Ena Murray Keur 14. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray страница 18

Ena Murray Keur 14 - Ena Murray

Скачать книгу

jy sal belowe dat jy nie by hierdie woonstel sal uitgaan nie. Dis ’n bevel, Madie.”

      Sy kyk onmiddellik weer fronsend op. “Maar hoekom?”

      “Omdat … omdat jy ’n verkoue kan opdoen …”

      “Moenie verspot wees nie, Rudolf. Die dae is lieflik.”

      “Madie!” Sy swyg toe sy die streng stem hoor. Hy het nog nooit so ernstig geklink nie. “As ek jou een enkele keer buite hierdie woonstel vang, sit ek jou onmiddellik terug in die bed en sny self die laaste stukkie klere van jou met ’n skêr stukkend. Verstaan ons mekaar?”

      “Nee!” Die blou oë is meteens koud, kil soos hy hulle nog nie tevore gesien het nie. “Nee, ons verstaan mekaar glad nie. Iets skort tussen ons twee, nè, Rudolf?”

      “Wat bedoel jy?” vra hy fronsend.

      Sy antwoord reguit: “Iets skort met ons huwelik, nie waar nie? Daar is ’n groot skroef los tussen ons twee, nie waar nie?”

      Hy kyk haar verslae aan. “Wat … wat bedoel jy? Waarvan praat jy?”

      “Ek praat van ons twee – van my en van jou. Ek is al meer as ’n week terug uit die hospitaal en …”

      “En?”

      “En jy het my nog nie een keer gesoen of in jou arms geneem nie. Ek praat nie van daardie pikgoedjies wat jy op my voorkop neerplak wanneer jy na jou spreekkamer gaan nie. Ek praat van ’n ordentlike soen wat ’n man sy vrou soms gee as hy regtig vir haar omgee. Maar jy … Ek kon eerder jou dogter gewees het as jou vrou.”

      Sy frons is hewig en tot haar verbasing sien sy nou ’n rooi blos oor die rand van sy boordjie stoot.

      “Moenie belaglik wees nie. Jy was siek en …”

      “Presies. Ek wás siek. Ek ís nie meer siek nie. En al het ek my geheue verloor, skort daar verder niks met my nie. Iets is verkeerd. Het ek van jou weggeloop toe ek kastig by tant Kitty gekuier het?”

      “Madie! Watter twak praat jy! Natuurlik nie.”

      “Dan moes daar iets anders gebeur het. Het ons die een of ander tyd baklei?”

      “Nee!”

      “Ons was dus nog altyd ’n baie gelukkig getroude paartjie?”

      Die woord wurg uit. “Ja.”

      Sy lê terug teen die kussings en kyk na hom op. “In daardie geval, Rudolf van der Merwe, kan jy gerus ophou om so ’n uiters bedagsame eggenoot te wees. Bedagsaamheid is seker bewonderenswaardig, maar as dit oordryf word, raak jy ’n vervelige eggenoot. Staak dit, asseblief. Ek is siek en sat daarvan.” Sy kyk stip terug in sy verslae oë. “Ek hoor tant Kitty werk daar met koppies. Ek wil ook tee hê – stérk tee, asseblief. Ek drink nie langer melk nie. Ek is nie twee jaar oud nie.”

      Met ’n gesig soos graniet draai Rudolf sonder ’n woord om en stap uit. Madie draai haar om op haar kussing terwyl haar skouers begin ruk.

      In die kombuis kyk tant Kitty met groot oë op toe hy kortaf laat hoor: “Sy wil ’n koppie stérk tee hê. Sy drink nie meer melk nie. Sy is nie twee jaar oud nie.”

      Tant Kitty se lippe plooi onwillekeurig. Toe gee sy die stryd gewonne en lag. “Jy kan haar nie eintlik kwalik neem nie, Rudolf. Kom, wees nou redelik. Jy behandel haar regtig asof sy presies twee jaar oud is.”

      Sy oë blits. Sy tante kan nog lag! Besef sy dan nie in watter netelige posisie hy hom bevind nie! “Hoe kan ek haar anders behandel? Wil tante hê …?”

      “Nee! Natuurlik nie, seun. Ek weet, maar …” Sy sit Rudolf se tee voor hom neer en kyk hom bekommerd aan. “Dis nie meer snaaks nie. Madie is nie onnosel nie. Sy het my soms al hier in ’n hoek gehad dat ek nie weet watter kant toe om te lieg nie. Soos vanoggend. Sy wou by my weet waar is haar ouers dan en of sy nie familie het nie.”

