Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus страница 34
Kurt Mannheim se kristalglas sing toe hy met sy vurk daarteen tik. Die behendige Sam tree geoefend nader met die wynkraffie en vul die glas van die meester. Daarna vee hy die nek van die bottel met sy wit servet af en rig ’n vraende blik na Karl. Karl knik, en Sam stap om en vul sy glas ook.
Kurt Mannheim se donker oë, in die kerslig geheimsinnig verskuil deur sy swaar wenkbroue, frons vir Karl oor sy wynglas. “Dis reeds jou derde glas,” merk hy op.
Karl kyk sy pa uitdrukkingloos aan en lig sy glas. “Salut, mon cher Papa!” sê hy spottend, en glimlag koel.
Kurt gluur met wrewel na sy enigste kind, hierdie nasaat van hom met wie hy eenvoudig geen rapport het nie.
En Karl kyk sy pa tartend aan.
Heimlik moedeloos, gee Kurt uiteindelik met ’n handgebaar opdrag dat die maal mag voortgaan.
Sam knik vir die twee diensmeisies. Hulle lig die silwerdeksels van die opskepskottels en dra hulle tafel toe. Soos gebruiklik, bedien Sam eerste vir Kurt en daarna vir Karl. Langs hom draai Sam sy gesig sodat dit verskuil is vir Kurt. Sy lippe vorm ’n klanklose pleidooi: Oppas, seurtjie!
Karl glimlag. “Goeie ou Sam sê ek moet oppas …” tart hy sy pa op ’n lui, dralende toon. Hy draai sy kop en knipoog vir Sam. “Waarvoor, Sam? My pa?”
Die verleentheid op Sam se gesig laat Karl seunsagtig grinnik. Hy klop die man gemoedelik op die rug. “Toemaar, Sam, ek sál my gedra.” Hy drink diep uit sy glas en beduie dat Sam dit weer moet volmaak.
“Jy suip te veel, Karl!” grom Kurt.
Karl lig sy wenkbroue, gemaak verbaas.
“Is dit so, Pa? Maar wat anders is daar te doen by so ’n ete? Kyk net na ons! Ek en Pa, die Noordpool en die Suidpool, en tussen ons hierdie see van wit linne – O, en natuurlik, die stilte. Altyd die stilte, Pa.”
“Hou jou mond en eet jou kos!” snou Kurt hom toe.
Karl ignoreer sy pa se bevel.
“Weet Pa waaraan laat dit my dink? Dit laat my dink aan ’n lykwaakfees. Pa en ek is paslik geklee in ons roupakke!” Hy lag. “En goeie ou Sam in sy pikkewynpak is die stemmige begrafnisondernemer!”
Met blitsige behendigheid steek hy ’n stuk vleis op sy bord met sy vurk.
“Das Leichenmahl, soos julle Duitsers sou sê.” Hy lag weer tartend en hou die druppende stuk vleis omhoog. “En hier, geliefdes, het ons die gestorwene se liggaam …”
“Staak dit, Karl!” bulder Kurt.
Met genoeë kyk Karl hoe sy pa se gesig rooi word van woede.
“Mea culpa, Pa, mea maxima culpa,” sê hy spottend en prop die hele stuk vleis in sy mond. Hy begin dit met onsmaaklike geluide te kou.
Kurt kyk met die uiterste misnoeë na sy seun. Is dít die eindproduk van die beste en duurste privaatskole? Is dít wat Oxford opgelewer het – hierdie ongeërgde lummel wat vir niémand, selfs nie eens God, respek het nie!
Hoe bitterlik het hy nie gefaal met sy seun nie! Hy kan dit nie meer aan homself ontken nie: Karl is onregeerbaar. Selfs die paar kere wat hy hom te lyf gegaan het om hom tot sy sinne te probeer dwing, was net ’n mors van energie. Dit rol soos water van ’n eend se rug af.
Kurt veg teen die moegheid en moedeloosheid wat hom wil oorval. Dit beklemtoon sy growwe Duitse aksent des te meer. “Jou studentekwinkslae is nie hier van pas nie, Karl,” sê hy afgemete. “Dit beïndruk niemand nie, allermins vir my. Spaar dus jou asem en laat my toe om my kos in vrede te eet.”
