Trompie Omnibus 6. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith страница 5

Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

bedoel jy, ekstra?”

      “Dis mos ’n groot transaksie, Oom,” sê Trompie uitgeslape. “Ons behoort elkeen iets ekstra te kry.”

      “Ek sien nie hoekom nie,” sê die kafee-eienaar, maar hy druk sy hand nogtans in die glaskas waar die suigstokkies is en bring vier te voorskyn wat hy vir die seuns gee.

      “Dankie,” brom hulle afgehaal. Hulle het gedink hulle sou darem meer as net dit kry.

      Die tas is swaar en die vier moet beurte maak om dit te dra.

      Dawie en Blikkies het hul groot tasse ná skool by die huis gaan haal en na Rooie se buitekamer toe gebring. Hulle neem die tas vol lekkers nou soontoe en verdeel die inhoud sodat almal ewe veel het om môre skool toe te dra.

      “Wat van die etery?” wil Blikkies weet toe hy sien hoe Dawie al die vierde lekker in sy mond steek vandat hulle hier in Rooie se kamer is. Hy sit ook gou een in sy mond. Hy wil nie agter raak nie.

      “Watse etery?” vra Trompie al kouende.

      “Gaan ons nie ’n reël of iets hê dat ons net sekere tye van die goed mag eet nie? Anders gaan ons mos al ons wins opeet.”

      Almal sit nou kou-kou hieroor en nadink. Elke slag as ’n lekker op is, word ’n hand weer in ’n tas gesteek en nog ’n lekker word in ’n mond gesteek en dan smaaklik gekou.

      “Julle moet onthou,” sê Trompie uiteindelik, “ons gaan baie wins maak. So dit maak nie eintlik saak hoeveel lekkers ons eet nie. Ons kan dit bekostig.”

      Trompie is nou baie gewild. Dawie se hand verdwyn weer in ’n tas om die soveelste lekker uit te haal en hy noem Trompie ’n sakeman duisend.

      Die Grootkaptein glimlag trots en sê daar is nog iets wat hulle moet onthou – hulle hoef nou nooit weer geld uit te gee op lekkers vir hulleself nie. Die Boksombende hou baie van hierdie idee en eet lustig verder.

      Dawie bereik later die stadium waar hy ’n lekker waarvan hy nie hou nie by die venster uitgooi en ’n ander een probeer.

      Die volgende oggend voor skool kom die vier vriende by die boomstomp op die sypaadjie naby Trompie se huis bymekaar. Elkeen het ’n groot tas waarin sy skoolboeke en sy kwart van die lekkers is.

      “Ons gaan vandag groot geld maak,” sê Trompie tevrede en hulle vat die pad. Die seuns ry langs mekaar, maar wanneer hulle naby die polisiestasie kom, ry hulle veiligheidshalwe netjies in ’n ry agter mekaar ingeval die sersant in die omtrek is.

      Toe hulle hom by die hekkie gewaar, lig hulle beleefd hul pette en sê vriendelik: “Goeiemôre, Oom.”

      “Dag,” bulder hy terug en wys waarskuwend vinger. Die seuns steur hulle nie veel aan hom nie. Hulle het mos niks gedoen wat hulle nie moes doen nie en hulle weet dit is al ’n gewoonte by die sersant om sy vinger vir hulle te wys.

      Toe hulle verby die Griek se plek ry, sien die seuns twee skoolmeisies wat net by die kafee wil ingaan. Die een is Katrien wat langs Trompie woon en eens op ’n tyd so half en half sy meisie was.

      “Haai!” skree Trompie.

      Die meisies draai om.

      Katrien is ’n sproetgesig met twee lang vlegsels wat agter by haar rug afhang. Op laerskool het sy voor Trompie gesit en dan het hy haar altyd geïrriteer deur die vlegsels te trek.

      Katrien kyk fronsend na die seuns se groot tasse en sê: “Het julle vandag so baie boeke?”

      “Ja, Katrientjie.” Trompie glimlag vriendelik. “Baie werk, jy weet.”

