Skepelinge. Karel Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skepelinge - Karel Schoeman страница 2

Skepelinge - Karel  Schoeman

Скачать книгу

op ongekende skaal aangegroei en hy aktief by die handel binne Asië betrokke geraak het, het sy uitgawes vir skepe, forte, garnisoene en administratiewe personeel fenomenaal toegeneem, en sy aanvanklike winste dienooreenkomstig kleiner geword. Oor die ‘jongste jaar’, het Van Dam byvoorbeeld in 1662 berig, is daar byna 2 miljoen gulden aan soldye uitbetaal, en hy het hom uitgelaat oor die las wat die ‘sware garnisoenen en soldijen van ’t volk’ vir die Kompanjie uitmaak. Op Ceylon, skryf hy, was daar ’n garnisoen van omtrent 3000 koppe, en in Batavia ’n ‘sware besetting van 12 en 1400, ja en meertijds meer’.

      ‘De Maetschappy,’ berig ’n ander tydgenoot, Olfert Dapper, in klinkende taal in sy groot boek oor Amsterdam,

      licht krijgsvolk op haer eige kosten, brengt legers te velde, slaet ze neer, breekt op, oorlogt in de andere werelt, verovert steeden, overweldigt eylanden, reed vlooten uit, ontweldigt den vyanden landen, kasteelen, reden en havens, verlicht niet weinig het Vaderlandt van den last des oorlogs, en doet en brengt dingen te weeg die niet veel verschillen van de magt der allergrootste Vorsten en Koningen.9

      Namate sy laste toeneem, het dit vir die Kompanjie egter al hoe moeiliker geraak om sy aanvanklike posisie te handhaaf, en teen die einde van die agttiende eeu het toenemende korrupsie en wanbestuur uiteindelik tot die bankrotskap van die onderneming gelei. Met die totstandkoming van die Bataafse Republiek in Nederland in 1795 is die Here XVII afgedank en die Kompanjie, met ’n skuld van 120 miljoen gulden, genasionaliseer. Op 31 Desember 1799 het dit amptelik opgehou om te bestaan.10

      Die skaal van die VOC se werksaamhede was aansienlik, en op sy dag was dit trouens die grootste handelsonderneming in die wêreld. Oor die bykans twee eeue tussen 1602 en 1795 het die ses Kamers van die VOC op hul eie werwe in Nederland byvoorbeeld altesaam 1461 skepe gebou, en byna 3000 keer is skepe van Nederland uitgestuur, waarop ’n groottotaal van 973 000 mense na die Ooste vertrek het, van wie slegs 366 900 sou terugkeer.

      Oor die dekade 1670–80, wat in verskeie opsigte as die Kompanjie se hoogtepunt beskou kan word, het 232 van sy skepe na die Ooste vertrek, teenoor die 131 en 30 wat onderskeidelik deur sy Engelse en Franse mededingers uitgestuur is, en teen die middel van die volgende eeu, toe hulle hom reeds vinnig begin inhaal het, was die onderskeie syfers nog altyd 291 teenoor 191 en 135. Die statistieke van ander, kleiner Europese Kompanjieë wat met die Ooste handel gedryf het, soos die Deense, Sweedse, Brandenburgse en Oostendse, kan nie in vergelyking hiermee genoem word nie, hoe geslaagd elkeen op sigself miskien ook was.

      Toe ’n opname in 1687–88 gedoen is, het die VOC ’n Europese personeel van meer as 11 000 mense in Asië gehad; die inheemse personeel het 3605 beloop, en hy het 2384 slawe besit. Teen 1780 het die Europese personeel meer as 18 000 bedra.

      Volgens die Portugese was die retoerreis van hul skepe van Portugal na hul koloniale hoofstad Goa, wat met inbegrip van die oorlêtyd in Indië agttien maande geduur het, ‘ongetwyfeld die grootste en moeisaamste van enige wat in die wêreld bekend is’. Die tog van die Oosindiëvaarders van Nederland na Batavia het egter hieraan gelykgestaan. Die gemiddelde duur van die reis van Nederland na Batavia was oor die volle tydperk 1602–1795, 252 dae, ongeveer 8 maande, en die reis van Nederland na die Kaap het gemiddeld 130 dae of 4 maande geduur vir ’n Oosindiëvaarder, en langer vir ’n fluitskip.

      Ewe goed was die VOC ’n belangrike werkgewer, nie alleen van seemanne en soldate nie, maar ook van ’n talryke administratiewe personeel, in Nederland sowel as in sy onderskeie kantore en vestings in die Ooste, en die ambagsmense en arbeiders wat regstreeks of onregstreeks tot die bou, uitrusting en uitsending van sy skepe bygedra het.

