Tryna du Toit Omnibus 11. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit Omnibus 11 - Tryna du Toit страница 14

Tryna du Toit Omnibus 11 - Tryna du Toit

Скачать книгу

dadelik bewus van sy sterk, dinamiese persoonlikheid.

      Paul stel hom aan haar voor en hy neem die hand wat sy uitsteek en soen dit.

      “Dokter Van Zyl,” sê hy glimlaggend terwyl hy na haar kyk, haar hand nog in syne. “En waar kom sy vandaan, Paul?”

      “Hier van Pretoria,” sê Paul met ’n glimlag.

      “Jy sit langs my aan tafel, dokter,” sê Derek Ross vir Margaret. “Ek het reeds vasgestel.”

      Paul se wenkbroue lig. “Vasgestel of gereël?”

      Derek Ross lag. “Die noodlot self het dit bepaal! Ek glo aan die noodlot!” Dan sê hy vir Margaret: “Paul en ek is ou vriende. ’n Gebarste aorta – as dit nie vir hom was nie, was ek seer seker bokveld toe.”

      “Hy het goeie werk gedoen,” sê Margaret. “Jy lyk blakend gesond, meneer Ross.”

      “Baie diplomaties gestel, dokter,” glimlag hy goedkeurend. “Maar kom, dis tyd dat ons nader staan …”

      “Dankie, maar ek sal dokter Van Zyl self by haar sitplek besorg,” sê Paul kalm. “Daarna kan jy na haar kyk.”

      Margaret het die aand baie geniet. Die toesprake was interessant, Derek Ross amusant en onderhoudend. Hy was ’n nyweraar, het hy haar vertel, met belange oor die hele land. Hy woon in Johannesburg, maar reis baie en kom so pas terug van Amerika.

      “Ek wil jou graag weer sien,” sê hy vir Margaret toe hy haar groet. “Ek sal jou bel.”

      Margaret het glimlaggend gegroet en nie gedink sy sal hom ooit weer sien nie.

      “Wat dink jy van Derek?” vra Paul toe hulle huis toe ry.

      “’n Interessante man. Ek het sy geselskap geniet. Hy het nie gesê nie – is daar ’n mevrou Ross?”

      “Stel jy belang?”

      “Nie in die minste nie,” antwoord sy koel. “Ek het maar net gewonder watter soort vrou ’n man soos Derek Ross sal hê.”

      Hy raak liggies aan haar hand. “Ek het jou maar net geterg. Dis heel duidelik dat Derek baie beïndruk is met dokter Margaret Van Zyl. Nee, hy is nie getroud nie. Hy is baie jare gelede van sy vrou geskei en is nie weer getroud nie.”

      Hy stap saam met haar tot by die voordeur, sluit die deur vir haar oop en toe – soos hy soms doen – lig hy haar ken om haar goeienag te soen. Maar onverwags trek hy haar teen hom aan en vanaand is sy lippe op hare hard and dringend. Onverhoeds gevang, voel sy die roering van ekstase wat deur haar hele wese tintel en sy het nie die wil of die krag om haar uit sy arms los te maak nie.

      Uiteindelik stoot hy haar sag maar beslis van hom weg. “Nag, Maggie,” sê hy. Sy stem is dieper as gewoonlik, en sonder ’n woord verder draai hy om en stap terug na sy motor.

      Margaret kyk hom agterna, haar hand op die deurknop, bewus van haar vinnige asemhaling, die harde geklop van haar hart. Dan maak sy die deur saggies oop en gaan in. Sy hoop Ingrid slaap al. Die skerp jong oë sal dadelik haar ontsteltenis en verwarring raaksien – en moontlik die verkeerde betekenis daaraan toeskryf.

      Toe Margaret die volgende middag van die hospitaal af kom, staan daar ’n yslike mandjie vol rooi en geel tulpe in die voorportaal.

      “En dit?” vra sy vir Ingrid wat in die sitkamer besig is.

      “Dis wat ek ook wil weet,” sê Ingrid. “Hier is die kaartjie.”

      “Waarom het jy nie gekyk nie?” vra Margaret terwyl sy die koevert oopskeur.

      Dis van Derek Ross: Dankie vir ’n genoeglike aand. Wanneer sien ek jou weer? Derek.

      Sy gee die kaartjie vir Ingrid, bewus daarvan dat sy bloos.

      “’n Man wat ek gisteraand ontmoet het. Hy het blykbaar meer geld as verstand,” sê sy kortaf en stap na haar kamer. Maar Ingrid volg haar, nuuskierig om meer te weet, en laggend vertel sy haar van haar kennismaking met Derek Ross.

      Die volgende dag bel Derek haar by die hospitaal. Hy is in Pretoria vir sake en nooi haar om die aand saam met hom te gaan eet.

      “Ek is jammer,” sê sy koel, beslis. “My dogter is hier van Stellenbosch …”

      “Bring haar saam,” sê hy dadelik.

      “Ons het ander planne vir vanaand,” maak sy ferm verskoning.

      “Wanneer gaan sy terug?” wil hy weet.

      “Volgende week. Ek is jammer, ek kan nie nou langer gesels nie – hier is ’n hele kamer vol pasiënte wat op my wag. En moet my asseblief nie weer by die hospitaal bel nie.” Sy groet en plak die telefoon neer.

      Twee dae later, toe sy die middag tuis kom, kom Ingrid na haar toe.

      “Het Ma nie lus om Saterdagaand na die Follies in Johannesburg te gaan kyk nie?”

      “Ek gee nie om nie – as jy graag wil gaan. Maar dis baie vol bespreek, veral op ’n Saterdagaand. Ek twyfel of ons nog plek sal kry.”

      “Ons is uitgenooi,” sê Ingrid ondeund.

      “So? Wie het ons genooi?”

      “Derek Ross.”

      “Derek Ross?” Sy kyk Ingrid verbaas aan.

      “Hy het my gebel – hy sê Ma raas met hom as hy hospitaal toe bel.”

      Margaret soek na woorde. “Wat het jy vir hom gesê?” vra sy uiteindelik.

      “Ek het vir hom gesê ek sal vir Ma vra, maar ons het geen ander afspraak vir Saterdagaand nie,” sê sy, die onskuld self.

      “Ingrid!”

      “Wil Ma nie gaan nie? Hy sê dokter Wagner sal ons bring. Na die vertoning gaan ons in daardie draairestaurant in die Hillbrowtoring eet.”

      Margaret kyk haar onseker aan.

      “Wil jy graag gaan?” As Paul saamgaan, verander dit seker die prentjie.

      “Baie graag,” sê Ingrid gedwee. Van onder haar lang wimpers kyk sy na Margaret. “Dis maar stil hier, almal is weg en Ma is besig, en nou kan Arnold ook nie meer kom kuier nie …”

      “Dis goed, ons kan gaan. Sal jy vir meneer Ross bel, aangesien julle die afspraak gereël het?” sê Margaret droog.

      Ingrid lag. “Hy sal weer bel. Gelukkig het ons daardie mooi swart rok vir Ma gekoop.”

      Margaret glimlag nie en tergend sê Ingrid: “Moenie so kwaai lyk nie – ek dink dit gaan ’n baie interessante uitstappie wees. Ek dink ook dis noodsaaklik dat ’n dogter haar ma se vriende ken!”

      Margaret glimlag onwillig. Haar ernstige dogter is besig om in ’n sjarmante jong vrou te ontluik.

      Paul het hulle die Saterdagmiddag kom haal. Hy het sy aandpak aan en lyk besonder aantreklik.

Скачать книгу