Trompie Omnibus 6. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith страница 3

Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

onder die grasdak,” kom Blikkies se lui stem.

      “Dis reg, maar ek het dit al gesê! Dis nie nodig om dit weer te sê nie!” snou Trompie hom toe.

      “Orraait, vat dit kalm,” paai Blikkies en kou weer smaaklik aan die kougom in sy mond.

      “Hierdie ernstige saak waaroor ons moet beraadslaag,” sê Trompie ferm en hy kyk so woes na hulle dat niemand dit waag om weer ’n aanmerking te maak nie, “weet een van julle wat dit is?”

      Sy drie manskappe skud hul koppe. Hulle het nie die vaagste benul nie, maar hulle stel nou belang. Hulle wil graag weet.

      “Wel,” sê Trompie tevrede noudat hy sy gehoor se aandag het, “laat ek julle sê. Die ernstige saak is ons finansies.” En dan voeg Trompie ’n sin by wat hom gisteraand voor die spieël in sy kamer groot plesier verskaf het. Hy het die sin gesien in ’n verslag wat op sy pa se lessenaar gelê het en dit dadelik uit sy kop geleer. Hy sê dit nou met ’n belangrike stem: “Die gesonde belegging van ons kapitaal om redelike winste te verseker.”

      Hierdie sin het net die regte uitwerking op Rooie, Blikkies en Dawie. Hulle gaap hom oopmond aan. Trompie voel hy maak so ’n groot indruk dat hy die sin moet herhaal.

      “Ja-nee,” sê hy trots, “dís waaroor ons moet beraadslaag – die gesonde belegging van ons kapitaal om redelike winste te verseker.”

      Sy vriende kyk hom verbaas aan. Trompie glimlag trots en stoot sy bors effens uit.

      “Heng, Trompie,” sê Rooie met bewondering in sy stem, “het jy ’n woordeboek ingesluk?”

      “Nee,” sê Trompie nederig en swaai sy hand voor hom soos iemand wat nie veel van sy eie talente dink nie, “ek is maar net ’n man wat weet waarvan ek praat as die gesprek oor finansies en sulke klas dinge gaan.”

      “Met ander woorde ’n mens kan sê jy is ’n finansier,” sê Dawie.

      Trompie kyk vinnig om te sien of Dawie dalk sarkasties is, maar dit lyk darem nie so nie.

      “Dis reg,” sê Trompie, “’n mens kan sê dis wat ek is – ’n finansier. En dis hoekom julle ouens julle geld aan my moet toevertrou.”

      “Hokaai!” sê Blikkies. “Bedoel jy ons moet vir jou geld gee?”

      “Nee,” antwoord Trompie. Hy steek sy ken uit en staan regop soos wat hy dink ’n finansier sal staan. “Julle moenie julle geld vir my gee nie. Julle moet dit aan my toevertrou sodat julle verseker kan wees van redelike winste op die gesonde belegging van julle kapitaal.”

      “En wat beteken al daardie woorde nou eintlik?” wil Blikkies weet. Dit lyk of Dawie en Rooie ook wil weet. Al drie skuif nader aan Trompie sodat hulle goed kan luister.

      Trompie maak uiteindelik die indruk wat hy wou maak. Hulle glo nou hy is ’n man wat weet waarvan hy praat wanneer hy oor finansies gesels. Sy pa is mos nie verniet ’n bankbestuurder nie! Ja-nee, Trompie weet waarvan hy praat, maar hy moet nou eers pleinweg (dit is Blikkies se woord) verduidelik wat presies hy bedoel en wat hy met hul swaarverdiende geld wil aanvang.

      Die Grootkaptein het teen hierdie tyd al skoon van die kastig amptelike vergadering vergeet. Hy gaan sit weer op die bankie. Sy oë skitter opgewonde. Hy gaan nou vir hulle vertel hoe ’n mens wat geld het nog meer geld kan maak.

      “Kyk, ouens,” sê hy, “ek het ’n fantastiese plan.” Sy vriende skuif nog nader aan hom. “Ons moet ons geld in ’n besigheid belê.”

