Soekmekaar. Dana Snyman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Soekmekaar - Dana Snyman страница 4

Soekmekaar - Dana Snyman

Скачать книгу

onthou om haar te bel?”

      “Ek … Ek … Ek het vergeet, Ma.”

      “Jy beter haar nou bel.”

      Hy wens hy was nou in sy ouma se kombuis voor haar Ellis de Luxe-koolstoof waarop ’n pot boontjiesop staan en prut. Hy wens hy was nooit in die army nie. Hy wens hy was die Camel-man wat ná elke beproewing net ’n sigaret kan opsteek, dan is hy weer kalm en tevrede. Hy wens hy was nie twintig jaar oud en onseker oor die toekoms nie.

      “Is jy daar, Seun?”

      “Ek is hier, Ma … Kan Ma my hoor? Hierdie tiekieboks lol al weer. Ek sal vir Ouma bel … Hallo? Kan Ma my hoor? … Baai, Ma. Ek sal weer bel.”

      Hy sit die telefoon terug op die mikkie. Eers toe hy terug is in die bakkie, toe doen hy wat hy geleer is ’n man nooit moet doen nie.

      5. Jou pa

      Hierdie selfone van julle darem. Hy neem op, sê jy? Ek verstaan niks meer van die wêreld nie, Seun. Kan ek maar praat …? Jou pa is gebore op Memel in die Vrystaat. In ’35. Oorle Pappie het toe die werkwinkel gehad. ’n Tannie Smit het my by die huis kom vang. Dit was maar ’n swaar geboorte. Jou pa was ’n negepond-baba. Ek het my lewe lank maar met my gewig gesukkel. Ons was arm. Almal was in daai jare ná die depressie arm. Jy stap kaalvoet skool toe in die ryp soggens. Pappie het vir die boere gewerk en so. Hul rygoed en enjins heelgemaak. Daai ou Listers. Toe is Mammie oorlede. Hoe kan jou pa vir jou sê? Mammie het seergekry met my geboorte, Seun. Dit was anders daai jare. Nie ginekoloë en sulke goed nie. Toe maak Pappie ons groot, vir my en oom Frikkie. Jou pa was al op hoër skool toe kry hy eers sy eerste langbroek. Peanut butter en stroop was vir ons ’n luukse. Jy praat so van apartheid, Seun. Ons het nie apartheid geken in daai jare nie. Ons het saam met die klonkies gespeel en uit dieselfde pot pap geëet met die hand. My maatjie was Sio. Wonder wat van ou Sio geword het. Hierdie Zoeloe wat ek vandag nog praat, kom van hom af, van daar af. Daar was nie geld om te studeer nie, toe gaan loop jou pa mos sy ambag by Amcor op Newcastle, waar ek jou ma ook ontmoet het. Passer en draaier. Sewe jaar … Wat blaf Brakanjan só? Hy sien seker iets. ’n Mens kan deesdae nie meer sonder ’n hond klaarkom nie. Hulle breek so in hier … Daar op Newcastle het jou pa mos kragdadig tot bekering gekom. In een van dominee Attie van Wyk se Pinksterdienste. In ’59. Die Here het jou pa daai aand geroep. Ek het net geweet, jy voel sulke dinge aan, ek moet vir predikant gaan studeer. Ek het van jongs af vir die Zoeloetjies gepreek. Daar op ’n stoel in Pappie se garage gestaan en vir hulle van die Here vertel. So lê jou lewe maar vir jou uitgekap. Ek en jou ma was al getroud toe ons Stellenbosch toe is met die ou Volksie. Dit was nie maklik nie. Grieks en Hebreeus vir jou pa wat nie Engels behoorlik kan praat nie. Toe is jy ook mos gebore ook, daar op Stellenbosch. Toe huur ons twee kamers by ’n ou tannie in Van Riebeeckstraat. Nommer 18, dink ek. Dit was seker ook nie vir jou ma maklik nie. Sy moes die pot aan die kook hou … Nee dankie, jou pa het genoeg gehad. Kry vir jou nog. Ek hou maar van daai Twee Jonge Gezellen … Dis daar op Stellenbosch waar die Broederbond my genader het. Of die Ruiterwag. Jy is eers in die Ruiterwag. Jy weet, Seun, ons wou eintlik net goed doen. Ons het gedink as die land vir die Afrikaner sterk is, sal dit vir almal sterk wees. Jy weet self, ons was goed vir ons mense. Onthou jy ou ai Souf op Daniëlskuil? Sy was nog van die goeie ou soort. En Simon. Hy was eenkeer saam met ons see toe. Onthou jy? Hulle sê nou ons was sleg, maar ons het nooit gemoor en geroof nie, en ons was ook arm. Ek weet nie, Seun. Ek weet niks meer nie. Ek het altyd maar by die Bybel probeer bly. God se Woord. Maar toe … Ek moet vir jou eerlik sê, Seun, die Nasionale Party was vir jou pa ’n teleurstelling. En die NG Kerk. Hulle het … In PW se tyd toe is dit skielik hierdie hervorming-hervorming-stories, ons moet nou hervorm. Toe is ek mos oor na die KP toe. Dis toe jou pa ook uit die Broederbond bedank het, weet jy? Onthou jy hoe doktor Treurnicht by ons aan huis gekom het op Naboomspruit? Ek het nog daai boek van hom hier wat hy geteken het. Credo van ’n Afrikaner … Wat is dit met Brakanjan vanaand? Seker mense in die straat. Hulle het mos nou hierdie sjebeen hier op die hoek by die hotel. Het jy gesien? Dit help nie om by die polisie daaroor te kla nie … Ons was nie reg vir die nuwe Suid-Afrika nie, Seun. Toe FW met sy dinge begin, toe is jou pa mos uit die NG Kerk uit en mos oor na die APK toe. Toe mos AWB toe. Toe kom ons hiernatoe mos … Dalk moet jy my tog bietjie gee. Skink maar daar vir jou pa … Dankie … Jou pa het gedink ons … die AWB … sal kan sorg dat ons Afrikaners ons eie grondgebied kry waar ons onsself kon regeer volgens ons eie waardes. Maar jy weet, Seun, oom Gene het eintlik maar sy swakhede gehad, jou pa wil nie nou sleg oor hom praat ná sy dood nie … Nee, nee, ek gaan nie. Eugène Terre’Blanche en die AWB is ’n boek wat ek toegemaak het … Jy weet … Nee, ek gaan nie, Seun … Jy weet, in daai tyd, ek praat nou van lank terug, het hulle vir ons gesê as Mandela uit die tronk kom, jaag hy al ons wittes in die see in en toe gebeur dit nie, jy weet. Hy was eintlik ’n gawe ou man, Mandela. Nou sit ons met Zuma en Malema en hierdie klomp wat die stadsraad rot en kaal besteel. Ek weet nie waar gaan alles heen nie. Johannes sê die burgemeester het vir haar ’n nuwe double cab-bakkie gekoop. Sy het nie eers ’n liksens nie. Hulle steel ons rot en kaal. Kyk hoe lyk dit hier buite. Jou pa is dom, Seun. Hy weet niks meer nie. Nou sê party van hierdie teoloë ook nog die Bybel is net ’n klomp stories, Genesis is ’n leuen, ons kom van evolusie af. Ek is net bly ek het ou Johannes. Jy weet, Seun … Jy weet … Jy gaan dalk snaaks van jou pa dink, Seun. Maar weet jy? As ek swart was, was ek dalk ’n terroris. Dit sê jou pa vir jou vandag … Dis hoekom ek vir Johannes gesê het hy moenie meer vir my Oubaas sê nie … ’n Mens is maar spyt oor sekere dinge in jou lewe, Seun. Dit kon ook nie altyd vir jou ma maklik gewees het nie … Verskoon my, Seun … Jammer … Jy moet jou pa maar verskoon, jou pa se emosies raak deesdae te veel … Sit eers af daar. Gaan kyk vir wie blaf Brakanjan so.

