Ena Murray Keur 14. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray страница 17

Ena Murray Keur 14 - Ena Murray

Скачать книгу

polisie gedoen. Hy pak al die skuld op Madie.”

      “Wat!”

      “Ja. Tante kan self lees. Hy beweer dat sy stiefdogter buite haarself raak wanneer sy kwaad word. Hy het glo by die voordeur ingekom en gehoor hoe sy besig is om koppies stukkend te gooi. Sy was weer in ’n woedebui. Hy het natuurlik probeer keer, maar sy het ’n yster opgetel en hom oor die kop geslaan. Dis die laaste wat hy kan onthou.”

      Tant Kitty vee ’n bewende hand oor haar oë en fluister skor: “Dis … verskriklik! Dit kan nie waar wees nie!”

      “Natuurlik is dit nie waar nie. Ek glo geen enkele woord hiervan nie, maar dit oortuig my net meer dat ons Madie nou tot elke prys moet beskerm solank sy aan amnesie ly. Hierdie Barend van Rhijn is die enigste getuie van wat gebeur het. Madie sal haar nie teen hom kan verdedig as sy nie eens kan onthou wat gebeur het nie. Besef tante ook wat met haar sal gebeur as sý in hierdie stadium hiervan moet hoor? Sy sal heeltemal breek. Ons durf haar nie blootstel nie!”

      Tant Kitty knik. “Ja. Ek besef dit, maar … praat hulle dan nie in die koerant van haar man nie? Wat het van hom geword?”

      Sy oë vernou terwyl hy sy bord agtertoe stoot. “Dis nog iets wat ek nie kan begryp nie. Hoekom word daar nooit na haar man verwys nie? Dis of hy nooit bestaan het nie. Wat het van hom geword, waar is hy en hoekom is hy so stil? As ek net ’n bietjie navraag kon gaan doen, maar ek durf nie roer nie uit vrees dat ek hulle op haar spoor sal sit.”

      Sy gesig is bleek en streng. “Ek is daarvan oortuig daardie stiefpa van haar lieg. As ek net by hom kan uitkom, sal ek hom dwing om die waarheid te vertel. Daar is niks anders wat ons kan doen as om stil te sit en verwikkelinge af te wag nie. Intussen moet ons hoop en bid dat Madie spoedig sal begin onthou.”

      “Hoe lank dink jy sal dit duur?”

      Hy haal sy skouers op en neem ’n sluk koffie. “Ek weet nie. Dié amnesie het natuurlik ’n sielkundige oorsprong. Daar is geen fisieke rede daarvoor nie. Gewoonlik is dit die onderbewussyn wat self ’n gordyn oor die verlede trek wanneer iemand ’n geweldige skok weg het. Dikwels neem dit weer ’n skok om die sluier gelig te kry. Maar ons kan nie nou al so ’n kans waag nie. Sy is nog te swak.”

      “In daardie geval is daar niks anders wat ons kan doen nie.”

      “Ja, en ons sal haar goed moet oppas. Sy mag onder geen omstandighede deur enige van die woonstelbewoners gesien word nie. En dié koerante moet onmiddellik vernietig word. Dit mag nie hier rondlê nie.”

      In die dae wat volg, voer tant Kitty Rudolf se bevele stiptelik uit. Madie kry net die allerbeste behandeling en niks is te veel moeite vir haar verpleegster nie, sodat die jong meisie later moet protesteer: “Asseblief, tante, ek is mos nie regtig siek nie. Hoekom moet ek in die bed lê? Ek kan mos darem seker opstaan en ’n bietjie in die woonstel rondloop, nie waar nie? Ek sal nooit regtig aansterk as ek dag in en dag uit in die bed bly lê nie.”

      “Almiskie, kind. Rudolf het gesê …”

      “Ag, Rudolf.” Vir die eerste keer sien Kitty die blou oë flits. “Hy begin my tot in die afgrond irriteer. Hy is erger as ’n ou hen met een kuiken!”

      “Kind!”

      Die kennetjie druk uitdagend na vore. “Dis waar! Hy behandel my asof ek presies twee jaar oud is en van suiker gemaak is. Mens sou nooit sê …” Sy sluk haar woorde vinnig en klim uit die bed, stap vasbeslote na die naaste kas en maak dit oop terwyl tant Kitty haar met groot oë vanaf die deur staan en beskou. Sy kyk teen ’n klomp mansklere vas en klap die deur toe, maak die volgende oop, maar kyk weer teen ’n ry manshemde en dasse vas. Sy frons vererg.

