Die tragiese saak van Pamina Vermaak. Annie Klopper

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die tragiese saak van Pamina Vermaak - Annie Klopper страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Die tragiese saak van Pamina Vermaak - Annie Klopper

Скачать книгу

hom een dronk aand by ’n kroegtoonbank in Die Mystic Boer op Stellenbosch ná ’n minder suksesvolle show daaroor konfronteer, het Wolf ’n bloedneus as antwoord gekry. “Nee, jou arrogante bliksem,” het AJ gesê. “Dit gaan oor die musiek, ek soek nie jou fokken lyf nie.” Van toe af was AJ nie meer net sy roadie nie, maar sy bestuurder, confidant en beste pel.

      “Wolf?”

      Hy besef hy staar nog heeltyd in die niet. Hy onthou baie min van wat gisteraand gebeur het, maar weet hy kon nie die show klaar speel nie. Hy was te fucked. Hy het … Het hy opgegooi bo-op iemand in die voorste ry? Die gedagte laat hom ril. “Gaan wag vir my binne,” sê hy. “Ek gaan shower, dan kan ons praat.”

      Pamina ry by die parkeerterrein uit en in die stad in, glinsterend van die son se weerkaatsing op chroom en glas. Sy voel soos ’n leë skulp wat op ’n strand uitgespoel het. Nou lyk Kaapstad vir haar so anders, en voel dit vreemd om hier rond te ry in die middel van die dag, soos stokkiesdraai op skool.

      Etienne. Sy moet na Etienne toe.

      Sy het hom bygestaan toe hy besluit het om by sy pa se IT-firma te bedank en van die huis af te werk as ’n onafhanklike webontwerper. Soms moet sy meer as hy tot die huur bydra omdat hy nog sy voete vind, en dis ook nie juis asof sy as joernalis so vreeslik baie verdien nie. Nou is dit bietjie sy beurt om haar te ondersteun.

      Miskien moet sy ook haar eie baas word. Heelwat van haar stadsvriende doen dit deesdae: “funemployed” noem hulle dit.

      Hoe lank voel sy nie al vasgevang in ’n werk wat sy nooit beoog het om te doen nie? Sy smag daarna om ’n vryskutskrywer te wees, maar het op die een of ander wyse vasgekeer geraak in die nege-tot-vyf-bestaan en goddelike ontsag vir Die Man wat haar salaris betaal, dankbaar dat sy in hierdie moeilike ekonomiese klimaat ’n werk het, selfs al is dit nie wat sy voor haar geestesoog gesien het toe sy gaan studeer het nie. Daar was ’n tyd gedurende haar studentedae toe sy as musiekrubriekskrywer vir die kampuskoerant geskryf het wat sy wou, maar sy het dit laat vaar toe sy die werk by Eva aangebied is.

      As sy net die guts gehad het om vroeër by die tydskrif te bedank, sou sy dalk nooit vandag breekpunt bereik het en ’n gatvol, vieslike, bloedstollende belediging in haar baas se gesig geslinger het nie.

      Sy draai uit die stadskom op in Buitengrachtstraat wat verander in Kloofnek, en trap die petrolpedaal dieper in teen die helling om gouer in die veiligheid van haar woonstel en Etienne se arms te kom.

      Op elke derde lamppaal staan in groot, vet letters: Einde van Rooikoppie en die Wolf? Foto’s.

      Wie de fok is Rooikoppie en die Wolf?

      Dan onthou sy die skinderstories die afgelope tyd oor Wolf de Jager en Daniella du Toit. Die Afrikaanse musiekster en die made-it-to-Hollywood-aktrise, ’n rooikop-Instafamous it-girl: Eva se troupaartjie-voorbladdroom, a.k.a. Huisgenoot se ideale voorbladskande waiting to happen.

      Blykbaar het dié Daniella ’n skelm verhouding met ’n Amerikaanse akteur gehad. So hulle fairytale is ook in sy moer. Pamina is nie juis verbaas nie. Sy het al die meisie se uiters gewilde Instagram-blad besoek. Dis ’n versameling perfek gestileerde foto’s: ’n sexy selfie van haar wat slaptjips eet (asof sy met daardie slanke lyf ooit régtig ’n hele bord tjips opeet!), ’n foto waar sy net toevallig in haar trui en panty asemrowend mooi lyk agter die stoof, joga-selfies waar geen krieseltjie grimering uit plek uit gesweet is nie, en die gefiltreerde volmaaktheid van haar op die wonderlikste avonture oorsee en by al wat ’n glamourous event is. Alles te ideaal om waar te wees. Obviously, want nou is daar kak in Kammaland. Selfs al is sy beeldskoon, kan Pamina nie verstaan wat dié Wolf in haar sien nie. Met sy diepsinnige lirieke en daardie kyk in sy donkerbruin oë van iemand wie se visie ander dieptes bereik as die gewone mens. Ag, maar klaarblyklik ook ’n blikskottel, as jy als kan glo wat op sosiale media oor sy playboy-doen-en-late versprei word.

