Trompie Omnibus 6. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith страница 6

Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

stem saam,” sê Trompie al soekende. “Die dun velletjies drop is die beste. En dit pas ook baie beter by meisies as daai pype. Hier’s hulle – die varsste drop in die hele wêreld!”

      Trompie beduie trots na die dun droprepies.

      “Hoeveel wil julle hê?” vra hy.

      “Elkeen vyf rand s’n,” sê Katrien en gee haar geld vir hom. Trompie steek dit vinnig in sy broeksak.

      “Reg,” sê hy en trek vyf repies van die bondel af. Hy gee dit vir Katrien en draai dan na haar vriendin.

      “Ek het gesê ons wil elkeen vyf rand s’n hê,” sê Katrien.

      “Nou ja, dis mos reg,” sê Trompie en trek vyf repies vir haar vriendin ook af.

      Katrien kyk fronsend na die vyf repies drop in haar hand.

      Rooie, Blikkies en Dawie kyk na mekaar. Hier kom die moeilikheid waarvoor hulle die hele tyd bang was. Hul lekkers is gans te duur. Dit is dan dubbeld die kafee se prys!

      “Haai!” sê Katrien woedend.

      “Ja, Katrientjie?” Trompie kyk glimlaggend na haar.

      “Jy het vir my net vyf repies gegee!”

      “Dis reg, Katrientjie.” Trompie probeer verbaas lyk, asof hy wonder waaroor sy kwaad is.

      Katrien se oë vlam en sy druk met haar wysvinger teen sy bors. “Drop kos vyftig sent stuk. So vir vyf rand moet ek tien repies kry – nie net vyf nie!” Die wysvinger word nou ’n vuis wat hard op Trompie se bors hamer.

      “Jy’s ’n skurk!” roep Katrien se vriendin uit en sy slaan Trompie met die plathand op die rug dat hy so hik.

      “Wag!” sê Trompie. “Moenie staan en rof word nie!”

      Katrien en haar vriendin wag. Trompie se vriende wag ook. Hulle wil sien hoe hy uit dié penarie gaan kom. Hy moet nou wys hoe ’n goeie sakeman, of liewer verkoopsman, is hy regtig.

      Trompie glimlag nog steeds vriendelik, al is dit nou stywer en meer gedwonge, en vryf sy hande weer in die lug.

      “Wees nou redelik, Katrientjie,” sê hy. “Jy moet onthou ek …”

      “Ek is nie onredelik nie!” val Katrien hom in die rede. “Drop kos vyftig sent stuk, so vir vyf rand moet jy vir my tien repies gee! Anders moet jy my geld teruggee!” Sy hou haar hand vies voor haar uit.

      “Wag nou, Katrientjie,” sê Trompie en glimlag al hoe moeiliker. “Laat ek net eers verduidelik.”

      “Daar is niks om te verduidelik nie!”

      “Maar gee my net ’n kans.”

      Katrien se oë vlam nog steeds en sy tik met haar skoenpunt op die grond. Sy is baie kwaad, maar sy sal hom ’n kans gee.

      Trompie sluk en begin dan spraaksaam verduidelik. Hy vertel vir die twee meisies die lekkers wat hulle in hul hande het, is die beste drop in die geskiedenis van die wêreld.

      Die twee kyk agterdogtig na die lekkers. Dit lyk vir hulle net soos die drop wat hulle gewoonlik in die kafee koop – en dit teen vyftig sent stuk.

      “Dis so vars soos nog iets,” probeer Trompie verder. “Dis heerlik … ’n Smaak wat julle nooit, ooit sal vergeet nie. As julle net daaraan proe, dan …”

      “Ons gaan nie daaraan proe nie,” val Katrien hom woedend in die rede, “want dis sommer ’n simpel storie! Jy gaan weier om dit terug te vat omdat ons dit dan kastig geëet het!”

      “Haai nee, Katrientjie,” sê Trompie met ’n vroom gesig. “Ek sal mos nooit so iets doen nie.”

      “Ek wil niks verder hoor nie!” Katrien stamp hard met haar voet op die grond. “Ons wil ons geld terughê. Nou dadelik! Anders sê ons vir die skoolhoof hiervan.”

      Trompie snak geskok na asem. Hy kan vroumense maar net nie verstaan nie. “Ek sê jou, dis vars en lekker en …”

      “Gee ons geld terug!” Katrien se hand is nou amper onder sy neus – en haar vriendin se hand ook. Sy het intussen betaal en wil haar geld nou ook terughê.

      Dit lyk of Katrien lus is om Trompie te klap.

      “Orraait, bly kalm. Dè, hier’s die geld. Maar julle weet nie wat julle mis nie.”

      Trompie gee die meisies se geld vir hulle terug en die twee loop vinnig om die hoek en by die kafee in om drop te gaan koop – teen die gewone vyftig sent stuk.

      Die Boksombende se Grootkaptein sit die lekkers verslae terug in sy tas.

      “Dit lyk nie goed nie,” sê Blikkies en byt die stukkie kougom waaraan hy kou met sy tande vas en trek dit tussen sy duim en vinger ver voor hom uit. “Ons gaan al ons geld verloor.”

      “Ons gaan nie,” brom Trompie. “Die meisiekinders is nou sommer simpel – en onthou, hulle was hier langs die kafee. By die skool is daar nie ’n kafee nie, so iemand wat daar lekkers wil koop, móét by ons koop – en móét ons pryse betaal!”

      Noudat Trompie dit so verduidelik het, voel die ander beter. Blikkies sê hulle gaan darem hopelik nie al hulle geld verloor nie. Rooie gryp gou ’n lekker uit die tas voor Trompie dit kan toemaak en sê al verloor hulle ook al hulle geld, sal hulle mae darem ten minste vol lekkers wees.

      Toe die vier by die kafee wegry, kom Katrien en haar vriendin uit met die drop wat hulle gekoop het.

      “Kyk wat het ek hier,” sê Katrien. “Hier is tien repies vir vyf rand – en dis presies dieselfde as julle s’n!”

      “Dis wat jy dink,” mompel Trompie.

      “Ek weet nie hoe julle kan verwag om geld te maak as julle goed so belaglik duur is nie,” sê Katrien.

      “Dis ons besigheid,” antwoord Trompie oor sy skouer. “Onthou, daar’s baie ouens by die skool wat ons lekkers sal koop! Nie almal is so vol nonsens soos julle twee nie!”

      Die Boksombende trek vir die meisies skewebek en maak dat hulle wegkom. Hulle is glad nie meer so opgeruimd en optimisties nie. Hulle wonder hoe die snoepwinkel gaan vaar.

      By die skool maak almal opmerkings oor die vier se groot tasse. Trompie-hulle lag net en vertel die kinders van die lekker lekkers wat daarin is. Hulle maak natuurlik ook ’n punt daarvan om te sê dat die lekkers pouses agter die fietsafdakke verkoop gaan word. Almal moet ’n draai daar kom maak, altans almal wat geld het.

      Toe ’n onderwyser vraend na hul groot tasse kyk, sê Trompie onskuldig: “Baie werk, Meneer weet, baie werk.”

      In die klas kou die vier vriende heerlik aan die lekkers elke keer wanneer die onderwyser uitgaan of wegkyk of as hulle ’n boek moet uithaal.

      Die Boksombende gee niks van die lekkers vir die ander leerders in die klas nie. Soos Trompie sê, hulle is nie suinig nie, maar

Скачать книгу