaap het, ek het nêrens gegaan nie. Toe is die radio stil, alles is stil, ek sit so en ek kyk vir die pad, maar daar’s niks. Toe ry ek. En ek ruik vir Heidelberg, ek ruik op vier kilometer al daardie dooies. Toe weet ek.
Daar’s ’n tyd dat jy baie skuldig voel dat jy oorleef het, en jy weet nie hoekom nie, want jy was dan so ’n sleg mens gewees. Maar jy raak gewoond daaraan. Dis snaaks, nè.
Ek het teruggery plaas toe, en ek het al die hoenderbatterye gaan oopmaak.
18
’n Week lank sien ons geen mense nie.
Ons ry met die verbypad om Bloemfontein, en deur Winburg en Senekal en Bethlehem, ons plak ons pamflette teen stoptekens en padwysers en kerke se deure, ons strooi hulle by die drumpels van doodstil supermarkte en apteke. By elke dorpsbiblioteek en skoolbiblioteek dra ons leë bokse in, en vol bokse met boeke uit. Helfte van die lang sestienwiel-sleepwa is al vol boeke, die res is blikkieskos, koffie en medisyne. “Vir ons toevlugsoord, vir ons toekoms” soos Pa sê om my aan te spoor om nog ’n swaar boks aan te dra.
Naby Bloemfontein sien ons sebras wat langs die snelweg wei, en weghardloop as ons aankom. Ek sê vir Pa dit is die diere wat ons vrygelaat het.
Dalk is daar mense in die dorpe, dalk skuil hulle as ons verbykom. Ons ry na Clocolan en Ladybrand en Wepener, Aliwal-Noord en Adelaide. Ons sien nie ’n ander siel nie, ons gaan plaas ons pamflette in drankwinkels, ons plak dit op vulstasies se vensters.
Pa slaap snags minder gemaklik, want ek en Melinda Swanevelder deel die bed, hy moet sy sitplek so plat maak as wat dit kan kom.
Sy praat baie min met haar stem. Sy sê die meeste met haar oë en haar gesig. Sy neem van my pligte oor. Sy maak die koffie, wil dan die skottelgoed was, maar Pa sê, nee, ek moet iéts doen. Ná vyf dae voel dit of sy maar altyd saam met ons was.
4 April
In die vroegmiddag, anderkant Fort Beaufort, sien ons die groot Aberdeen-Angus-bul voor ons oor die pad hardloop. Sy swart pels blink van die sweet, hy bloei op sy flanke, oor sy boude. Agter hom, om hom, is die trop honde, dieselfde lenige soort wat vir my en Pa aangeval het.
Pa verminder spoed, die bul hardloop deur die doringdraad regs van die pad. Die draad sny hom, hou hom ’n oomblik terug. In dié oomblik spring die honde op hom.
Melinda Swanevelder trek haar asem skerp in. Dan kyk sy weg, sy wil dit nie sien nie.
Die bul skud die honde af, hy hardloop verder, na ’n ruigte toe.
Dan is ons verby, en ons kan hulle nie meer sien nie.
“Omtrent twintig van hulle,” sê Pa. “Net soos wildehonde. Dieselfde tropgrootte.”
Hy praat met homself, hy steek nie sy kommer weg nie.
* * *
Ons