Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse страница 22

Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

is groter as oomblikke tevore.

      “Wat dink jy doen jy? Wil jy nou hierdie dag vir ons almal verongeluk!” Die kleur is stadig besig om na haar ma se wange terug te keer terwyl haar stem al hoe hoër styg.

      Wilhelm moes die rumoer gehoor het, want hy kom haastig op die stoep uitgestap. Met een blik neem hy die toneel voor hom in. Hy neem sy vrou aan die arm en sy stem is rustig toe hy praat. “Kom ons gaan lê ’n rukkie voordat ons moet aantrek. Dis te warm om hier buite rond te loop.”

      Karen kyk hulle agterna totdat die deur agter hulle toegaan en toe draai sy haar gesig na Nicolene. “Wil jy my vertel wat met jou aan die gang is?”

      Nicolene skud haar kop. “Daar is niks aan die gang nie. Ek kry net vrek warm en ek het in elk geval nie van dié stywe kapsel gehou nie.”

      “H’m … amper oortuig jy my … maar jy vergeet met wie jy praat. In elk geval, jy beter sorg dat jy my nie vandag in die skande steek nie. So, klim nou uit die swembad, skink vir jou iets om te drink as jy senuweeagtig is, en sorg dat jy betyds aangetrek kom. Ék is die een wat vandag mag stres, nie jy nie.”

      Met dié finale woorde draai Karen om en stap ook die huis binne, terwyl Nicolene weer onder die water induik en twee vinnige lengtes swem.

      ’n Uur later is Wilhelm verplig om sy pak klere te neem en in Karen se kamer te gaan aantrek. Die hoofslaapkamer het in ’n miernes van bedrywighede verander soos wat die ontwerper, haarkapster en skoonheidskundige almal met die bruid doenig raak. Gelukkig het Karen hulle voor die tyd goed ingelig hoe sy wil lyk en kan almal met flinke hande hulle onderskeie take uitvoer.

      Die grimering word oordeelkundig aangewend, en net genoeg om haar mooi gelaatstrekke te beklemtoon. Haar lang hare is reeds die oggend opgekam en laag agterin haar nek in ’n bolla gerol. Die haarkapster is nou besig om klein wit lelies om die bolla vas te maak. Die ontwerper staan geduldig eenkant en wag sy beurt af sodat hy die rok oor haar kop kan lig en die voltooide prentjie kan inspekteer.

      Nicolene het intussen gaan stort en hare gewas, en gaan seker maak Andrew is wakker en ook besig om aan te trek. Daarna het sy gaan hoor of sy van hulp kan wees met die bruid se voorbereiding.

      Suzy, die haarkapster, wat net klaar is met haar taak en nou terugstaan om na die eindproduk te kyk, lig haar oë vraend na Nicolene.

      “Het jy nie ook vanoggend jou hare laat doen nie?”

      Nicolene knik. “Ek het per abuis in die swembad beland.”

      Karen is gelukkig te besig om kommentaar te lewer en sy gee net ’n grom.

      Suzy kyk weer na Nicolene en beduie na ’n stoel. “Kom sit, dan maak ek jou hare droog. Jy kan sekerlik nie met sulke nat slierte by die kerk aankom nie.”

      Nicolene gaan sit gedweë. Sy het onder die stort aan Karen se woorde gedink en besef sy sal haar moet regruk. Hierdie is Karen en Gerrit se dag. Sy en Jacques kan later hulle verskille uit die weg ruim. Dit is nie asof dit die einde van die wêreld is nie.

      Toe Suzy uiteindelik terugstaan, knik Nicolene tevrede. “Baie beter. Dit voel soos ek. Ek pas nie in stywe kapsels nie.” Haar kort hare is ligweg agtertoe gekam en haar kuif maak fyn puntjies teen haar voorkop.

      Toe Nicolene wil opstaan, beduie die skoonheidskundige sy moet bly sit. Die volgende oomblik begin sy met vaardige vingers room in Nicolene se gesig vryf en daarna word daar ’n verskeidenheid kwassies uitgehaal.

      ’n Paar minute later kyk Karen goedkeurend na haar suster. “Ek het nie gedink dis moontlik om jou nog mooier te maak nie.”

