Grenslose liefde. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Grenslose liefde - Malene Breytenbach страница 7

Grenslose liefde - Malene Breytenbach

Скачать книгу

voorstel eintlik net voordele inhou – sonder die komplikasies wat emosionele betrokkenheid kan meebring. Hierdie mooi verpleegster is net dit: ’n mooi vrou uit ’n ander land tot wie hy nie aangetrokke mag voel nie.

      Hulle mag slegs ’n professionele verhouding hê.

      Jessie neem Carly om die verpleegsters se kantoor te sien. Sy is amper bly om weg te kom van Colin Mackenzie af sodat sy weer haar ewewig kan terugkry en haar hart tot bedaring kan kom.

      Die kantoor is ’n lang vertrek met drie lessenaars waarop rekenaars staan, maar die stoele is leeg.

      “Hier word min gesit, want die verpleegsters is heeltyd op hul voete,” sê Jessie. “Jy kan daardie lessenaar aan die regterkant kry. Kom ek neem jou solank na jou kamer.”

      Daarna neem Jessie haar by trappe op en loop hulle ’n hele ent in ’n koue gang af tot by ’n ry deure. “Julle gaan hier tuis. Verpleegster Khumalo is langs jou.”

      Sy maak ’n deur oop. Carly het ’n klein vertrekkie verwag, maar dit is ’n groot kamer met ’n bed, hangkas, tafel en twee stoele. Daar is ook ’n TV teen een muur en ’n rekenaar op ’n lessenaar. Haar bagasie staan reeds daar. Jessie maak ’n ander deur oop en wys haar die moderne, spierwit badkamer.

      “Hierdie kamers is twee jaar gelede vir die personeel ingerig,” sê Jessie. “Vantevore was dié deel van die kasteel in onbruik, so dit moes opgeknap word. Dit was nogal spookagtig, hoor. Mense beweer mos dit spook hier.”

      “Ag nee,” lag Carly. “Ek glo nie aan sulke goed nie. Wie is kastig veronderstel om hier te spook?”

      Jessie kyk met dramaties vernoude oë na haar. “Arme ou lady Elizabeth. Haar man, die vyfde hertog, het haar hier in ’n kamer toegesluit nadat hy haar in ’n verhouding met ’n ander man betrap het en hier is sy dood.”

      “Regtig? Wel, ek laat my nie bangpraat nie.” Nogtans ril Carly. “Sjoe, hier is ’n trek. My liggaam sal moet aanpas by die klimaat.”

      Jessie lag. “Ek maak sommer ’n grap oor die spook, maar die verhaal is glo waar. Kom ek help jou uitpak, dan gaan wys ek jou waar jy en die ander personeellede eet en tee drink. Dis byna etenstyd. Miskien is ons ander twee verpleegsters daar.”

      Carly kyk by die venster uit. Daar is ’n asemrowende uitsig oor die tuin met sy groen gras en bome. Die son skyn flou, maar genoeg om dit te verlig. Sy dink egter wanneer dit reën en dalk somber buite is, gaan dit hier binne nog somberder en meer spookagtig wees.

      Sy pak haar tas uit terwyl Jessie help om die klere op te hang en weg te bêre.

      Jessie beduie na ’n vuurherd waarin daar hout gepak is. “As jy vanaand koud kry, kan jy die vuur aansteek. ’n Bediende sal môre kom skoonmaak en daar sal altyd hout in die vuurmaakplek wees. Daar is elektriese verwarming in die pasiënte se kamers en in die kasteel by die hertog en sy ma se woonkamers, maar nie hier nie. Daar is darem ook lekker warm beddegoed. Jy sal nie verkluim nie.”

      “Waar gaan dokter Fraser tuis?” vra Carly.

      “Sy woon in een van die kothuise hier naby. Die mooiste en beste een. Maar die storie loop dat die twee dokters een van die dae gaan trou, dan sal sy natuurlik in die kasteel moet woon.”

      Jessie gaan maak die deur oop. “Kom, jy is seker honger. Ons gaan na die kafeteria.”

      Die kafeteria is op die grondverdieping agter in die kasteel. Dit is ’n reusagtige outydse eetsaal wat omskep is in iets moderner, met ’n toonbank waar die kos uitgestal is. ’n Groot dubbeldeur lei na ’n kombuis daar agter wat heel modern ingerig lyk en waar mense in wit uniforms werk. In die eetsaal is verskeie tafels en stoele. Mense eet reeds of staan tou en kry kos.