      Sy kyk hom agterdogtig aan. Trompie se pet sit windmakerig skeef op sy kop en al is dit nog vroeg in die oggend lê sy kouse al klaar op sy skoene en sy hemp hang agter by sy broek uit.

      “Wat wil julle hê?” vra Katrien.

      “Ek het gesien julle twee wou by die kafee ingaan,” sê Trompie en vryf sy hande voor hom soos ’n ervare sakeman. “Toe wonder ek of julle gaan lekkers koop.”

      Katrien en haar vriendin kyk na mekaar. Hulle wonder hoekom Trompie gewonder het of hulle lekkers gaan koop. Dit het mos niks met hom te doen nie.

      “Ja,” sê Katrien ná ’n oomblik styf, “ons gaan lekkers koop. En wat daarvan?”

      Trompie vryf sy hande weer in die lug en loer vlugtig om te sien of sy vriende hom dophou. Dan glimlag hy sy breedste glimlag en sê vir die meisies: “Ek het die beste, lekkerste lekkers wat julle nog ooit geëet het hier in my tas – allerhande soorte lekkers. Koop liewer by my.”

      Katrien en haar vriendin kyk na mekaar. Hulle sal by Trompie koop as hy het waarna hulle soek. Hulle het sy advertensie vir die snoepwinkel gister in die klas gelees.

      “So?” sê Katrien laggend. “Jy begin jou snoepie sommer hier op straat?”

      “Enige plek is ’n goeie plek om besigheid te doen,” antwoord Trompie met ’n grinnik soos hy dink dit ’n sakeman betaam. “Kom net hier om die hoek, dan wys ek julle hoe ’n yslike verskeidenheid lekkers het ek.”

      Trompie voel dit is darem nie mooi om so reg voor oom Stavrinos se kafee te staan en lekkers verkoop nie. Dit is ook nie nodig om enigiets aan Katrien en haar vriendin te verkoop nie, want die seuns sal hul voorraad mos maklik in die volgende paar dae by die skool verkoop kry, maar Trompie wil vir sy vriende wys wat ’n goeie verkoopsman hy is. Hulle moet hom fyn dophou sodat hulle kan sien hoe dit gedoen word – hoe hulle die kinders by die skool sover moet kry om van hulle lekkers te koop.

      Om die hoek van die kafee hou Rooie en Blikkies Trompie se fiets vas terwyl die Grootkaptein sy tas oopmaak.

      “Ons wil drop hê,” sê Katrien.

      “Vat soveel julle wil hê – solank julle dit kan bekostig,” nooi Trompie vriendelik. Hy wys die meisies moet self kyk. Hy glo kliënte koop makliker as hulle self kan sien wat te koop aangebied word.

      “Sjoe!” sê Katrien en lyk behoorlik beïndruk. “Dis baie lekkers.”

      “Ja-nee,” sê Trompie selfvoldaan. “Ons het iets van alles en ons lekkers is so vars soos die oggenddou.” Hy is dankbaar hy het hierdie uitdrukking eenkeer iewers gehoor.

      Trompie vryf sy hande en glimlag vriendelik. Hy hoop sy vriende kyk mooi hoe ’n professionele verkoopsman te werk moet gaan.

      “Dis julle gelukkige dag,” sê Trompie nou vir die meisies. “Ons het baie drop. Die lekkerste wat julle nog ooit in julle lewe geëet het. Onthou net, as julle vriende by die skool vra waar julle sulke lekker drop gekoop het, sê tog asseblief by Trompie-hulle.”

      Katrien en haar vriendin knik. Hulle sal dit doen. Rooie, Blikkies en Dawie kyk glimlaggend na Trompie. Ja-nee, hy weet van verkoop. Hulle moet net soos hy maak – vriendelik wees en aanhoudend gesels – dan het hulle binne ’n paar dae niks meer lekkers oor nie en maak ’n vet wins.

      “Drop, nè? Waar’s die drop? Die lekker swart drop …”

      Trompie vroetel in die tas rond tussen al die verskillende

Скачать книгу