Helene de Kock Keur 1. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Keur 1 - Helene de Kock страница 21
“Komplekse . . .?” vra Anne sag en daar is ’n oasetjie van stilte.
Sylvia kry ’n klein laggie.
“Ons het mos maar almal komplekse, nie waar nie?” sê-vra sy met die koelheid van ’n suster Deetlefs, wat Dai laat glimlag.
“Ag wel, as ’n mens natuurlik sélf . . .” begin Anne.
Dai sit sy groot hand met ’n ligte slaggie op die wynrooi tafeldoek neer sodat die lepel in sy bakkie liggies rinkel.
“Ma, Sylvia werk heeldag met mense wat weens die een of ander rede nie heeltemal hulself is nie, en sy ken ’n kompleks as sy hom sien!” Daarmee buig hy sy hoof en dank. Die gebed is soos ’n reëntjie op die skielike smeuling wat sy woorde veroorsaak het, en toe hy weer sy oë oopmaak, is daar net ’n verergdheid op Anne se gesig te bespeur, maar sy sê niks. Hulle help almal opruim, en Sylvia pak die borde en glase in die skottelgoedwasser. Toe spoel sy haar hande in die wasbak af en druk hulle met ’n klein kombuishanddoekie droog, sorgvuldig, byna asof daar iets van die handeling afhang. Toe draai sy haar na die ander drie wat besluiteloos rondstaan.
“Net môre sal ek vir ons plek bespreek vir die Londense Simfonieorkes, en daar is soos gewoonlik ’n paar baie goeie opvoerings aan. Londen bied altyd iets, al woon jy jou lewe lank hier . . .” Sy slaan haar oë af, baie bewus daarvan dat sy maar die insinuasie kon gelos het. Sy sien dit ook in Anne se kyk . . .
Hardop sê Anne aan Dai, haar handjie in ’n veelseggende gebaar op haar voorkop:
“Ek het ’n geweldige hoofpyn . . .”
Haar stemtoon plaas blaam op almal sodat Sylvia skuldig voel. Selfs Martine lyk omgekrap, en Dai trap kriewelrig rond.
“Nou maar dan moet Ma maar gaan slaap!” sê hy kortweg.
“Ja, doen dit,” val Sylvia gemoedelik in. “Ek dink ons is almal ’n bietjie oorvermoeid. Ek gaan ook nou inkruip.” En aan Martine wat half onder Dai se arm staan. “Ek het netnou die divan in die studeerkamer oorgetrek. Jou klere sal jy maar môre in die gastekamer moet hang. Is daar nog iets wat jy nodig het?”
Martine kyk vlugtig na Dai se hand, wat bo haar kop teen die kosyn gestut is, en huiwer.
“Nóg iets . . .?” vra sy met ’n glimlaggie, en met haar kop skeef naby Dai se skouer. “Nee wat, ek het voorlopig nie iets nodig nie, dankie!”
“Nou maar, goeienag dan,” sê Sylvia, en dis ook vir Dai bedoel. Sy wag skaars vir Martine en Dai se groet, en draf ligvoets die trappe op. Bo in haar kamer hoor sy hoe Anne se fyn stappie besadig boontoe kom. Sy gaan staan met haar rug teen die toe deur en luister hoe haar skoonmoeder verbyloop na die gastekamer. En sy voel hoe haar gedrae kalmte, wat haar deur hierdie aand gehelp het, meteens losskiet. Sy wil onbeheers skree, só sterk wek Anne se voetstappe by haar die gevoel dat sy bekruip word. Sy druk haar hand in ’n klapgebaartjie oor haar mond, en haal dit eers weg toe sy die deur langsaan hoor toeknip.
Hoe het die ou tantetjie in die hospitaal nou weer gesê? Pas hom op, ou kindjie! Hy’s veels te mooi! Sy wens sy kon nóú met die vriendelike Vrystaatse tannie gesels. Sy sal sê: Hy’s nie net mooi nie, tannie, hy is lief en dierbaar, vriendelik en baie, baie hoflik. Hy is verterend lojaal, sal selfs ’n ander man beledig as dit om sy Deetlefs-vrou gaan. Maar daar, my liewe tannie, hou dit op. Hy wil nie betrokke wees nie. Maar moenie sleg voel nie, want hy hóú van my! Ek is die geskikte vrou vir hom, sien. Vannag gaan hy selfs my kamer deel, want die omstandighede vereis dit . . .