      “Dis selfbediening hier,” sê Jessie. “Jy mag enigiets van die kombuis af bestel en enige tyd vir jou kom tee of wat ook al haal.”

      “Dit klink goed, maar ek sal meesal my eie tee en koffie in my kamer maak.”

      Hulle val met skinkborde in die tou en kry sop, brood, bredie en ’n gebakte poeding. Jessie kyk rond.

      “Daar is Dudu Khumalo. Kom ons gaan sit by haar.”

      Hulle loop met hulle skinkborde soontoe. Die vrou aan die tafel is lywig, geklee in ’n wit uniform. Sy kyk op en glimlag breed.

      “Hello, has our new nurse arrived?” Dudu kyk nuuskierig na haar.

      “Yebo, sisi, ngikhona-lapha,” bevestig Carly.

      Dudu lag vrolik en klap haar hande. “Jy praat Zulu, sisi!” roep sy in Engels uit. “Ag, hoe lekker is dit om weer my taal te hoor. Ek is so bly jy het gekom. Kom sit.”

      “Wel, dit lyk vir my asof julle goed gaan klaarkom,” lag Jessie. “Dudu kan jou onder haar vlerk neem.”

      Carly lag ook. “My Zulu is maar power, hoor. Ek het net ’n bietjie geleer toe ek by die vlugtelingkampe in Natal gewerk het. Maar dis so lekker om jou te ontmoet, Dudu. Ek voel sommer tuis. Mis jy nie die sonskyn in Natal nie?”

      Dudu trek kastig ’n treurige gesig. “Ja, ek mis die sonskyn. Eisj, hier kan dit darem reën, hoor. En die son kruip meesal weg. Ek gaan bleik. Maar die werk is lekker en die mense goed. Dokter Mackenzie is die beste baas vir wie ek nog ooit gewerk het. Jy behoort ook lekker saam met hom te werk.” Toe frons sy effens. “Ek kan dit nie sê van die ander vennoot nie. Ag, dis nie dat sy onaangenaam is nie, net … wel … streng. Sy het geen humorsin sover ek kan agterkom nie.”

      Haar gesig verhelder weer. “Maar ek ís gelukkig hier.” Sy kyk af na haar bord. “En ons eet lekker.” Sy kyk op. “Wanneer begin jy werk?”

      “Môre. Dokter Mackenzie gaan my aan die pasiënte voorstel.”

      Dudu grinnik. “Dis ’n interessante spul. Veral die uitgebrande rock-ster. Hy is glo gek oor dokter Fraser – sy is immers ’n mooi vrou.”

      “Na ete sal ek jou gou in die kasteel en kliniek rondwys, Carly,” verander Jessie die onderwerp. “Jy kan die tuin op jou eie gaan bekyk wanneer jy lus het. Voordat dit weer begin reën.”

      “Ek sal graag gaan rondkyk. Dis regtig mooi hier op die Skotse Hooglande.” Carly is werklik in die wolke en sien uit na alles. Veral om Colin Mackenzie weer te sien.

      “Ja, gaan verken die plek,” sê Dudu. “Ek kan ongelukkig nie saamgaan nie. Daar is te veel werk. Maar ek kry jou weer vanaand seweuur hier vir aandete. Suster Annie Muir sal ook hier wees, dan kan jy haar ontmoet.” Sy lag. “Ek kon haar eers nie mooi verstaan nie, want haar Skotse aksent is so swaar. Sy sê altyd ‘och aye’. Ek het aanvanklik nie geweet sy bedoel ‘ag ja’ nie. Maar glo my, sy is ’n engel.”

      Haar kollegas lyk beslis na lekker mense, dink Carly bly.

      5

      Nadat Jessie haar die grootste deel van die kasteel en kliniek gewys het, afgesien van die private deel waar die laird en sy ma tuisgaan, gaan die ontvangsdame terug na haar werk.

      Carly gaan stap in die tuin. Sy loop oor groen gras, verby die meer tot in ’n klein woud. Oral groei heide en varings. Dit ruik na vars grond en plantegroei, en Carly adem dit diep in. Sy geniet dit om na die waterryke landskap te kyk.

      Sy

Скачать книгу