Gemaak gedweë begin Karl aan sy kos peusel. Op ’n manier is die ou man tog reg. Hoe minder gepraat word, hoe gouer is die pynlike ete agter die rug, en hoe gouer is hy vry om die talente van die nuwe danseresse te gaan inspekteer.
Ná ’n paar minute onderbreek Kurt Mannheim die bedrukkende stilte. “Môre neem ek jou saam na die Ophirmyn toe. Jy sal vir die volgende paar weke daar werk,” sê hy kortaf.
“Hoekom?”
“Omdat ek so sê!” bulder Kurt ergerlik. Hy probeer onmiddellik sy woede beheer. “Rheed sê jy weet genoeg van Jutta’s Rand om aan te skuif na ons ander myne,” verduidelik hy so kalm as wat hy kan. “Jy sal ’n begrip kan kry van die omvang en die daaglikse bestuur daarvan.”
“Maar Jutta’s Rand is myne. Dit was op Mamma se naam en ek stel nie belang om –”
“Jy is nog nie mondig nie, Karl,” sê Kurt gevaarlik sag. “Die myn, soos die res van jou erfporsie, behoort nog nie aan jou nie.” Die donker oë onder hul swaar ooglede rus koud op die jong man.
Karl wonder half onrustig of daar ’n verskuilde dreigement agter die woorde steek. Sy pa is ’n man met baie mag. Sou dit moontlik wees dat hy hom kan benadeel?
“Wat bedoel Pa?” vra hy so ongeërg as moontlik.
“Presies wat ek sê. Tot die dag wat jy wettiglik die myn op jou naam het, is jy van my afhanklik, en tot dan sal jy maak soos ek sê. Dis hoe eenvoudig dit is.”
Kurt staan op en smyt sy servet langs die feitlik onaangeraakte bord kos neer. “Jy het soos gewoonlik my eetlus bederf!” Hy wend hom tot Sam. “Bring my koffie en konjak na die studeerkamer, Sam!”
“Ek maak so, ouseur,” sê Sam en haas hom uit om te gehoorsaam.
Kurt talm nog ’n kort oomblik. Hy kyk in ’n ysige stilte na sy seun. “Jy beter vanaand tuisbly en nie weer fuif tot die vroeëmôre-ure soos wat jy gewoonlik doen nie,” sê hy. “Ek wil voor dagbreek daar wees. Ons vertrek om vyfuur. Sorg dat jy gereed is!”
Hoofstuk 11
Van die koetsiersbankie bo klink die klap van ’n sweep; die koets ruk en begin beweeg. Die laaste skof, dink Deborah moeg. Dit het die man by Vanwyksvlei se poskoetshalte gesê. Sy kan skaars glo dat die eindelose lang tog van Graaff-Reinet af tot op Kimberley en van Kimberley af tot hier voor vanaand agter die rug sal wees. Dit is amper te goed om waar te wees.
Sy kyk na die gesigte om haar. Die meeste is vreemdelinge – mans van oor die hele wêreld, het sy agtergekom uit die praatjies wat haar stiefpa met hulle aangeknoop het. John Digby, die wêreldkenner, dink sy sinies. Aan die manier waarop hy hom grootdoenerig aan hulle voorgestel het, sou mens dink hy het die hele aarde se kennis in pag van die goudrif aan die Rand.
Gedurende hierdie lang en vermoeiende tog het Deborah ter wille van haar ma haar uiterste bes gedoen om beskaafd op te tree teenoor hom, hoe moeilik dit ook al was. Maar sy kan min doen aan die wrewel teenoor hom wat daagliks in haar opbou.
Deborah probeer om nie verder aan haar stiefvader te dink nie. Sy bepaal haar aandag weer by die res van hul reisgenote. Afgesien van haar ma en Ma-Fytjie, is daar van die koetsstasie in Kimberley af ook nog drie ander vroue onder die passasiers. Twee van hulle is nonne, met hulle spierwit gestyfde wimpels wat hul gesigte soos hartvormige dakkies beskut. Verstommend hoe hulle dit so skoon en wit hou ten spyte van die stofwolke wat onder die koetsperde se hoewe uit opslaan.
Vandat