Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman страница 18

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman

Скачать книгу

wag …” Mynie druk haar hande teen sy bors terwyl sy verleë agteruit rem.

      “Dink jy nie Conrad het lank genoeg gewag nie?” vra hy sag. “Een en twintig dae is ’n lang tyd om uit te hou, veral as die kêrel ’n baie verliefde man en die nooientjie so onweerstaanbaar soos jy is. Is jy bang vir my, Mynie?”

      “N-nee …”

      “Hoekom keer jy dan altyd en rem weg as ek jou wil soen?”

      “Som … sommer.”

      “Dis nie ’n antwoord nie.” Hy plaas sy wysvinger onder haar ken en lig die hartvormige gesiggie op sodat hy in die groen oë kan kyk. “Hou jy nie van my nie, Mynie?”

      Sy voel hoe haar weerstand baie vinnig verbrokkel. Sy wou nie dat Conrad haar daardie eerste aand al soen nie – toe hulle op kussings voor die radio gesit het en na Beethoven geluister het – want sy was bang hy kry die indruk dat sy nie ’n meisie van goeie inbors is nie. Op hulle tweede aand saam het sy nog steeds gekeer en hom weggestoot omdat sy skaam was. Eers op hulle derde afspraak het sy Conrad toegelaat om haar hand vas te hou, maar nou voel sy dat hy nie meer ’n vreemdeling is nie. Hulle ken mekaar weliswaar nog slegs ’n kort tydjie, maar kan ’n mens tyd meet as jy verlief is? Dis duidelik dat Conrad met moeite sy emosies beteuel. Hoekom moet sy hom langer laat swaarkry?

      “Hou jy nie van my nie, Mynie?” herhaal Conrad, sy stem onseker en sy blou oë ongelukkig.

      Sy skud haar kop. “Nee, ek hou nie van jou nie,” antwoord sy ernstig, maar met haar oë versluier sodat hy nie die lag daarin moet sien nie.

      Mynie het nie die hewige reaksie verwag wat sy kry nie.

      “Mynie, my liefste, sê vir my wat ek verkeerd gedoen het. Asseblief, as ek iewers verbrou het, vertel my sodat ek dit kan regmaak. Ek het jou liewer as enige ander mens op hierdie aarde. Liewer as myself, liewer as …”

      Sy is dadelik jammer omdat sy hom geterg en so ontstel het. “Conrad,” val sy hom sag in die rede, “dis waar dat ek nie van jou hou nie, maar dis omdat ek jou liefhet. Ek hou nie van jou nie. Ek het jou liéf. Ek het dit al vir jou gesê, maar jy glo my blykbaar nie. Jou liewe, lawwe mansmens … Weet jy nie dat ek halsoorkop, tot oor my ore, op jou verlief is nie? Ek kan snags nie slaap nie en bedags by die skool moet ek myself kort-kort knyp om seker te maak dat ek nie droom nie. Die ander personeellede terg my al. Hulle wil weet of ek …”

      Mynie wou nog baie ander dinge gesê het, almal min of meer in dieselfde trant, om te vergoed vir die gewonde uitdrukking in sy oë netnou toe sy gesê het sy hou nie van hom nie. Maar dis Conrad se beurt om haar te onderbreek. Hy is meer oorspronklik as sy, of dalk meer verlief. Hy maak haar met sy mond stil, nie met woorde nie.

      Mynie het daardie eerste aand reeds gewonder hoe dit sal wees as Conrad Duvenhage haar soen. Sy het haar verbeelding vrye teuels gegee, maar selfs in haar wildste drome het sy nie gedink dit sou só wees nie.

      Conrad se lippe is eers onseker, sag en vraend. Dan, toe Mynie se arms om sy nek gly, word sy mond meer dringend. Hy druk haar styf teen hom vas, asof hy haar nooit weer wil laat gaan nie. Hy soen eers die blink hare, dan die sagte wange en die ooglede wat oor die groen oë gesak het. Dan, uiteindelik, vind sy dwingende mond haar bewende lippe.

      Toe Conrad haar einde ten laaste laat gaan, kan Mynie nie onthou hoe laat dit is, watter dag dit is en wie sy is nie. Dit voel of daar tien jaar verbygegaan het en sy ’n nuwe mens geword het tydens daardie lang, uitgerekte soen.

