Die tragiese saak van Pamina Vermaak. Annie Klopper

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die tragiese saak van Pamina Vermaak - Annie Klopper страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Die tragiese saak van Pamina Vermaak - Annie Klopper

Скачать книгу

      ANNIE KLOPPER

      Die tragiese

      saak van

      Pamina Vermaak

      Kwela Boeke

      Vir Anita

      “The world breaks everyone and afterwards many are strong at the broken places.”

      – Ernest Hemingway

      “Sê tog die musiek beteken nog iets.”

      – Bittereinder

      1

      _ _ _ _ _ _ _

      Die P-klap

      Dis asof ’n groot, vet duim uit die hemele die pause button op die aarde kom druk het, dink Pamina Vermaak. Want vir ’n oomblik is die gewoonlik krioelende, gonsende, ritselende oopplankantoor op die agste verdieping van die hoë mediagebou in Kaapstad se strandgebied doodstil om haar.

      ’n Skielike geskokte stilte.

      Slegs die kopieermasjien in die hoek van die vertrek het blykbaar nie die memo gekry dat alles en almal meteens in hul spore moet stuit en in hul woorde moet stik nie, en gaan nonchalant voort om bladsye uit te druk. Swoesj-swoesj-swoesj, die klank van elektroniese branders in ’n digitale see.

      Dit word ’n druising in Pamina se kop. Ek is onder water, dink sy. En voor my hang ’n middeljarige vis met rooi highlights in die hare, groot fake tiete en rookplooitjies om die bek wat geskok hap-hap na woorde: René Meiring, uitgespreek rê-nei, die redakteur van Eva, ’n Afrikaanse vrouetydskrif gemik op “die Christenvrou van nóú”, onder bestuur van een van die grootste mediahuise in Suid-Afrika. René, wie se naam in elke maandelikse uitgawe in haar eie handskrif onderaan die redakteursbrief gedruk staan, met ’n hartjie waar die akuut op die “e” moet wees. Hierdie maand was die brief se opskrif “Hashtag liefde”. Hashtag fuck my life, wou Pamina hardop byvoeg. Sy het nie.

      Maar nou het al haar ingehoue negatiewe gevoelens teenoor haar baas met een groot ghong van woorde uitgekom wat die hele redaksie tot stilstand geruk het. Skielik weet sy nie eens meer watter snedige aanmerking René dié keer teenoor haar gemaak het en wat sy toe vir haar teruggesê het nie. Sy weet net dat haar oë nou in haar kop begin bewe en alles om haar wasig raak. Die starende kollegas om hulle word dof en klein soos toeskouers op veraf pawiljoene, en Pamina en René is in die middel van die arena. En toe borrel die bitter woede in haar op asof haar baas se soveelste beledigende uitlating ’n boorpunt was wat uiteindelik ’n aar van sluimerende emosie in Pamina bevry het. Voordat haar brein haar tong kan keer, skree sy uit volle bors:

      “Gaan staan op jou kop en kak in jou poe–!”

      Die klank van die laaste letter word verdoof deur René se handpalm wat dwarsweg Pamina se gesig tref en een groot snak van verbasing uit die kantoorruimte ontlok.

      Geel spikkels dans voor Pamina se oë. Die spikkels sweef nader en dan sien sy dis honderde klein emoji’s – daai gesiggie met die platgetrekte bek vol knersende tande wat wil sê: Oef, awkward.

      Pamina is eintlik dankbaar vir die klap wat René haar teen die wang gegee het. Dit ruk haar terug na die werklikheid, en die werklikheid is dat sy dit verdien het ná wat sy so pas gesê het. Sy het te ver gegaan, sy besef dit, maar sy het nie eens geweet sy het dit in haar nie. En tog neem die klap ook ’n klein stukkie van die skuldlas en vernedering van haar af weg deur dit te verplaas na René (#liefde) se gloeiende handpalm.

      Dis asof die klap teen Pamina se wang stadig weer beweging in die vertrek aan die gang sit. Uit die hoek van haar oog, tussen die spikkels deur, sien sy die kantoor se swaar staal-hyserdeure oopgaan. ’n Jong bode met jeans wat laag op sy heupe hang en met oorfone in sy ore kom ingestap, sy oë op die pak koeverte in sy hande. Heeltemal onbewus van die ongemaklike atmosfeer, fluit hy kliphard saam met die deuntjie wat slegs hy kan hoor en stap na ’n cubicle in die verste hoek.

