Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach страница 23
“Thanks, dit sal lekker wees,” sê Edwin.
Lucinda sien dat hy vir Anna sy sjarmante glimlag gee en dat sy sommer ontdooi. Hy het nog altyd ’n slag met almal gehad en is nog altyd maklik vir sy oortredings vergewe, dink sy wrang. Hy kon omtrent met moord wegkom en al die meisies het hom aangehang.
“Daar is iets wat ek ook kom doen het, behalwe kuier,” sê hy terwyl hulle eet.
“Wat is dit?” vra sy versigtig en hoop dit het niks met haar te doen nie.
“Ek wil uitvind waar ek vandaan kom en watse ander familie daar is, al is dit verlangs. Om Nanette se onthalwe. Daar is niemand wat na haar omsien behalwe die kliniek se personeel nie, en natuurlik kom niemand kuier nie. My vrou se familie sit in Frankryk, en hulle het Chantelle in elk geval verwerp toe sy vigs kry.”
“Dis tragies …”
“Kom ons gaan albei. Ons gaan praat met ou matrone Van der Walt en wie ook al ons destyds geken het. Jy kan met die maatskaplike werker gaan praat wat jou ingebring het na die weeshuis. Jy behoort baie te wete te kom.”
Lucinda voel asof die kos in haar mond dik word en sy sluk dit met moeite af. “Ek was nog altyd bang om op my bloedspoor terug te gaan.”
“Ja, ’n mens is, maar daar kom ’n tyd dat jy dit seker moet doen. Ek het nou by daardie punt gekom.” Hy kyk na haar, sy gesig somber. “Gaan jy my ondersteun, of nie?”
Sy sug hoorbaar en kyk eers af na haar bord kos. Werner het ook geskimp dat sy haar verlede moet konfronteer en haar familie in Ierland moet gaan soek.
“Goed, ek sal saamgaan,” stem sy in.
10
“Ai, ek is darem bly julle twee het so goed uitgedraai,” sê matrone Van der Walt. “Die een word toe ’n pediater en die ander een ’n beroemde renjaer.” Lucinda sê niks, teug net aan die warm rooibostee en kyk diskreet rond in die eenvoudige aftreewoonstelletjie.
“Lucy was altyd die slimste van ons almal, en ek die mooiste,” grap Edwin.
Matrone lag. “Vabond! Jy is nog net dieselfde. Bekkig en vol dinge. Waarom is julle nie getroud nie?”
“Met mekaar of sommer?” vra Edwin parmantig, maar Lucinda weet hy hou ’n front voor. Innerlik is hy geweldig gespanne oor wat hulle te hore kan kom.
“Een van die twee, stouter.”
Sy gesig word lank. “Ek is ’n wewenaar. Lucy het nooit getrou nie.”
Lucinda sit haar koppie neer. “Dit laat my soos ’n bejaarde oujongnooi klink. Om die waarheid te sê, matrone, sien ek Edwin nou eers weer, ná baie jare.”
“Ek is besig om ou bande op te tel,” sê hy, en hy klink nie meer vir Lucinda ligsinnig nie. “En dis waarom ons hier is, matrone. Ons verledes is duister. Ons weet niks van ons ouers nie – ek weet in elk geval niks van myne nie. Lucy weet darem iets, en dat sy by pleegouers was. Wat kan matrone ons vertel?”
Matrone lyk meteens oud en beswaard. “Ai, dis sulke hartseer gevalle wat by ons uitgekom het. Julle moet regtig oortuig wees dat julle wil uitvind, anders sal die skok dalk te erg wees om te verwerk.”
Edwin sit vorentoe en kyk haar stip, smekend aan. “Ek wou nie weet nie, maar nou móét ek, om my kind se onthalwe.”
Matrone lyk skoon bewoë. “Het jy dan ’n kind?”
“Ja, en sy het vigs. Sy is in die kliniek waar Lucy werk.”
Matrone word bleek van skok en vee met haar servet oor haar lippe voor sy prewel: “Liewe Heer van genade.”
