Raaiselkind. Annelie Botes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Raaiselkind - Annelie Botes страница 11

Автор:
Серия:
Издательство:
Raaiselkind - Annelie Botes

Скачать книгу

het, het sy gedink dis die draaipunt. Eerlikwaar, sy het nie die krag gehad om die optog na ’n kinderspesialis toe aan te pak nie. En die eerlikste van al die waarhede was: sy was bang. Sy kon nie uitwerk waarvoor nie, maar sy was bang.

      Toe sy daardie dag by Oudokter kom, was hy erg ontevrede. Nie net omdat sy en Dawid nog nie op ’n datum kon ooreenkom nie, maar oor die muntstuk wat Miriam met ’n pleister op Alexander se naeltjie vasgeplak het.

      “Jimmel, miss Ingrid, Boetatjie gaan ’n naeltjiebreuk kry. Kyk hoe peul sy naeltjie uit as hy huil! Ampers so lank soos tot by my pinkie se tweede lit.” Miriam was ontsteld. “Ons kan dit nie net uitlos asof dit niemand se saak is nie! ’n Naeltjiebreuk is nie ’n ding wat weer loop staan en t’rugtrek ná die tyd nie.”

      “Miriam, die geld is vol kieme. Ons kan nie sy naeltjie met ’n muntstuk …”

      “Miss Ingrid, ek ken alles van naeltjiebreuke. Drie van my tjinners wat ek so grootgekry het. Nog doerie tyd met half-krone gebeginte. Boetatjie sal g’n niks oorkom nie.”

      Boetatjie. Miriam se naam vir hom. Altyd so half gepraat, half gesing. Kom, Boetatjie. Hierso, Boetatjie. Moenie, Boetatjie. Stadig nou, Boetatjie, stadig

      Vir háár was hy Alexander. Later Xander. Troetelnaampie waarmee sy hom uit sy afgesonderde wêreld wou weglok. Waarmee sy gehoop het hy sou vir haar lief word en ophou om in haar gesig te grou of haar skeenbene met sy stampende kop te kneus.

      Vir Dawid was hy sommer net die kind.

      “Miriam,” en sy het op die rand van trane na die muntstuk gestaar, “wát is verkeerd met hom? ’n Babatjie weet mos nie van stoutwees nie, en hy kan tog nie so skree van niks nie. Dink jy hy het seer, of dink jy hy’s honger?”

      “Hy drink dan g’n niks nie, miss Ingrid. Hy móét honger is.”

      “Maar jy sien tog self hy wíl nie drink nie.”

      Hoeveel dae en nagte het sy daar in die beginweke omgesit met Alexander aan haar opgeswelde borste? Hy beur, wring sy kop weg. Buig sy nek agteroor tot sy sy kakebene wou ooprek en die melk in sy keelgat afspuit om hom daarin te versuip. Soms het Dawid hom gevat en hom met die drupper gevoer. Soms iets ingekry, ander kere niks. Tot hy ook moedeloos was en nie meer erg gehad het aan die gesukkel nie.

      “As hy nie wil drink nie, is hy nie honger nie,” het hy gesê en sy beursie in sy sak gesteek om te gaan poker speel. “Hy sal wel drink as hy honger is.”

      Haar trane was naby. Die starheid op Dawid se gesig het haar verontrus. Hy was ongeskeer en sy hare het ’n sny nodig gehad. “Dawid, ek … ek …”

      “Wat?”

      “Toemaar.”

      ’n Paar sekondes lank het hy weifelend rondgetrap. “Dan sien ek jou later.” Soen haar lusteloos op die voorkop.

      Al wanneer Alexander iets noemenswaardigs ingekry het, was as Miriam langbeen met hom in die spikkelson onder die olienhoutboom gesit het. Gesing en gesing. Jesus roep my vir ’n sonstraal, om elke dag te skyn. Gesê sy dink Boetatjie hou van die blare, want as die wind die blare so liggies roer, hou hy op met huil en raak partykeer teen haar bors aan die slaap. Maar dit was winter en daar was min dae dat dit warm genoeg was vir buite sit. Sy wou nie hê dat hy boonop moet siek word nie.

      “Dan kan ek nou nie sê nie,” het Miriam afgehaal gesê en met haar voorvinger oor die muntstuk gevryf. “Miskien moet miss Ingrid hom eerder weer ’n keer tot by die oudogter vat. Sê vir die oudogter as hy nie kan plan maak met Boetatjie se uitpeulnaeltjie en met die huilery nie, dan bly daar net ek en miss Ingrid se koppe oor om te dink.”

