Vloek. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vloek - Rudie van Rensburg страница 14

Автор:
Серия:
Издательство:
Vloek - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

anders as byvoorbeeld Kroll, Pinkerton National Detective Agency en Booz Allen Hamilton in Amerika, AEGIS en Hakluyt & Company in Brittanje en Black Cube in Israel.”

       O’Reilly beduie na die lêer. “Jy kan dit later op jou tyd deurgaan. Die belangrikste om te weet is dat ons die ondergrondse been van verskeie Westersgesinde intelligensiedienste is.”

      “Suid-Afrika s’n ook?”

      O’Reilly sug. “Ongelukkig nie. Ons Staatsveiligheidsagentskap is veels te hand op die blaas met die Russe en die Chinese, wat die land outomaties diskwalifiseer.”

      Hy leun terug in sy stoel. “Raait, laat ons by jou opdrag uitkom. Eerstens wil ek beklemtoon hoe verheug ek is dat jy ingestem het om ons te help.”

      “Ék is die een wat dankbaar moet wees,” sê Carl, “want ek het my identiteit terug. Jy het my ’n enorme groot guns bewys. Ek hoop net ek stel julle nie teleur nie.”

      “Jy sál nie. Dit weet ek uit ondervinding.”

      Die oortuiging waarmee die ouer man praat, laat Carl ongemaklik voel. Die druk gaan sonder twyfel op hom wees.

      “Wees gerus, Carl. Jy’s nie op jou eie nie. Len is voltyds tot jou beskikking, en ons ander twee personeellede sal as jou inligting- en navorsingsentrum dien. En ek’s ook heeltyd hier om jou te ondersteun. Ons span vergader later vandag om jou vollediger inligting oor die betrokkenes in die saak te gee.”

      O’Reilly haal ’n tweede lêer uit. “Maar dalk is dit goed dat ek jou eers net in die prentjie bring. Drie maande gelede het ’n senior amptenaar van die Switserse inkomstediens dokumente oor geheime bankrekenings aan die CIA gelek. Dis gegewens van letterlik duisende mense se bankrekenings, wat saam bykans honderd miljard dollar bedra. Die nuus oor die lekkasie is nie heeltemal dig gehou nie en nuushonde wêreldwyd het daaroor begin navraag doen. Intussen is die Switserse fluitjieblaser in ’n tref-en-trap-ongeluk dood, wat die CIA vas glo die werk van ’n soort derde mag was. Gelukkig het die media nooit die name van die rekeninghouers in die hande gekry nie en het die CIA ontken dat hulle bedragspesifieke besonderhede van die Switser ontvang het. Daar is onder meer ’n paar vooraanstaande Amerikaanse politici tussen die duisende oortreders, wat ’n helse verleentheid vir Amerika sou wees as dit moes uitkom. Van groter belang is die lys name van die tophonderd met die meeste geld in hul geheime rekenings. Dit lees soos die who’s who van die misdaadonderwêreld – bekende Suid-Amerikaanse dwelmbase, wapenhandelaars, geldkoeriers vir diktators in die Derde Wêreld en ander internasionale misdadigers.”

      Hy aarsel ’n oomblik, glimlag. “Met die uitsondering van nét ses mense was die CIA bewus van elkeen van die tophonderd se bedrywighede. En aanvanklik was hulle verstom oor hulle geen inligting oor dié ses kon kry nie, al het hulle oor die name beskik. Hulle het egter gekonsentreer op die ander vier-en-negentig, op wie hulle kon toeslaan via die FBI en die wetstoepassers van verskeie Westerse lande.”

      Hy tik met ’n vlesige vinger op die lêer. “Die ses onbekendes was dus lank onder hulle radarskerm, totdat drie van hulle die afgelope maand hier in Suid-Afrika vermoor is. Toe eers het die CIA besef daar is ’n verband tussen die mans. Hulle het al drie van ander lande hierheen gevlieg en is kort ná hul aankoms in Kaapstad vermoor. Nou glo die CIA – en ek is geneig om met hulle saam te stem – dat die moorde dui op iets van internasionale belang. Moontlik ’n globale misdaadsindikaat wat dié ses se bedrywighede dringend wil toesmeer.”

      “En hulle vermoed die oorblywende drie gaan dieselfde paadjie as die vermoordes loop?” vra Carl.

