Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse страница 18

Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

nie weet nie.”

      “Miskien moet jy my maar vertel. Ek weet ook nie die verskil nie, maar ek kan dalk help om die skade te bepaal.” Hendrine skink haar glas weer vol.

      Nicolene trek haar bene onder haar in en neem eers nog ’n slukkie tee. “Ek het ’n vermoede jy kan raai.” Sy lig die beker tot voor haar gesig, asof sy die ander meisie se reaksie sodoende kan afweer.

      Die glimlag begin by Hendrine se mondhoeke en versprei daarvandaan stadig na die res van haar gesig tot by haar oë.

      “Ek en Frans het gisteraand ’n weddenskap aangegaan. Ek het julle nog ’n week gegee. Hy sal bly wees om te hoor hy het die weddenskap gewen.”

      ’n Rooiwarm blos verkleur Nicolene se wange en Hendrine lag hardop. “Dat ek nou hierdie dag kan beleef! Ek was al op die punt om moed op te gee.”

      “Hendrine …” Nicolene se oë plooi ernstig toe sy na haar vriendin kyk. “Hoe op aarde kon julle so seker wees daar gaan die een of ander tyd iets tussen ons gebeur?”

      “Julle is soos twee stukke van ’n legkaart. Die verhouding tussen julle is so besonders dat almal dit begeer. Bloedweinig ervaar ooit so iets en daarom probeer sommige dit afmaak asof dit nie werklik bestaan nie. Ek dink dis waarskynlik ook waarom julle nooit besef het wat presies aan die gang is tussen julle nie.”

      Toe Nicolene nie antwoord nie, skuif Hendrine haar nog gemakliker teen die kussings. “Vertel my eers wat gebeur het. Ek hoop nie hy lyk ook asof hy aan bomskok ly nie.”

      “Ek weet nie juis wat gebeur het nie, maar nou wil hy skielik praat.”

      “En? Het julle toe gepraat?”

      Nicolene skud haar kop. “Ek het gisteraand drie slaappille gedrink en eers vanmiddag vieruur wakker geword. En ek wil in elk geval nie met hom praat nie – beslis nie hieroor nie.”

      “Ek kan dit nie glo nie. Wat gaan met jou aan?” Die ongeloof slaan deur Hendrine se stem.

      “Magtig, Hendrine! Ek is seker jy het al dinge in jou lewe gedoen waaroor jy ook nie graag praat nie. Nou, hierdie is vir my een van daardie dinge.”

      Hendrine keer die oorblywende wyn in haar glas uit en gee ’n groot sluk. “Jy kan nie ernstig wees nie. Ons is nie besig om hier oor die een of ander vreemdeling te praat nie. Dis Jacques.”

      Nicolene staan op en gaan haal nog ’n bottel wyn uit die yskas en ’n glas uit die kas. Miskien het sy tog maar wyn nodig.

      “Ja, maar ’n Jacques wat ek nie ken nie.”

      Hendrine skud haar kop. “Hóé vreemd kan hy nou wees?”

      Nicolene onthou weer haar gewaarwording van ’n vreemde huis wat eintlik baie bekend is, maar sê liewer niks nie. Sy is jammer sy het vir Hendrine vertel, want sy wil beslis met niémand hieroor praat nie – allermins met Jacques.

      “Hendrine, kom ons praat asseblief oor iets anders.” En sonder om op ’n antwoord te wag, tel Nicolene een van die tydskrifte op die koffietafel op en begin afgetrokke daardeur blaai.

      Die stilte duur nie lank nie. “Kan ek nog net sê ek dink jy is besig om die grootste fout van jou lewe te maak. ’n Mens kry nie dikwels so ’n kans nie. Vra my, ek weet.”

      Nicolene gooi die tydskrif neer. “Wat julle almal gerieflikheidshalwe vergeet, is dat ek hom baie goed ken – té goed. Ek het gesien hoe die meisies deur die jare gekom en gegaan het. Ek weet hoe maklik hy verveeld raak, hoe vinnig hy ander weivelde kan soek. Waarom in die liewe lewe sal ek myself aan so iets blootstel?”

      Hendrine sit meteens haar glas neer en sy lyk ernstig toe sy na Nicolene kyk. “Soveel verskonings. Maar jy het nog nie gesê hoe jy oor hom voel nie.”