      Nicolene kan net glimlag, want sy kan haar weer aan Karen verkyk. Maar hoe sy ook al wil glo dis die grimering en hare wat die verskil maak, weet sy met ’n seker wete dat Karen se oë die groot verskil maak. Daar is iets in die blink opgewondenheid wat haar vir ’n oomblik jaloers maak. Nicolene verskoon haarself om haar rok te gaan aantrek.

      In haar kamer bly sy vir ’n oomblik in die middel van die vertrek staan, terwyl sy die trane probeer afsluk. Toe lig sy die pragtige rok van die hanger af en gooi dit oor haar kop. Toe sy in die spieël kyk, hoop sy haar ma en Karen is tevrede. Die week in die son het haar vel goudbrons verkleur en die kilogram of twee wat sy opgetel het, laat die rok soos ’n handskoen pas. Geen gapende voue meer nie.

      Terug in haar ouers se slaapkamer is hulle net besig om Karen se rok oor haar kop te lig, maar almal staan eers ’n oomblik stil om na Nicolene te kyk, en sy is verlig toe die uitroepe haar verseker dat sy besonder mooi en elegant lyk. Selfs haar ma knik tevrede.

      Toe staan Karen voor hulle in haar trourok en Nicolene moet weer aan die trane sluk. Sy sien hoe Lisa se oë stil word en sy haak by haar ma in.

      “Ek vergewe julle nooit as julle nou begin huil nie,” dreig Karen, terwyl sy self hard moet sluk aan die knop in haar keel.

      “Ons huil uit blydskap dat jy uiteindelik ’n man gekry het,” spot Nicolene met blink oë.

      “Dan sal ons lakens nodig hê as jy die dag trou!” laat Karen deur haar trane hoor.

      En so met blink oë en tussen die goedige gespot deur begin die groep buitentoe beweeg waar die fotograaf reeds op hulle wag.

      Wilhelm se glimlag verstil ook vir ’n oomblik toe hy na die drie vrouens kyk en toe steek hy sy hand na Karen uit.

      “Kon jy nie maar klein gebly het nie … dit was soveel makliker …”

      Sy knik. “Op hierdie oomblik sou ek ook eerder in my pophuis wou speel.”

      “Dis net totdat sy vir Gerrit sien, dan gaan sy baie vinnig van pophuise en familie vergeet!” Nicolene staan en kyk na die prentjie voor haar: haar pa wat met soveel trots en heimwee na sy jongste dogter staan en kyk. Vir ’n vlietende oomblik wonder sy hoe sy weer sal kan teruggaan na ’n onpersoonlike lewe waar niemand haar werklik ken nie.

      Gelukkig is daar nie verder tyd vir allerhande gedagtes nie, want die fotograaf het sy kamera uitgehaal en vir die volgende veertig minute gee hy die een bevel ná die ander.

      Andrew kom later buitentoe gedrentel, netjies aangetrek in ’n pak klere. Hy komplimenteer Karen met haar voorkoms en toe kyk hy ondersoekend na Nicolene. “Jy lyk mooi … net te bruin na my sin, maar heel sexy.”

      Nicolene besluit om te swyg. Iets is tussen haar en Andrew verkeerd en sy kan nie haar vinger daarop lê nie, maar sy het ook nie vandag tyd om daaraan te dink nie. Hulle het die volgende drie dae om te gesels.

      Sy kyk op toe ’n motor stilhou en sy sien hoe ’n baie deftige Mariaan uitklim. Die ligblou minirok wat sy dra, pas haar baie goed en sy kan sien hoe Andrew waarderend na die blonde meisie kyk. Toe stap hy glimlaggend nader en hulle twee groet soos ou vriende. Nicolene kry ’n beleefde kopknik, terwyl die ander mense hartlik gegroet word.

      Sy en Andrew staan nog ’n rukkie en kyk hoe die foto’s geneem word en toe beduie Mariaan dat dit tyd is om te ry.

      Nicolene is verlig toe die motor wegtrek, selfs al het Andrew haar nie gegroet nie. Sy hou nie van die meisie nie en was ook nie meer lus vir die foto’s terwyl hulle staan en kyk het nie.

      Net toe Lisa al bekommerd raak oor Paul wat nog nie daar is nie, arriveer hy en Annemie. Daar word haastig vir hom ook ’n knoopsgatruiker aangesteek, waarna daar van die hele familie ’n paar foto’s geneem word.

Скачать книгу