Grenslose liefde. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Grenslose liefde - Malene Breytenbach страница 6

Grenslose liefde - Malene Breytenbach

Скачать книгу

vloer is yskoud.

      Daar is verskeie skilderye van Skotse here wat in volledige Skotse drag met kilt en sporran pryk. Die een naaste aan haar is van Colin Mackenzie. Dit lyk soos die foto wat sy op die internet gesien het. Sy blou oë kyk haar direk aan en dit voel asof hy in haar hart en siel kan inkyk. Binnekort sien sy hom weer in lewende lywe.

      Hulle loop deur die portaal en groot saal, dan deur ’n deur in ’n heel ander opset in. Hier is ’n ontvangstoonbank waar daar ’n jongerige vrou met donker hare by ’n rekenaar sit. Op die vloere is liggroen matte en skilderye van landskappe hang teen die muur. Agter teen die muur staan ’n ry staalkabinette.

      “Jessie, ek het ons nuwe verpleegster, Carly O’Neill, gebring,” sê Duncan.

      Hy stel hulle voor. “Jessie Hart is die ontvangsdame en algemene sekretaresse.”

      Die vrou kyk met vriendelike grys oë na Carly. “Welcome. I hope you will be happy here with us.”

      Carly hou sommer dadelik van haar. “Dankie, dit is vir my baie opwindend om hier te wees,” antwoord sy in Engels.

      Jessie Hart staan op en loop om die toonbank. “Dis ook ’n hele gesukkel vir ’n buitelander om by ons te kom werk, nè? Soveel reëlings en rompslomp. Maar ons is bly jy is hier. Ons ander Suid-Afrikaanse verpleegster is Dudu Khumalo. Sy kom van Durban af en dit was net so ’n gedoente vir haar om hier te kan kom werk. Maar dokter Mackenzie sê die verpleegsters met wie hy in Suid-Afrika saamgewerk het, is die beste en hardwerkendste wat hy ken.”

      Sy draai na Duncan. “Dankie, meneer Urqhart, ek sal vir verpleegster O’Neill na dokter Mackenzie neem.”

      Hy lig sy hand na sy voorkop in ’n groet. “Goed. Ek sien jou seker die een of ander tyd weer, juffrou O’Neill? Lekker werk.”

      “Dankie, meneer Urqhart.”

      Sy en Jessie Hart loop in ’n gang af.

      “Ons spreekkamers is hier,” sê Jessie. “Julle drie verpleegsters deel een groot kantoor en dokters Fraser en Mackenzie het natuurlik elkeen ’n kantoor. Ander personeellede is elders.”

      Hulle kom by ’n bruin houtdeur waarop die naam Dr Colin Mackenzie in geelkoperletters aangebring is.

      Carly se hart rumoer in haar keel.

      Jessie klop, ’n stem antwoord, en hulle gaan binne.

      Colin Mackenzie sit in sy wit jas agter ’n lessenaar met ’n skootrekenaar oop voor hom. Hy kyk op toe hulle inkom, staan op en glimlag.

      Carly se hart tol behoorlik. Sy kon daardie tanzanietoë in al die jare nadat sy hom ontmoet het, nie vergeet nie. Hier kyk hulle weer oor ’n kort afstand na haar. Hy kom agter die lessenaar uit en steek sy hand uit. Dit omvou hare warm en stuur skokke deur haar arm en lyf. Sy kyk op na hom. Die mooi mond met wit, reëlmatige tande glimlag vir haar. Hy lyk nie so bruingebrand soos toe sy hom laas in Afrika gesien het nie, maar sy skouers is steeds ongelooflik breed en sy rooibruin hare, soos die pels van ’n vos, blink.

      Sy probeer wegsteek dat hy haar van voor af oorweldig.

      “Welkom,” sê hy. “Uiteindelik is jy hier.”

      Sy glimlag. “Ja, uiteindelik, en baie bly om hier te wees.”

      Hy beduie dat hulle op twee gestoffeerde donkergroen gemakstoele by ’n lae houttafel moet gaan sit, en hy gaan sit oorkant hulle. Die vertrek is in rustige lig- en donkergroen en wit gemeubileer. ’n Groot skildery van ’n Hooglandse toneel met langhaarbeeste oorheers een muur. Daar is ook kaste teen die mure.

