Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman страница 17
“Omdat jy jou geld moet gaan terugvra, want hulle het jou sleg geleer. Jy maak vreeslik baie tikfoute.” Toe dit lyk of sy nie verstaan nie, wys hy met sy vinger na die rekenaarskerm. “Kyk byvoorbeeld na daardie laaste klompie reëls wat jy pas getik het.”
Sy kyk en dan snap sy: dis die stuk toe sy sommer blindweg laat waai het, om besig te lyk … Sy merk met verontwaardiging die grinnik op sy gesig.
“Ag, man, vlieg maan toe!”
“Kan nie, die Airbus se brandstoftenk is nie groot genoeg nie.”
Deneys se reflekse is goed. Hy is net betyds om vir die uitveër te koes wat Carmia na hom gooi. Hy buk en tel dit op, kom nader en plaas dit versigtig op ’n hoekie van die lessenaar. Dan blaas hy ’n soentjie vir haar en verdwyn voor hy ’n woordeboek of ’n potplant teen die kop kry.
Met haar vingers op die sleutelbord kyk Carmia sy breë rug agterna. Vita was reg: Deneys Vermeulen is onbetaamlik aantreklik. En hy weet hoe om ’n meisie behoorlik te soen. Hy doen allerhande dinge aan haar … Maar migraine is beslis nie een van hulle nie.
7
“Lyk my jy’t die skoot hoog deur, sussie,” terg Vita die aand toe sy bel om die jongste nuus te hoor.
“Dwarsdeur my hart,” erken Carmia.
“Ek het altyd geweet as jy die dag vir ’n man val, sal dit soos ’n emmer nat sement wees. Is hy nog so moeilik?”
“Glad nie.”
“Wag maar, dis nog vroeg. Jy sal hom leer ken … Laat maar weet as ek vir jou ’n simpatiekaartjie moet stuur.”
“Jy’s pessimisties.”
“Nee, realisties. Weet Deneys al ons is susters?”
“Nog nie,” erken Carmia.
“Jy beter bieg. As hy dit van iemand anders te hore kom, gaan hy ontplof. En dan gaan jy meer as net ’n valhelm nodig hê.”
“Jy is bevooroordeeld. Hy was nog nooit onredelik teenoor my nie.”
Vita lag. “Jy het die man se toere só opgejaag dat sy enjin oorverhit het. Het hy dit toe darem reggekry om in die swembad af te koel?”
“Ek weet nie, ek het hom nie weer gesien nie. Margo het met ete vir hom gewag, maar daar was blykbaar ’n probleem met een van die stropers.”
“Deneys werk hard – dit sal ek hom ter ere nagee. Dikwels ná ’n deurnagvlug is hy die hele volgende dag op die plaas besig, sonder slaap.”
“Dis die eerste positiewe ding wat jy van hom sê, behalwe dat hy sag op die oog is.”
Vita klik haar tong. Waarsku help duidelik nie. Niks is so blind soos ’n eerste liefde nie …
“Hoe vorder Margo se boek?” verander sy die onderwerp. “Het die heldin nie maagpyn gekry van die wortelknolle nie?”
“Nee, die held is ’n veldkenner. Hy sal haar nie giftige plante laat eet nie.”
“Is hulle nog daar in die grot waar hy haar warm gevry het?”
“Moenie so banaal wees nie!”
“Toe Deneys jóú warm gevry het, het jy nie gedink dis banaal nie.”
“Dit was anders …”
“Hoe ‘anders’? Vry is vry.”
“Is nie. Ek kan oordeel – ek is darem al ’n paar keer tevore gesoen. Daar was Giep Smit en Siegfried van der Westhuizen … Onthou jy vir Siegfried?”
“Ongelukkig, ja,” antwoord Vita droogweg. “Hy het jou sekerlik nie ‘gesoen’ nie – niks so platvloers nie. Seker net inniglik ‘gekus’, met sulke dun, anemiese lippe wat nog nooit Lip-Ice gesien het nie. Jy het altyd sulke weird nerd-kêrels gehad, almal gelyk of hulle ’n skeet het! Giep Smit was net so ’n koue vis. Ek glo selfs as hy met ’n meisie liefde maak, sal hy nie genoeg hitte genereer om sy bril te laat opstoom nie. Bleeksiele, almal van hulle. Dié dat jy so opgeklits is met Deneys. Hy’s kookwater, warmer as selfs daardie papierheld van jou. Het jy al vir jou ’n mooi kaal sonrok gekoop om hom mee in die versoeking te lei?”
“Ek en Margo gaan môre dorp toe, maar ek kort eerder werksklere.”
“Ou Santjie Sober … Haai, ek moet ophou klets! Hier kom Andy en sy honger army ingewals!”
Margo was haastig dorp toe, maar die volgende oggend wil sy eers notas maak van die Survivor-roete, sodat sy die storielyn kan hervat wanneer hulle van die winkels terugkom.
“Bring jy solank die motor, Carmia,” stel sy voor. “Die sleutels hang aan die rak by die garage se binnedeur.”
Ná ’n lang week voor die rekenaar sien Carmia uit na hul uitstappie. Vir die geleentheid het sy ’n wit romp en ’n lemmetjiegroen top van Vita aan, en sy dra haar hare vir ’n verandering los. Rondry is nie werk nie, dis meer soos vakansie, en sy was nog nooit op Ballito nie. Net gehoor dis ’n pragtige, skilderagtige dorpie.
Sy vind die sleutel, gemerk Ouma se Wiele met sterk, ferm hoofletters. Waarskynlik Deneys se handskrif. Sy het hom nog nie vanoggend gesien nie, seker by die stroper besig. Of dalk slaap hy nog …
Margo se motor is ’n pragtige dingetjie. Silwer, met ’n harde dak. Die kieriehefboom is kort, die ratte na aan mekaar en die brandstofpedaal veertjielig. Carmia het nog nooit ’n sportmotor bestuur nie. Sy voel-voel en oefen ’n slag, maar krap die trurat met die uitry en verwens haar onhandigheid.
“Askies, dingie,” sê sy en tik die stuurwiel verskonend. “Die tannie is nog dom en aan trekkers en trokke gewoond.”
Deneys wag haar in toe sy by die stoeptrappies stilhou. Soos altyd wanneer sy hom onverwags sien, gee haar hart ’n wip en begin pomp die bloed teen ’n bruisende tempo deur haar are sodat haar hele lyf tintel. Hy lyk moeg en sy wens sy kon hom vashou en die tam lyne om sy mond wegstreel. Dis wonderlik om hom terug te hê, en sy het hom gisteraand gemis. Die huis was leeg terwyl hy weg was, en nóg leër toe hy teruggekom het, maar nie daar was nie.
“Môre!” groet hy. “Jy lyk soos ’n feetjie in die lente.” En bederf dan alles deur by te voeg: “Ek hoop nie jy het jou rybewys by dieselfde mense gekry wat jou leer tik het nie?”
Bedoel hy dit as ’n grap? Sy kyk vinnig na hom, maar kan nie uitmaak watter soort uitdrukking op sy gesig is nie. Is dít wat Vita bedoel het: dat hy buierig is?
“Ek sal agter julle aanry tot op die dorp,” bied hy aan.
Carmia swaai haar hare agteroor en lig haar ken. “Hoekom? Net omdat ek die rat een keer per ongeluk amper gekrap het? Omdat jy dink ek kan nie motor bestuur nie?”
“Omdat ek onderdele vir die stroper wil gaan kry,” antwoord hy rustig. “Omdat ek wil seker maak die twee vroue in my lewe is veilig. En omdat ek vir julle roomkoek en tee wil koop.”
Weer