Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman страница 18

Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman

Скачать книгу

Sy ontspan. “Dankie, dit sal lekker wees.”

      Hy steek sy hand deur die oop ruit en onder haar hare in, vryf die syerigheid tussen sy vingers en streel met sy kneukels oor haar nek. “Ek hou van jou hare los. Dis vroulik, soos jy.”

      Hy lyk skielik ernstig. “Ek’s bly jy is op Skamanga. Die hele tyd toe ek weg was, het ek daaraan gedink, en dat ek iets spesiaals het om na uit te sien wanneer ek terugkom.”

      Sy bly woordeloos sit terwyl hy eers die ganse verwilder en dan vir haar die motordeur oopmaak. Hy bied sy hand aan en trek haar orent uit die lae sitplek. Sy oë flonker soos tanzanietstene as dit die skerp sonlig vang. “Dís die rede waarom ek van plat sportmotors hou: dit bied ’n man ’n genotvolle uitsig as ’n meisiekind met mooi bene uitklim.”

      Die kort romp was ’n fout, besef Carmia. Sy moes by langbroeke gebly het. Sy is skielik terug by SeeSter, met Arno du Plessis wat haar grynslaggend beskou. Lyk sy soos ’n maklike poppie wat haar lyf adverteer?

      Die dag is bederf en sy wil wegvlug na die bekende veiligheid van haar kantoortjie en die rekenaar. Sy is verlig toe Margo by die stoeptrappies afkom, sodat sy nie hoef te antwoord nie.

      Margo lê haar hand liefkosend op die Kia se buffer. “Dit gaan ’n fees wees om weer te voel hoe sy ry! Deneys wil haar nie gebruik nie, net altyd die stowwerige bakkie of die viertrek. Het jy maklik met die ratte reggekom?”

      Carmia maak haar mond oop om haar blaps te erken, maar Deneys spring haar voor. “So glad soos ’n koekie seep in die bad. Oumie se assistent is ’n dame van vele talente – nie net dekoratief nie, nog bekwaam ook.”

      Margo neem hom ernstig op. “Ek het jou mos so gesê, maar jy het aanhou stry. Ek is bly jou oë het eindelik oopgegaan, Boetie. Aan die begin wou jy mos niks van haar weet nie.”

      Deneys lyk effens verleë en verander die onderwerp. “Hoe lank gaan julle by die winkels besig wees?”

      “Ek weet nie. So lank as wat dit twee vroue gaan neem om klere te koop, kruideniersware en tydskrifte …”

      Hy rol sy oë hemelwaarts. “Tot anderjaar dus?”

      Sy ouma glimlag liefies. “Of die jaar daarop.”

      “Kry julle elfuur vir koek en tee by die Rendezvous?”

      Margo lyk ingenome, maar verbaas. “O, is jy ook op pad dorp toe, liefie?”

      “Bloot toevallig, ja.” Deneys maak galant die motordeur oop en help haar in. “Mooi ry, julle meisies!”

      Carmia klim ook in. Sy trek stadig weg, versigtig om nie die honde en ganse raak te ry nie en veral om nie die ratte te mishandel nie. Deneys is reg agter hulle en hy sal weer baie te sê hê as sy droogmaak.

      “Wat gaan Deneys op die dorp maak?” wil Margo weet.

      Carmia rem op die draai en tussen die wit pilare deur. Liewer dat Deneys sê sy is oorversigtig as roekeloos, veral met sy ouma by haar in die motor.

      “Onderdele vir die stroper kry,” antwoord sy.

      Margo se wenkbroue trek op ’n plooi. “Oom Kappie is mos al vroeg weg Durban toe. Watse onderdele sal daar nou op Ballito wees?”