      “Watter is my kas? Waar is my klere?”

      Tant Kitty glimlag verlig. “Jou klere is nog by my, hartjie. Jy was mos by my toe … die ongeluk gebeur het. Ons het totaal vergeet dat jy nie ’n stuk klere hier het nie.”

      Madie staan haar fronsend en aankyk, onbewus daarvan dat sy in haar nagklere nie veel ouer as tien jaar vertoon nie. “Het die ongeluk by tante gebeur? Ek het dan gedink dit was hier êrens in ’n straat … Wat het ek by tante gemaak? Hoekom was ek nie hier nie?”

      “Stadig nou, kind. Jy is soos ’n grammofoon wat opgewen is. Ek het jou mos al vertel. Jy was siek, grieperig, en toe het jy ’n rukkie by my gekuier en toe … het die ongeluk plaasgevind.”

      “Ek sien.”

      Daar is iets in die reguit blou blik wat tant Kitty ongemaklik maak, maar sy doen haar bes om ongeërg voor te kom. “Sodra Rudolf ’n kansie het, sal ek sorg dat hy jou goedjies gaan haal.”

      “As dit van hom afhang, sal ek seker vir die res van my lewe in my nagklere moet rondloop,” brom sy onderlangs en kyk ontevrede voor haar uit. Weer is dit of iets haar hinder. Sou sy as sy net ’n kort rukkie by tant Kitty gaan kuier het, werklik tot die laaste draad wat sy besit, saamgekarwei het? Hier is nie een enkele rokkie of ’n stukkie onderklere van haar in die woonstel nie.

      Sy wip soos sy skrik toe hy skielik in die deur verskyn. Sy wil instinktief terugduik in die bed en die beddegoed tot by haar ken optrek. Maar sy bly hierdie keer staan. Dis nou verspottigheid, betig sy haarself; waarvoor sal sy vir hom skaam wees? Hy is haar man. Hy moes haar al honderde kere in haar nagklere gesien het. Nietemin voel sy weer ’n blos oor haar wange spoel.

      Hy vra skerp: “Wat gaan hier aan? Hoekom is jy uit die bed?”

      “Omdat ek klere soek. Ek gaan nou opstaan, Rudolf. Ek is nie meer siek nie.”

      “Kindjie …”

      “En as jy my nog ’n keer kindjie noem, sal ek aan die gil gaan totdat die dak lig. Ek is nie jou kindjie nie; ek is jou vrou. Ek gaan ook nie weer bed toe nie, want ek is nie meer siek nie. Ek wil klere hê om aan te trek, en as hier nie is nie, gaan koop jy vir my ’n rok – dadelik.”

      Die twee mense staan haar so verbysterd en aankyk dat haar ergernis net so vinnig verdwyn as wat dit opgevlam het. Sy laat haar blik sak, word nou eers bewus daarvan dat die dingetjie wat sy aanhet, beslis min aan die verbeelding oorlaat. Sy vou haar arms ongemaklik en voel meteens die trane agter haar ooglede brand. Hulle was so goed vir haar, so dierbaar …

      Sy sluk. “Ek is … jammer, maar ek …” Die blou oë lig weer en pleit. “Asseblief, Rudolf, kan ek nie maar ’n slaggie opstaan nie? Ek is al so moeg van die bed en … ek het niks om my gedagtes mee besig te hou nie. Ek kan nie eens terugdink aan iets nie.”

      Sy sien die speling van ’n vreemde emosie oor sy gesig gaan, toe is hy meteens by haar, tel haar in sy arms op en dra haar terug bed toe. Vanaf die deur kyk Kitty bekommerd na hulle.

      Rudolf lê haar weer neer, maar die skraal arms gaan meteens om sy nek, hou hom teen haar vas en trek hom saam met haar neer.

      “Rudolf …” Sy kop buig en hy kyk vraend in die blou oë af. “Het jy … het jy my lief?”

      In die deur hou tant Kitty haar asem op. Sy sien hoe die spiere in sy kake begin speel en hoor sy stem duidelik skor antwoord: “Is dit nodig dat jy my so iets vra, Madie?”

      Nog ’n oomblik priem die blou oë met ’n vreemde, deurdringende intensiteit in syne. Toe sak die ooglede en gly haar arms los. “Nee, seker nie. Ons … is mos getroud.” Sy begin die beddegoed oor haar trek en hy staan op en kyk onbeholpe op haar af,

Скачать книгу