      “Ek hét hom al hoeveel kere daar gehad. Die dokter kry niks verkeerd nie.”

      Miriam het haar kop geskud. “Dan’s dit die Heer se wil, miss Ingrid. Miss Ingrid sal sien, op drie maande gaan hy ophou huil. Dis ’n drie-maande-wind wat hy het. Ons moet net uithou tot dan toe. Miss Ingrid moet vir ons gliserien koop om op sy tong te smeer om die melkpaksel weg te kry.”

      Naderhand wou sy sterf as sy net aan die woord dokter dink. Elke keer as sy met die huilende kind in die oorvol spreekkamer wag, het die ellende hoër en hoër in haar opgehoop. Sodat sy hom teen haar wou vasdruk en weghardloop tot by ’n plek waar geen sterfling is nie. Waar hy kon huil soos hy wou en niemand daarmee pla nie. Waaragtig, as iemand vir haar gesê het daar ís so ’n plek, hét sy hom aan haar lyf vasgebind en gehardloop.

      Sy kon die ander pasiënte in die spreekkamer se geïrriteerde gegluur oor hul tydskrifte nie meer uitstaan nie. Hoe hulle hul bene in ongemak kruis en rondskuif.

      “Ek is regtig jammer,” wou sy die saak beredder.

      Kyk haar met glaserige skaapoë aan. “Ag, dit maak glad nie saak nie. Ons verstaan mos.”

      Maar sy kon sien hulle verstaan nie en dat dit wel saak maak. Versit. Wapper die tydskrif asof hulle die kind se kermklanke van die bladsye wou afskud. Tot sy later vredeshalwe eerder met hom op die trappe aan die suidekantste ingang van die spreekkamer gaan sit het waar sy huilery niemand kon irriteer nie. Beter om ’n ekstra kombers om hom te draai en sy kop toe te maak. In die wind te sit tot die ontvangsdame haar daar kom roep.

      Op ’n radelose dag het sy vir Miriam gesê hulle twee moet koppe saamsit, só kon dit nie aanhou nie. Doktertoegaan help nie, want dié het net een ding in sy kop: kinderspesialis. ’n Sussery laat Alexander spartel asof hy versmoor. En hulle kon tog nie heeldag en heelnag met die stootkar straatop stap, of onder die olienhoutboom sit nie.

      “Daar’s ’n ou antie ondertoe van my af in die straat wat weet hoe om daggatee te trek. Wil miss Ingrid hê ek moet by haar ’n bottel kry?”

      Haar kop was te suf om uit te werk hoe hulle die tee in Alexander se maag gaan kry. “Ja, kry dat ons dit uittoets.”

      “Dan moet miss Ingrid my ’n paar rand gee om haar te betaal. Sy sal nie die daggatee verniet weggee nie.”

      Daggatee, rooibostee, kruisementtee. Kwartteelepel louwarm whisky en suikerwater in ’n druppertjie. Slaapstroop. Soetolie in sy ore. Warmwatersak teen sy maag. Steekpille, krampdruppels. Daar was niks, níks waarin sy en Miriam nie hulle laaste geloof gesit het nie.

      “Heel agter in die lokasie bly ’n Indiërman wat duiwels kan uitdryf, miss Ingrid. Dalk is Boetatjie getoor en moet ons die man laat kom om iets in die tuin te kom begrawe. Laastere jaar het hy ’n kroonkiewiet se rooi snaweltjie en kloutjies by ’n ander man se huis gebegrawe. Is al meer as ’n jaar en die man kry nooit meer roggelstuipe nie. As miss Ingrid wil, sal ek Jeremia soontoe stuur.”

      As Dawid haar nie sou vrekmaak nie, sou sy dít wragtig ook probeer het. “Nee, los dit.”

      Kort ná Alexander agt weke geword het, het Oudokter sy voet neergesit: hulle móét kinderspesialis toe. Gou ook. Want die kind was ver ondergewig. Moontlik ’n obstruksie in sy slukgange of fout met sy maagkleppe. Hy vermoed die kind sukkel om te sluk, het hy geraai. En nee, het hy gesê, daar is geen moontlikheid dat die kind skree net om te skree nie.

      Hemel vir haar gemoed toe sy die bang en die duisende rate en die blinde geloof eenkant toe skuif en die afspraak maak.

      Verskriklike stryd wat sy en Dawid daardie dag met Alexander gehad het. As sy tóé geweet het hoeveel kere die hel van doktertoegaan nog oor hulle sou kom, sou sy omgedraai het. Vergeet het van dokters en antwoorde

Скачать книгу