Die kind uit die wingerd. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die kind uit die wingerd - Helene de Kock страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Die kind uit die wingerd - Helene de Kock

Скачать книгу

      Teëpraat sal nie help nie. As oom Janus besluit het dis ’n brandewynaand, dan is dit so goed soos die oproep tot ’n kerkraadsvergadering. Dieselfde somber erns, die sekerheid dat daar wel ’n stewige agenda is.

      Hulle maak hul tuis in die vertrek met sy mure vol houtrakke met leergebonde boeke. Oom Janus agter sy studeertafel en hy en Cecil in die gemakstoele by die leë haard. Hier is oom Janus die skinker. Toe die brandewyn oop is, gooi hy dit plegtig in ’n kristalkraffie uit, een wat hy glo toentertyd uit Nederland saamgebring het. Skink toe in die drie glase en maak ’n gebaar dat die seuns hulself maar kan help. Hulle hou hul hande om die bolglase en voor die bors, versigtig, sodat die brandewyn nie in die glas rondbeweeg nie. Die brandewynglas word heel stadig gelig.

      Laurens verlekker hom daarin. Want hier voor die bors word die fyner aromas opgetel. Die verleidelike parfuum van vars vye, ook speserye waarvan kaneel die prominentste is, en daardie onmiskenbare sitrusgeur. Hy lig sy glas stadig tot by sy ken. Raak bewus van die geur van droëvrugte. Salig. Hy haal deur sy mond en neus asem om die meer komplekse aroma van speserye op te tel. Hy sug innerlik. Enersyds van lekkerkry en andersyds van magtelose frustrasie. Dis wat hy heeldag sou wou doen. Wyn maak. Brandewyn stook en versny. Dit pas by sy temperament. Die stadige, dog seker pas van tyd en seisoen, druif en wyn.

      Maar hy glimlag onverstoord saam met die ander twee. Dit is immers ’n seremonie wat van ver af kom. By oom Janus en oom Peet geleer. Al waarvan Laurens nie seker is nie, is waarop hulle gaan drink. Hy kyk vraend na oom Janus.

      “Ons drink op studies,” sê oom Janus.

      Cecil se skouers sak merkbaar. “Op studies,” herhaal hy flou.

      Oom Janus proe aan sy brandewyn, brom tevrede uit sy keel. “Jy kan dit weer sê, Cecil. Jy sal moet gou speel dat jy kan klaarmaak. Jy sleep nou al hoe lank daai klomp vakke.”

      “Ja, Pa,” sê Cecil en pers sy mond saam.

      “Wat ook al. Jy moet klaarmaak. Dit kom nou daarvan dat jy ’n ander spul nuttelose vakke ook geneem het. Jy het jou oorlaai. Hoeveel maal het ek al daaroor gepraat.” En ná nog ’n sluk brandewyn: “Veral noudat Laurens ons gaan verlaat, moet jy opskud. Dis terloops op sy studies wat ons drink.”

      Die brandewyn skop onverwags in sy maag. Dis nou van oom Janus. Verrassings is sy forte. Selfs Cecil lyk onverhoeds gevang.

      “Waarheen gaan hy, Pa?” vra hy stomp, sy blinkbruin blik ontstemd en vraend op Laurens. Asof hy sal weet.

      “Wil ek ook weet, as ek mag vra, oom Janus.”

      Laurens sak terug in die diep stoel. Maar die ongemak bly. Sy vingers wil kramp om die glas. Maar hy vra nie verder nie.

      Eindelik lig oom Janus sy blik uit die amberblink vog in sy glas en praat met hom, al swenk sy donker oë plafon toe. “Ek het gereël dat jy volgende jaar Leiden toe gaan om verder te studeer. Dis net reg dat jy, wat so goed doen in jou vakgebied, kans kry om jou verder te bekwaam.”

      “Maar ek … ek dink nie ek wil nie,” stotter hy ontsteld.

      “Natuurlik wil jy,” proes oom Janus en neem nog ’n vinnige sluk van die drank. “Wie sal nou nie aan die Universiteit van Leiden wil studeer nie? Liewe land, die plek bestaan sedert 1575 en het van die beste regsprofessore in die wêreld.”

      Laurens demp sy protes net betyds, want oom Janus klink skoon uitasem. Maar ’n seker wete staan in hom op: hy was dom. Kortsigtig. Bloot omdat dit tot dusver te moeilik was om die werklikheid in die oë te kyk. Hierdie dag moes hy instinktief voel kom het. Sy oë bly op die brandewyn in sy glas, hy lig dit weer om die boeket in te adem. Bessies en vanielje en nog iets wat hy om die dood nie nou kan eien nie. Want dit voel of die ander twee akuut bewus is van enige reaksie van sy kant af. Cecil moes tog seker geweet het wat sy pa beplan. Hy het niks laat blyk nie.

