Raaiselkind. Annelie Botes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Raaiselkind - Annelie Botes страница 14

Автор:
Серия:
Издательство:
Raaiselkind - Annelie Botes

Скачать книгу

      “In die polisieselle.”

      Haar asem ruk terug tot laag in haar maag. Here van genade, nee. “Beteken dit in die tronk?”

      “Sê maar so, ja. Jy is ’n verdagte, mevrou Dorfling. Daar is onopgeklaarde sake wat spruit uit die lykskouingsverslag. Solank jy ’n verdagte is en aangehou word vir ondervraging, word jy in die polisieselle aangehou. En ons sal jou nie laat gaan voor ons nie honderd persent tevrede is met die ondervraging nie.”

      “Hoeveel keer moet ek nog sê: julle ondervra die verkeerde mens. Ek het niks te doen met my kind se …”

      “Nee, mevrou,” en hy kom regop en steek sy hand onverbiddelik in die lug. “Ons vermoed jy het iets daarmee te doen. Ons is speurders: ons werk met getuienis, met lykskouingsverslae, harde feite. En daarvolgens …”

      “Daarvolgens wát?”

      Wát kan in die lykskouingsverslag en in die klomp fakse geskryf staan, anders as dat Alexander verdrink het? Met wie het die man almal gepraat? Buitendien, wat kon enigiemand gesê het wat van háár ’n verdagte kan maak?

      “Kan ek asseblief die verslae deurlees?”

      Hy druk die fakse in die lêer en sit sy hande besitlik daarop neer. “Wat in hierdie dossier staan, mevrou Dorfling, is uitsluitlik vir die oë van die ondersoekbeampte bedoel.”

      “Maar ek het tog die reg om te sien wat daarin staan.”

      “As jy jou regte nie verstaan nie, kry ’n prokureur om jou by te staan. Ons het dit reeds vroeër gesê.”

      “Ek het niemand nodig om my te verdedig nie, want ek hét niks om te verdedig nie.”

      “Jou posisie is moontlik meer benard as wat jy dink, mevrou Dorfling.”

      “Ek weet dit is nie.”

      In die middel van haar sin het hy na die vrouespeurder omgedraai. “Kaptein,” en hy ta-tate-ta met die merkpen op die lessenaar, “maak weer ’n aantekening, met die tyd daarby, dat die verdagte regsverteenwoordiging weier.”

      Sy moet haar nie verknies oor verslae en getuienisse nie. Daar is niks wat enigiemand kan sê om haar skuldig te maak nie. Die waarheid is dat dit ’n tragiese ongeluk was. Al fout wat sy gemaak het, was om aan die slaap te raak terwyl Alexander die kaassmeerpot leeg geëet het. En toe gebeur dit. Dis al. Sy moet haar nie laat bedreig nie.

      “Jy het nou tyd gehad vir rus en besinning, mevrou Dorfling. Nou kan ons voortgaan.”

      Moenie dat hy agterkom sy het niks gedink en niks besin nie, maar ’n doodse slaap geslaap. Dwarsdeur die stank wat uit die mat opslaan. Haar lyf het nie eens agtergekom sy lê op ’n harde houtbank nie.

      Hy vat ’n pen, maak die lêer oop. “Outisme is ’n lewenslange toestand, mevrou Dorfling. Volgens die rekords kon die laaste nege jaar beslis nie vir jou maklik gewees het nie.”

      Is dit moontlik dat daar agter sy klaarblyklike hardheid tóg iewers ’n plek van begrip is? Of is dit ’n benaderingstaktiek waarmee hy haar wil sag knie? “Dit was nege moeilike jare, ja.”

      “Jou ouers: het jy enige bystand van hulle ontvang?”

      “My ouers is oorlede voor ek getroud is.”

      “Broers of susters op wie se ondersteuning jy kon terugval?”

      “Ek het ’n suster, maar sy woon oorsee. Ek sien haar nooit.”

      “En jou oorlede man se familie?”