      Rudolf se oë is ook bekommerd. “En toe? Wat sê tante toe?”

      “Dat haar ouers albei dood is en dat sy nie ander familie het nie. Wat kon ek anders sê? Maar sy was nie daarmee tevrede nie. Is hier dan nie foto’s van haar ouers nie? Ek het eers nie geweet watter kant toe nie, en het naderhand maar gesê dat julle ’n klomp goed by my in die buitekamer gebêre het. Haar albums is seker ook daar weggepak. Maar sy wil hulle hê, soos sy haar klere wil hê wat daar by my gebly het.”

      “Hm.” Hy byt peinsend aan sy onderlip. Een van die dae betrap sy hulle nog onkant, en wat dan? Hy kan nou al raai. Sy sal net hier uitstap, weer in die niet verdwyn en dan sal alles verby wees. Boonop vind sy hom ’n uiters bedagsame, uiters vervelige eggenoot, en daaraan kan hy nog minder doen as aan die res!

      “Wat sê vandag se koerante?” wil tant Kitty weet en hy antwoord sugtend: “Niks. Alles is meteens doodstil. Gelukkig het hulle opgehou om haar foto te plaas en hulle sê ook niks verder nie. Ek het elke koerant gekoop, maar dis skynbaar nou ou nuus.”

      “Ons weet dus nie hoe ver die saak gevorder het nie.”

      “Ja. Daar is ook geen manier waarop ons kan uitvind sonder om agterdog te wek nie.” Die telefoon lui en hy staan op. Hy sal maar te dankbaar wees as iemand hom vanaand ontbied. Dis beter dat hy so min moontlik in die woonstel is.

      Dis matrone Nel aan die ander kant wat hom vra om gou na haar toe te kom. Sy het sekere inligting bekom waarin sy dink hy belang sal stel. Sy verduidelik nie verder nie, maar hy snap dadelik. Dis iets in verband met Madie. Hy aarsel nadat hy die telefoon neergesit het. Dis nou al gewoonte by hom om, wanneer hy die woonstel verlaat, sy “vrou” met ’n piksoentjie op die voorkop te groet, maar aangesien sy volgens haar siek en sat daarvan is, sal hy dit maar nalaat.

      “Ek gaan gou hospitaal toe, tante. Ek sal nie lank weg wees nie.”

      In die kamer hoor Madie hoe die voordeur agter hom toegaan en sy moet keer dat die trane nie weer van voor af begin loop nie. Sy voel nou heelwat beter nadat sy haar uitgehuil het en ook baie skaam.

      Wat moet Rudolf van haar dink? dink sy ontsteld en ontevrede met haarself. Watter soort mens is sy om haar goeie man se bedagsaamheid in sy gesig terug te gooi en te sê sy vind hom vervelig? Liewe land, sy is ’n ondankbare skepsel en verdien om deur ’n motor omgery te word. En nou is hy vir haar kwaad. Hy is weg sonder die gebruiklike piksoentjie waarna sy so smalend verwys het. Nou mis sy dit. Dis tog beter as niks.

      Tant Kitty moet vinnig ’n glimlag bedwing toe sy in die kamer kom met die koppie tee en in die groot, verskrikte oë vaskyk. Sy is darem nog baie jonk. Maar sy trek haar gesig op ’n sedige plooi. Sy sal Rudolf moet help, of hy sal later nie weet hoe om hom uit hierdie penarie los te draai nie. Hierdie klein klits het hulle in die holte van haar hand. Sy weet dit net nie.

      “Is Rudolf baie kwaad vir my, tante?”

      Tant Kitty gaan sit op die kant van die bed en laat rustig hoor: “Nee, kind, ek dink nie juis kwaad nie, miskien net seergemaak.” Sy vervolg versigtig: “Rudolf het ook ’n moeilike tydjie agter die rug, Madie. Hy het ’n groot praktyk en tussen sy werk en jou siekte het hy homself amper gebreek.”

      Dít is ten minste die waarheid, dink sy voordat sy verder praat: “Jy weet dit nie, Madie, maar ons het jou op ’n keer amper verloor. ’n Ruk lank het ons gedink jy is vir altyd

Скачать книгу