      Ook Conrad is nie homself nie. Sy asem jaag in sy keel en hy hou Mynie ’n armlengte van hom af weg.

      “Sjoe …” is al wat hy sê.

      “Ja, ek voel ook so,” stem Mynie bewerig met hom saam.

      “Hoe? Bewerig en uitasem, lam kniekoppe en ’n hart wat soos ’n stoomlokomotief klink?”

      “Presies so.”

      Conrad trek Mynie weer nader, hierdie keer sag en teer, asof hy bang is vir homself en bang is om hierdie brose meisietjie seer te maak.

      “Het ek al vir jou gesê dat ek jou liefhet?” fluister hy teen haar hare.

      “Ja, maar sê dit asseblief weer. Dis heerlike woorde om na te luister.”

      “Ek het jou liefgekry, Mynie, die eerste keer toe ek jou gesien het. Daardie heel eerste aand toe ’n paar groot groen oë vir my deur die boluik geloer het.”

      “Is nie!” sê Mynie verontwaardig. “Jy het nie gesien toe ek op ’n stoel geklim het om deur die luik vir jou te loer nie.”

      “Hoe anders sou ek dan geweet het jy het dit gedoen? Ek het selfs die eetkamerstoel hoor val toe jy dit nie gou genoeg onder die tafel ingeskuif kon kry nie.”

      “Is nie! Jy het dan nie opgekyk nie. Hoe kon jy my sien?”

      “O, ek het opgekyk lank voor daar ’n nuuskierige klein gesiggie bokant my kop verskyn het en die paar groot groen oë my raakgesien het,” antwoord Conrad vroom. “En toe het ek weer haastig weggekyk en taktvol gemaak asof ek niks agtergekom het nie. Ek wou jou nie nog meer verleë laat voel het, my skat, as wat jy in der waarheid was toe jy ’n minuut later die voordeur oopgemaak het nie.”

      “Jy jok, Conrad.”

      “Was jy darem tevrede met die eerste aanblik van jou penvriend?” terg Conrad. “Gelukkig het ek daardie oggend my skoenpunte blink gepoets, my baadjie se skouers afgestof en die kroontjie bo-op my kop gekam. Wat sou jy gemaak het, Mynie-skat, as jy ’n ou met stowwerige skoenpunte, skilfers op sy skouers, ’n deurmekaar kroontjie bo-op sy kop en ’n onnet paadjie tussen sy hare onder jou boluik sien staan het? Geweier het om die voordeur oop te maak? Van die stoel afgeklouter, ’n skottel water gaan haal en dit oor jou penmaat omgekeer het?”

      “Ag, loop … Jy geniet dit blykbaar om my skaam te maak.”

      “Kan ek daaruit aflei dat Wewenaar ’n gunstige eerste indruk op jou gemaak het, Mynie? Hoeveel punte het jy my gegee ná jy my eers sorgvuldig bestudeer het? Tien uit tien?”

      “Nul uit tien.”

      Conrad se regterwenkbrou lig vraend. Hy lyk nog steeds baie geamuseer. “Nul uit tien, maar tog kon jy nie gou genoeg by die voordeur kom om dit oop te maak nie? So haastig dat jy selfs die eetkamerstoel laat val het.”

      Mynie ag dit gerade om liewer die aftog te blaas.

      “Ek gaan vir ons koffie maak.”

      “Hierdie ronde het ek gewen!” roep Conrad agterna toe Mynie die hasepad kombuis toe kies.

      “Jy is uiters verwaand, Conrad Duvenhage!” roep sy bokant die gedruis van water wat in die ketel ingetap word. “Miskien vier, hoogstens vier en ’n half uit tien. Beslis nie volpunte nie.”

      Mynie haal beskuit uit en ’n sjokoladekoek wat sy spesiaal vir hierdie doel gebak het. Toe sy dit egter saam met die koffie op die skinkbord pak, stap Conrad die kombuis binne. Hy neem die skinkbord uit haar hande, sit dit op die wasbak neer en sê bekommerd: “As die nooientjie jou verwaand noem, beteken dit dat sy op die punt staan om vir jou kwaad te word. Ons kan koffie drink terwyl jy vir my kwaad is, maar ek dink ek moet gou vir jou iets vra terwyl jy nog goed is.”

      “Wat

Скачать книгу