      Pamina draai regs uit Kloofnek en ry dan tot bo in die stil, lowerryke straat in Tamboerskloof waar sy en Etienne ’n klein, outydse semi-gemeubileerde woonstel deel. Die woonstel het “baie karakter”, soos die eiendomsagente in die Kaap graag sê, met houtblokkiesvloere, rammelende waterpype en perskepienk teëls in die badkamer. Maar een ding wat nooit oud word nie, is die uitsig op Tafelberg wat soos ’n veranderende skildery deur hul slaapkamervenster geraam word en op ’n helder dag vanaf die balkon lyk asof jy daaraan kan vat. Nog altyd wanneer sy terneergedruk geraak het oor haar werk, of ná ’n onderonsie met Etienne, oor simpel goed soos wie se beurt dit is om skottelgoed te was, was daardie uitsig en die onwrikbaarheid van die berg haar troos.

      Sy parkeer haar Opel en verlustig haar met die uitklimslag vir ’n oomblik in die absolute saligheid van hierdie straat op ’n vroeë weeksmiddag. Die wind ritsel deur die blare van die groot akkerboom voor die woonstelkompleks; iewers blaf ’n hond, lag ’n kleuter, klingel breekware in ’n kombuis.

      Sy bevind haar in ’n ander realiteit as slegs minute tevore in daardie gewraakte kantoor.

      Pamina stap op met die trappe, waar die terracotta-kleurige glansverf plek-plek afskilfer om ’n laag sewentigs-groen te onthul. Op die derde verdieping, toe sy met die lang gang afstap na nommer 305, begin haar hart vinniger klop. Waarmee sal Etienne nou besig wees? Sê nou hierdie dag bou voort op sy nagmerriestatus en sy betrap haar kêrel met iemand anders in die bed, onverhoeds omdat sy hierdie tyd van die dag tuiskom? Sou dit die rede wees waarom Etienne deesdae so ongeïnteresseerd is in seks met haar; is hy besig om haar te verneuk? Nah, dink Pamina, dis te veel van ’n cliché. As hierdie dag nou al een ding bewys het, is dit dat dit nie clichéagtig is nie.

      Tog draai sy die voordeursleutel saggies in die slot en stap met ligte treë die woonstel binne.

      Wolf sit kaalvoet met sy een been oor die ander gekruis op die rooibruin leerrusbank in die groot ontspanningskamer. Hy voel effens beter ná die stort. Sy nat hare hang koel oor sy voorkop en hy het ’n skoon denim en donkergrys T-hemp aan met Nazareth se embleem op die bors – sy gunsteling-rockgroep.

      AJ kom oorhandig ’n beker swart koffie en gaan sit met ’n koppie rooibostee op die leunstoel oorkant hom. Behalwe vir die hoofslaapkamer met sy kingsize bed, is net hierdie vertrek gemeubileer – met onder meer ’n pooltafel, pinball-masjien, grootskerm-TV en kroeg. Groot glasdeure maak oop na die patio. Teen die muur is verskeie kunswerke, die grootste een ’n oorspronklike Paarwater wat hy ten duurste by ’n galery in Breëstraat gekoop het.

      Wolf proe-proe aan die bitter koffie terwyl hy oor die rand van die beker loer na AJ, wie se gesig spreek van ’n kombinasie van sorg en verwyt. Hy laat sak die beker tot op sy skoot en hou dit met albei hande vas, gee ’n lang sug. “Ja, oukei,” sê hy, “die afgelope tyd was ek nie heeltemal myself nie. Maar al wat ek kort, is ’n goeie session by die boksklub. Dit sal my uitsort. Dit was regtig nie nodig om al die shows te cancel nie.”

      “Seriously?” AJ lyk soos ’n pa wat weet sy kind jok vir hom. “Wil jy nou regtig vir my sê jy dink ’n paar houe teen ’n opgestopte slaansak by daai overpriced gym is al wat jy nodig het?” Hy sit sy beker tee op die koffietafel neer en kyk Wolf reguit in die oë. “Fok, dude, wees net vir ’n slag eerlik met jouself.”

      Die erns in sy houding en die stilte daarna laat Wolf kriewelrig voel. “So, wat stel jy dan voor doen ek?” vra hy byna uitdagend, neem ’n sluk van die koffie en strek sy linkerarm uit oor die rugleuning.

      AJ beduie na sy T-hemp. “Got to find a place where you can hide from the rain,” parafraseer hy losweg ’n

Скачать книгу