Ena Murray Keur 14. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray страница 19

Ena Murray Keur 14 - Ena Murray

Скачать книгу

      Sy lyk skuldig en skaam, maar kyk tant Kitty nietemin vas in die oë.

      “Ek verstaan dit, tante, maar tog … Ek sal mos seker darem nie doodgaan of iets oorkom as my man my ’n bietjie vashou nie.”

      Wát kan ’n mens daarop antwoord? Tant Kitty se ontsteltenis verdiep. Is Madie reeds verlief op Rudolf, of is dit ’n poging om haar lewe weer normaal te kry?

      “Kind, ja, hoe sal ek nou sê … Ek is ’n oujongnooi en weet nie veel van hierdie goed af nie, maar … terwyl jy nog nie heeltemal gesond is nie, dink ek jy moet nie te veel van Rudolf verwag nie. Hy is ’n mens van vlees en bloed, Madie.”

      Die verwarring lê duidelik in die blou oë en tant Kitty kyk hulpeloos terug. Sy weet dat haar verduideliking belaglik en onbeholpe klink en dat dit vir enige vrou met intelligensie nie aanvaarbaar sal wees nie, maar wat kan sy anders sê?

      Die blou oë kyk weg en die koppie knik stilswyend.

      Tant Kitty kan amper raai wat in haar gedagtes omgaan, maar swyg. Hoe minder daar oor hierdie spesifieke aspek van Madie se “huwelik” gepraat word, hoe beter.

      Madie is die res van die aand besonder stil en toe Rudolf die woonstel instap, hoor hy dat sy gesê het sy wil vanaand vroeg gaan slaap. Die kamerlig is reeds af. Aan die een kant voel hy teleurgesteld, maar aan die ander kant tog verlig. Hoe minder hulle van mekaar te sien kry, hoe beter.

      Hy sorg dat die kombuisdeur dig toe is voordat hy tant Kitty inlig oor wat die matrone hom te vertel gehad het. “Sy was gisteraand op ’n partytjie waar sy mense ontmoet het wat iemand op Madie se tuisdorp ken wat met haar bevriend was. Eintlik het Madie en dié vroutjie saam in ’n kantoor gewerk. Die ander vrou vertel toe dat haar vriendin baie verontwaardig was oor wat die stiefpa te vertel gehad het. Sy sê Madie is ’n liewe mens en sy het groot bewondering vir haar vir die wyse waarop sy haar ma al die jare bygestaan het, want dié het glo ’n swak tweede huwelik gedoen.

      “Sy het glo maar haar ma onderhou omdat die stiefpa ’n kwaai drinker is en meestal sonder werk sit. Die man het glo soms haar ma aangerand, veral wanneer hy so besope was, en dit het Madie ontsettend ontstel. Haar ma is twee maande gelede aan hartversaking oorlede, en Madie het onomwonde verklaar dat haar stiefpa daarvoor verantwoordelik was.”

      Tant Kitty knik, haar oë vogtig. “Dis mos wat ons altyd geglo het. Hoekom gaan die vriendin nie na die polisie en vertel hulle hiervan nie?”

      “U weet hoe dit gaan, tante. Mense is onwillig om hulle by so ’n onaangename besigheid te laat betrek. Matrone het wel vir die vroutjie gesê dat dit haar vriendin se plig is om met hierdie besonderhede na die polisie te gaan, maar of sy ooit sal, weet ons nie.”

      “Het sy niks gesê van Madie se man nie? Waar is hy?”

      “Nee, die vrou weet niks verder nie. Matrone wou ook nie te veel uitvra sodat dit miskien agterdog sou wek nie. Die gesprek het toevallig op hierdie onderwerp gekom.”

      “Rudolf, kan ons nie self na daardie vrou gaan en verder gaan uitvind nie?”

      “Ek het ook al daaraan gedink, maar dis gevaarlik, tante. Dit kan miskien net uitlek dat ons daar navraag gedoen het en as dit eers die polisie se ore bereik, sal die gort gaar wees.”

      “Ja, natuurlik.” Sy aarsel en besluit toe dat Rudolf liewer moet weet van die gesprek tussen haar en Madie. Ietwat selfbewus vertel sy hom daarvan en Rudolf se oë is afgewend terwyl hy luister.

