Shéri. Shéri Brynard

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Shéri - Shéri Brynard страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Shéri - Shéri Brynard

Скачать книгу

      Ek onthou die dag toe groot seuns wat saam in die skoolbus gery het, vir my gevra het of ek ooit vinnig kan hardloop. Natuurlik wou ek hulle oortuig dat ek nes hulle kan hardloop. Toe die bus stilhou, het ek uitgeklim en huis toe gehardloop. Ek het my knieë flenters geval. Ek wou nie omkyk nie; ek het te veel gehuil. Ek dink ek het die seuns hoor lag en lag.

      Omtrent ’n jaar later wou ek die 400 meter vir die Rooispan van ons skool hardloop. Ek het laaste gekom, maar die juffrou het oor die luidspreker gesê: “Al die Rooispanmaatjies moet nou eers saam met Shéri gaan klaarmaak.” En almal het die laaste rondte saam kom hardloop. Die seuns ook.

      Maar toe ek 31 jaar oud was, het ek ook gedink hoe ek vir Oprah ontmoet het. Dit was in 2011 toe prof Jonathan Jansen, destyds rektor van die Universiteit van die Vrystaat, my as eregas genooi het om Oprah Winfrey te ontmoet toe sy ’n eredoktorsgraad van die universiteit gekry het.

      En hoe dit vir my was om as onderwysassistent opgelei te word.

      Toe ek 31 jaar oud was, het ek gedink ek moet by my geboorte begin en alles wat met my gebeur het, neerskryf. Want dit is ’n storie. Dit is die Here se storie en ek is daarin.

      Ek het my ma se dagboeke geleen en oor my geboorte gaan lees. Ek het albums gekyk en my ma uitgevra.

      So het my lewe begin:

      Toe my ma gehoor het sy is swanger, was sy vreeslik bly. Sy was altyd bang sy sou nie ’n kind kry nie, miskien omdat sy so graag een wou hê. Sy was toe 24 jaar oud.

      Die swangerskap het goed verloop. Die opvallendste van die laaste deel was dat ek so min beweeg het. Blykbaar is dit een van die tekens van Downsindroom.

      Tydens haar swangerskap het iemand van die Departement Genetika aan die Universiteit van die Vrystaat met my ma se biologie-leerders by Oranje Meisieskool kom praat. Die dosent het vir hulle verduidelik hoe dit gebeur dat kindertjies soms met afwykings gebore word.

      Toe my ma later vir die dosent sê sy is swanger, het sy gesê dat sy so ’n praatjie nooit voor ’n swanger vrou sou gee nie. My ma het net gelag en gesê dit sal haar nie oorkom nie, en indien dit wel gebeur, sal sy dit dan hanteer. Sy gaan nie onnodig bang wees daarvoor nie.

      Nog iets in my ma se dagboek was vir my besonder interessant. In Duitsland het dokters agtergekom dat die meeste vroue met Downsindroom-babas erg verkoue was toe hulle swanger geword het. My ma het teruggedink, en sy kon onthou, sy wás vreeslik verkoue in die tyd toe sy swanger geraak het. Sy het nie eens gaan werk nie, iets wat sy nie sommer maklik doen nie.

      Van ongeveer die vierde maand het sy gereeld ginekoloog toe gegaan. Hy het elke keer ’n sonar geneem en nooit enige fout gesien nie. Die koppies van babas met Downsindroom is kleiner as normale kinders s’n, maar my kop se omtrek was so dat ek net sowel ’n normale kind met ’n redelik klein koppie kon wees. Die dikte van my nekvel het ook nie van die normale afgewyk nie.

      Die verwagte datum was 20 Maart, maar my ma het vas geglo dat ek vroeg sou kom. Sy het my 14 Maart al verwag. Sy het ook geglo dit sal ’n maklike geboorte wees. My ma is altyd so positief oor alles. Sy het jare later ook gedink ons sou my pa kry toe hy by die Augrabies-waterval weggeraak het.

      My ma skryf dat sy op Sondag 14 Maart gehoop het iets gaan gebeur. Die aand elfuur het sy ’n ligte kramp gekry. Sy was so opgewonde dat die buurvrou haar glo kon hoor lag. Sy is uiteindelik ongeveer kwart voor twee hospitaal toe en ek is ’n uur later gebore.