      “Jy moet jou tuismaak,” sê hy. “Jessie sal jou gaan wys waar jy bly en jou aan die ander personeellede voorstel. Jy kan jou eers vandag oriënteer en die plek leer ken, en dan kan jy môre inval. As jy enigiets nodig het, sal Jessie jou help. Kom môreoggend agtuur eerste na my toe. Ek sal jou voorstel aan die pasiënte met wie jy ons gaan help. Jy sal sien ons doen dinge ontspanne en informeel hier. Ons pasiënte moenie voel dat hulle in ’n gestig is nie. Hulle mag in die tuine rondloop en ons verblyf is meer soos in ’n hotel. Ons neem ook nie baie mense in nie. Tans sal jy hoofsaaklik met vier pasiënte werk.”

      Carly luister met haar hande in haar skoot saamgevou. Dwing haarself om hom direk in die oë te kyk al voel sy ongemaklik. Geen man buiten dié een het haar nog ooit laat voel asof sy op dun ys loop wat onder haar kan padgee nie. Sy het verwag om weer uitgeboul te word, maar die effek wat hy op haar het, is selfs erger as wat sy voorsien het.

      “Dit klink goed.” Sy hoop sy kom bedaard voor.

      “Die feit dat jy sielkunde gestudeer het, is natuurlik ’n aanwins,” sê hy. “Ons ander aansoekers het nie dié ekstra kwalifikasie gehad nie. Daarom het ons dit reggekry om vir jou die pos aan te bied.”

      Hy vra uit oor haar reis en persoonlike omstandighede. “Dit lyk nie asof daar iets of iemand is wat jou sommer na Suid-Afrika sal terugroep nie. Jy beplan nie om skielik te trou of so iets nie, nè?” Sy oë terg haar.

      “Nee, niks van die aard nie. Ek sal hier werk so lank soos ek kan.”

      “Dis goed. Kom ek neem jou na dokter Fraser.”

      Hulle gaan na die kantoor langsaan. Hy klop en hulle gaan in. Die vrou wat in die middel van die vertrek staan, is langer en skraler as wat Carly verwag het. Sy is regtig mooi, met goudblonde hare wat losweg opgekam is en lewendige groen oë. Sy dra ’n wit jas. Dit lyk of sy in haar dertigs kan wees. Ouer as Carly, maar beslis aantreklik.

      “Meg, our new nurse is here,” sê hy.

      Carly steek haar hand uit. “Hello, doctor.”

      “Hello, Nurse O’Neill.”

      Margaret Fraser se hand is koel, sag en smal. Haar glimlag is net so koel. Carly kry die indruk dat dokter Mackenzie haar in diens wou neem, maar dié mooi vrou dalk nie. Wel, sy is nou hier en sal net aanvaar moet word.

      “Ek hoop jy sal by ons kan inpas,” sê sy.

      “Dankie, ek dink ek sal, dokter Fraser.”

      Die groen oë is te deurdringend, te krities. Sy kyk hovaardig na Carly. Dié vrou lyk nie asof sy regtig van haar hou nie, besef Carly. Sy kan net hoop hulle kom beter oor die weg namate dokter Fraser haar leer ken.

      Colin kyk na die twee vroue en sien hoe kil Meg vir Carly O’Neill opsom. Sy was gekant teen die aanstelling, maar hy het daarop aangedring.

      Carly is korter as Meg, slank en skynbaar broos, maar hy het gesien hoe hard sy kan werk. Onder haar mooi, vol mond sit ’n vasberade ken. Sy het destyds ’n gunstige indruk op hom gemaak. Wanneer hy dink hoe hy haar uit die modder opgetel het, kan hy nie anders as om te glimlag nie.

      Sy is eintlik so mooi dat hy sy oë in die vlugtelingkamp kwalik kon glo. Haar donker hare blink net soos destyds. Haar blou oë met die lang, donker wimpers kyk ’n mens vreesloos en eerlik aan. Sy is die toonbeeld van ’n mooi Ierse meisie. Die afkoms wys.

      Eintlik het sy hom diep geraak. Daar was iets omtrent haar wat sy lyf laat reageer en sy bloeddruk ietwat laat styg het. Hy was so verbaas toe hy ’n navraag van haar af kry. Hy kon, of wou, eenvoudig nie weier om haar ’n pos aan te bied nie. Het hy dalk ’n fout gemaak

Скачать книгу