Eilande. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eilande - Dan Sleigh страница 4

Eilande - Dan Sleigh

Скачать книгу

die pepertent gestaan om te kyk wat volgende uit die kiste gepak word, of hulle het aan die kokstent se flap gehang soos ’n kind aan sy ma se rok. Die kok se byl, sy messe, sy rou en gaar kos het so weggeraak. Daarom is die reël gemaak van eers werk, dan eet. Daardie en daardie mense moes brandhout soek, daardie en daardie moes groenkos bymekaarmaak vir die pot en kooigoed pluk om op te slaap, daardie en daardie moes wrakgoed aandra van die strand af na die pepertent tussen die duine. Chief Harry het hulle ’n syferfontein gewys, en die Hollander het laat spit en daar goeie water gekry, en hy het hulle die Rietvlei gewys en hulle het almal saam ’n treknet deur die vlei gesleep en ’n menigte vis gekry. Die Goringhaicona het daar goed geëet, en gewig aangesit; elkeen het een of twee stukke Hollandse klere gedra, en tabak was nie meer skaars nie. Daardie tyd was van die beste wat sy mense nog beleef het, en hulle was bang vir die dag dat die Hollander sou wegseil. As ander Koina met skape naby die kamp kom, het die Goringhaicona tussen die Hollanders in teruggetrek. Daaraan het die Hollanders geweet wanneer vreemde Koina aan kom was.

      Hulle het van mekaar se tale geleer. Die Hollanders kon nie die tongklappe onderskei of namaak nie, maar kon ’n paar name onthou, en die meeste van die Goringhaicona het Hollandse woorde geleer. Die een wat die meeste reggekry het, was klein Krotoa. Sy was ses jaar oud, en het soos ander kinders maklik ’n taal geleer praat. Sy het elke dag by die kok deurgebring. Sy het help potte skuur met hande vol nat sand, en as hulle alleen was, kon jy haar land en sand hoor babbel, maar as die hoof van die Hollanders haar sou vra om ’n boodskap aan haar oom te tolk, was sy te skaam. Die kok het haar met ’n lepel in die hand langs ’n groot pot staangemaak, wat sy moes roer, en haar van die beste stukkies gevoer en bederf met soetgoed wat vir die offisiere bedoel was. Miskien was hy die een wat haar die naam Evatjie gegee het, omdat sy meesal kaal geloop het. Wat seker is, is dat hy die eerste van al die wit mense in haar lewe was met wie sy vriende gemaak het. Aan haar liefde hoef hy nooit te getwyfel het nie, die kind se oë was blink van geluk. Ongelukkig was die kok die man wat veldvrugte met soet gemmer vir haar gekook het, wat haar suikerbrood met ’n stroop van anysarak laat proe het. Uit goedheid, dit is nie te betwyfel nie, maar daarna was haar verlange na wit mense se warm kombuise, en die soetkos wat hulle maak. En dit is moeilik om te glo dat dit by haar net gegaan het oor ’n lepel suiker, ’n slukkie bier, die brood en kaas wat sy kon verwag.

      Na elf maande het skepe uit die Ooste gekom om die Hollanders en hulle gebergde speserye te haal. Die Hollander het vir Chief Harry gesê: “Nou ja, Herrie, die tyd het gekom om te gaan. Ek sal vir my owerstes vertel dat julle gehelp het om die Kompanjie se goed op te pas, en dat dit ’n goeie plek is dié vir skepe. Ek wil dat hulle hier ’n plek kom bou wat hout en water vir ons skepe regsit. Dan sal hier altyd Hollanders wees.”

      “Kom die Engelse nie weer nie?”

      “Hulle sal. Maar ek wil dat ons eerste ons plek hier bou. Ons hys ons vlag, dan word dit ons plek. En as die Engelse iets nodig het, moet hulle dit koop by ons.”

      Chief Harry het stil om hom gekyk. Altyd Hollanders hier? Dan sal hulle self hout en water regsit vir die skepe. Die hele wêreld gaan anders gemaak word. Wat word van hom en die kind?

      Hierna het die wêreld anders geword. Die vlag is geplant en van een volmaan tot die volgende het die skepe hulle hout en water gekry. Skuite met kos, wrakgoed en watervate is heen en weer oor die see. Die matrose was aan land met byle, sae en watervate. Party het verlof gehad om onderkant die skepplek te was, waar hulle luise van die lyf en uit die baarde gekam het, en Chief Harry het hulle daar gewys om klere oor ’n miershoop te gooi, dat miere die luise vang. Op die gelykte agter die skepplek was offisiere besig met opmeet. Hulle het ’n stok met ’n wit lap geplant en afgetree in een rigting, klippe daar gestapel, en weer by die stok begin en anderkant toe afgetree. ’n Man met ’n boek en potlood is agterna. Op die ou end was daar ’n klomp klipstapels tussen die soutslaai en platgetrapte molshope. Chief Harry kon geen patroon of vorm daarin sien nie. Hy kon nie verstaan wat die offisiere sê nie. Hy het gevoel hy moes iets doen met sy Engels. As die Hollanders hier kom huis opsit, word hy minder werd as sy susterskind.

