Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort. Anna M. Louw

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw

Скачать книгу

en die kollektiewe trots die afgelope eeu hand aan hand gegaan het; hoe die Nemesis van die sonde besig is om hierdie ongeëwenaarde hubris in te haal – en mense het gevind dat hulle kort-kort moes hoes. In die ouderlingsbank het die oë wat pligshalwe op die dominee gevestig gebly het, stokstyf van die verveling geword; ou Gert Garing het opentlik gedut: sy amp gee hom reg daartoe.

      Net een van die diakens het manmoedig geluister: ’n jong onderwyser met ’n meer verligte standpunt en ’n hartstog vir kennis. Hy het ’n manier om so vurig te luister na kennis dat hy beurtelings by die een oog, dan die ander van sy mededeler inkyk, maar selfs hý het ongemaklik begin voel toe dit begin lyk asof die dominee net vir hom preek. Die dominee het die proses van die sonde aan die hand van Augustinus en Thomas Aquinas se geskrifte ontleed en gesê dat die mens van ons tyd die laaste bitter vrug aan die pluk was – die traagheid van gees, die acedia: ’n sondige toestand van die siel waarin alles sonder betekenis word, wanneer God vir die mens dood is en hy alleen op aarde gelaat is.

      Die jong diaken se ore het al hoe rooier geword, hy’t sy oë laat sak, hy’t sy ontluikende lewensbeskouing vinnig begin hersien. Toe hy weer opkyk, was hy verlig om te vind dat die dominee se aandag intussen afgetrek is na die ouderlingsbank waar ou Gert Garing met ’n baie ligte snorkie wakker geskrik het.

      Ou Gert was streng na die dominee aan die kyk, ’n ernstige uitdrukking op sy ou breë kaasgesig; een of twee keer het hy gesteurd verskuif of sy broek se naat hom knel. Die dominee het so pas iets kwytgeraak wat as ou Gert nie abuis het nie, onortodoks kon wees: Is dit nie beter wanneer die duiwel onrustig is nie? het die dominee gevra. Is dit nie beter nie wanneer jy hom dreigend in die lug sien sweef nie, sy kantige vlerke uitgestrek, honend aan die grom en lag nie? Want dié wat op die draad sit, sal weggeveeg word wanneer die storm losbars. “Vlieg dan op, geliefdes, vlieg op! Al vlieg julle tydelik – God verhoed dit! – verkéérde kant toe …”

      Of die dominee die uitdrukking op ou Gert se gesig opgemerk het? Sekerlik het hy byna dadelik oorgegaan na enkele gedagtes uit die eerste voorlesing: hoe dit ons betaam om in alle nederigheid gedurig die hand in eie boesem te steek.

      Niks besonders hieraan nie: elke Sondag word dié vermaning van honderde kansels verkondig. Dit was die heel laaste paar sinne van die preek wat die gemeente weer te denke gegee het; die dominee het hulle met soveel hartstogtelike erns uitgespreek, dat dit maklik op iets in sy eie lewe kon dui. Die gemeente het skielik hulle ore gespits.

      “Ons wat meen ons het daarin geslaag om die vernietigende instinkte te verslaan, kom ten laaste te staan voor die éérste sonde in sy mees sluwe gedaante – die geestelike hoogmoed. Die groot geloofshelde onder mense het dit nog altyd geweet en hulleself daaroor verag. Waak dan gedurig – eers dan kan ons hoop om gereken te word by die weinige wie se regverdigheid groter was as dié van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes: die weinige wat hulle laat lei het deur die raadgewings van die volmaaktheid. Amen.”

      3

      Ná die diens, soos dit die goeie gebruik is, het daar groepies buite rondom die kerkdeure versamel om ’n paar woorde te wissel, veral boere van die distrik, te kenne aan hulle bruinrooi gesigte, fleurige hemde en dasse. Kinders het, ná die kwellende stilsit, om die kerk gekattemaai, sodat mammas moes waarsku teen die verniel van die fyn kerkrokkies en die pakkies klere net soos Pa s’n. Eerbiedige stilte het gedaal wanneer een van die Lotriets verbykom. Mans het manlik na vore getree en hand geskud met ’n gemompelde: “Jammer van gister!” Eers op pad uit plase toe, of aan die etenstafels op die dorp, kon jy luister na die onbevange opvattings.

