Soekmekaar. Dana Snyman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Soekmekaar - Dana Snyman страница 5
Dit alles het ek in die koerant gelees terwyl ek my Weet-Bix en melk geëet het. By die storie van die jong man wat naby Pretoria aangeval is, is ’n foto van Jimmy, die bostonterriër, wat deur die aanvallers doodgeskiet is. Ek het lank na die foto gekyk, en gekyk.
Iets in my wou huil, wou tjank, wou skreeu. Maar ek kon nie. Net ’n hol gevoel in my. Hoekom sou ek in elk geval wou treur oor ’n hond wat ek nie geken het nie? Hoekom sou ek wou hartseer raak oor mense wat ek nooit ontmoet het nie? Maar hoe kan ek dan nié treur oor wat ek in die koerant lees nie.
7. Kruisvuur
Ek sit in Charlie’s, drink ’n cappuccino en lees die koerant. Die deur swaai oop en ’n man kom in, selfoon teen die oor. Hare deurmekaar.
Buite waai ’n woeste Kaapse wind.
“Die polisie was daar,” sê hy in die foon. “Lyk nie of daar enige vingerafdrukke is nie. Ja … Ek weet nie … Ek weet nie. Sê net hy moet my bel, asseblief. Ek móét met hom praat … Dankie. Baai.”
Hy laat sak die foon en knik effens verleë in my rigting, stap na die tafeltjie in die hoek, sit die foon en ’n bos sleutels daarop neer, trek ’n stoel uit, gaan sit. By nie een van die ander tafeltjies is iemand nie. Iewers neul ’n Kenny G-saksofoon uit ’n luidspreker. Ek skat hom iets in die vyftig. Gryserig om die slape. Dit lyk of hy nog nie kans gehad het om te was en te skeer en ordentlik aan te trek nie. Sy T-hemp is vol kreukels, sy een Nike-tekkie veterloos.
’n Kelner kom staan by hom, spyskaart in die hand.
“Net ’n gewone Americano. Met warm melk.” Sy stem is moeg.
Hy sit ’n paar oomblikke stil voor hom en uitstaar toe die kelner wegstap, dan tel hy sy foon van die tafel af op, lees iets op die selfoon se skermpie, tik iets met ongeduldige vingers, sit die foon weer neer.
Onder die tafel wip sy een been op en af.
Hy kelk sy hand om die melkbekertjie om te voel of die melk warm is toe die kelner dit saam met die Americano voor hom neersit. Dan lui sy foon. Hy kyk vlugtig in my rigting, en tel die foon op.
“Luister, kan ek jou terugbel? Ek wag net vir ’n oproep. Ja … Ja … Hulle is tot met my skoene weg … Ja … Ek is net bly ons leef … Dankie … Reg. Ons praat … Ek sal. Ek sal … Dankie. Ons praat.”
Hy sit die foon weer neer, trek ’n pakkie suiker uit die bakkie voor hom, skeur dit oop, gooi die suiker in die koffie, tel ’n teelepeltjie op, roer die koffie en kyk na die mense wat skuinserig in die wind buite voor die venster verbyskarrel.
Sy hand skiet dadelik uit na sy foon toe dit weer lui. “Hallo.” Hy staan op en stap na die deur met die foon teen sy oor. “Nee. Moet dit nie vir my sê nie.” Hy gaan staan. “Wanneer sal hy terug wees? Ek kan dit nie glo nie. Ek móét met hom praat … Ja … Ja … Is jy seker? Ek kan dit nie glo nie … Goed. Môre. Dis seker maar reg so. Wat kan ek sê?”
Hy kom teruggestap na sy tafeltjie toe. “Enige tyd sal my pas … Ek sê: Enige tyd! … Ja … Oukei …” Hy laat sak die foon. “’n Lekker daggie vir jou ook. ’n Fantastiese daggie vir jou.”
Hy smyt die foon op die tafel neer en gaan sit, laat sak sy kop in sy hande. Onder die tafel begin sy been weer op en af wip.
Buite tjank die wind om die gebou se hoeke.