      “Watse geld?” wil Rooie weet.

      “Die geld wat ons gekry het om in daai fliek te speel.”

      “Dis geld waarvoor ons hard gewerk het,” sê Rooie.

      “In die sweet van ons aanskyn,” leen Dawie een van Dominee se uitdrukkings, en Rooie hou so daarvan dat hy dit herhaal.

      “Dis reg,” sê Trompie. “Nou kyk, ons ma’s en pa’s het die meeste van daai geld in die bank gesit, maar ons is darem toegelaat om ’n bietjie uit te hou en te gebruik, nè?”

      Dis reg, knik drie koppe.

      “Maar ons het al soveel lekkers en goed gekoop dat ons nie eintlik meer geld oor het nie,” sê Rooie.

      “Hoeveel het julle ouens nog?” vra Trompie.

      Almal haal hul beursies uit en begin tel. Blikkies het die minste geld oor, want hy koop elke dag nog ’n voorraad kougom. Trompie en Rooie het ongeveer ewe veel en Dawie, wat altyd so spaarsaam is, het natuurlik die meeste.

      “Reg,” sê Trompie gretig, “luister mooi na my plan.” Hy is nou baie spraaksaam. Hy het mos al baie gehoor hoe sy pa oor finansies praat. ’n Mens kan maar sê hy wat Trompie is, is ook ’n sakeman.

      Hy verduidelik vir sy vriende dat die geld in hulle beursies net al hoe minder gaan word as hulle nie vinnig iets aan die saak doen nie. Hulle geld gaan nie lank hou as hulle alles op lekkers uitgee nie. Dan gaan hulle binne ’n paar dae weer bankrot wees – en dan sal hulle nie eens meer lekkers, koeldrank of roomys kan koop nie en Blikkies sal weer moet begin grashalmpies kou.

      Toe Blikkies dit hoor, staar hy hartseer voor hom uit. Kougom is darem soveel lekkerder as grashalmpies.

      Die ander voel ook soos Blikkies. Dit gaan erg wees om weer platsak te wees. Hulle is mos nou gewoond aan geld.

      Trompie verduidelik dat hulle die geld wat hulle oor het, moet belê sodat hulle nog meer geld daaruit kan maak. Sy pa sê altyd: “Geld maak geld,” en hy sê nou ook so.

      “Ons moet ’n besigheid begin,” sê Trompie.

      Daar is ’n oomblik lank doodse stilte, dan sê Rooie: “Watse soort besigheid?”

      Trompie vryf sy hande in die lug voor hom en sê in sy noppies: “Ek het vir daai vraag gewag, Rooie.” Dan kondig hy selfvoldaan aan: “Ons maak ’n snoepwinkel by die skool oop!”

      Die Grootkaptein gee hulle tyd om eers hieroor na te dink voor hy verder verduidelik. Sy manskappe sit fronsend en dink. Al drie se koppe steek by een wonderlike gedagte vas – as hulle ’n snoepwinkel het, sal hulle mos nooit ’n tekort aan lekkers hê nie.

      Hulle stel nou baie in Trompie se fantastiese plan belang.

      “Vertel ons meer,” sê Dawie.

      Trompie verduidelik dat elkeen ewe veel geld in die besigheid moet steek. Dan gebruik hulle die totale bedrag as kapitaal en koop lekkers daarmee. Hierdie voorraad word dan vir ’n wins by die skool verkoop – agter die fietsafdakke waar daar nooit onderwysers kom nie.

      Rooie wil nou weet waar hulle kliënte vandaan gaan kry.

      “Dis maklik,” sê Trompie opgewonde. “Onthou jy hoe het ons vandag pousetyd daar rondgestaan met geld in ons sakke, maar ons kon nie kafee toe gaan nie? Daar is baie ander ouens en meisies met wie dit ook elke dag gebeur. Hulle het geld, hulle is vreeslik lus vir lekkers, maar daar’s nêrens ’n plek waar hulle iets kan gaan koop nie. Dis ons kliënte daardie.”

      “Maar

Скачать книгу