      Here, sy wil nie terugloop op daardie ou paaie nie. Hoe hulle haar in die woestyn agtergelos het ná Dawid se dood. Nooit ’n sent uitgehaal om haar te help nie. Nie eens gebel as Teresa of Zettie verjaar nie. Altyd onverdraagsaam teenoor Alexander. Voor Dawid se dood darem soms kom kuier. Snags wattepluisies in hulle ore gedruk vir die gekap van die beiteltjie. Hulle kamerdeur gesluit sodat hy nie kon inkom om hulle juwele en horlosies te verniel of die mure en hulle nagklere met pampoen te besmeer of hulle kamerlig te knip-knip-knip nie.

      Miss Ingrid, het Miriam een oggend ontsteld by die bank kom sê, die oumissus slaan vir Boetatjie met die houtlepel. En die oumaster skree op hom oordat hy nie wil oatspap eet nie. En die oumaster het die lappeboks bo-op die hangkas gesit, nou’t Boetatjie nie ’n lêplek nie.

      “Ma,” het sy die middag ná werk gesê, “Alexander eet nie oatspap nie. Hy eet níks wat klonterig is nie. Ma moenie hom slaan as hy …”

      “O? En wie moet hom dan slaan?”

      “Ons weet nie wat is verkeerd met hom nie, Ma. Maar ons weet hy is anders as gewone kinders.”

      “Julle wíl hom nie slaan nie. Dis dié dat hy so ’n stoute klein helsem is. Dis omdat jy …”

      Daar het ’n gloed oor haar voorkop uitgeslaan. “Ma, laat ons mekaar vandag baie mooi verstaan: in hierdie huis besluit net ek of Dawid wanneer Alexander ’n pak moet kry.”

      Skielik het almal gelyk op haar afgepyl. Skoonfamilie, Dawid. Iewers op die agtergrond het die middagtrein gefluit en Alexander het gillend met sy kop teen die gangmuur vasgehardloop. Later kon sy nie onthou wie wát gesê het nie. Maar hulle het soos ’n stormbrander oor haar gebreek. Was dit nie vir Teresa en Zettie wat weerskante van haar kom skerm het nie, sou sy alleen voor die brander gestaan het.

      Lank nadat almal al geslaap het daardie nag, het sy soos ’n doofblinde met Alexander op en af in die straat geloop. Gewens die Here wou hulle lewend wegneem na ’n plek waar Alexander se andersheid nie saak maak nie.

      Maar sy het geweet daar bestaan nie so ’n plek nie.

      “Ma?”

      Toe sy omkyk, was Teresa twee treë agter haar in die flou lig van die straatlamp. “Laat ek hom ’n bietjie stoot, dan gaan slaap Ma.”

      Mond vol trane oor die kaalvoetkind wat in die nag na haar toe kom. Los die stootkar en sit haar arms om die skraal skouers. “Ek sal nie kan slaap as jy alleen hier buite is nie.”

      “Ma het nie eens vanaand iets geëet nie. Moet ek vir Ma ’n broodjie gaan maak en hiernatoe bring?”

      “Dit sal lekker wees, my kind.”

      “Ek hoop Ouma-hulle ry sommer mÔre.”

      Terwyl Teresa wegloop, het sy haar agternagekyk en sy kon glad nie uitwerk hoe om haarself in gelyke stukke op te sny sodat elkeen na aan haar ’n regverdige deel kry nie.

      Behalwe met Dawid se dood, het sy haar skoonouers laas gesien toe Alexander omtrent tussen drie en vier was. Wat sy goed kan onthou, is dat sy toe al geweet het Alexander is outisties.

      Daardie keer sou hulle twee weke bly. Op die sesde dag is hulle vort. Dikbek en opgeblaas. Geen mens kan dit hier uithou nie! Dis ’n malhuis! Outisme is ’n treurige verskoning! Dis omdat julle die kind sy sin in alles gee en hom nie tugtig nie! Al wat hy kort, is ’n goeie drag slae! Ons het gekom om te rus en te kuier, en al wat ons doen, is keer en gryp en vashou! Waar het jy al gesien mens los ’n kind snags alleen om die huis met ’n beitel af te kap? Van wanneer af het hy die reg om almal se lewens soos ’n demoon te regeer?

Скачать книгу