8. Basie
Fok dit, dit kan nie so aangaan nie. Dis tyd lat ons Afrikaners saamstaan. Genoeg is genoeg. Kyk net hoe word ons boere op hul plase gevermoor. Kyk wat word van Afrikaans. Oral word ons uitgeskuif. Nêrens stel hulle meer ’n Afrikaner aan nie. Die ANC, die EFF – die hele spul soek ons nie hier nie. ’n Mens kan ook nie meer die DA trust nie. Jy kon darem nog altyd vir hulle stem, maar kyk wat het nou weer by daai skool gebeur. Hulle vat wragtig die EFF se part. Die DA hou nie regtig van ons Afrikaners nie. Hulle gebruik ons net om vir hulle te stem. En wat gaan met die Vryheidsfront aan? Kruip nou by die Kleurlinge. Belaglik! Solidariteit en AfriForum traai hul bes. Hulle probeer minstens die potholes in die paaie toegooi. Maar gaan ou Flip en ou Kallie nie op die ou end maar weer voor die ANC kruip nie? Nes generaal Jannie Smuts destyds voor die Engelse gekruip het. Daar is nou vir jou ’n verraaier as daar ooit een was: Smuts. Kyk wat het hy met Jopie Fourie gedoen. Mense gaan so tekere oor ou generaal De la Rey, maar De la Rey was ook maar ’n ou bliksem. Hy het die rebelle in 1914 in die steek gelaat. Die beste van hulle almal bly maar ou generaal De Wet. Ons het weer ’n De Wet nodig. Generaal De Wet het nie kak gevat nie. Of iemand soos Eugène Terre’Blanche wat weet hoe om ons mense op te sweep. Terre’Blanche het net te veel gedrink en van sy perd afgedonner. Jy kon ook nie regtig vir oom Jaap Marais stem nie. Oom Jaap met sy budgies. PW was seker ’n goeie leier, maar PW was ’n regte ou korrelkop. PW moes nooit toegelaat het dat die KP van die NP af wegbreek nie. Dis waar ons trouble begin het, want in ’91 toe ons almal nee in FW se referendum moes stem, toe stem die meeste ja. FW het ons uitverkoop. Verraaier. Tipies Dopper. Nie dat die klomp in die NG Kerk beter is nie. Die liberaliste het die NG Kerk oorgevat. Maybe moet ons vir selfbeskikking gaan? Maar waar? Die klomp in Orania is al klaar weer aan die baklei. Ons moet terugkeer na God toe. Ons het nou eintlik vir Verwoerd nodig. Die probleem is: Ons het nie leiers nie. Wat het van Kortbroek geword? En waar is Constand Viljoen? Dis net jammer oom Angus is Engels, hy sou ons kon gelei het. Maybe moet Steve Hofmeyr tog maar sy party stig. Steve kom darem op vir die Afrikaner. Maar Steve is nie ’n politikus nie. Steve is soos Piet Retief. Steve het mos saam met Zuma gebraai, nes Retief saam met Dingaan. En kyk wat het met Retief-hulle gebeur? Die Voortrekkers het in elk geval ’n fout gemaak, hulle moes nooit Natal en Transvaal toe getrek het nie. Hulle moes Suidwes toe getrek het. Nou sit ons met al die shit. Ons sal moet saamstaan. Hierdie keer het ons nie ’n keuse nie. Hoekom kon ons Afrikaners nog nooit saamstaan nie? Wat de fok gaan met ons aan?
9. A better life for all
Oral waar jy gaan, sien jy mense wag. Party staan. Ander lê. Die meeste sit.
Hulle sit op plastiekstoele voor karige huisies. Hulle sit op die trappe voor winkels en poskantore en Cash Converters. Hulle sit op die muurtjie by die slagpale waar ’n varkkop op ’n Donderdagmiddag slegs R25 kos.
Hulle sit in kliniekrye, vasgebind met ’n kombers op ’n moeder se rug. Op die stoep van ’n ouetehuis wat se staatsubsidie al weer laat is. In hofsale. In die tronk, in die bank en by daardie kruiedokter van Zanzibar wat belowe hy kan jou verlore geliefde terugbring en jou van vigs genees.
Hulle sit by skuldberaders, by die regshulpkliniek en in die balju se kantoor. Hulle sit op die hoek by die drankwinkel en langs die pad by ’n bus wat duskant Britstown gebreek het. Op die verdorde grasperk voor ’n afgebrande munisipale kantoor sit hulle. In die Australiese en Kanadese ambassade en in die stowwerige gange van die hofgebou.
Hulle sit op hoë stoeltjies in kroeë en op omgekeerde bierkiste in sjebeens. Hulle sit op die sawwe banke van kerke en kry brood by lawaaierige predikers – brood wat in klippe verander sodra hulle hul karige bydrae in die kollektebord gegooi het en by die deur uitstap.
Hulle sit in die begrafnisondernemer se plek, met voosgevatte boekies in die hand. Hulle sit in Sassa-kantore en in ’n bleekblou Camry iewers