Raaiselkind. Annelie Botes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Raaiselkind - Annelie Botes страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
Raaiselkind - Annelie Botes

Скачать книгу

was ’n loodsware berg wat van haar skouers afgetel word toe hulle wegry. Tegelykertyd ook ’n splinternuwe loodswaarheid wat op haar kop neergesit word. Want van daar af aan het Dawid sy laaste bietjie regsinnigheid verloor. Hy het Alexander rondgeruk. Sy drinkery het ’n gewoonte geword, sy gesigvel ’n opgeblase netwerk van rooi aartjies. Hy het opgehou om Teresa en Zettie met hulle huiswerk te help. Geheel en al opgehou kerk toe gaan en met sy galbrakery teen die Christendom begin. Snags voor die televisie gelê; afgekordon van alles. Dikwels gaan slaap sonder om te bad, sodat sy snags die sweetwalm aan sy lyf kon ruik. Baie oggende werk toe gegaan sonder om te skeer; die vorige dag se verkreukelde hemp en broek weer aan sy lyf.

      “My man se ouers het hulle onttrek. Behalwe destyds toe hulle afgekom het met sy dood, hoor of sien ek niks van hulle nie.”

      “Hoekom sou dit wees, mevrou Dorfling?”

      Sy sluk aan die taaiheid in haar mond. “Hulle kon Alexander nie verdra nie. En ek dink hulle het my geblameer oor my man se dood.”

      Hy skryf in die lêer.

      Die nasmaak van die kerrie kook in haar op.

      “Jou kerkverband en die besonderhede van jou predikant?”

      Hakkel. Vee ’n haarstring van haar voorkop weg en voel die koue vel van haar hand se rugkant teen haar neusbrug. “Amptelik is ek ’n lidmaat op die boeke van die NG Kerk.” Sluk die hoes terug. “Maar ek het geen kontak meer met die kerk of die predikant nie. Ek ken ook nie sy telefoonnommer nie.”

      Hy kyk wantrouig op. “Ag, kom nou, mevrou Dorfling, jy bly op ’n plattelandse dorp waar elke siel die dokter en predikant en prokureur en hospitaal se telefoonnommers uit hulle koppe ken.”

      Hoekom glo hy haar nie? Wat laat hom dink die predikant was op die lang duur bestand teen ’n besete kind wat elke diens van die lofgesang tot by die uitspreek van die seën ontwrig? Op die bank spring en hande klap terwyl die wet en geloofsbelydenis voorgelees word, in kollektetyd die bord wegslaan en histeries lag as hy luister hoe die geld wegrol.

      Wat laat hom dink sy was op die lang duur bestand teen die gemeente se renons? Draaiende koppe en fronsende gesigte as sy by die kerk instap en met Alexander in die agterste bank gaan sit. Eenmaal wou sy op die galery gaan sit, maar daar was ’n kennisgewing op die trap: Koorlede alleenlik. Seker bang Alexander bespring die orrelis en dryf haar van haar wysie af.

      Die laaste wig tussen haar en die predikant is ingeslaan oor die manier waarop hy Dawid in die laaste ses maande van sy lewe vertrap het. Honderde male het sy al in die diepnag gewonder of Dawid sou gespring het as dit nie dáárvoor was nie.

      “Ek was seker ses jaar laas in die kerk. Die moederskamer was onbruikbaar en ek kon nie waag om met Alexander in die kerk te sit toe hy groter was nie.”

      “Het jou man soms beurte geneem om na die kind te kyk sodat jy kon kerk toe gaan?”

      “Nee, my man het hom nóóit opgepas nie. Al waarmee hy gehelp het, was om hom Sondae te neem om te gaan perdry.”

      Haar oë krap soos sandsuiker. Hoekom delf die man in haar kerklewe? Wat het dit met Alexander se verdrinking te make?

      Hy lek sy middelvinger en duim nat en trek ’n faks uit die stapel, lees en skud sy kop. “Dit blyk dat jy die perd wou verkoop. Maar dít later. So, jy beweer jy was ses jaar laas in die kerk?”

      Dan wás hulle by Gunter. Net hy weet sy wou Lucy verkoop. Nie wóú nie; moes. Waar anders kon sy op kort kennisgewing die geld vandaan kry om die bedrag wat sy Vrydag by die toonbank kort was, terug te betaal? Kalm bly. Hy moenie agterkom sy het geskrik nie. Gunter weet waarvoor sy die geld nodig gehad het; hy sou vir hulle gesê het.