      Ou Birnbaum, eienaar van die Royal Hotel (onlangs vernoem tot President Hotel) het met sy ou rasgenoot, Levin, eienaar van Dames Uitrusters en Algemene Winkel (onlangs van twee yslike toonvensters voorsien) verveeld op die hotelstoep sit en kyk hoe die Christene uit die kerk kom. Hulle is lankal uitgespog oor hulle seuns wat ’n “merk” in die stad in beroepe aan die maak is; hulle is uitgekla oor die verdwyning van die dorp se sinagoge weens gebrek aan ondersteuning; Birnbaum lag nie meer vir Levin, wat ’n boerse sin vir humor opgedoen het, se grappe nie; Levin is heimlik buikvol vir Birnbaum se gekla oor sy vrou se swak hart en dat hy in Seepunt wil gaan aftree, maar sy hotel nie verkoop kan kry nie. Eintlik is ras ál gemene deler, want Levin se oorlede vader het al in 1910 (datum op vooraansig) hier kom winkel open, terwyl Birnbaum eers in 1938 deur die Nazi’s verjaag is. Met sy donker gelaatskleur en haakneus, is Levin ’n troue afgietsel, terwyl Birnbaum blond is en met sy krullerige grys hare wat hy agteroor kam, effe na ’n leeu lyk. Hulle praat liewers Afrikaans (aangeklam met Engels) omdat Birnbaum minagtend deur sy growwe neus snuif wanneer Levin Jiddisj probeer. Dis net wanneer Birnbaum – seldsaam – glimlag dat sy grysblou oë Semities skeef trek. “Niemaars ’n dag vry,” het Birnbaum weer die oggend gekla, “immer op diens, die staf word by die dag meer ongetoë: die meer geld, die minder arbeid. ’n Jeder is jou baas en myne vrou word elke dag korter van asem.”

      “Noem jou prys,” het Levin lusteloos gesê, “kan wees ek koop.”

      “Man noem nie nommers nie,” het Birnbaum aangevoer, wel wetende Levin gaan nie koop nie, “maar zum voorbeelde: die verbeterings het my R20 000 gekostet. En van die bar in die lokasie geopen is, is myn drankwinkel ook na syne moer.”

      Só: konstant bly net die trekke van die lotgeval, die mense wat verduur, is toevallig. Verslind en uitbraak, verslind en uitbraak …

      Van die kerkgangers doen aan om verversings te geniet, party in die private loungie waar Birnbaum tegemoetkomend iets sterkers skink; party bestel skinkborde met tee op die stoep. En Levin, die Joodse nar, word gevra om weer sy staaltjies oor Attie Hardehand te vertel: snaaks, maar nie so dánig snaaks nie; dit het egter ’n manier om raaiselagtige dimensies te open. Dit blyk dat Attie Hardehand se dogter ’n jaar of twee gelede by Levin op rekening begin koop het: langbroeke en truie, halskettings en allerlei byderwetse goed. Ses maande verby en Attie Hardehand betaal nie. Toe Levin takvol in dié rigting praat, moet hy dan hoor jy gee nie aan ’n minderjarige sonder die pa se skriftelike verlof nie.

      “Wat kon ek doen?” Levin – skouers opgetrek, handpalms hulpeloos na bowe. “Ek het gesê ek sal nie weer gee nie.”

      Dan volg die ontknoping wat Levin altyd laat lag dat hy stik: “Die man het bleek geword, ek dog die man gaat faint: Jy moet aangaan gee, Levin!”

      Levin het kop geskud. “Asseblief, Levin!” Die man was amper op sy knieë.

      “Mr. Lotriet, dis nie my dogter nie, ek moet ook lewe!”

      “Jy moet gee, Levin.”

      Levin het kop geskud: “Nooit weer nie! Ek het my lesson geleer.”

      Toe haal Attie Hardehand sy tjekboek uit en hy teken ook dat die dogter kan koop.

      Die Le Granges, wat ook ’n halfuurtjie by die hotel aangegaan het, het dit op pad uit plaas toe steeds oor die Lotriets. Piet is Jan en Attie se tydgenoot en sy twee dogters is al uitgetroud. Nou het hy en Esther net nog die ouerpaartjie by hulle in die huis. Dié sit agter in die kar – het sommer in die motor onder ’n skaduweeboom ’n koeldrankie gekry – wonderlike ou mense, al oor die neëntig en nog gereeld in die kerk Sondagoggende.

      Die Le Granges is vir meer as een tot voorbeeld; jy kan byna sê die ou mannetjie en vroutjie – ewe doof, ewe goedaardig, ewe kinds – is die stokperdjie van Piet le Grange en sy vrou. Esther trek hulle soggens self aan, byna soos twee poppe waarmee sy speel. Mettertyd het hulle so op mekaar begin lyk, jy ken hulle skaars uitmekaar: dieselfde fyn, gelerige vel waaruit selfs die rimpels padgegee het, dieselfde trippelpassie, dieselfde kraakstemmetjies, want die een het hoër, die ander laer geword. “Is hulle nie wonderlik nie?” vra Esther altyd vir besoekers en sy wys die tweetjies waar hulle langs mekaar op die rusbank sit.

      “Ek

Скачать книгу