      Die Goringhaiqua het soos ’n swerm sprinkane voor die wind daar aangekom, met baie lawaai en ’n klein klompie beeste vir tabak. Hulle het al geloop met die beenpype in die mond en daardeur geblaas soos rooikatte. Toe hulle die Goringhaicona tussen die Hollanders sien, het hulle skoorgesoek en klippe gegooi, en die vrouens het agter die soldate in gevlug en die Goringhaiqua van daar af met gebare getart. Chief Harry het die kind se hand geneem en agteruit gestaan, strand toe, na oopte. Sy mense het agter hom aan geretireer. Die Hollanders kon nie verklaar waarom daar twis tussen die twee groepies Hottentotte was nie, maar dit was van geen belang vir die skeepsdiens nie.

      Toe Krotoa tien of elf jaar was, het daardie ding gebeur wat die wêreld verander het. ’n Paar skepe vol van die wyebroeke het gekom en by die skepplek in die sandbaai planke en rondhout en pakke seil op die gras neergegooi, en vaatjies en kiste en mandjies met boompies, en varke en honde en pluimvee in hokke aan wal gedra. Dit was dan die winkel. Chief Harry het daar tussen die vreemde mense en hulle gestapelde bagasie geloop. Hy wou graag die wyebroeke se hoofman ontmoet, maar sy hond het probeer paar met ’n teef van die wit mense, en toe ’n soldaat met ’n geweer op sy rooi hond mik, het Chief Harry van skrik sy kierie op die man se hand neergeslaan. Net sy ouderdom het gekeer dat hy nie daar ’n paar vuishoue kry nie, want die soldaat se vloeke en luide dreigemente en sy greep op die ou man se karos het gewys hy het regtig seergekry.

      ’n Kort blas man met ’n blou mantel het met sy rottang aan die soldaat se arm geraak, en vir Chief Harry gesê: “Gaan weg hier.” Maar hy het agter Chief Harry aangeloop tot op die strand. Hulle het mekaar bekyk en hulself voorgestel:

      “Chief Harry.” Hy het net sy Engels gebruik.

      “Ek is Chief Van Riebeeck. Ek het van jou gehoor. Julle is Strandlopers.”

      “Goringhaicona. Watermen, in Engels.”

      “Eers werk, dan eet. So was die wet by Haerlem. Reg?”

      “Ja.”

      “Kom wys vir my waar Haerlem se mense die bakens gepak het, die stapels klippe?”

      Alles was toegegroei onder hondebos en stinkkruid, behalwe een waarop die Koina van tyd tot tyd nuwe klippe gepak het en wat nou drie of vier keer hoër as destyds was. Van Riebeeck het rondom die groot kliphoop geloop. Wat sou dit beteken? Hy het met sy oog afstande gemeet in vier rigtings, en daarheen geloop en die klein bakentjies onder die bosse uitgeskop. Toe roep hy na ’n man met ’n graaf en laat penne inslaan en lyne tussenin span, en hy laat die bagasie van die duine af na die groot kliphoop toe bring. Toe neem hy Chief Harry opsy, asof hulle oor landsake gaan beraadslaag.

      “Sal jy vir ons beeste en skape kan kry?”

      “Skaap, ja. Bees, nee. Die Koina hou sy bees self.”

      “Ek moet osse hê om ons waens te trek. Wat is dit met daardie groot baken?”

      Toe hy nie ’n antwoord kry nie, vra Van Riebeeck met sy oog op die klompie Koina-vrouens: “Die dogtertjie daar, kan sy kind oppas?”

      “Ja.”

      “Haar loon: tabak en arak en brood?”

      “Ja.”

      “Jy sal jou hond moet laat regmaak, hoor. Of los hom by jou huis. Sal jy vir ons beeste kan kry?”

      “Hierdie is my hond se huis,” het Chief Harry gesê. En in sy gedagte kon hy die Hollander hoor antwoord: Ons sal sien.

      “Jou mense daar, wil hulle werk? Tabak en brandewyn?”

      Hulle het die dag, die eerste dag van die nuwe

Скачать книгу