“Ek is baie in die buiteland en ek het gewonder of daar enige familie is wat darem oor haar besorg sal wees. Lucy is blykbaar vir Nanette, my dogter, soos ’n moederfiguur, maar ek kan nie verwag dat Lucy werklik een moet wees nie. Tensy sy met my trou, natuurlik.”
Lucinda skrik en sien dat hy haar skalks beskou. Sy bly liewer stil.
Matrone lyk sommer gretig om te help. “Julle kan by die departement maatskaplike dienste uitvind, en natuurlik by binnelandse sake geboortesertifikate en so aan kry.”
“Wie is die maatskaplike werker wat my na die weeshuis gebring het, matrone?” vra Lucinda.
Matrone dink eers, haar vinger op haar lippe. “Dit was Suzette van der Merwe, as ek reg onthou. Sy woon hier in Kaapstad. Ek dink ek het nog haar telefoonnommer iewers, in ’n ou telefoonboekie. Ek gooi mos niks weg nie. Eendag op ’n reëndag kry mens dit weer nodig. Wag, ek gaan soek.”
Sy verdwyn by die deur uit en Edwin kyk na Lucinda. “Jy gaan gouer jou dinge uitvind as ek. My ma was seker ’n jong meisie wat swanger geword het sonder dat sy getroud was en toe raak sy van my ontslae. Pleks sy maar ’n aborsie gehad het.”
“Eddie! Die lewe is heilig. Kyk wat het van jou geword. Jy het ’n sukses van jou lewe gemaak.”
Hy glimlag wrang. “Ja, aan die een kant ’n moerse sukses. Aan die ander kant ’n moerse flop.”
Lucinda kyk hom bejammerend aan en in haar brand die agterdog, wat eintlik weet is.
“Eddie, jy wou jou nie laat toets vir MIV nie, en nou soek jy familie –”
Matrone is skielik terug en onderbreek haar: “Hier het ek dit. Suzette van der Merwe, telefoonnommer en adres in Tuine, Kaapstad. As sy nog daar bly.”
Sy gee ’n papiertjie aan Lucinda, wat dit lees en in haar handsak sit. “Baie dankie, matrone.”
“Wou jy geweet het wie jou pleegouers was?”
“Ja, dit ook. Hulle spook nou nog by my.”
Matrone snork ergerlik. “Daardie aaklige mense.
Jy was kort by hulle en hulle het jou geslaan, blykbaar vir die geringste ding. Ek wou moord pleeg toe ek sien hoe jy lyk daardie dag dat Suzette van der Merwe jou na ons gebring het. Die Here sal sulke mense straf. Hulle gaan reguit hel toe. Suzette sal jou van hulle kan vertel, wie hulle was en alles.”
Lucinda kom agter dat sy sidder en brokkies van ou herinneringe terugroep, soos die woorde van ’n ou, vals liedjie. Die nagmerries en drogbeelde voel of dit vlak in haar gemoed lê.
“Jy het ook nie as baba na ons gekom nie, Edwin,” vertel matrone. “Jy was al twee jaar oud. As jou ma jou as baba vir aanneming gegee het, sou jy aangenome ouers gehad het. Mense neem nie maklik ouer kinders as pleegkinders in soos die geval met Lucinda was nie. Jou ma was ’n enkelouer en toe hulle jou vind, was sy dood. Sy het selfmoord gepleeg in ’n kamertjie in Woodstock. Hulle kon haar nie identifiseer nie, want sy het niks by haar gehad nie. Sy wou seker nie hê iemand moet iets oor haar uitvind nie. Jou gehuil het mense se aandag getrek. Die polisie het jou gevind en jy is na die weeshuis gebring, my arme kind.”
Lucinda voel asof sy ineenkrimp toe sy dié aaklige nuus hoor en sy sien dat Edwin doodsbleek geword het. Sy vlieg op en gaan omhels hom, met trane in haar oë. Hy begin ruk en sy besef