Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse страница 17

Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

– nie terwyl hy so vir haar kyk nie. Nie terwyl haar maagsenuwees in ’n bondel saamgeknoop is nie.

      Toe sy sien hy tel die motorsleutels op, skud sy haar kop. “Ek sal stap.”

      Hy gooi die sleutels terug op die tafel en stap agter haar aan in die gang af en deur die kombuis. Toe die agterdeur agter hulle toeklap, sien sy dat die lug besig is om rosig oor die berge te verkleur.

      “Jy hoef nie saam te stap nie,” sê sy, maar hy bly net ’n halwe tree agter haar en toe sy by die riviertjie oor ’n stomp struikel, vang hy haar aan die arm en trek haar regop.

      By die stoepdeure hou hy haar ’n oomblik terug en sy mond rus sag teen haar voorkop. Toe laat hy haar gaan en sy maak met bewerige hande die deur oop, dankbaar dit is nie gesluit nie.

      8

      Nicolene staan in die stort en die strale koel water loop ongehinderd oor haar kop, haar gesig, haar lyf. Maar die water verlig nie die pyn op die krop van haar maag of die hamerslae agter haar oë nie. Óf haar vel wat brandend gloei nie.

      Wat het hulle besiel? Wat het háár besiel? Sy is oud genoeg om van beter te weet. Hulle is vriende. Sy kap haar kop teen die wit muurteëls. En wat bedoel hy hulle moet praat? Sy gaan beslis nie hieroor praat nie – nooit! Enige mens kan seker een keer in jou lewe iets regtig dom doen, maar jy hoef beslis nie daaroor te praat nie … dit te ontleed nie, want dit gaan in elk geval niks aan die saak verander nie.

      Sy draai traag die krane toe en droog haar stadig af. Haar hare word net ligweg drooggevryf voordat sy, toegewikkel in die handdoek, op haar bed gaan lê. Maar toe sy ’n halfuur later nog met brandende oë na die plafon staar, staan sy op en gaan krap in haar toiletsakkie. Êrens het sy nog die slaappille wat sy vir die vlug gekoop het. Hulle is nie baie sterk nie, maar enigiets sal nou help. Enigiets om te keer dat haar gedagtes nog vinniger en wilder met haar weghardloop. Sy skud twee klein, geel tablette op haar hand uit, maar skielik lyk hulle baie klein en sy skud nog een uit en sluk dit haastig.

      “Nicci, jy moet nou wakker word! Jy slaap al die hele dag. Nicci, hoor jy my? Wat op aarde gaan met jou aan?”

      Die stem dring van baie ver af deur die grys slaapnewels en toe Nicolene eindelik haar oë moeisaam oopmaak, sien sy Karen se bekommerde gesig bo haar,

      “Ma is al doodbekommerd. Ons weet nie eers wanneer jy laas nag huis toe gekom het nie. Nicci, maak oop jou oë!”

      Nicolene lek oor haar droë lippe. Sy het nie ’n benul waarom Karen so bekommerd langs haar bed staan nie. Waarom wil hulle hê sy moet wakker word? Dis nag, sy moet slaap.

      “Is sy nog nie wakker nie?” Lisa kom staan langs Karen en kyk bekommerd na haar oudste dogter. “Nicolene! Maak nou dadelik jou oë oop en praat met ons!”

      Hierdie keer gaan haar oë makliker oop en sy skuif stadig regop, terwyl haar vingers oor haar regterslaap streel. Haar kop wil bars.

      “Is jy siek? Moet ek die dokter laat kom?” Dis haar ma wat wil weet, terwyl sy haar handpalm teen Nicolene se voorkop druk. “Ek het geweet al hierdie laat nagte kan nie goed wees nie. Jy moes gerus het. Kyk hoe lyk jy nou en wat maak ons as jy Saterdag siek is?”

      “Ek … ek … het net hoofpyn …” Nicolene sukkel om die woorde tussen haar droë lippe te sê.

      “Maar waarom kan jy nie wakker word nie?” Karen sit nou langs haar op die bed. “Het jy iets gedrink?”

