Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leerderboek vir Huistaal. Rina Lamprecht

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leerderboek vir Huistaal - Rina Lamprecht страница 3

Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leerderboek vir Huistaal - Rina Lamprecht Piekfyn Afrikaans

Скачать книгу

en vertroue in God.

      •tussen twee werkwoorde, byvoorbeeld: Nadat sy haar onderneming begin het, het sy net vorentoe gekyk.

      •na die naam van iemand wat aangespreek word, byvoorbeeld: Anneliese, jy is ’n wenner.

      Punt (.)

      Die punt word gebruik:

      •aan die einde van ’n sin, al is dit een woord, byvoorbeeld: Slaap.

      •by afkortings, byvoorbeeld: s.nw.; bv.

      Let wel: Geen punte word by akronieme (letterwoorde) gebruik nie: SASOL; ESKOM.

      Uitroepteken (!)

      Die uitroepteken kom aan die einde van ’n bevelsin, opdrag en uitroepsin voor, byvoorbeeld: Doen nou jou werk! of Eina, dis seer!

      Vraagteken (?)

      Die vraagteken kom aan die einde van ’n vraagsin voor, byvoorbeeld: Wie doen al die harde werk?

      In Module 6 word nog ander leestekens bespreek.

      16.Skryf die volgende sinne oor en vul die kommas, punte, uitroeptekens en vraagtekens op die regte plekke in.

      a)Wie het aan die plan gedink

      b)Geluk dit is ’n groot sukses

      c)Anneliese jy het baie goed gedoen

      d)Toe sy eers sukses geproe het kon niemand haar keer nie

      e)Hoe laat is dit

      f)Nadat sy ’n speelmat by haar vriendin gesien het het sy met haar onderneming begin

      g)Waar is haar onderneming

      h)Werk hard dan sal jy suksesvol wees

      i)Haar onderneming vervaardig babaklere speelmatte speelgoed en baie ander babaprodukte

      Aktiwiteit 2: Taal in konteks

      •Luister en praat

      •Lees en kyk

      •Taalstrukture en -konvensies

      In hierdie aktiwiteit gaan jy

      •leer wat die doel en teikengroep van ’n inligtingsteks is

      •afkortings en spelpatrone, veral die gebruik van woorde met die letters v/f en d/t ondersoek

      •die verskillende tydsvorme in Afrikaans inoefen

      •die gebruik van die kappie en deelteken bekyk.

      Die doel van ’n teks

      ’n Mens skryf iets met ’n doel. Jy skryf om te gesels (soos in ’n e-pos of vriendskaplike briefie), om dankie te sê of iemand geluk te wens (in ’n kaartjie), inligting oor te dra (’n verslag) en om iets te skep (’n verhaal/opstel). Die doel waarvoor jy skryf, beïnvloed die inhoud en die styl wat jy gebruik – dit bepaal byvoorbeeld of jy formeel of informeel gaan skryf.

      Die teikengroep van ’n teks

      Dit is die persoon vir wie jy iets skryf. Wanneer ’n mens ’n stuk skryf, het jy ’n persoon in gedagte wat dit gaan lees. Wanneer jy dieselfde inligting byvoorbeeld in jou dagboek skryf (wat jy self gaan lees) of vir jou ouma of vir jou vriend of vir jou kleutersussie, gaan dit in elke geval heeltemal anders lyk. Jou styl gaan verskil en die woordeskat wat jy gebruik, gaan ook verskil.

      Lees die volgende inligtingsteks aandagtig deur

      Maak só rande uit jou rommel!

      Vir die meeste mense is ’n garage nie net ’n plek waar die motor geparkeer word nie – dis ook die begraafplaas vir al die huishoudelike items wat nie meer gebruik word nie, stukkend of uit die mode is. Daar sal jy ’n uitgediende broodrooster, Kleinboet se treinstel, ’n afgeleefde trapfiets en ’n boks vol ou kombuisware vind. Dalk is jou motorhuis al so vol, daar is kwalik plek vir die motor! Dalk sit jy ook opgeskeep met ’n klomp onnodige dinge in jou huis – ou kombuisware, boeke, ornamente, juwele, langspeelplate, noem maar op!

      Dit is dalk hoog tyd dat jy jou eie garage-uitverkoping reël of dink aan ’n tafel by ’n vlooimark. Omskep die onnodige goed wat jou plek en jou lewe oorlaai in lekker harde kontant. Wat vir jou onbruikbaar geword het, is vir ’n ander net die ding wat hy of sy soek – of wat vir jou net gemors is, is vir ander ’n kosbare vonds.

      (Verwerk van: www.mieliestronk.com)

      Gesels met ’n maat

      •Vertel vir mekaar wat die hoofidee van hierdie inligtingsteks is.

      •Watter voorstelle word in hierdie teks gemaak?

      •Wat is die doel en wie is die teikengroep?

      Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek:

      1.Hoekom word die garage ’n begraafplaas genoem?

      2.Gee ’n ander woord vir garage.

      3.Haal ’n woord uit die teks aan wat beteken jy weet nie wat om met iets te doen nie.

      4.Op watter twee maniere kan jy van jou onnodige goed ontslae raak?

      5.Waarin kan gebruikte ware omskep word?

      6.Wie is die teikengroep van hierdie teks: volwassenes of kinders? Hoekom sê jy so?

      7.Wat is die doel van die teks?

      8.In watter styl is die teks geskryf: formeel of informeel? Motiveer jou antwoord.

      Afkortings

      Slegs erkende afkortings mag gebruik word. ’n Mens kan nie jou eie afkortings maak wanneer jy skryf nie.

      •Internasionale afkortings van afstande en gewig kry nie punte nie, byvoorbeeld: km/cm/g.

      •As die afkorting vir ’n groep woorde staan, kom daar ’n punt na elke letter, byvoorbeeld: a.g.v.

      •Afkortings wat uit hoofletters bestaan, kry nie punte nie, byvoorbeeld: SARU/RSA/SALT.

      •As die afkorting vir een woord staan, kom die punt aan die einde van die afkorting, byvoorbeeld: asb./mev.

      •Ons kry afkortings waar slegs die beginkonsonante van die lettergrepe gebruik word, byvoorbeeld: handskrif – hs.; asseblief – asb.

      •Daar is ook verkortings van woorde wat uit die woord se eerste lettergreep, plus die volgende konsonant/e, bestaan, byvoorbeeld: aardrykskunde – aardr.

      9.Herskryf die volgende paragraaf

Скачать книгу