      ’n Werk oor die koophandel van Amsterdam verwys met betrekking tot die plaaslike Kamer van die Kompanjie, naas boekhouers en klerke, na

      ten minsten 1400 man, scheeps-timmerlieden, sjouwers, zeilenmakers, mastenmakers, smits, baenders en ander arbeidsvolk die tot het uitrusten der schepen vereischt worden; behalven een groot getal van allerlei opzichters, arbeiders en veelerhande bedienden.11

      Al het Amsterdam soos gewoonlik die meeste aandag getrek, het die Kompanjie met sy pakhuise, magasyne en skeepswerf byvoorbeeld vir ‘veel gewoel ende vertiering’ in die Zuiderzeestadjie Hoorn gesorg, en teen die middel van die agttiende eeu was 200 tot 250 mans werksaam op sy werf.

      Ten spyte van hierdie meervoudige prestasies was dit waarskynlik egter die skaal en die welslae van die VOC se ondernemings in die Ooste, die eksotiese lande en streke waar hy in ewe eksotiese goedere handel gedrywe het, die groot veilings van ingevoerde handelsware wat elke herfs in Nederland plaasgevind het en die eensydige, oordrewe of doelbewus propagandistiese beriggewing daaroor wat sy beeld in die oë van die buitewêreld bepaal, al het daar bedenkings oor sy optrede bestaan en het sy matrose en soldate oor die algemeen ’n swak reputasie geniet.

      Die gunstige beeld is versterk deur die hoofkwartiere, pakkamers en skeepsbouwerwe van die ses Kamers van die Kompanjie in Nederland, en Oos-Indiëhuis in Rotterdam is selfs in ’n lang gedig besing, sy dit deur ’n mindere digter, Gerrit van Spaan.

      Hier heb je zolderen byzonder wyd en breed,

      En ruim en groot en diep, zeer dienstig en gereed

      Om allerhande slag van waren op te leggen

      Van kruid en specery dat naauwlijks is te zeggen;

      Ook sits en stof doorwrogt van zilver en van gout,

      Door vlijt en kunst en zwier …12

      Soos gewoonlik was dit egter Amsterdam wat die meeste aandag getrek het, en die groot en opulente Oos-Indiëhuis in die sentrum van die stad is deur meerdere besoekers beskryf.

      In die vergadersaal van die Bewindhebbers in hierdie gebou, het Dapper vertel,

      hangen te pronk Chineesche en Japonsche schilderyen. Daer hangt ook de groote stadt Batavia met haar schrickelijk en onoverwinnelijk Kasteel. Daer hangen rontom d’eylanden van de Molukken, slooten, bosschages dicht van specery-boomen, steden, havens, kapen die wy aen het ander eint des werelts bezitten.13

      Diep beïndruk berig die besoekende Duitse predikant en chronis Friedrich Lucae weer:

      In die groot binnehof van hierdie gebou, waarin besonderlik die Oos-Indiese soldate aangemonster en betaal word, het talle kanonne en verder ook groter oorlogsvoorrade gelê. In die sale daarbinne is ’n ongelooflike mengsel kosbare Oosterse speserye en stowwe bewaar, besoar, rabarber, amber, sivet, kaneel, naeltjies, neut, peper, gemmer, ens., waarvan die vreemde besoeker toegelaat word om ’n hand vol saam te neem.

      Die gebou het sy eie wapenkamer, waar ons ’n versameling kosbare Indiese wapentuig gesien het, onder andere harnasse vir olifante. Agter die gebou is ’n spesiale slaghuis waar duisende osse geslag word om vir die skepe ingesout te word.14

      En ewe goed die Engelse ambassadeur, Sir William Temple:

      I remember that, walking in a long gallery of the Indian House at Amsterdam, where vast quantities of mace, cloves and nutmegs were kept in great open chests ranged all along one side of the room, I found something so reviving by the perfumed air that I took notice of it to the company with me, which was a great deal, and they all were sensible of the same effect.15

      VAN DIE NOODSAAKLIKHEID EN NUTBAARHEID VAN DIE OOS-INDIESE KOMPANJIE

      ‘Die Verenigde Geoktrooieerde Oos-Indiese Kompanjie,’ skryf die Nederlandse skeepschirurgyn Nicolaus de Graaff aan die einde van sy lang loopbaan by die VOC en elders,

      is een van die vernaamste en mees noodsaaklike dinge wat ons Vader laat opbloei, dit ryk en magtig maak, en ook baie duisende

Скачать книгу