      Sy het my hoor huil en was heeltemal tevrede dat ek honderd persent is. Die dokter het my vir haar aangegee om ’n rukkie vas te hou en my daarna in ’n broeikas gesit. Daar kon my ma en pa my mooi bekyk. Die suster het glo nogal gesê my oë lyk nes my ma s’n. My ma het groot ronde oë.

      Die res van die nag het my ma wakker gelê en alles herleef. Sy skryf sy kon nie wag om my ouma, haar ma, die volgende oggend te sien nie. Ek was my ouma se eerste kleinkind en het ook haar name gekry. Onder my bedjie was die volgende geskryf:

      Naam: Shéri Alida

      Gewig: 2,9 kg

      Lengte: 47 cm

      Geboortedag: Maandag

      Tyd: 02:52

      Datum: 15 Maart 1982

      Plek: Universitas Hospitaal, Bloemfontein

      Dokter: Dr Wim Brummer

      Ongeveer agtuur die volgende oggend het my ouma gekom en daarna die pediater, dr Wilhelm Karshagen. Hy is as roetine aangestel om die kindertjies wat deur ginekoloë in die lewe gehelp is, te ondersoek. Hy het vir my ma gesê daar is fout, want ek is baie slap. Hulle het bloed weggestuur vir toetse. Die ginekoloog was ook bekommerd.

      Ongeveer elfuur die oggend het my pa kom kuier. My ma het hom dadelik vertel daar is fout. Toe sê hy vir haar dat hy die trekke van Downsindroom dadelik gesien het, maar gehoop het hy is verkeerd. Die aand het dr Karshagen, wat later ’n huisvriend geword het, en dr Brummer, wat steeds my en my ma se ginekoloog is, die slegte nuus amptelik kom oordra.

      My pa en ma was hartseer, maar nooit verbitterd nie. Hulle het nooit vrae gevra nie.

      My ma skryf die hospitaalpersoneel was wonderlik. Sy het nooit gevoel sy is anders nie, net miskien ’n bietjie spesiaal met ’n spesiale dogtertjie. Ék was egter anders: al die ander vrouens in die kraamsaal het gewone babas gehad.

      My ma sê sy het nog nooit soveel liefde ervaar nie, van vriende, familie, bekendes en onbekendes. Sy het 42 ruikers ontvang. Die mense het gedoen, gegee, gebid, en alles het die seer in wonderlike dankbaarheid verander.

      My ma het destyds geskryf hulle was dadelik so lief vir my. Dit was ’n skok, maar hulle het my nooit, vir geen oomblik, verwerp nie. My ma en pa het my aanvaar soos ek is, en liefgekry soos ek is.

      Toe my ma en pa my ouma en oupa vertel, het my ma die seer in my ouma se oë gesien, en my oupa se oë het geblink. My ouma was gou vir my so lief; liewer, dink ek, as vir enige ander mens op aarde.

      Ek was glo ’n soet en dierbare baba. Hoewel babas met Downsindroom nie baie huil nie, het ek soms hartroerend gehuil, veral as my ma nie gou genoeg by was met die voedings nie. Kos was toe al vir my belangrik!

      My ma was gelukkig om my tot op meer as ’n jaar te kon borsvoed.

      My gewigstoename was bevredigend, maar ek was ’n fyn ou dingetjie. My kopomtrek was met geboorte 32 cm en dit het gou toegeneem tot 37 cm. Ook my lengte was nes dié van ’n normale baba. Ek was gou nie meer baie pap nie en het ook gou met my oë begin reageer.

      My gestremdheid het vir ’n paar snaakse voorvalle gesorg. ’n Dierbare vriend van my pa het aanmekaar deurmekaargeraak met mongooltjies en moroontjies, wat baie dommer is as ons. Toe ek gebore is, is “mongool” en “mongolisme” nog algemeen gebruik. Dit het sedertdien erg onaanvaarbaar geword, omdat mense meen dit skep ’n verkeerde beeld van mense met Downsindroom.

      Op ’n keer moes my ma vir ’n vrou verduidelik dat sy nie na ’n kombuistee toe kon gaan nie omdat ek vroeër as die verwagte datum gebore is. Toe sy vra of alles goed gegaan het, het my ma gesê iets is nie lekker met die baba nie. Die vrou antwoord toe dat die mediese wetenskap al so ver gevorder het dat my ma nie bekommerd hoef te wees nie; sy moet net dankbaar wees dis nie ’n mongooltjie nie!

      Die wêreld verander nie omdat ’n mens se lewe verander

Скачать книгу