Koors. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koors - Deon Meyer страница 14

Автор:
Серия:
Издательство:
Koors - Deon Meyer

Скачать книгу

uit. Tannie Melinda lê agter en slaap. Ek is die enigste een wat sien hoe die wit wa van voor af kom – een van daardie bussies wat omgebou is na ’n woonwa. Dit trek feitlik onmiddellik van die pad af, en hou stil.

      “Pa,” roep ek opgewonde, en wys met my vinger, seker ek het die eerste teken van menslike lewe sedert Hennie Flaai gesien.

      “Wat?”

      “Daai bus-ding. Hy het nou net stilgehou.”

      Pa trap rem. Melinda Swanevelder kom regop agter.

      “Dis ’n kamper,” sê Pa. Nou staan die voertuig stil, en Pa vra: “Is jy seker?” Want ek het al een of twee keer ’n vals alarm gegee omdat ek dinge so graag wou sien.

      “Ek dink so.”

      Pa bring die Volvo tot stilstand in die middel van die pad. Ek gee die verkyker aan sonder dat hy hoef te vra. Hy kyk. Die kamper staan nou op die gruis langs die pad, vierhonderd meter van ons af, net voor die lang draai na die linkerkant.

      “Sien Pa iets?” Al hoe meer onseker dat ek regtig gesien het hoe die voertuig beweeg.

      “Nee, jong …”

      Pa gee die verkyker vir my aan. Ek kyk. Daar is geen teken van lewe nie. Ek is verleë, want ek besef ek het ’n fout gemaak.

      Pa sê: “Kom ons ry bietjie nader, miskien het hy geskrik vir ons, miskien lê hy plat …” Maar ek kan hoor hy wil my net nie laat sleg voel nie. Hy trek weg, ry stadig nader.

      Ons hou langs die kamper stil. Op die deur staan Ibhayi Camper Hire. Langs die kant, agter, staan Discoverer 6. Daar is ’n Fiat-kenteken op die rooster voor. Ons kyk vanuit die hoë Volvo-perd af op die kamper. Daar is niemand agter die stuurwiel nie. Die woondeel agter se twee vensters is met gordyne toegetrek.

      “Die ding se spore is vars,” sê Pa sag en vat na sy pistool in die deur langs hom. Sy linkerhand werk die rathefboom sodat hy reg is om weg te trek. “Kyk, agter sy wiele.”

      Melinda Swanevelder gaan lê. Sy trek die kombers oor haar. Ek kyk. Agter die kamper, tussen die wiele en die teer, lê die duidelike spoor van die bande.

      “Wat het jy gesien, Nico?”

      “Hy’t gery, en toe sien hy ons, en toe stop hy vinnig.”

      Die gordyn by die kamper se groot middelvenster beweeg net ’n bietjie, reg in die middel, en onder.

      “Het Pa dit gesien?”

      “Kry jou pistool,” sê Pa. Hy los die koppelaar, ry stadig vorentoe, hy lig sy vuurwapen en hou dit teen sy venster – hy wil seker hê hulle moet dit sien. Ek haal myne uit die paneelkissie. Ek weet ek sal moet skiet, as daar geskiet word.

      Die gordyn beweeg weer. ’n Oomblik lank is daar ’n gesiggie in die venster. “Dis ’n kind,” sê Pa en hou weer stil. Hy laat sy venster sak. Hy roep: “Hallo!”

      Net ons groot dieselenjin wat luier.

      Die gordyn beweeg. Twee kindergesiggies, miskien vier jaar oud, een swart, een wit, groot ogies, bang en nuuskierig.

      “Hallo, ons kom in vrede, een man, een vrou, een kind hier by ons,” roep Pa.

      Doodstil.

      “Ons het kos en drinkgoed.”

      Die bestuurder se deur gaan oop. ’n Vrou sit regop, sy moes platgelê het, sy klim uit. Sy het ’n haelgeweer in haar hande, ’n dubbelloop. Sy rig dit op Pa. “Laat ek die kind sien,” sê sy.