      Nicolene staan op en gaan staan voor die venster, haar oë op die berg wat soos ’n groot standbeeld oor die donkerwordende stad troon. Haar stem is sag toe sy antwoord.

      “Dit maak nie juis saak nie. Ek het vroeg in my lewe geleer dat Jacques Roux moeilikheid is … en ek sien nie daarvoor kans nie.”

      “Ek dink jy is baie onregverdig.”

      “Hendrine, Andrew kom môreoggend hier aan. Ek het nie nou tyd of lus om oor Jacques te wonder nie. Ons was onbesonne, en ons tydsberekening was hopeloos, maar ’n vurige vry met jou beste vriend is seker nie die end van die wêreld nie. En nou gaan ek nie weer ’n woord oor hierdie onderwerp rep nie.” Sy skink haar glas vol en neem weer op die bank langs Hendrine plaas.

      Die ander meisie kan net haar kop skud en toe laat sy sag hoor: “Jy is ’n groter fool as wat ek gedink het en jy is oneerlik met jouself … en dís nou hartseer. Jy kan nie hier sit en vir my vertel jy het nog nooit aan die moontlikheid van ’n verhouding tussen julle gedink nie. Ek sal dit nie glo nie.”

      Nicolene vee moeg oor haar oë. “Natuurlik is dit iets waaroor ons soms spot, en natuurlik is ek lief vir hom. Ek ken hom my hele lewe lank! Maar ek het nog nooit ernstig aandag aan so ’n moontlikheid gegee nie. Dis gewoonlik maar as ons twee lekker gekuier het en dis laatnag …”

      “Waarom bel jy hom nie?” Die ergerlikheid het uit Hendrine se stem gewyk en haar oë rus simpatiek op haar vriendin se gesig.

      Nicolene skud haar kop. “Ek het nie nou iets om vir hom te sê nie. Ek moet eers tyd hê om te dink.

      Nicolene staan in die aankomssaal. Op die krop van haar maag is ’n knoop wat al stywer trek en haar hande vroetel rusteloos met haar skouersak. Die vliegtuig is vertraag en sy kan nie besluit of dit ’n bedekte seën of ’n vloek is nie. Aan die een kant wil sy die oomblik so gou as moontlik agter die rug kry, maar aan die ander kant sal sy nie omgee as hierdie ontmoeting nie plaasvind nie. Nie vandag nie, nie hier nie … nie ná ’n slapelose nag en tientalle boodskappe van Jacques op haar selfoon nie.

      Terwyl sy staan en wag, wonder sy of sy nie haar terugvlug kan vervroeg nie. Miskien kan sy nog saam met Andrew-hulle gaan ski. Dit sal haar goed doen. Sy sien werklik nie kans om nog tot ná Nuwejaar hier te bly nie. Aanvanklik het dit te kort gevoel en was sy hartseer dat die dae so vinnig verbygegaan het, maar nou wonder sy hoe sy die tyd gaan omkry.

      Oplaas stap sy tog na die lugdiens se kantoortjie en verneem na die moontlike vervroeging van haar terugkeer. Die meisie begin haastig op die rekenaar tik en Nicolene sien hoe die niksseggende inligting oor die skerm gly. Toe skud die meisie haar donker kop. Nee, jammer, sy kan haar naam op die waglys sit, maar die meisie kan niks belowe nie. Hierdie tyd van die jaar is die vliegtuie baie vol. Die Suid-Afrikaners streep na die ski-oorde toe en die Europeërs vlug agter die son aan.

      Die meisie moes die teleurstelling op Nicolene se gesig gesien het, want sy sê Nicolene moet oor ’n week weer bel, miskien is daar dan al ’n plek beskikbaar. Nicolene wil eers vir haar sê ’n week is te lank, maar sy bedink haar. Dis beslis nie die vreemde meisie se skuld dat sy nie meer kans sien vir haar langverwagte vakansie by die huis nie.

      Uiteindelik kom die aankondiging dat die vlug van Heathrow-lughawe geland het en Nicolene voel hoe die sweet op haar voorkop uitslaan. Miskien is sy besig om koorsig te raak. Op hierdie oomblik sal sy dit nogal verwelkom om siek te word.

      Dit duur nog ’n wyle voordat die eerste passasiers by die deure uitkom en toe Nicolene hom uiteindelik gewaar, is hy vir haar bleker as gewoonlik, maar sy besef ook dis omdat sy self nie meer

Скачать книгу