En toe weerklink Martine se woorde toe hulle alleen in die kombuis was voor aandete, in haar ore:
“Jy moet jouself nie bluf nie . . . e . . . Sylvia . . .”
“Waarom sê jy dit?”
“Dai is nie ’n man wat gebind kan word nie. Dis ’n kwessie van tyd voordat bande hom begin wurg. Vra mý . . .”
Maar sy het nie uitgevra nie, sy het net doodstil aangegaan om die tafel te dek . . .
Dié herinnering maak haar so kwaad dat sy haar verkreukelde uniform afstroop, byna ’n halwe bottel Balmain-badolie in die vuurwarm badwater gooi, en toe net ’n paar minute daarin rondplas. Die geur stoom die hele vertrek vol toe sy klaar is en uiteindelik, gespanne soos ’n snaar, reg in die middel van die groot tweepersoonsbed gaan lê. Daar is net een kussing onder haar kop, die ander een het sy saam met twee donskomberse in die hoek van die kamer neergesit.
Toe sy uiteindelik Dai se swaar manstred op die trappe hoor, maak sy haar oë so styf toe dat daar trane in haar ooghoeke vorm, en sy vee dit vererg met haar voorarm weg. Toe draai sy op haar maag en druk haar gesig half in die kussing . . .
Dai staan ’n oomblik lank op ’n trapportaal en oordink sy onderonsie met Martine. Hy het haar na die studeerkamer vergesel om ’n lampie vir haar by die divan in te prop, want sy wil lees. Hy het die lamp op ’n tafeltjie langs die divan neergesit. Sy het om hom bly draai.
“Kom ons luister eers na die Negende Simfonie, Dai. Almal slaap nou . . . en ek het nog nooit weer daarna geluister sedert . . . sedert jy so skielik weg is nie . . .!”
Hy het hom tot sy volle lengte uitgestrek.
“Martine, ek is nie skielik weg nie. As jy die tekens reg wou lees, sou jy gesien het dat ek in wese lankal weg was!”
Sy het sprakeloos bly staan. Hy ook. Hy het immers geweet sy sou nie opgee nie. Dan dit maar liewer finaal agter die rug kry . . .
Hy was reg ook. Toe sy besef dat hy op ’n soort antwoord van haar wag, het sy ’n weerlose houding ingeslaan, ’n ligte verontregting in haar stem:
“Dai . . . ek het die reg om hierdie . . . hierdie huwelik van jou met jou te bespreek . . .”
“Gaan voort.”
“Wel . . . waar . . . waar kom dié kind vandaan? Dit in die eerste plek en . . .”
“In die eerste plek laat jy jou só deur my ma beïnvloed dat jy jou nugtere denke kwytraak. Sy hou van lankal af vir jou ideale voor wat eintlik geen bestaansreg het nie. In die tweede plek moet jy weet dat ek nie met ’n skooldogter weggeloop het nie. Sylvia is geen kind nie. En wat meer is, sy kom uit die goeie aarde van die Cotswolds. So, jy sien dus dat ek ook van herkoms hou, maar ek kyk nie daarna deur ’n mikroskoop nie. Wat Sylvia is, is vir my genoeg . . .”
Daar was ’n lang stilte.
“Ek dink . . . jy het haar lief . . .” het sy bedruk geantwoord.
“Dis reg!” Daarmee het hy hom omgedraai en kamer toe gegaan, baie bewus daarvan dat alles tussen hom en Martine vir goed voltrek is.
En hier staan hy nou op die trapportaal voor sy vrou se kamer. En hy kry die malle gedagte om hom soos ’n Abessynse slaaf voor sy meesteres se drumpel op te krul. Dis dalk presies wat ek sal móét doen, dink hy met wrange humor. Hy draai die deurknop, en is skaam omdat hy diep binne gewonder het of dit nie dalk gesluit sal wees nie. Maar hy moes geweet het, dit sou nie haar manier wees nie. Toe is hy binne en sy oog val heel eerste op die skraal bondeltjie in die middel van die groot bed. Haar lang swart hare lê