Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus страница 35

Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus

Скачать книгу

lug binne die koets soms byna ondraaglik. Deborah sou veel eerder verkies om, soos sommige ander passasiers, bo-op die dak van die koets te ry. Dis waar April Sardyn sit. Sy weet egter maar te goed dat dit buite die kwessie sou wees. Sy sou nie eens waag om dit selfs net vir Ma-Fytjie te noem nie – die stomme ou vrou sal ’n oorval kry!

      Suster Agatha kyk op van die gebedeboek wat sy lees en merk dat Deborah na hulle staar. Sy glimlag vriendelik vir die mooi, jong meisie. Uitgevang, begin Deborah bloos; sy glimlag stram terug en draai haar kop weg.

      Buite die vuil koetsvenster rol die landskap verby. Myl ná myl van dowwe bruin grasvlaktes. Is hier dan geen bome of berge nie, wonder sy bedruk. Haar aandag word weer deur die nonne getrek. Hoe sou hulle dit kon verduur om só te leef? Hulle praat nooit juis veel nie en sit maar net en lees, Die meeste van die tyd uit hul gebedeboekies. Of hulle vingers pluk aan ’n string krale met ’n kruisie aan terwyl hulle geluidloos iets prewel – waarskynlik ’n gebed.

      Suster Agatha, die een wat pas vir Deborah geglimlag het, het vir haar gesê dat hulle susters van die Heilige Familie-orde is. Hulle is Johannesburg toe gestuur om die Trappiste-monnike daar by te staan met die oprig van ’n hospitaal en ander kerklike opheffingswerk. Dit moet swaar wees om so onselfsugtig en offervaardig te leef!

      Die ander vrou in die koets klik met ’n geoefende polsbeweging haar kantwaaier oop en waai freneties daarmee in die hoop om die lugsirkulasie te verbeter. Madame Rose del Claire fassineer Deborah nogal.

      Sy is glo ’n wêreldberoemde aktrise wat van plan is om Johannesburg saam met haar man en sy geselskap Thespiërs met ’n paar wêreldklasopvoerings “te vereer”, soos sy dit uitgedruk het. Haar man, die bekende impresario Jean-Paul du Vallet, is glo reeds daar. Madame Rose het die lang, vervelige reis met haar staaltjies, teatrale handgebare en stemnuanses op ’n manier vir Deborah draagliker gemaak.

      Deborah se blik kom tot ruste op haar ma waar sy langs Ma-Fytjie sit. Die bleekheid van Alisha se gelaat word beklemtoon deur die donker leerkussings van die bank waarteen sy leun. Dis verstommend dat sy die lang koetsrit so goed deurstaan het, dink Deborah. Sy was wel siek in Kimberley, en dit was so amper-amper of sy het daar ’n miskraam gehad, maar John het dadelik die beste dokter ontbied en dit is gelukkig voorkom.

      Deborah se ingewande trek saam toe sy terugdink aan die afskuwelike plek: Kimberley. Dis geleë om ’n reusagtige krater, waarin mense soos mal miere in ’n oopgeskopte miernes rondskarrel. Sou Johannesburg ook só lyk? Sy kry gouer as wat sy verwag het ’n antwoord op daardie vraag, want buite die voortrollende koets klink daar skielik uitroepe van die dak af op.

      Een van die koetsbegeleiers verskyn op sy perd langs die koets, sy gesig verrimpel soos hy glimlag. Hy beduie na vore.

      “Johannesburg! There is the town!”

      Deborah skroef haar oë op teen die fel lig wat oor die droë vlaktes dans. Sy doen haar bes om ’n eerste blik op hulle nuwe tuisdorp te kry, maar sy sien aanvanklik min. Dis eers toe hulle die buitewyke van iets wat lyk soos ’n massiewe laer ossewaens verbysteek dat die eerste huise sigbaar word.

      Tot haar verbasing is die huise nogal elegant. Hulle is nuut en lyk heel stewig gebou. Sy dink terug aan die artikel wat sy byna twee jaar gelede in The Herald gelees het. Toe was hier niks behalwe tente en transportwaens nie. Hoe is dit moontlik dat ’n plek so vinnig kan ontwikkel?

      Die koetsier stuur die koets behendig om ’n draai. Market Street, lees Deborah op die straatnaambordjie. Dubbelverdiepinggeboue – meestal, soos dit vir haar lyk, winkels, kroeë en hotelle – staan al langs die straat. Al die geboue het verandas wat versier is met smeedysterkrulletjies wat soos kant lyk.

