Die kind uit die wingerd. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die kind uit die wingerd - Helene de Kock страница 7
Die stilte in die studeerkamer het dik geword. Hy kyk op in Janus Erasmus se altyd onleesbare blik. Tog bespeur hy ’n soort benoudheid. Iets verdags. Soos ’n rokie wat trek waar dit nie moet nie.
“Ek wil nie gaan nie,” sê Laurens hard. “As ek hier in die pad is, sal ek ’n ander plan maak, maar ek gaan nie Nederland toe nie.”
Oom Janus gooi sy hande driftig in die lug. “My hemel tog!” weerklink sy stem in die vertrek. “Gebruik jou goeie verstand. Iewers daar, ek bedoel in Nederland, is mense wat jou bloedmense is. Hulle wil jou ontmoet.”
“Ek dag julle is my bloedverwante.” Sy stem is sag maar ferm. “Ek moes met ’n rede hierheen gestuur gewees het. As dit waar is dat ek ook ’n Erasmus is.”
Hy sien selfs in die flou lig van die staanlamp dat oom Janus se gesig aardig verkleur, tot die are in sy nek bult. Die man sluk en sluk.
Laurens skrik effens. Hy staan op. “Kan ek vir Oom water ingooi?”
Oom Janus knik twee maal stywerig. Laurens skink water uit ’n glaskraffie in ’n brandewynglas. Kyk hoe die ouer man dorstig sluk. Toe hy weer die glas by hom neem, raak hul vingers aan mekaar. Oom Janus pluk syne weg, kyk venster se kant toe waar die gordyne al dig getrek is.
“Asseblief, Laurens, gaan net.” Sy stem is ’n hees smeking. “Volgende jaar, so net ná die parstyd moet jy gaan. Jy kan later weer terugkom. Jy … e, weet tog dat jy welkom is hier. Jy het tog hier grootgeword, mens geword. Ons … e, gee om vir jou.”
Hulle gee om? Sekerlik, ja. Hulle het vir hom ’n huis gebied. ’n Hawe. ’n Tydelike een, blyk dit nou. Nes ’n skip. Wat het hom in elk geval anders laat dink? Of droom? Laurens bly staan, hande op die heupe. “Waarom die groot geheimhouding, oom Janus? Wie se goeie reputasie is nog altyd op die spel?”
Skrik en ’n byna wanhopige smeking verdring die gewone onleesbaarheid van sy blik. “Asseblief, Laurens.” Dis ’n patetiese fluistering wat hom net kwater maak.
Tog weet hy ook hy gaan niks verder uit hierdie mens kry nie. Dat hy reeds soveel openbaar het, is ’n volslae wonder. “Goed dan. Maar eendag sal ek nog uitvind. Ek reken elke mens is geregtig op volledige, feitelike kennis van sy herkoms.” So direk was hy ook nog nooit. Die Vader alleen weet waarom hy so lank met soveel onderdrukte vrae geloop het. Moontlik is dit daardie dag se aankoms uit die wingerd. Die ingeskape kennis dat hy ’n vreemdeling is en versigtig moet trap om ’n holte vir sy voet te vind. Dit is ’n besef wat met die jare gegroei en hom na binne laat keer het. Hy, wat sy mond so glad in die regsklasse kon oopmaak, was nog altyd eerder ’n swyer in hierdie huis. Behalwe as hy oor wyn praat.
Hy kyk nog een maal na die eensklaps versonke figuur agter die lessenaar. “Nag, Oom. En dankie.” Presies waarvoor hy dankie sê, weet hy nie. Maar dis seker die regte ding om te doen. Nou wonder hy mos ook: hoe het hy nog altyd geweet om min of meer die regte ding te doen? Is dit in sy bloed, of waar het hy dit geleer? Moontlik is dit ’n aangebore oerversigtigheid.
Toe hy deur die stil gang na sy slaapkamer toe loop, raak hy bewus van hoe droog sy mond is. Hy sal vannag weer nie ’n oog toemaak nie. Slegte slaper wat hy buitendien is, het die aand se emosionele gesprek hom aan die een kant uitgemergel en aan die ander kant sy kop skerp gemaak. Hy is so wakker soos ’n uil in die donker.
