Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman страница 16

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman

Скачать книгу

… dis alles net te goed om waar te wees,” antwoord Elma, maar selfs in haar eie ore klink dit na ’n lamlendige verskoning. Sy wens sy het haar groot mond dig toegehou of daaraan gedink dat dit moontlik ’n familielid van Heinz du Preez is wat van oorsee af teruggekom het. Hoekom moes sy onmiddellik die afleiding maak dat Heinz haar vriendin met ’n ander nooi verkul – en hoekom wou sy keer dat Mynie daardeur seergemaak word? Hoekom voel sy altyd so oorbeskermend teenoor die mooi Mynie Cronjé wat soms so oorhaastig en impulsief kan wees? Is dit nou weer die geval? Is dit hoekom sy effens agterdogtig jeens hierdie Duvenhage-man is en nie wil glo dat hy werklik so wonderlik is as wat Mynie vertel nie? Of is dit omdat sy teenoor Heinz du Preez wil vergoed vir wat sy hom as gevolg van ’n misverstand aangedoen het? Hy het Mynie Cronjé lief en dis haar skuld dat die meisie niks meer met hom te doen wil hê nie.

      “Mynie, moenie oorhaastig wees nie,” pleit Elma. “Leer hierdie man beter ken en gaan intussen ook met Heinz uit terwyl jy besluit watter een jy liefhet en met watter een van die twee jy eendag wil trou.”

      “Aangesien jy so ’n kampvegter vir Heinz is, kan jy hom maar erf,” glimlag Mynie. “Jy sal ongelukkig na ’n rukkie agterkom hy is minder oulik as wat jy gedink het. Heinz was gelukkig dat dit toevallig sy regte suster was wat hy op die lughawe omhels het. Dit kan egter nie die feit wegredeneer dat hy my met daardie Annette Basson verkul het en nie van plan was om my daarvan te vertel nie. Dit was net die omstandighede wat hom daartoe gedwing het. Jy kan Heinz du Preez maar met my komplimente op ’n skinkbord present kry, Elma. Ek sal selfs die skinkbord bygee.”

      7

      Die laaste verkeerslig, die een net duskant Astrahof, is rooi. Terwyl Heinz wag dat dit na groen oorslaan, dink hy na oor Mynie. Hy het haar lief en hy is nie bereid om die stryd so maklik gewonne te gee nie. Gegrendelde deure en bloeddorstige ou tantes met besems kon hom nie laat tou opgooi nie. So ook nie Mynie se verskonings elke keer dat sy haastig is en nie tyd het om te gesels nie. Heinz weet sy is besig om skilderye vir haar eerste uitstalling gereed te kry en dat sy baie buitemuurse bedrywighede by die skool het. Maar hoekom is sy kwansuis elke keer haastig op pad iewers heen juis as hy kom kuier of skakel? Hy vertrou nie die vrede nie. Hy het besluit om vanaand die bul by die horings te pak. Vanaand gaan hy na Mynie se woonstel toe. Vanaand wil hy uitvind wat met sy nooi aan die gang is en wat tussen hulle twee verkeerd geloop het. Mynie het die afgelope drie weke verander. Hy wil weet wat die rede daarvoor is.

      Die kwessie van Karen wat deur ’n vriendin van Mynie vir sy nooi aangesien is, is lankal opgelos en Mynie het verskoning gevra omdat sy hom nie geglo het dat dit sy suster was wat van oorsee af teruggekom het nie. Mynie wou weet hoekom hy haar nie saamgenooi het lughawe toe nie. Heinz het verduidelik dat hy Karen se kabelgram ontvang het slegs enkele ure voor haar vlug neergestryk het. Ook dat hy geweet het dat Mynie daardie Vrydagaand ’n ouer-onderwyser-vergadering by die skool het. Mynie het sy verduideliking aanvaar, dus kan dit nie die rede wees waarom sy die afgelope tyd so afsydig en ontwykend was nie.

      Is dit steeds die drie koppies koffie saam met Annette? Goeiste, hoeveel keer het hy nie al verklaar hulle is suiwer platoniese vriende, en dat hy werklik net vir Annette die ope notariële testament verduidelik het aangesien sy ’n eksamenvraag daaroor verwag het nie? Hy het ergerlik bygevoeg: “Liewe land, Mynie! Annette is in elk geval ’n verloofde meisie. Sy trou binne drie maande met …”

      “Ek is haastig en ek stel nie genoeg in Annette Basson belang om laat te wees vir my afspraak nie. Verskoon my, Heinz, maar ek kan nie langer gesels nie,” het Mynie hom in die rede geval. Redelik vriendelik. Nie weer woedend kwaad en met dreigemente om histeries te begin skree as hy nie op die daad haar woonstel verlaat nie.