      O’Reilly knik. “Als dui daarop.”

      “Is die SAPD bewus van die verband tussen die vermoordes?”

      “Gelukkig nie. Behalwe dat hulle nie insae het in die name op die Switserse banklys nie, is die moorde op verskillende maniere en plekke gepleeg, wat ek glo die moordenaars met voorbedagte rade doen. Kry die polisie egter snuf in die neus dat daar ’n verband is, sal dit in ’n japtrap wêreldnuus wees en in die proses ook die moordenaars waarsku dat die gereg op hulle spoor is. As hulle dan hulle modus operandi verander, bedonner dit ons kanse om agter die kap van die byl te kom.”

      “Hoe het julle die inligting oor die moorde bekom? Net gesteun op mediaberigte?”

      O’Reilly glimlag. “Nee, ons het ’n kontakman by die polisie. Hy is op Mercurius se betaalstaat, verdien meer by ons as by die polisie. Hy werk by die mediaskakelafdeling in Kaapstad en ontvang afskrifte van die polisiedossiere en forensiese verslae van elke enkele moord wat in die land gepleeg word, wat hy, indien ons dit versoek, vir ons aanstuur. Die enigste nadeel is dat hy die inligting nie altyd dadelik kry nie. Maar omdat hy die name van ons ses mans het, is hy heeltyd op die uitkyk vir hulle. Hy moet egter baie versigtig wees met navrae om nie agterdog by sy kollegas te wek nie.”

      Hy staan uit sy stoel op. “Dis kortliks die agtergrond, maar vanmiddag sal jy ’n meer volledige prentjie kry. Nie nodig om nou al jou kop daaroor te breek nie.”

      Hy kyk op sy horlosie. “Amper twaalfuur. My voorstel is ek en jy gaan eet iewers. Hier om die draai in Breestraat is ’n paar uitstekende restaurante. Dan kan ek sommer hoor of jy tevrede is met jou blyplek en of jy nog ander behoeftes het.”

      Toe Carl saam met hom uit die kantoor stap, kan hy die ongemak in sy gemoed beswaarlik afskud. Dit lyk of O’Reilly vir geen oomblik daaraan twyfel dat hy hierdie saak vinnig gaan uitpluis nie.

      15

      Donderdag 8 Julie 2004 – DRK

      Nie Baako óf sy luitenante het hulle sien kom nie. Hulle was nog besig om register te neem van die werkers toe die swaar gewapende soldate geluidloos uit die bosse verskyn.

      Baako eien hulle dadelik aan die kentekens op hul uniforms as soldate van die FDLR – Forces démocratiques de libération du Rwanda.

      Hy en die vier luitenante word beveel om plat op die grond voor die groot tent te gaan sit. Die soldate praat nie, hou net hulle wapens op Baako-hulle en die werkers gerig.

      Pêrels sweet slaan op Baako se voorkop uit. Hierdie is nie goeie nuus nie. Awax, sy baas, het genoem dat die FDLR deesdae hier in die ooste van die Kongo bedrywig is, maar hy’t nie gedink dit hou ’n bedreiging vir hulle myn in nie. Volgens hom is daar baie groter myne in Suid-Kivu waarop die FDLR sal toeslaan.

      Boonop het Awax die steun en beskerming van die Rwandan Patriotic Army, die militêre vleuel van die Tutsi’s. In ruil daarvoor moet hy amper dertig persent van die myn se wins aan hulle afstaan.

      Maar Baako het gerugte gehoor dat die Hutu’s van die FDLR die oorhand kry oor die Rwandan Patriotic Army. Dié twee groepe het bly voortveg ná die Tweede Kongolese Oorlog verlede jaar beëindig is. Die feit dat ’n mens nooit meer die Rwandan Patriotic Army se soldate in die dorp of omgewing sien nie, moet beteken dat die gerugte waar is. En blykbaar steun Joseph Kabila, die DRK se president, self lankal die FDLR.

      Awax was aan die verkeerde groep lojaal.

      En nou gaan Baako die prys daarvoor betaal.

      Hy kan sien die soldate wag op iemand, want hulle kyk gereeld in die stofpad se rigting.

      Ná ’n ruk hoor hulle die dreuning van ’n voertuig aankom. Dis ’n Land Rover met drie insittendes.

      Die viertrek stop langs die groot boom. Twee wit mans

Скачать книгу