      Die Royal Hotel! Dis die hotel waar hulle volgens haar stiefpa inbespreek is.

      Die sweep klap oor die uitgeputte perde. Deborah sien dat die koets nou op ’n soort markplein afstuur; dit is seker die eindhalte vir die poskoets, dink sy.

      Die koets hou uiteindelik oorkant ’n rooibaksteengebou met koepeltorinkies stil. Dit moet seker een of ander amptelike gebou wees, besluit Deborah, want ’n vlag wapper aan een van die vlagpale. Sy klouter verlig uit die koets uit.

      Ma-Fytjie gee vir Deborah haar kosbare handtas aan waarin haar kruiemedisyne gepak is. Skielik is sy omring deur ’n horde bedelaartjies, kinders met pleitende, verhongerde gesiggies, wat om haar kerm. Hulle hou hul bakhandjies hoopvol na haar toe uit.

      “Skoert, julle verdomde spul lieplappertjies!” bulder die koetsier agter haar. “Weg is julle!” Hy klap die sweep in die kinders se rigting en hulle spat links en regs weg soos verwilderde brakkies.

      Deborah swaai om, haar oë blitsend gerig op die man. “Hoe durf jy! Hulle is blote kinders!”

      “Bedelaars!” grom die koetsier toe hy van die bankie af spring. “Klein bedelaartjies, groot bedelaars – wat maak dit saak? Hier is te veel van hulle hier!”

      “Deborah?” Haar ma se moeë stem laat Deborah omdraai.

      Ten spyte daarvan dat sy duidelik uitgeput is, kry Alisha dit reg om statig en kalm te lyk in haar donkerbruin reiskostuum met die lapelle wat omsoom is met roomkleurige Brusselse kant.

      “Die Royal Hotel is net daar oorkant …”

      “Ja, ek het gesien,” sê Deborah.

      “Ek het gedink ons kan maar soontoe loop, maar John het aangedring dat ons in ’n kales daar moet aankom. Hy het gou een gaan huur.”

      Deborah knik. Sy begin gewoond raak aan Digby se pretensies. Miskien is dit tog goed dat hy ’n rytuig gaan haal het, want haar brose ma lyk asof die wind haar enige oomblik kan omwaai ná die moordende twee maande wat hulle op pad was. Buitendien, met die hoop bagasie waaroor April nou wagstaan, sal hulle skaars te voet kan regkom.

      Dis nou Johannesburg, dink sy, en vir die eerste keer bekyk sy die markplein goed. Sy sien die malende harlaboerla van mense van omtrent oral oor die wêreld af wat hier kom saamdrom.

      Sy sien ’n Oosterse man in ’n lang wit toga, met ’n rooi fes op sy kop. Hy balanseer ’n staaf oor sy skouers waaraan twee swaar wateremmers hang. Hy moet fyn trap tussen die hope mis en verrotte vrugte wat oral rondlê.

      ’n Uitgelate klomp kinders jaag jillend ’n brak met ’n klaterende blik aan sy stert; waarskynlik het hulle dit self daaraan gebind. Die man met die fes moet vinnig padgee en mors sodoende van sy kosbare water. Dit ontlok by hom ’n stroom kwaai woorde in sy taal.

      Die gillende kinders steur hulle min aan hom. Die hond pyl op ’n transportwa af waarop beteuterde hoenders in draadhokke wag vir die byl. Hierdie nuwe vierbeengevaarte wat nou op hulle afpyl, laat hulle krysend kla.

      Die boer slaan geen ag op die histeriese gekekkel nie. Hy lig ’n byl omhoog, die gespierde arm bring dit sekuur neer op die kapblok, en ’n haan verloor sy kop.

      Vere en bloed spat oor die uitbundige kwajongens toe hulle agter die hond, wat onder die wa skuiling wil soek, aan duik. Die hoenderhok se stellasies begin kantel en dit tuimel. Hokke breek oop. Jubelende hoenderhenne skarrel kekkelend weg.

      Byl in die hand storm die verwoede boer op die kinders af. Hulle laat spat en verdwyn blitsvinnig tussen die malende massas op die markplein. Die boer moet maar gedweë sy hoenders, wat nou ook tussen die mense skuiling gevind het, gaan soek.

      Deborah hou dit alles gefassineer dop tot sy deur Ma-Fytjie aangekeer word. “Kom, missie, ons moet gaan. Daar is die huurkar

Скачать книгу