      En dis wat Heinz bekommerd het: die feit dat daar deesdae nie meer vuurwerke is nie. En die feit dat Mynie sonder belangstelling is oor enigiets wat hom en hulle verhouding betref. Dis hoekom hy vanaand die bul by die horings gaan pak om by sy nooi uit te vind wat skort. As sy nie tuis is nie, sal hy wag. En as sy verskoning maak dat sy uitgaan, sal hy wag tot sy terugkom. Vandag is die dag wat hy wil uitvind waarom Mynie die laaste tyd so ontwykend en afsydig is.

      Daar is nie parkeerplek reg voor Astrahof nie. Heinz ry verby en hou aan die onderpunt van die straat stil. Terwyl hy sy motor sluit, is sy rug na die ingang van die woonstelblok gekeer. Hy sien nie die ooglopend verliefde paartjie wat hand aan hand uit die hyser stap en in ’n roomkleurige Mercedes klim nie. Hy herken nie die donkerkopmeisie met die hartvormige gesiggie wat langs die bestuurder inklim nie en hy kan ook nie hoor wat in die motor gepraat word nie.

      “Ek is bly jy is so ’n gehoorsame meisie,” sê Conrad liefkosend. “Ek het gesê jy moet altyd blou dra, en ek het jou nog nooit in ’n ander kleur rok gesien nie.”

      “My repertoire is nou omtrent gedaan,” skerts Mynie. “Volgende keer wat ons uitgaan, sal dit in ’n blou rok wees wat jy reeds ken.”

      “Trek dan asseblief weer daardie rokkie aan wat jy met ons eerste ontmoeting aangehad het. Jy het soos ’n prentjie gelyk. Dis hoe ek jou eendag wil skilder. In daardie syrokkie, onder ’n jakarandaboom en met ’n vlammende sonsondergang agter jou.”

      Dit klink nie vir Mynie na ’n goeie komposisie nie, maar sy sê niks nie. Sy het gaandeweg agtergekom Conrad weet nie veel van kuns af nie. Dit het ’n vermoede by haar laat posvat dat hy gesê het skilder is sy stokperdjie net om haar te beïndruk. Eerder as om haar vies te maak, het dit veroorsaak dat Mynie daardeur nog liewer vir Conrad Duvenhage geword het. Wat is ’n noodleuentjie as dit gedien het om die eerste tree van hulle verhouding op ’n stewige grondslag te plaas? As hy daardie eerste aand nie taktvol genoeg was om ’n belangstelling in haar kunswerke te veins om haar op haar gemak te stel nie, sou sy dalk die hele aand gebloos en gestamel en gestotter het en dan het die aand op ’n fiasko uitgeloop.

      “Wat van die kunsuitstalling wat hy kamma gehou het? Dan was dit mos ’n blatante leuen wat hy vir jou vertel het,” torring ’n lastige stemmetjie in Mynie se binneste. Sy smoor dit dood.

      “Was jy al ooit in Parys?” vra Conrad skielik.

      “Parys, Vrystaat, of Parys, Frankryk?”

      “Frankryk. Was jy al oorsee, Mynie?”

      “Nee. ’n Paar keer het ek wanderlust gehad, maar ek kon nie ’n oorsese vakansie bekostig nie. Dit sou ’n groot gat gemaak het in die som geld wat ek opsy gesit het om eendag my droom mee te koop. Hoekom vra jy, Conrad?”

      Maar hy wil nie sê nie. Al sy aandag is skielik by die druk vroegaandverkeer op die pad terwyl ’n geheimsinnige glimlaggie om sy mond speel. “Parys is die stad vir verliefdes,” is al wat hy sê.

      “Was jy al oorsee, Conrad?”

      “Dikwels. Soms vir besigheid, meestal vir plesier. Geen vakansie was egter so opwindend soos die volgende een wat ek beplan nie.”

      “Waarheen is dit?”

      “Parys toe.”

      Mynie wil verder uitvra – saam met wie en wanneer – maar die tergende glinstering in Conrad se blou oë weerhou haar daarvan. Sy is bly dis donker in die motor sodat hy nie kan sien hoe verleë sy skielik is nie.

      Conrad draai by die volgende straat regs. Skielik spring ’n vaal gestreepte kat reg voor die motor in. Pleks dat Conrad uitswaai, trap hy met ’n instinktiewe refleksbeweging die petrolpedaal dieper weg. Die enjin reageer egter effens lui en die kat spring sy dood met enkele sentimeters vry. Daar is net een verwilderde vaal streep toe dit onder ’n geparkeerde motor inspring om agter een van die wiele te skuil.

      “Verbrands,” brom Conrad.

      Mynie

Скачать книгу