      “Hoe het Oom dit reggekry?” vra Laurens. Die vraag klink selfs vir hom kortaf.

      Oom Janus stoot twee vingers deur sy swartgrys kuif. Proe weer aan die brandewyn en toe kom die woorde: “Ek het baie kontakte in Nederland, nes Peet. Jy weet tog van ons oom Wilhelm Waterink wat destyds in Leiden gewoon het? Ons … e … het al dikwels van hom gepraat. Hy was mos aan die universiteit verbonde. Ek korrespondeer nog soms met my neef se seun wat ’n afgetrede professor aan die Leidse universiteit is. Dié woon nou in Delft, maar het heelwat invloed.” Hy trek sy asem diep in, hou dit in voordat hy vinnig afsluit: “Ons Erasmusse en die Nederlanders is mos maar ’n verweefde klomp.”

      Omdat die moedswil en ook die angs in hom stu, vra Laurens: “Wat bedoel Oom, die Erasmusse is verweef met die Nederlanders? Beteken dit ek is ook aan hierdie Nederlanders verwant?”

      Oom Janus verstik amper in sy brandewyn. Hy kug ’n slag, sit die glas neer. Draai na Cecil wat star sit en luister. “Gee ons bietjie privaatheid, asseblief,” beveel hy.

      Cecil trek een wenkbrou op en loop uit.

      “Mag hy nie weet nie?” vra Laurens. Sy binneste beef. Hy het nog selde in sy bestaan hier op Vredenhoek so reguit met hierdie man gepraat. Deels omdat die geleentheid hom net nooit voorgedoen het nie en ook omdat Janus Erasmus se plofbare humeur menige gesprek in die kiem smoor. Openlik gesels ken Laurens nie in hierdie huis nie.

      Oom Janus kug weer. Kyk hom direk aan. “Dis nie dat Cecil nie mag weet nie, ek dink net dis tyd dat jy weet dat …” Dis of sy asem wegraak.

      “Dat?” Laurens sit vorentoe, voel hoe tot die klein spiertjies in sy hande saamspan.

      “Dat jy ook uit Nederland stam. Dit vermoed jy darem seker.”

      “Omdat ek mislik geword het toe ek daardie dag op die kaai daardie groot skip gesien het? En omdat ek steeds ’n paar Nederlandse frases onthou? Ja, ek het al daaroor gewonder. Maar slegs bolangs. Miskien wou ek nie wonder nie.” Dis moontlik dalk die eerlikste sin wat hy nog teenoor hierdie man kwytgeraak het. Die ontsteltenis het sy woorde losgemaak.

      Oom Janus staar na hom, die kleur op sy wangbene hoog. “Jy sal seker wil weet waarom ons jou nog nie vroeër daarvan gesê het nie.”

      “Ek wil nou alles weet, ja. Ek weet wel dat die Groot Oorlog tot in 1918 geduur het. Ek wil weet waarom ek in 1916, toe die oorlog nog gewoed het, per skip hierheen gestuur is?”

      Maar oom Janus skud sy kop heftig. Hy word persrooi. “Ek is nie die aangewese een om jou te vertel nie.”

      Laurens trek sy asem hoorbaar in. “Oom Janus, ek is ’n volwasse man. Vertel my, asseblief.”

      Oom Janus lig sy kop effens. “Wel, Laurens, jy is regtig ’n Erasmus. Maar ek durf niks verder sê nie. Dit is ’n baie sensitiewe saak. Meer mense word geraak.”

      “En ek die meeste.” Hy klink bitter. Dis of die skielike openhartigheid van oom Janus saam met die brandewyn hom vanaand braaf maak. Dalk roekeloos ook. Hy neem ’n diep sluk van die gloeiende vog. Dit gaan vurig af. En hy merk dat oom Janus hom effe geskok beskou. Maar vir suutjies trap in hierdie huis is Laurens nou moeg. Dis ’n woedende satheid wat op hierdie aand onverhoeds in hom ontketen is. Dit skraap sy binneste rou.

      Netnou nog in die kelder was alles reg met hom. Die aanvaarding van sy plek hier op Vredenhoek was jare al beleë in hom. Die intuïtiewe wete van sy buitestanderskap het ook gehelp. Dis nie asof hy hierdie plek vir hom toegeëien het nie. Hy het hom wel hier as werker gesien. In die wingerde en veral in die kelder. Hy wou

Скачать книгу