Die tragiese saak van Pamina Vermaak. Annie Klopper

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die tragiese saak van Pamina Vermaak - Annie Klopper страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Die tragiese saak van Pamina Vermaak - Annie Klopper

Скачать книгу

geluide wat Pamina begroet, is oorverdowend: doef-doef-doef, ’n gegil, motorremme, loeiende sirenes.

      Etienne is besig om Grand Theft Auto op die PlayStation te speel.

      Sy stap in die gang af en sien hom waar hy met sy rug na haar op die rusbank sit en naarstig die knoppies van die PlayStation se afstandbeheerder druk, kaalbolyf, geklee in net ’n boxer-onderbroek, met sy voete op die deurmekaar koffietafel waar ’n lighter, ’n bong en ’n paar daggapitte bo-op ’n ou FHM lê. Langs dit staan ’n papbak waarin net ’n enkele verbleikte Froot Loop verdrietig in melk dryf, soos ’n verlore miniatuur-reddingsboei in ’n vaal see.

      Etienne bly onbewus van Pamina wat agter hom staan; daarvoor is hy veels te vasgevang in die rumoerige game. Hy het duidelik nog nie gestort of sy hare gekam nie.

      Sy hou hom ’n ruk lank verstom dop.

      Etienne met sy gevaarlik-mooi gesig en skaam blou oë waarop sy drie jaar gelede halsoorkop verlief geraak het. Sy was ses-en-twintig en dit was by ’n woonstelpartytjie van ’n ou klasmaat nadat sy stad toe getrek het ná universiteit.

      Hy was daar saam met ’n vriendin van ’n vriendin. Die coolste ou in die vertrek, wat hom oënskynlik nie gesteur het aan die jongste modes en giere nie. Hy het ’n half-oopgeknoopte hemp gedra wat gelyk het of hy dit uit sy oupa se kas gesteel het, met ’n kortbroek en espadrilles met palmboompatroontjies daarop. Vir Pamina het hy hier, in die hartjie van Kaapstad, gelyk soos iemand wat ’n sorgelose bestaan op ’n tropiese eiland voer, iemand wat sy graag wou ken. ’n Jaar later het hulle begin date, later saam hier ingetrek.

      Haar gedagtes word onderbreek toe sy sien hoe Etienne meteens met sy groot lyf na links op die rusbank oorhel en sy regterboud effens lig. Toe poep hy. So hard dat dit selfs bo die geraas van die TV-speletjie hoorbaar is.

      En net daar sien sy vir die eerste keer haar lewe soos dit werklik is: Dis nie net haar werk wat haar ongelukkig gemaak het nie, dis ook haar verhouding. Vir ’n ruk was Etienne se gypsy-agtige sorgeloosheid eksoties, interessant, anders – maar die waarheid is dat hy ’n lui, onambisieuse freeloader is wat in die middel van die dag sit en TV games speel, dagga rook en poep op die bank, en sý maak dit vir hom moontlik.

      En dan besef sy dat sy haar tog in een moerse groot cliché bevind: meisie in haar laat twintigs wat vasgevang is in ’n dead-end job en dead-end relationship, met jeugdrome wat soos uitgedorde skedels agter haar langs die pad lê. The road to nowhere. En sy voel, om meer as een rede, asof sy versmoor.

      Sonder om verder te dink, en met Etienne steeds onbewus van haar teenwoordigheid, draai sy om, gaan na die slaapkamer en haal haar groot, stofbedekte rooi reistas bo uit die kas. En met trane wat oor haar wange rol, begin sy haastig haar klere pak.

      “Gaan kry jou kop skoon,” sê AJ vir Wolf. “En skryf daai donderse acoustic album nou once and for all klaar. Weg van hier af. Dalk iewers op ’n kusdorpie. Waar jy die see kan hoor en ruik en niemand jou sal pla nie. Ook nie die Huisgenoot nie.” Hy bly ’n rukkie stil voor hy byvoeg: “En gaan werk vir Daniella uit jou system.”

      Haar naam is soos ’n vuishou in Wolf se maag. Daniella, fokken Daniella. Dit gaan meer as ’n paar weke op ’n kusdorp en die klank van klotsende branders neem om haar uit sy geheue te spoel.

      AJ se oë bly stip, byna pleitend op hom gerig.