      Toe sy stilbly, sê hy: “Ja, die situasie raak al moeiliker, nè? Sy het my reeds ’n vervelige eggenoot genoem.” Sy kortaf laggie het ’n bitter klank daarin. “Ons sal ’n ander plan met haar moet maak. Ons gee dit nog so ’n week of wat kans, dan gaan ek julle met vakansie stuur. Teen daardie tyd behoort die publiek al hierdie saak te vergeet het, hulle sal beslis nie meer haar gesig in fynere besonderhede onthou nie. Dis al wat ek kan doen, of … die saak gaan handuit ruk. Ek wil haar nie afjak nie, maar ek kan nie anders nie. Ek sal my maar soos ’n buffel moet begin gedra en sorg dat ek so dikwels moontlik weg is.”

      Die volgende oggend toe Madie wakker word, is Rudolf reeds weg. Sy lewer geen kommentaar nie, maar tant Kitty kan raai wat sy dink.

      Sy is bekommerd toe sy ’n rukkie later ook vertrek om vir Madie te gaan klere koop.

      En daar is rede tot kommer. Tant Kitty het kwalik by die voordeur uit verdwyn, of Madie spring op. Sommer in haar nagklere begin sy die huis van ’n kant af fynkam. Êrens moet daar iets wees wat haar aan die verlede sal herinner, wat bekend sal voorkom. Maar hoe verder sy met haar snuffelry vorder, hoe meer neem haar verwarring toe.

      Sy begin in die badkamer. Behalwe Rudolf se skeergoed, is daar absoluut niks wat aandui dat sy ook eenmaal gebruik gemaak het van hierdie badkamer nie. Die badolie en poeier wat op die rakkie staan, is tant Kitty s’n.

      Sy kyk om haar rond. Wanneer Rudolf wil verklee, glip hy by die badkamer in en kom ten volle geklee daar uit. Hy het nog nie een keer voor haar aan- of uitgetrek nie.

      Snags slaap hy op die bank in die sitkamer …

      Toe sy by die boekrak kom, gaan sy op haar hurke sit en trek iets agter ’n klomp tydskrifte uit. Dis ’n portret van ’n pragtige rooikopvrou, ’n sekere Catherine, wat haarself “jou eie” noem.

      ’n Geskenk aan Rudolf.

      6

      Plat op die vloer, bene gekruis, sit en bekyk Madie die beeldskone gesig wat vanuit die raam na haar glimlag – Rudolf se “eie” Catherine …

      Tevergeefs delf sy in die donker voue van die swaar gordyne wat voor haar geheue getrek is. Nee, sy kan hierdie gesig nie onthou nie, en sy is baie seker as sy haar al gesien het, of hierdie foto, sou dit haar nou op ’n spoor gebring het.

      En hoekom is die foto tussen ’n klomp boeke ingedruk, asof dit inderhaas daar ingeprop en toe vergeet is? En hoekom het sy, wat veronderstel is om al maande in hierdie woonstel saam met Rudolf te gebly het, nog nie daarop afgekom nie?

      Sy voel instinktief aan dat sy nie hierdie foto so sou laat bly lê het as dit reeds in die woonstel was toe sy hier gekom het nie. Maar dan beteken dit net een ding: hierdie foto was nie vroeër hier nie. Dit moes onlangs sy verskyning gemaak het … onlangs toe sy weg was? Toe sy by tant Kitty gekuier het …?

      Iets soos ’n koue vrees trek in haar saam. Is hierdie pragtige meisie met die rooi hare en amandelvormige groen oë die oorsaak dat daar so ’n vreemde verhouding tussen haar en Rudolf heers, dat hulle getroud is en tog eintlik ook nie?

      Is die vae vermoede wat elke dag sterker in haar word dat daar iets groots met haar en Rudolf se huwelik skort, tog ’n feit en het dit met hierdie meisie te doen? Het sy werklik by tant Kitty gekuier omdat sy siek was, of was sy eintlik weg van Rudolf af, het sy die pad oopgemaak vir hierdie vrou omdat sy nie langer teen haar kon wedywer nie?

      Hoe meer sy hieroor peins, hoe meer oortuig raak sy dat sy eindelik op ’n spoor gekom het en ’n grondige rede gekry het hoekom Rudolf so vreemd teenoor haar optree. Al die ander redes wat hy en tant Kitty so halfhartig aanvoer, het vir haar nog altyd na twak geklink. Hierdie een, hierdie rooikop Catherine en die verhaal wat sy besig is om om haar te bou, klink baie meer aanneemlik.

      Was hul huwelik reeds op die rotse toe die ongeluk plaasgevind het en … sy sidder meteens, voel die hoendervel

Скачать книгу