      “Ja.”

      “Is jou man dan nie omtrent vier jaar gelede uit ’n kerk begrawe nie?”

      Sy moenie sommer net praat sonder om te dink nie. Fyntrap. Sy verstand is skerper as ’n slagmes. “Nee, my man is veras sonder roudiens. Ek het gedink jy bedoel ’n gewone erediens.”

      “Moenie my vrae verdraai nie, mevrou Dorfling. Antwoord wat ek vra en antwoord die waarheid. As jy beweer jy was ses jaar laas in die kerk,” en hy vryf die kant van sy vuis oor die lessenaar en pen haar vas met sy oë, “dan moet dit presies so wees. Jou wyksouderling en wyksdiaken se besonderhede.”

      Hoekom vra hy oor onbenullighede waarop sy nie klinkklare antwoorde het nie, of waaroor sy bang is sy gee ’n antwoord waaroor hy haar kan kats?

      “Ek het geen benul nie. Daar was in jare nooit ’n diaken by my nie, want hulle weet ek het nie dankoffergeld nie.”

      Soos in ’n dowwe droom onthou sy die keer toe Dawid die dankofferkoeverte vir die predikant gaan teruggee het en gesê het gee is iets wat van twee kante af kom. Here, hy was woedend toe hy by die huis kom. ’n Nuwe bottel brandewyn oopgemaak en teenoor háár afgegaan. Gesê hy subsidieer nie luukse strandhuise en oorsese toere nie, en dít terwyl die gemeente in geldelike nood rondworstel.

      “Die laaste keer toe daar ’n ouderling in my huis was, was destyds met my man se dood. En hulle het lankal weggetrek uit die dorp.”

      “Jy het dus geen kontak met die kerk of kerkstrukture nie?”

      God weet, baie dae het sy met ’n seerheid kerk toe verlang. Na die diep basnote van die orrel, die lig wat deur die kerkvensters filtreer. Om net een maal die soetheid van die Nagmaalwyn te ruik; ’n blokkie van Hannah se tuisgebakte soetsuurdeegbrood met Nagmaal op haar tong te proe.

      Baie nagte as sy by Alexander gewaak het, het sy in haar gesangboek geblaai. Gekyk na óú goed van vergange tye. Soms gehuil as sy afkom op datums en aantekeninge. Mirna-hulle doop. Zettie wissel eerste tand. Brei Dawid se kabeltrui klaar. Gister teruggekom van neuroloog. Lida voorgestel as diakones.

      Koffieringe, droë blare van die mopboom by die kerktrappe. Partymaal het sy die bekende gesange opgesoek waar die dun bladsye bruin gevat was, en die wysies in haar binneste geneurie. Teruggedink aan ’n tyd wat anders was, toe daar nie oorlog in haar lewe was nie. Toe sy en Dawid en die dogters Sondae ná kerk by Mirna-hulle se huis in die koel skadutuin gaan tee drink het. ’n Tyd toe sy en Hannah saans tot laat gesit het om tafellappe te verf vir die kerkbasaar se naaldwerktafel. Tannie Koekoes wat by die tuinhekkie staan en wag dat hulle haar oplaai kerk toe.

      U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie …

      Eendag het sy by Gunter op die kraalmuur gesit en kyk hoe loop Lucy al in die rondte met Alexander. Grys middag vol dreigende reën. Grysheid in haar hart ook.

      “Gunter,” het sy gevra, “wie en wat is die kerk?”

      Hy het sy hande tussen sy knieë bymekaargevat, lank gedink. Tot sy nie geweet het of hy haar sou antwoord nie.

      “Ek kan jou nie antwoord nie, Ingrid. Want ek verstaan self nie die kerk nie.”

      “Wat behóórt die kerk te wees?”

      Tuur weg. “’n Instrument van God.”

      Asof Dawid lewend voor haar gestaan het, het sy die gebelgdheid en toorn op sy gesig teruggeroep daardie laaste maal toe hy die predikant die deur gewys het. “Watter God, of watter god?”

      “Dis kompleks, Ingrid. Los ’n redenasie oor die kerk uit. Dis ’n sirkel sonder eindpunt.

Скачать книгу