      Nicolene wonder waarom hulle aanhoudend vra waarom sy nie kan wakker word nie. Sy ís dan nou wakker.

      “Dis al byna vieruur. Jy het die hele dag geslaap. Jacques was al twee keer hier en het nou weer gebel om te hoor of jy wakker is.” Haar ma trek die lakens reg en neem aan die ander kant van die bed plaas.

      Nicolene se voorkop trek op ’n plooi soos sy probeer onthou of sy en Jacques ’n afspraak gehad het. O, genade! Jacques! Nicolene druk haar hand oor haar oë en sy moet haarself inhou om nie hardop te kreun nie. Gisteraand … laas nag … Hiérdie keer is ’n beker wat beslis by haar moet verbygaan.

      “Hoe laat het jy laas nag huis toe gekom?” Haar ma kyk vraend na haar en Nicolene kyk haastig weg.

      “Ek kan nie onthou nie.”

      “Het jy al iets vir die hoofpyn geneem?”

      Nicolene skud haar kop en toe haar ma opstaan en aankondig dat sy pille sal gaan haal, kyk Karen met groot oë na haar suster.

      “Wat de duiwel is vandag aan die gang! Jy lyk erger as die dood en Jacques lyk soos ’n kat wat in ’n piering room geval het. Wat het laas nag tussen julle twee gebeur?”

      “Karen, my kop wil bars. Kan ons asseblief die ondervraging los? Daar het niks gebeur nie … en ek weet ook nie waarom hy in so ’n goeie bui is nie.” Nicolene sak weer teen haar kussings af. Sy besef sy het steeds net die handdoek om haar, maar Lisa kom die vertrek in en Nicolene hou dankbaar haar hand vir die pille uit.

      “Wil jy nie net asseblief vir Jacques bel en sê jy sal later met hom praat nie?” Karen hou die telefoon na haar suster uit.

      Tussen die slukke water skud Nicolene heftig haar kop. “Ek sal later met hom praat.”

      “Waarheen is jy op pad?” Lisa kyk met opgetrekte wenkbroue na Nicolene wat aangetrek en met ’n klein oornagtassie in die hand die sitkamer binnekom. “Dis byna sewe-uur. Jy kan nie weer die hele nag gaan rondkuier nie.”

      “Hendrine het gevra dat ek vanaand by haar kom slaap, dan kan ek sommer môreoggend van daar af lughawe toe ry om vir Andrew op te laai.” Nicolene vermy Lisa en Wilhelm se oë terwyl sy praat. Haar pa ken haar te goed.

      “Het jy nog hoofpyn?”

      Nicolene kyk net ’n oomblik na haar pa en toe sy die vreemde uitdrukking in sy oë sien, kyk sy haastig weg terwyl sy haar kop skud. “Nee, dis baie beter.”

      “Hoe laat land Andrew se vliegtuig môre?” Wilhelm lyk bekommerd.

      “Ek dink net ná tien, maar ek sal seker maak.” Nicolene buk haastig en soen albei haar ouers voordat sy haastig omdraai.

      “Nicolene … ek is ernstig oor nog ’n laat nag. Jy is veronderstel om Saterdag vir Karen van hulp te wees.” Haar ma se stem volg haar tot by die voordeur. “En bel vir Jacques. Hy sê hy moet met jou praat.”

      “Ek voel baie geëerd oor hierdie onverwagse oorslaap, maar iets sê vir my alles is nie pluis nie.” Hendrine hou ’n beker tee na Nicolene uit en neem langs haar op die rusbank plaas. Toe beduie sy na die bottel witwyn op die koffietafel. “Is jy seker jy wil net tee drink?”

      Nicolene knik en neem versigtig ’n slukkie van die warm vloeistof.

      “Wil jy my vertel, of gaan ons oor die deurmekaar weersomstandighede en die nog deurmekaarder politiek praat?”

      “Nie een kan so deurmekaar soos my lewe wees nie.”

      “Wat’s aan die gang, Nicci? Dit het nie gisteraand gelyk of daar fout is nie.”

      Nicolene blaas oor die beker in haar hand. “’n Tornado het nie dae nodig om verwoesting te saai nie.”

      “En

Скачать книгу