      Carmia haal haar skouers op en konsentreer op die pad, oorbewus van die viertrek: breed en bonkig in haar truspieël. Die ergste sal wees as haar voet gly en sy per ongeluk die rem trap, sodat Deneys in haar vasry. Sy los als en vlug tussen die piesangbome in …

      Dis ’n smal grondpad en lanklaas geskraap. Op ’n draai vang die linkervoorwiel ’n sandwal en gooi die ligte motor skeef oor die pad. Onder normale omstandighede sou Carmia geweet het om onmiddellik haar voet van die brandstofpedaal te lig en die stuurwiel in die teenoorgestelde rigting te draai, maar sy is senuweeagtig – sy pluk die wiel links en rem, sodat die arme Kia in ’n stofwolk dwars om die draai skuif.

      “Oeps,” sê Margo. “Toemaar, dis niks, dit het met my ook al gebeur. Dis omdat die pad so droog is en oom Kappie-hulle dit lanklaas geskraap het.”

      Die viertrek agter hulle is minder vergewensgesind. Sy ligte flikker waarskuwend.

      “Ja, oukei, ek weet!” mompel Carmia en wuif verskonend met haar hand.

      Dis nie goed genoeg nie. Die viertrek flikker weer en toe sy nie gou genoeg reageer nie, blaas Deneys die toeter en beduie sy moet stilhou.

      “Bly net kalm, hartjie,” gee Margo raad. “Laat hy maar raas en skree as dit hom gelukkig maak. Moenie terugbaklei nie, dan waai dit gouer oor.”

      Carmia hou stil, met die viertrek se buffer vas teen haar stert. Sy klim nie uit nie. Hoor ’n motordeur hard toeklap en sien hoe Deneys met lang treë na haar kant aangestryk kom. Sy pers haar lippe opmekaar. Dit was nie ’n halsmisdaad nie. Niks het gebeur nie, en dit kon enigeen oorkom …

      Sy draai haar ruit af en wag vir die donder en blitse.

      “Jy kyk te veel in jou truspieëltjie en te min op die pad,” sê Deneys.

      Vita sê altyd jy laat nie ’n man met jou mors nie. En haar pa het Carmia in skaak geleer: as jy in ’n hoek gedruk is, is aanval jou beste verweer.

      “Omdat jy nie jou volgafstand hou nie en ek bang is jy ry in my vas,” beskuldig Carmia hom.

      “Oe-hoe!” fluister Margo onderlangs.

      Daar is ’n blou flits in Deneys se oë, maar Carmia ken hom nie goed genoeg om die gevaartekens te herken nie.

      Hy beteuel homself met moeite. “’n Sportmotor het ’n direkte stuur. As jy aan hom ruk en pluk, gaan jy die kar omgooi.”

      “Die sandwal het my eerste gegooi. Dit sal help as julle die pad meer gereeld skraap.”

      “Hartjie …” Margo tik haar waarskuwend op die arm.

      Deneys lyk uit die veld geslaan. “Dis nie só lanklaas geskraap nie. Dis omdat dit lanklaas gereën het.”

      “Jy het my ontsenu,” hou sy vol.

      Deneys wil verder stoom afblaas, maar die groen toppie wat sy dra, het ’n V-vormige halslyn en aan die onderpunt daarvan wys ’n twee sentimeter lange verleidelike gleufie. ’n Halwe sentimeter sou genoeg gewees het om hom van koers af te bring. Skielik is hy ook ontsenu.

      Hy maak keel skoon en dwing sy oë tot bokant haar sleutelbene. “Onthou: dis ’n direkte kragstuur. En bly in die middel van die pad – daar’s minder sand.”

      “Goed, ek sal onthou,” gee Carmia ook ’n bietjie toe.

      Deneys tree terug. “Sien julle elfuur.” Hy draai om en loop na die viertrek.

      Langs Carmia blaas Margo stadig haar asem uit. “Jy speel op die treinspoor, kind,” waarsku sy.

      Carmia gee haar ’n sonnige glimlag. “Niemand kan stry nie: hierdie rondte is myne!”

      “Deneys is nie gewoond om tweede te kom nie.”

      Carmia se nuutgevonde selfvertroue is terug. “Ek ook nie. Nie meer nie.”

Скачать книгу