      Ek wurm langs Pa in en hang by sy venster uit. “Hallo, tannie, ons is goeie mense.”

      Die vrou is bruin en lank, haar hare baie kort. Haar ken is sterk en prominent, soos iemand wat ’n baie sterk wil het. Sy is nie oortuig nie. “En die vrou?”

      Pa kyk na agter. Melinda Swanevelder lê steeds met haar kop onder die kombers. “Dit gaan nie so maklik wees nie.”

      Die gordyne by die kamper-venster trek nog verder weg. Ons kan nog kinders daar binne sien. ’n Paar is effens ouer, so ses of sewe.

      “Hoeveel kinders het jy daar agterin?” vra Pa.

      “Laat ek eers die vrou sien.”

      Pa sê Melinda se naam. Sy kom stadig onder die kombers uit. Ek maak plek sodat sy haar gesig kan wys.

      “Is hulle goeie mense?” vra die vrou vir haar.

      Ek dink, nou moet tannie Melinda asseblief tog praat.

      “Baie goeie mense,” sê sy amper onhoorbaar sag.

      Die vrou staan nog vir ’n rukkie só met die haelgeweer op Pa gemik, en dan laat sy dit sak en sy sê: “My naam is Beryl Fortuin. Het julle regtig kos?”

      Die kinders begin uitklim agter haar, ’n proses wat verstommend lank aanhou: swart en bruin en wit, tot ’n groot groep van hulle in die pad staan.

      “Hoeveel is daar?” vra Pa.

      “Hier is sestien kinders,” sê Beryl.

      * * *

      Ons staan agter die Volvo se sleepwa, die deure oop, blikkieskos en blikkies vrugtesap, beskuit en biltong op ’n kampeertafeltjie. Ons sit ons eie lepels by al dié wat in die kamper is, en steeds is daar te min. Die sestien kinders moet beurte maak daarmee. Hulle is almal veel jonger as ek. Elf dogtertjies, die oudste een is ses; vyf seuntjies, tussen drie en vier. Sommige is luidrugtig en besig, ander klou verskrik aan Beryl se bene. ’n Seuntjie van drie loop skaam-skaam tot by Melinda Swanevelder en kyk vol hoop op na haar.

      “As jy hom optel, gaan nog twee dieselfde wil hê,” sê Beryl Fortuin. Ek sien sy het gespierde arms vir ’n vrou.

      Melinda knik en tel die seuntjie op. Hy omhels haar, druk haar styf. Sy maak haar oë toe.

      Beryl Fortuin sê dit is onmoontlik om hulle stil te hou, om hulle gehoorsaam te hou, sy het vir ons sien kom in die groot vragmotor, toe stop sy en sy gaan lê agter die kamper se bestuursitplek. Toe sê sy hulle moet doodstil wees, hulle mag nie beweeg nie. Toe loer die twee deur die venster. Hoe maak mens? En dit nadat hulle beroof is by die brug oor die Sondagsrivier. Vyf mans, of ses, sy kan nie en sy wil nie regtig onthou nie. Mans wat drie kinders, daardie drie – en sy wys hulle uit, twee swart kinders en ’n wit blondekoppie – as lokaas gebruik het, wat hulle langs die pad laat staan en huil het.

      En toe hou sy stil, en die mans kom uit die bosse uit, en hulle vat die kos en die water wat sy gehad het. Kos en water vir die kinders. Hulle sou ander dinge ook met haar gedoen het, as dit nie vir die kinders en die olifante was nie. Die kinders, wat begin huil en skree het toe van die mans vir Beryl aan die hare gegryp het …

      Dit is toe dat Melinda Swanevelder weer begin huil. Vir die tweede keer.

      Sy staan met die seuntjie teen haar bors, sy armpies om haar nek, die een oomblik nog met haar oë toe, maar dan vertel Beryl van die mans wat haar aan haar hare gryp, en Melinda druk haar gesig teen die kind en sak op haar knieë en huil.

      Die

Скачать книгу