      Agter hom kom twee dames in Foschini-uitrustings, seker terug van ’n rookpouse, uit die hyser gestap. Duidelik gewoond daaraan dat onderlinge geselsies in die normale kantoorgeraas opgeslurp word, is hulle kliphard aan die praat. Pamina hoor die woorde “vibrator” en “Tinder”, en dan rem hulle in hul spore met die besef dis tjoepstil om hulle. Die blonde kollega met die permanente walm van Chanel Chance wat soos ’n wolk om haar hang, slaan haar hand teen haar bors en laat val ’n kwelende, oorronde: “Wat gaan aaaan?”

      Aan Pamina se ander kant val ’n pak los papiere uit ’n lêer wat ’n sproetgesig, bebrilde hipster-intern met ’n hygklankie teen haar bors vasgedruk het toe Die Klap gebeur het. ’n Telefoon begin ongeduldig lui. Iemand laat breek ’n ongelowige, gesmoorde lag los binne ’n cubicle, die soort lag wat wil sê: Holy shit, did you just see that?

      En Pamina proe die woorde wat sy voor die klap in haar baas se rigting geuiter het soos bloed in haar mond.

      “Jy lyk en ruik soos kak, bra,” hoor Wolf de Jager waar hy op ’n dekstoel op die sonnige patio agter sy huis in die luukse Kaapse buurt Higgovale wakker word. Dis AJ, sy manager, se stem. AJ gaan sit dwarsweg op die dekstoel langs hom. “En nog lekker déúr die kak ook, sien ek. Dè.”

      ’n Ontevrede kreun is al antwoord wat Wolf gee terwyl hy AJ skreefoog bekyk.

      “Mimosa – hair of the dog.”

      Wolf trek homself sukkelend regopper teen die stoel se rugleuning en keer die skielike felheid van die son met sy voorarm af toe hy sy oë behoorlik oopmaak. Met sy ander hand voel-voel hy in sy hempsak vir sy sonbril, maar besef dan dat hy nog dieselfde klere aanhet as wat hy gisteraand op die verhoog gedra het: ’n swart T-hemp en leerbaadjie, stywe swart Levi’s waarvan die pype losweg by oprygstewels ingedruk is. Geen sonbril. Dan sien hy die Ray-Bans op AJ se bebaarde gesig en met ’n vinnige beweging annekseer hy dit. Die geduldige AJ blik of bloos nie, wink net weer met die glas lemoensap en bubbly wat al dof raak van die kondensasie. “Ou, ons moet gesels. Of altans, ek praat, jy luister.”

      Met ’n sug draai Wolf sy lyf dwars in die stoel en neem die cocktail wat hy met drie groot slukke opdrink. Hy sit die leë glas met ’n harde klink op die asbestrooide glastafeltjie langs hom neer, waar sigaretstompies verdrietig uit ’n asbakkie peul langs ’n amperleë pakkie Marlboro’s en ’n Zippo waarop die naam Daniella in oordadig kronkelende letters gegraveer is. Hy skud ’n sigaret uit die pakkie en ’n effense naarheid wel in hom op toe hy die lighter fluid van die Zippo-vlam naby sy neus waarneem. Met die sigaret tussen sy lippe vasgeklem, trek hy sy leerbaadjie uit en gooi dit hardhandig op die plaveisel langs die dekstoel neer, kwaad dat dit nog aan sy lyf was toe die vroegsomerson vanoggend hier oor hom gebreek het. Toe hy dit uittrek, kry hy die suur reuk van Jägermeister-sweet op sy vel, en die binnekant van sy mond is steeds droog, selfs ná die mimosa.

      Dan laat rus hy sy elmboë op sy knieë, vat die sigaret tussen wys- en middelvinger vas en begin tik-tik met sy regterduimnael daarteen, wat dit laat hop soos ’n kwikstertjie se stertvere. Hy vee met sy linkerhand deur sy hare. “Nou praat,” sê hy, en skrik vir die buitengewone skorheid van sy stem en, toe hy reguit na AJ kyk, vir die bekommerde kyk in sy manager se oë.

      Pamina is nie seker wat die protokol is vir hierdie tipe situasies nie. Toe sy joernalistiek geswot het, was daar nie ’n lesing oor “Wat om te doen as jy jou baas gevloek het voor al jou kollegas en hy/sy jou dan deur die gesig klap” nie.

Скачать книгу