      Met ’n harde sug sit Wolf die koffiebeker op die tafel voor hom neer. Hy tel die iPad op wat langs hom op die bank lê en druk op die Google Maps app. Hy zoem uit die kaart van Kaapstad en navigeer met sy vinger op, al met die Weskus langs.

      “Kom ons kyk dan maar,” sê hy met ’n aspris onentoesiastiese stemtoon. “Kusdorp … kusdorp … die kleinste een wat daar is …”

      AJ kom sit op die armleuning. Dan druk hy met sy wysvinger op die skerm. “Daar. Zoem in. Dit lyk soos ’n klein dorpie by daai inham.” Hy leun oor en lees die minuskule teks moeisaam: “Wit-wa-ter-baai.”

      Pamina is besig om die laaste van haar klere en grimering in die rooi reistas te gooi, toe sy Etienne se stem agter haar hoor: “Wat maak jy hier? En wat doen jy?”

      Sy wip van die skrik, maar durf nie na hom kyk nie, bang dat haar moed haar sal begewe. “Ek het my werk verloor,” is al wat sy bereid is om te sê.

      “Shit. Wat gaan jy nou maak?”

      Sy wonder of die vraag uit bekommernis oor haar is, of omdat Etienne besef dat sy nou nie meer tot die huur sal kan bydra nie.

      “Ek gaan weg.”

      “Weg? Waantoe? Vir ’n ander werk?”

      Pamina rits die tas toe, lig dit van die bed af en maak dit staan, trek die sleephandvatsel uit en kyk vir die eerste keer na hom waar hy met gevoude arms in die deurkosyn staan. Hy’t nou net gehoor sy’t haar werk verloor, maar hy kom gee haar nie eens ’n drukkie nie. “Nee, Etienne. Ek is jammer, maar ek gaan weg-weg.”

      Hy frons. “Maar hoekom?”

      Pamina sleep die tas tot by hom. Sy kyk op in sy mooi, verwarde blou oë en haar stem breek. “Etienne, kan jy nie sien nie? Ons is fokken stuck.”

      Terwyl Pamina met betraande oë haar kar se kattebak voor die woonstelkompleks oopsluit, kom haar eksentrieke Griekse kunstenaarsbuurvrou, soos gewoonlik met blomme in die waai van haar arm, in die straat op gestap. Eleni kom staan by Pamina waar sy haar groot reistas en ’n paar bultende swartsakke inlaai – al die besittings wat sy tussendeur die uitgerekte stryery met Etienne ingestop kon kry.

      “Wat makeer?” vra Eleni, met die opregte besorgdheid wat Pamina al ken van die kere wanneer sy by die ouer vrou gaan tee drink en raad vra het. Op sulke loom middae in Eleni se sonnige woonstel vol keramiekwerk en plante, het sy Pamina Marie-beskuitjies gevoer en raad gegee wat geskoei is op ’n mengsel van Oosterse geloof, astrologie en common sense. Altyd met effense kru taal in die mix.

      Pamina wil haar alles vertel, maar al wat sy tussen snot en trane kan uitkry, is: “Als is fucked.” Tog is dit nie nodig om meer as dit vir die intuïtiewe Eleni te sê nie.

      Sy laat haar hand op Pamina se skouer rus en sê: “Hier rondom jou nege-en-twintigste jaar herbelyn die planete op dieselfde baan as wat dit was in die jaar van jou geboorte. Skielik loop jy jou trompop vas in jouself. Dis ’n keerpunt, ’n maak-of-breek-tyd om ook jouself op jou lewensbaan te herbelyn, maar eers word jy van die spoor afgegooi en voel als vir ’n rukkie soos ’n totale fokop.”

      Dit is haar manier, besef Pamina, om te sê dat alles oukei gaan wees. Maar op die oomblik voel dit nie so nie. Planete ofte not, haar wêreld is behoorlik geskud.

      “Kan ek vir jou ’n koppie tee maak?”

      Sy kyk vinnig oor haar skouer. “Dankie, maar ek moet ry voor ek van plan verander.”

      “A,” sê Eleni begrypend. “Etienne?”

      Pamina knik. “Dis verby tussen ons.” Om dit hardop te sê maak dit baie meer finaal.

      Eleni

Скачать книгу