Trompie Omnibus 6. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith страница 4

Trompie Omnibus 6 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

glimlag in sy skik met homself en vryf sy hande weer in die lug. “Die ouens sal feitlik enigiets betaal om lekkers in die hande te kry, so ons verkoop die goed teen dubbeld wat dit ons gekos het.”

      “Dink jy hulle sal soveel betaal?” vra Dawie.

      “Natuurlik. Jy weet mos hoe voel dit as jy geld het en jy wil lekkers koop, maar jy kan nie. Dan sal jy enigiets daarvoor betaal.”

      Trompie se optimisme en entoesiasme is aansteeklik. Rooie, Blikkies en Dawie word nou ook opgewonde, veral as hulle dink hoe hulle aan die lekkers gaan weglê. Hulle hoef nooit weer vir hulleself lekkers te koop nie!

      Trompie verduidelik dat hulle elke dag hul kapitaalbedrag sal uithou om voorraad vir die volgende dag te koop. Alles wat hulle bo en behalwe die kapitaalbedrag maak, is skoon wins en dit word dan onder hulle vier verdeel.

      “Jissie, Trompie,” sê Blikkies al kouend, “jy is sowaar ’n finansier.”

      “’n Sakeman, ou pel, ’n sakeman!” Trompie se sproetgesig straal van trots.

      “Ons gaan geld soos bossies maak, ouens, soos bossies!” sê Rooie en vryf nou ook sy hande voor hom.

      Die snoepwinkel word in fyner besonderhede bespreek. Elke lid van die Boksombende sal dieselfde bedrag geld bydra en dan gaan hulle lekkers daarmee koop. Die hoof en die personeel mag nooit van die snoepie agter die fietsafdakke uitvind nie.

      “Maar hoe kry ons die lekkers by die skool?” vra Dawie skielik. “En waar bêre ’n mens ons voorraad?”

      Dit is nogal ’n probleem. Trompie se voorkop is op ’n frons soos hy dit probeer oplos. Sy manskappe hou hom dop. Hulle dink nie, want dit is nie nodig nie. Hy is mos die sakeman wat alles van finansies en sulke klas goed af weet.

      Trompie voel die lekkers mag nooit onder hulle vier se oë uit gaan nie. Dit sal te gevaarlik wees. Die ander ouens sal nie ’n kans laat verbygaan om die goed te deps nie, en dan gaan die Boksombende sommer gou bankrot speel.

      Nee, die lekkers moet altyd by hulle wees. Hulle kan dit nie iewers wegsteek nie. Dit is te ’n groot risiko. Hul voorraad moet elke dag by die skool in en uit gevat word – maar hoe?

      “Wag ’n bietjie,” sê Trompie skielik. “Ek het ’n plan!”

      Die ander drie sug verlig. Hulle het geweet hy sal aan iets dink.

      “Daar is nie ’n skoolreël wat sê hoe groot of klein ons boeksakke moet wees nie, nè?” vra Trompie.

      Sy manskappe dink ’n oomblik en dan skud hulle hul koppe.

      “Wel, dan is dit maklik,” sê Trompie tevrede. “Ons vat net van nou af yslike groot tasse skool toe met ons boeke én die lekkers daarin. Dan is ons voorraad sommer altyd by ons in die klas.”

      Rooie en Blikkies hou van hierdie plan. Hulle sien al hoe hulle elke nou en dan in die klas ’n lekker uithaal en dit vinnig in hul kieste prop wanneer niemand kyk nie. Dit sal selfs die verveligste vak oukei maak.

      Dawie is bang die onderwysers gaan onraad merk omdat hulle ewe skielik sulke groot tasse het, maar Blikkies is seker die personeel sal dink hulle vier bring net ekstra baie boeke skool toe.

      “En as hulle sien ons vat ons tasse elke pouse buite na die fietsafdakke toe sal hulle dink dis om daar te gaan sit en leer!” sê Trompie opgewonde.

      Ja-nee, die vier vriende is hoog in hul skik. Hulle is seker hulle gaan sakke vol geld maak.

      Trompie stel voor dat hulle ’n advertensie maak en dit by die skool onder die kinders versprei.

      Alles is afgespreek. Hulle gaan die volgende middag ná skool die eerste voorraad koop en die dag daarna begin besigheid doen. Oor twee dae gaan die geld begin instroom.

      2

      Die snoepwinkel

      Die volgende oggend begin Trompie-hulle met ’n reklameveldtog by die skool. Soos hy sê: “’n Mens moet adverteer.”

      Hy en sy drie vriende vertel vir almal van die snoepwinkel en die lekker lekkers wat daar te koop sal wees. Hulle sê natuurlik niks van die feit dat dit net mooi dubbeld soveel as in die kafee sal kos nie. Trompie voel dit is onnodig om nou al oor dinge soos pryse te praat.

      In die Afrikaanse periode rammel Trompie sy opstel gou af en kry dan kans om ’n advertensie te skryf.

      Hy is verdiep daarin, maar vergeet nogtans nie om kort-kort vinnig te kyk waar die onderwyser is en wat hy doen nie. Gelukkig staan die onderwyser droomverlore by die venster en uitstaar terwyl Trompie die advertensie klaarmaak.

      Hy lees dit gou weer deur:

      Aandag, Kwaggaberg Hoër! Groot Nuus, Wonderlike Nuus!!!

      Trompie Toerien en sy Boksombende begin môre ’n

      SNOEPWINKEL!!!!

      Bring julle geld! Ons gaan die Lekkerste Lekkers in die Hele Wêreld verkoop – elke pouse agter die fietsafdakke! Vergeet van die kafee! Kom koop by ons snoepie!!

      As jy klaar gelees het – GEE AAN!

      Trompie glimlag tevrede. Dan kyk hy op. Die onderwyser kyk nog steeds by die venster uit. Trompie gee die advertensie vir Rooie. Hulle het besluit elkeen gaan dit een keer uitskryf en dan sal hulle die vier advertensies in die klasse versprei.

      Teen die einde van die skooldag weet almal van Trompie-hulle se snoepwinkel.

      Daardie middag gaan Trompie en sy vriende met ’n groot tas na die Griek se kafee toe. Trompie het die vier se geld in sy beursie en hy voel hulle moet die praatwerk aan hom oorlaat. Hy is mos ’n sakeman. Hy wil probeer om die lekkers teen ’n spesiale prys te kry. Dis mos ’n groot transaksie hierdie.

      Die Grootkaptein stap effens voor toe hulle by die kafee ingaan. Die groot, leë tas klap teen sy bene.

      Hy groet die Griekse kafee-eienaar en sê met ’n diep stem wat volgens hom by ’n sakeman pas: “Ons soek lekkers – sommer baie, ’n hele tas vol.”

      “O so?” Meneer Stavrinos ken Trompie-hulle al jare lank en sy wenkbroue is vraagtekens. “En waarmee gaan julle betaal?”

      “Ons het baie geld.” Trompie haal sy beursie uit en sit die kontant op die toonbank neer. Die kafee-eienaar is nou baie vriendeliker.

      “Nou goed,” sê hy glimlaggend, “sê maar net wat julle wil hê.”

      Die vier seuns geniet dit gate uit. Hulle kies lekkers, hande vol daarvan. Hulle het nog nooit soveel op een hoop gesien nie – en dit behoort alles aan hulle!

      Terwyl hulle besig is om te koop eet hulle natuurlik ook smaaklik.

      Uiteindelik het hulle soveel lekkers as wat hulle geld kan koop. Daar is iets van alles – allerhande soorte, pryse, groottes en kleure. Die groot tas is byna vol en sou seker

Скачать книгу