Hy trek net sy skoene uit, loop op sy sokkies weer terug. Sien dat oom Janus ook kamer toe is, want die studeerkamer se lig is af. Verligting golf deur hom. Dan kan hy soontoe gaan. Hy glip by die deur in en steek die kers aan wat altyd onder die groot spieël op die kaggelrak staan. Nader aan die boekrak laat hy sy vingers rakelings oor die rye leergebonde boeke gly. Die meeste daarvan het hy al gelees. Maar vannag gaan hy een nodig hê wat bekend is. Enigiets wat bekend is en hom kan anker. Sy blik haak vas by Dickens se David Copperfield. Hy haal dit uit en gaan sit in een van die leunstoele. Die kerslig flikker onseker oor die oop blaaie.
Maar sy kop loop kronkelpaaie en die boek bly ongelees op sy skoot lê. Sy gedagtes gaan terug na sy tiende jaar hier op Vredenhoek. Hy kon al goed lees, Engels ook. Met die tyd saam het hy op ’n manier innerlik tot bedaring gekom. Hier in die vreemde huis op Vredenhoek het hy tuis geraak. Soort van. Dog, hy moes mettertyd ontdek dat hy glad nie ’n goeie slaper is nie.
Een nag toe hy weer so sukkel om weg te raak, het hy ’n besluit geneem. Dit was toe dat hy opgestaan en stilletjies gangaf gesluip het. Die ander huismense het ook al kamer toe gegaan. ’n Skrefie lig het uit die studeerkamer die gang ingesypel. Hy het binnetoe geglip, voor die boekrak gaan staan. Aan die boeke se rugkante geraak. Toe voel hy aan dat hy nie alleen is nie. Hy het benoud omgevlieg. In die leunstoel naaste aan die lessenaar het tant Miemie gesit. Haar mond was effens oop, haar oë vol verbasing, miskien selfs kommer.
“En nou?”
“Ekskuus. Ek kan nie slaap nie, Tante.”
Tot sy verstomming was sy begrypend. Het by hom kom staan en beswaard gesê: “Ja, ek weet ook van nie slaap nie, seun.” Sy het ’n boek uitgehaal en dit na hom uitgehou. “Hier. Jy kan mos al Engels lees, dan nie? Dis van ’n seun, David Copperfield. Dalk hou jy van die storie.”
Sy vingers het die boek gevat, maar hy het dit amper laat val. Tant Miemie, die vrou van die huis wat selde praat as sy nie absoluut moet nie. En hier gee sy vir hom ’n boek en erken sy kan ook nie alnag slaap nie.
“Dankie,” het hy geprewel, maar toe hy wou omdraai, het sy hom kopskuddend teruggeroep, liggies, byna vertroostend aan sy skouer geraak. “Hier, vat die kers. Hoe dink jy gaan jy gelees kry?”
“Dankie, Tante.”
Hy was verstom oor die ontmoeting en die feit dat sy haar gedagtes gedeel het, moeite gedoen het vir hom. Amper gaaf was met hom. Hy het gangaf verkas en sy kamerdeur agter hom toegemaak. Amper tot dagbreek bly lees. Daardie nag en vele ander nagte wat hy tant Miemie in die studeerkamer gekry en nog boeke ontvang het. Later het hy die vrymoedigheid opgediep om nog leesgoed te vra, sonder dat sy dit aanbied. Tog het sy altyd vir hom gegee. Swyend en soms met ’n beduidenis van die glimlag wat sy nooit voor die ander huismense vir hom wys nie.
Laurens blaai rusteloos in die boek rond en wag dat die ou bekende woorde van David Copperfield se verhaal in hom intrek. Dis beter as om te veel te dink. Maar die skok van oom Janus se woorde laat sy gedagtes rondmaal en hy kry nie vatplek aan die storie nie. Die hoofkarakter se wankelende lot en diep emosies skrik hom af. Moontlik ken hy die verhaal te goed. Hy klap die boek toe en skuif dit weer op sy plek in. Dink ’n oomblik na. En weet wat om te doen. Hy kyk op sy polshorlosie. Loop suutjies terug na sy kamer en haal sy skoene onder die bed uit. Sluip weer gangaf, deur die ruim kombuis waar die stoof nog in die haard onder die hangende koperpanne gloei. Die agterdeur se bo- en onderdeur kraak toe hy dit oopmaak.