      (Transkripsie van ’n gesprek wat ek met my pa, Coenraad Frederik Wilhelmus Snyman [1935 – 2012], op my selfoon opgeneem het op die aand van 5 Desember 2011 by die kombuistafel in sy huis op Ventersdorp.)

      6. 15 Maart 2019

       (’n Dagboekinskrywing)

      Het pas ontbyt geëet. Weet-Bix en melk. Met te veel suiker oor. Op ’n plaas naby Pretoria het aanvallers ’n jong man se hond voor sy oë aan ’n tou voor ’n venster opgehang en toe die hond doodgeskiet. Die hond, ’n bostonterriër, se naam was Jimmy. Twee skoolseuns, onderskeidelik vyftien en sewentien jaar oud, is by ’n skool in Boksburg in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ’n meisie en medeleerling, dertien jaar oud, verkrag het. By dieselfde skool het die gewese skoolhoof en van die onderwysers glo ’n paar jaar gelede seksuele dade met leerlinge gepleeg. ’n Jong vrou is in die Vrygrond-plakkerskamp op die Kaapse Vlakte deur ’n man met ’n mes doodgesteek toe sy wou ingryp nadat die man ’n gestremde persoon aangeval het. Die sewejarige meisie wat in die Dros in Silverton se toilette na bewering deur ’n jong man verkrag is, het om hulp geroep en geroep. Die meisie is daarna na ’n dokter geneem. Haar geslagsdele was geswel, gekneus en geskeur. Meer as 800 Absa-werkers kan hul werk verloor. Jeff Bezos, uitvoerende hoof van Amazon, is met sy fortuin van $112 miljard, steeds die rykste persoon in die wêreld. Een mens met soveel geld? Is dit nie ’n vorm van geweld nie? Werklose se lyk in sloot gevind. Die jong man wat na bewering sy vriend se ma met ’n blompot in haar huis doodgeslaan het, het gehuil die dag toe hy in hegtenis geneem en in ’n polisievoertuig gelaai is. ANC-raadslid doodgeskiet. Man deur pastoor uit dood opgewek in Witbank. Trump onttrek aan vredesamesprekinge met Noord-Korea. ’n Vrou wat haar stiefseun se kos na bewering by sy keel afgedruk het toe hy te stadig geëet het, het op ’n aanklag van kindermishandeling skuld beken. Die seun het krapmerke van die vrou se naels in sy mond en aan sy keel gehad. Later is die seun gedwing om die vloer met ’n tandeborsel skoon te maak toe hy opgegooi het van die kos wat by sy keel afgedruk is. Die twee veroordeeldes van Coligny hou vol hulle het nie die seun van die bakkie gegooi nie. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sê hy ontvang talle klagtes oor skole waar steeds lyfstraf toegepas word. Die sangeres Corlea sê sy was die

Скачать книгу